Jaargang 22 - Nommer 17 - 7 Junie 2024
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • Vloedramp in Nelson Mandelabaai val saam met opleiding in kerklike ramprespons
  • Wees 'n draer van hoop
  • Basaars en sokkies galore
  • Leraars beweeg

Gemeentes verleen hulp na verwoestende vloede in Kariega, Nelson Mandelabaai

Groot skade is in verskeie woonbuurte en informele nedersettings in Kariega aangerig (Foto: Netwerk24)

Meer as 220mm reën het op Saterdag 1 Junie binne enkele ure in Kariega, Nelson Mandelabaai, geval. Die kitsvloede het tot wydverspreide oorstromings en lewensverlies in die Metro gelei. Huise is verwoes, meubels en besittings het weggespoel, motors het in die slag gebly en groot skade is aan infrastruktuur aangerig.
Annie Williams voor die oorblyfsels van haar huis in Kariega (Foto: Netwerk24)

Verskeie kerke en gemeenskapsale, waaronder die NG gemeente Uitenhage De Mist, het hulle deure vir vloedslagoffers oopgegooi. By De Mist word sowat 150 persone in die kerksaal gehuisves. Die VGK Ebeneaser en die Morawiese Gemeente op die dorp huisves ook slagoffers.

Dit is verblydend om te sien hoe die harte van mense oopgaan vir die nood. Hieronder kan gesien word hoeveel hulp De Mist-gemeente binne 24 uur ontvang het. Klik op die foto's hieronder om 'n kort video te sien.
Klik op die foto's hierbo om 'n kort video te sien van al die hulp wat die NG Kerk Uitenhage De Mist vir vloedslagoffers ontvang het. Hierdie produkte is ook met ander instansies gedeel.

Rampfonds
Gemeentes en instansies wat finansiële bydraes wil maak, kan die NG Sinode Oos-Kaapland se rampfonds gebruik. Merk die deposito "vloed" en deponeer dit in:
Rekeningnaam: NG Kerk in Oos-Kaapland
ABSA Lopend 290 581 192
So het die N2-snelweg op 4 Junie gelyk. Erge wind en hoë deinings het daartoe gelei dat die N2 by Gqeberha met branders oorspoel het wat klippe en ander materiaal oor die pad gestrooi het. Dit het tot die sluiting van die N2 en ernstige verkeersontwrigting gelei (Foto: Netwerk24)

Ook in die Buffalo City Metropool (die groter Oos-Londengebied) het woonbuurte oorstroom, waaronder Duncan Village. Net soos in Nelson Mandelabaai het lewensverlies ook hier voorgekom.

Sinkronisiteit, oftewel "net mooi betyds"

Opleiding in kerklike hulpverlening tydens rampe

Oos-Kapenaars word opgelei om kerklike ramprespons te beplan en uit te voer

'n Span van 15 persone, verteenwoordigend van byna al die Ringe in Oos-Kaapland, is op 4 tot 5 Junie 2024 deur Lester Sedras, van RESPOND opgelei om te reageer op rampgebeure. Dit pas in by die Algemene Sinode se wens dat die NG Kerk landswyd by 'n nasionale, ekumeniese (d.w.s. tussen-kerklike) rampresponsnetwerk betrokke raak.

Die opleiding het in Gqeberha plaasgevind terwyl gietende reën uitgesak en selfs die N2 danksy sterk wind en hoë deinings vol klippe gespel is en gesluit moes word. Die ontplooiende vloedramp het as gevallestudie gedien.

Hiermee is 'n sterk inisiatief geloods om die Oos-Kaap by tussen-kerklike inisiatiewe om gepas op rampe te reageer te betrek.
Mnr Lester Sedras van RESPOND
Lester Sedras is 'n ervare rampfasiliteerder en kenner op die gebied van kerklike hulpverlening. Hy werk vir The Warehouse, 'n inisiatief wat oorhoofs vir RESPOND verantwoordelikheid neem.

Terwyl RESPOND grootliks in Kaapstad ontstaan het, neem die beweging verantwoordelikheid om ander streke in Suid-Afrika voor te berei en by gekoördineerde aksie te betrek.

RESPOND staan kerke aktief by om by rampe groter as 500 geaffekteerde persone betrokke te raak, en lei kerke op om self in plaaslike kontekste op kleiner rampe te reageer.

Klik hier vir meer inligting oor RESPOND.

Lees elders in Grens.Pos oor die onlangse vloedramp en hoe kerke, waaronder die NG Kerk en VGKSA ramphulp in Kariega verleen het. Dit verwarm die hart.

Gemeentes bid vir en dien by die nasionale verkiesing

Lidmate van Algoa Gemeenskapskerk het die Sondag voor die verkiesing tydens die erediens hul gebede vir die land en verkiesing op 'n landsvlag aangebring.

Verskeie Oos-Kaaplandse gemeentes was betrokke by die nasionale verkiesing, sommige se geboue as stemlokale, ander met voorbidding vir die verkiesing en nog ander as ruimtes waarin kiesers ook kon ontspan, rus en verversings geniet.

By PE-Sherwood het verskeie stalletjies vars koffie en eetgoed bedien om die laaaang staan draagliker te maak. PE-Nooitgedacht het as gemeente op stemdag verkope by die kerkgebou gehou. Laerskool Kabega, langs die kerkgebou geleë, was 'n stemlokaal en die gemeente het op die honger en die dors in die lang rye ingespeel. Daar was worsrolle, water en koffie en tee te koop, tesame met sitplek vir mense om te sit en te gesels. Parkering op ons kerkterrein was beskikbaar teen ‘n fooi. Die fondse gaan vir die gemeente se gemeenskapsuitreike, en lidmate het lekker vriende met die breër gemeenskap gemaak.

Blouwaterbaai Familiekerk het ook as stemlokaal opgetree en rapporteer dat kiesers vasberade, geduldig en vriendelik-aan-die-kuier in die rye gestaan en wag het om hulle kruisies te trek.

Van die restaurante in die Baai het ook spesiale aanbiedings gehad. Eerste prys gaan aan Chingadas in Walmer wat 'n gratis tequila vir elke stem aangebied het.

Draers van hoop in die storm

Ds Jaco Thom skryf vandeesweek in sy Bybelkoerant oor 'n tema wat van toepassing is te midde van soveel vloedswaarkry en ook onsekerheid na afloop van verlede week se verkiesing:

"Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. (Hand. 27:22)

Paulus het alle rede gehad om vies in ’n hoekie te sit. Hy het immers die kaptein gewaarsku dat dit ’n vrot plan was om die reis aan te pak (Hand 27:10), maar wie steur hom nou eintlik aan ’n landrot as dit by seesake kom? Wat weet Paulus nou eintlik van seevaart? Maar presies soos Paulus gevrees het, gebeur dit. ’n Verskriklike storm bars los, en die skippie dobber vir dae op die stormsee rond, totdat die matrose alle hoop om lewendig anderkant uit te kom, laat vaar.

As alles en almal om jou hooploos is, is dit die tyd dat jy moet opstaan. Jý is immers nie hooploos nie. Hoe kan iemand wat in die lewende God glo, ooit sonder hoop wees? Dis hulle sonder God wat ook sonder hoop is (Efes. 2:12). Maar ons wat glo in dié God wat wonders doen, ons het ’n uitsig in selfs die hopeloosste situasie.

Lewe jy dan vandag as draer van hoop, dat jy vir die mense om jou hoop kan gee.

"Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom." Klaagliedere 3:24

Ds Jan Lubbe

Fokusse van die Algemene Sinode

Die Sinode van Kwazulu-Natal is die eerste sinode wat na die 2023-Algemene Sinode vergader. In 'n video-boodskap aan die Kerk van KZN wat vandeesweek bymekaar was, bemoedig ds Jan Lubbe, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, die sinodegangers en gee ook 'n kort uiteensetting van die fokusareas van die Algemene Sinode. Hierdie boodskap is op die hele NG Kerk van toepassing. Kyk gerus daarna.

PE-Heideveld hou basaar - 7 Junie

NG Kerk Heideveld, Dundeeweg, Rowallanpark, hou Vrydag 7 Junie, 16:00 Kermis. Heerlike bekostigbare etes en meer. Almal welkom. Kom geniet dit saam met ons.

Plaasontbyt by Bothasrus op Despatch - 8 Junie

Sop, sjerrie en sokkie op King William's Town - 2 Augustus 2024

Vir die dagboek:

Bespreek 'n stalletjie by King William's Town se basaar en/of kom geniet jouself

Vir die dagboek:

Lentekonferensie in Pretoria van 17-19 September 2024

Kom skryf saam:

Boekprojek: Ekotologie in 'n Afrika konteks

CLF (in samewerking met Clairvaux Skrywershuis en NetACT) beplan 'n boekprojek wat fokus op ekoteologie vanuit 'n Afrika-perspektief. Ons nooi gemeentes en organisasies, asook individue uit ander dissiplines uit om hul stories en/of navorsing te deel.

Besprekings oor klimaatsverandering, ekologie en groen of ekoteologie word hoofsaaklik vanuit 'n Westerse perspektief geskryf, terwyl die Afrika-kontinent unieke uitdagings, perspektiewe en oplossings het wat beklemtoon moet word. Die doel van die boek is om in te lig en te inspireer. Ons wil graag praktiese voorbeelde en gevallestudies van suksesvolle ekologiese projekte in die boek insluit, asook dieper stof vir nadenke oor ekoteologie. Ons hoop dat die boek teologiese hoofstukke sal bevat om gemeentes toe te rus met die woordeskat en teologie wat nodig is om betrokke te raak by groen inisiatiewe. Onderwerpe soos klimaatsverandering, herwinning, voedselsekuriteit, gemeenskaplike groentetuine, gemeenskapsprojekte, omgewingsvriendelike projekte, stropery, natuurrampe en meer kan ook bespreek word.

Meer inligting oor keerdatums en skryfvereistes is beskikbaar by die redakteur van die CLF dr Mias van Jaarsveld, mias@clf.co.za.

Vakature: NG Gemeente PE-Noord

Ons is nie so geïnteresseerd in wat jy as predikant kan doen en wat jy ons kan laat doen nie. Ons is meer geïnteresseerd in wie jy is en wat jy ons kan help om te word.

In PE-Noord neem bemagtigde lidmate onder leiding van 'n dinamiese kerkraad inisiatief om die Here, mekaar en die gemeenskap te dien. Ons heg groot waarde aan liefde en gebed. Die gemeente het projekte soos vrouebemagtiging, bejaardeversorging, uitreik na die gemeenskap se jeug, 'n sopkombuis, voedselhulp aan behoeftiges en leerders, asook 'n klerebank. Ons het ook 'n fonds wat leerders ondersteun.

Ons omgewing is vir sommige 'n blyplek, vir ander 'n werkplek, en vir nog ander 'n gebied waar verskeie openbare dienste gelewer word. Ons area het woonhuise, meenthuise, woonstelblokke, kleiner fabrieke, hospitale, klinieke en gemeenskapsdienste.

Ons omgewing het drie skole, winkelsentrums en verskeie kleuterskole met hoofpaaie wat ons area deurkruis. Ons is naby blouvlagstrande en die lughawe. Klik hier vir die posbeskrywing.

Leraars beweeg

Ds Gideon Roets is op 2 Junie 2024 as brugleraar in die NG gemeente Ugie deur ds Conrad Thomas, ringsvoorsitter, bevestig.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter