Jaargang 22 - Nommer 8 - 8 Maart 2024
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Bouwer van Rooyen met alumni prestasietoekenning vereer
  • Gebedsgids vir die Moslem-wêreld kinders rondom die komende Ramadan
  • Wat gemeentes rondom die komende verkiesings kan doen
  • Roepingsverklaring en pastorale brief van die Algemene Sinodale Moderamen
  • Riglyne ontwikkel vir gemeentes wat van sinode en ring wil verander
  • Leraars beweeg

Toekenning vir orrelis en koormeester

Bekroonde Bouwer van Rooyen en dié Boom

In sy nagenoeg 50 jaar toewyding om onder meer volhoubare gemeenskapskore te vestig, én om die grootste orrel-studiebeurs tot stand te bring, is die Baaienaar Bouwer van Rooyen deur Nelson Mandela Universiteit met die alumni-prestasietoekenning bekroon. Aan die uitvoerende kant is Bouwer ‘n orrelis, pianis en koordirigent, maar hy is ook ’n wetenskaplike, en ‘n bewys hiervan is ‘n 47-jaar oue witmelkhoutboom in Gqeberha se Newtonpark.

Mariska Spoormaker het na die boom gaan kyk. Luister hoe sy met hom op RSG se 360 daaroor gesels.

Aanlyn toerusting

Neem deel: Komende verkiesing en die rol van gemeentes

Neem gerus deel aan 'n gesprek wat op 11 Maart om 10:00 aanlyn op Stellenberg-gemeente se Youtube-kanaal gestroom word. Verwys na die grafika hieronder. Van die sake wat bespreek word, sluit in:
  • Hoe werk die drie stembriewe?
  • Proporsionele verteenwoordiging
  • Wat is die belangrikste verskille in die vernaamste partye se manifestos?
  • Wat kan en moet gemeentes doen?
Lidmate is baie welkom om by die geleentheid in te skakel.

Wat kan gemeentes nou prakties rondom die komende verkiesing doen?

Dr Gustav Claassen, uittrede algemene sekretaris, gee die volgende wenke:
  • Kweek bewustheid dat dit belangrik is om te gaan stem. Dit is ons roeping, veral in die lig van die profetiese verantwoordelikheid wat gelowiges volgens die Bybel het
  • Benadruk teenoor jongmense hoe belangrik hulle kruisie is - die meeste van die 50% stemgeregtigdes wat nie in 2019 gestem het nie was onder 35 jaar oud
  • Verleen fisiese hulp aan kiesers om by die stembus uit te kom - dink aan bejaardes, pensioenarisse en armes
  • Die keuse waar jy jou kruisie gaan trek, moet 'n waardegedrewe besluit wees, en kan in die prediking beklemtoon word. Die kerk maak of propageer nie partypolitieke keuses nie
  • Voorbidding vir 'n vry en regverdige verkiesing
  • Moedig lidmate aan om as verkiesingsmonitors op te tree
  • Gemeentes kan hulle fasiliteite aanbied as stemlokale.

Roepingsverklaring van die Algemene Sinode

Na aanleiding van die Algemene Sinode se 2023-vergadering het die ASM (Algemene Sinodale Moderamen) die roeping van die NG Kerkverband in Februarie 2024 geformuleer. Dit volg 200 jaar nadat die eerste algemene kerkvergadering in 1824 plaasgevind het, 200 jaar gelede. (Klik hier om die Roepingsverklaring op jou rekenaar af te laai.) Die roepingsverklaring lui:

Pastorale brief van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM)

Die ASM het 'n pastorale brief na haar vergadering van 27-29 Februarie 2024 gepubliseer. Dit is 'n belangrike dokument wat die geestelike toonaard van die byeenkoms toelig en verduidelik wat by die vergadering gebeur het.

'n Belangrike uittreksel lui:

Ons het ook van die ATR advies gekry oor besluite van kerkrade om die verband met hul ring, sinode en die algemene sinode “op te skort” – dit word amptelik na daardie kerkvergaderinge en vandaar na lidmate deurgegee, om sekerheid te bied oor die voorregte en verantwoordelikhede van ons lidmaatskap van en
bevoegdhede in die familie van NG Kerke. Ons doen daarom ‘n beroep op ons hele kerkverband om binne die veilige ruimte van ons ooreengekome Kerkorde te bly, en ter wille van ons eenheid in Christus, eerder verder met mekaar te praat; respekvol, en met geduld te soek na ‘n welwillende weg vir ons almal vorentoe. Ons verstaan – só het die Algemene Sinode van Oktober 2023 óók gesê – dat daar lidmate is wat seergekry het, vervreemd voel of besorgd is oor ons kerkverband; juis daarom wil ons met mekaar in gesprek bly en só reformeer. Wat ons saambind en wie ons is – sien weer ons roepingsverklaring – is groter as dit waaroor ons nou mag verskil; ons behoort aan Christus en Hy het ons aan mekaar gegee. Laat ons dít as ‘n kosbare gawe koester.

Lees die volledige pastorale skrywe.

Riglyne vir gemeentes wat van sinode en ring wil verander

Tydens die Algemene Sinode van Oktober 2023 is die kerkorde gewysig om dit vir gemeentes moontlik te maak om van sinode en ring te verander. Die besluit is opgeskort totdat die ASM (Algemene Sinodale Moderamen) die riglyne en prosesse hiervoor goedgekeur het.

'n Eerste stel konsep-riglyne is in Februarie 2024 aan sinodes gestuur as vertrekpunt vir die proses. Voorstelle van sinodes word tans ingewag. Een van die reëlings bepaal dat 'n moontlike skuif slegs oorweeg sal word as gemeentes hulle plaaslike verantwoordelikhede, dus teenoor hul bestaande sinode en ring, nagekom en afgehandel het.

Dit is 'n komplekse proses wat nog 'n rukkie sal neem om af te handel. Hou Grens.Pos dop vir verdere inligting, sodra dit beskikbaar is.

LEES OOK: Regsadvies deur die Algemene Taakspan Regte bekom oor gemeentes wat die verband met die Algemene Sinode opsê. Grens.Pos Nr 7 van 1 Maart 2024 het hieroor berig.

Gids vir kinders

Tien dae van gebed tydens Ramadan vir die Moslem-wêreld

Kinders is natuurlikerwys in die groter wêreld geïnteresseer en bid graag. Hier is 'n heerlike projek met al die nodige aanlyn materiaal. Uit die bekendstelling van die projek:

This Childrens 10 Days of Prayer for the Muslim World Prayer Guide is designed to help children (age 6-12 years) and their families as they participate in the 10 Days of Prayer for the Muslim World. Many children from cities and nations around the world will be joining us as we pray together.

Each day will follow a theme of ‘Living by the Fruit of the Spirit’ - with a bible verse, a thought from Justin Gunawan and an action point.

Each day, we also bring a worship song that aligns with the theme… many are action and dance based, so do jump and enjoy!

We will introduce you to a city or nation, tell you a bit about it and what kids in that city like to do. We will then start you off with some prayers, as we ask God to open the hearts of the people to the message of Hope that we have in Jesus.

Kommer oor BELA-wetgewing

Belangrik! Verkiesing van Skoolbeheerrade

Die groeiende kommer oor die beoogde BELA-wetgewing (Basic Education Laws Amendment Bill) onderstreep die belang van die komende verkiesing van skoolbeheerrade.

Soos BELA tans lees, spreek dit nie die vernaamste redes aan waarom skoolopvoeding in Suid-Afrika belemmer word nie. Oorlading van leerdergetalle in die klaskamer, tekortkominge van kurrikula, die hoë uitvalkoers van leerders, onveilige en onhigiëniese omstandighede by skole, swak gehalte onderrig en 'n tekort aan hulpbronne word nie een in die wetgewing aangespreek nie. Wat BELA wel doen is om groter sentrale beheer in die nasionale onderwysdepartement te vestig ten koste van die beheer en verantwoordelikheid van ouers en plaaslike gemeenskappe.

Ouers word daarom opgeroep om die verkiesing van skoolbeheerrade in Maart te ondersteun. FORSA, 'n nie-regeringsorganisasie wat onder meer op gemeenskappe se onderwysbelange en godsdiensvryheid fokus, het toepaslike inligting hieroor versamel en aanlyn gepubliseer. Maak gerus daarvan gebruik.

LEES OOK: Wil jy meer weet oor die inhoud van BELA? Hier is 'n gids met kommentaar..

Oplossings vir Suid-Afrika

Agri Oos-Kaap se bloudruk vir veiliger gemeenskappe

Weens die 2021 onrus in KwaZulu-Natal het Agri Oos-Kaap in 2022 'n koördineringsentrum met die oog op landelike veiligheid gestig. Die sentrum koördineer inisiatiewe wat veiligheid en sekuritet bevorder tussen landbouers, veiligheidsmaatskappye en wetstoepassers. Binne twee jaar het dit in 'n multimiljoenrand veilighsiedsknooppunt ontwikkel wat gevorderde tegnologie met plaaslike insisiatiewe verbind. Dit sluit veiligheidskameras regoor die provinsie in, wat data verskaf wat reeds in hofsake aangewend is, Die E2-inisiatief ("eyes and ears") skakel mense op voetsoolvlak in. Dit skep hoop en lei reeds tot 'n vermindering in misdaad.
Lees meer.

Camino: Red 'n Plaas, Red 'n Gemeenskap

Die Sinode van die NG Kerk Noord-Kaapland in samewerking met Agri-Noordkaap, ondersteun sedert 2019 boere en landelike gemeenskappe in hierdie streek wat deur rampe soos veldbrande, sprinkaanplae en uitmergelende droogtes geteister word.

Hierdie vennote het ‘n rampfonds, bekend as die Red ’n Plaas, Red ‘n Gemeenskap Rampfonds, gestig om pastorale en fisiese hulp aan hierdie gemeenskappe, in tye van nood, te verskaf. Op hierdie wyse is hulpverlening van meer as R13 miljoen in die afgelope vier jaar aan die gemeenskappe gelewer.
Die vlagskipprojek om fondse in te samel vir hierdie rampfonds is die Red ‘n Plaas, Red ‘n Gemeenskap Camino wat vanjaar tussen 6 en 12 April 2024 in die Victoria-Wes omgewing plaasvind. Een honderd stappers word genooi om 139km binne sewe dae te stap.

Sinode Noord-Kaapland nooi graag gemeentes binne die verskillende sinodale streke om op die volgende maniere deel van hierdie projek te word: Lees verder.

Besoek Logos Hope in die Baai se hawe en doen mee

Aanlyn VBO

Kreatiewe werkswinkel oor die viering van Paastyd

By hierdie aanlyn werkswinkel o.l.v. dr André Bartlett word daar saam gedink en saam gewerk aan die viering van:Paasfees, die Sondae in Paastyd, Hemelvaart en Pinkster. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 8 Maart 2023. Hier is volledige besonderhede waaronder die skakel na die inskrywingsvorm.

Predikantspaar verloor babadogter

Ons innige simpatie aan ds Rikus Botha (vroeër van PE-Noord) en ds Thania Botha (vroeër van PE-Hoogland en daarna Somerstrand), tans van die Geloofsentrum in Bloemfontein, met die afsterwe van hul babadogter, klein Anelle. Sy is op 2 Maart 2024 gebore en is op 4 Maart 2024 na die Here. Ons bid die troos van die Here op die egpaar af. (Grafika hieronder met dank aan PE-Hoogland.)

Leraars beweeg

Ds Jan Coetzer van Vaalwater is as mede-leraar na Oos-Londen Moedergemeente beroep.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter