Jaargang 22 - Nommer 11 - 12 April 2024
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • SAID fokus op organisasies met belastingvrystelling, waaronder gemeentes
  • Registreer gerus om as waarnemer op stemdag op te tree
  • Praktiese selfsorg vir predikante: aanbiedings deur prof Yolanda Dreyer
  • Kritiese kommentaar op Dept van Basiese Onderwys se ECE-toolkit
  • Leraars beweeg

Sewe Klimaat-kantelpunte wat lewe soos ons dit ken radikaal kan verander

Daar is sewe faktore wat as klimaatkantelpunte (climate tipping points) beskryf kan word, berig Daily Maverick. 'n Kantelpunt is 'n kritieke vlak in 'n sisteem wat by oorskreiding daarvan tot 'n groot verandering in die sisteem kan lei. Dikwels is die verandering onomkeerbaar.

Verskeie van hierdie kantelpunte het met die smeltende yslaag by die twee pole, maar ook in Groenland te doen. Degenarasie van koraalriwwe, agteruitgang van groot woude, die omkeer van die vloei in seestrome en die ontvriesing van landgebiede wat tans permanent gevries is, tel onder hierdie kantelpunte.

Hierdie inligting moet tot gedragsverandering lei. Besoek gerus Daily Maverick se sinvolle opsomming en grafiese voorstelling van hierdie kantelpunte en kyk na die video hierbo.

Soms vra mense wat ekologiese sorg met die kerk en geloof te doen het. Sorg vir die skepping van die Skepper deursuur die Bybel. Mens kan jou Bybel net op bladsy een begin lees.

Prof Yolanda Dreyer

Praktiese selfsorg vir predikante

Prof Yolanda Dreyer van UP gesels oor selfsorg vir predikante

Tydens 'n onlangse ringskonferensie te Clarens het prof Yolanda Dreyer, praktiese teoloog van die Universiteit van Pretoria en self predikant, leraars begelei om aandag aan hul selfsorg te gee. Gegewe die aard van predikante se werk is selfsorg van uiterste belang.

Sy het tydens twee sessies optree. Video 1 kan hier gesien word, en video 2 is hier beskikbaar. Dit is vergesel deur twee Powerpoint-aanbiedings, waarvan deel 1 en deel 2 afgelaai kan word.

'n Wenk: laai die twee Powerpoints af en kyk rustig na beide videos terwyl jy tegelyk die video en die toepaslike Powerpoints

Registreer lidmate as waarnemers by die komende verkiesing

'n Praktiese manier hoe gemeentes kan help verseker dat die komende verkiesing vry en regverdig is, is deur leraars of lidmate amptelik as waarnemers te registreer. Hierdie inisiatief word deur die NG Kerk in samewerking met ander kerke gekoördineer, sodat die godsdienssektor se stem in die beoordeling van die verkiesing gehoor kan word.

Wat die NG Kerk betref, word hierdie inisiatief deur die algemene sekretaris van die Algemene Sinode, dr Nioma Venter, gekoördineer. In hierdie skrywe gee sy goeie agtergrond, en verskaf ook 'n skakel waar die nodige inligting en registrasievorms afgelaai kan word.

Kommentaar: Michael Swain, FOR SA

Kritiek op die ECE Toolkit oor gender-gelykheid in skole

Die Departement van Basiese Onderwys het 'n sg. ECE-toolkit ter bevordering van gender-gelykheid in skole vrygestel. Dit word reeds in 5 provinsies implementeer, met die doel om diskriminasie op die basis van gender in skole te bekamp.

Verskeie geloofsorganisasies is sterk teen die ECE-toolkit gekant. Een beswaar is ouers en gemeenskappe se godsdienstige en kulturele oortuigings wat weerspreek word, sonder om insette van plaaslike gemeenskappe te verkry. Dit lê ook ouers se reg om hul kinders volgens hul oortuigings op te voed aan bande, word gesê.

Michel Swain van FOR SA, aktiviste vir godsdiensvryheid, meen dat hierdie 'n ideologies-gedrewe aksie is wat saam met 'n hele stel wetgewing daarop ingestel is om godsdiensvryheid aan bande te lê. Nuwe wetgewing oor haatspraak is nog 'n goeie voorbeeld hiervan. Vir hom is godsdiensvryheid elke enkele mens in ons land se reg, ongeag die spesifieke oortuiging, om sy/haar godsdiens vryelik te beoefen. Dit is 'n "neutrale" reg, want dit beskerm elke oortuiging, maar daarom ook die reg om die evangelie te deel.

Die ECE Toolkit tas volgens hom hierdie reg aan. Swain het 'n groep kerkleiers uit Nelson Mandelabaai oor die saak toegespreek. Kyk na die opname van die geleentheid en besoek FOR SA se webblad

Gaan 'n robot (met 'n ChatGPT-brein) jou werk oorneem?

Figure 01 (hierbo) is 'n humanoïde robot wat verskeie voorwerpe kan herken,
take op steminstruksie kan uitvoer en in natuurlike taal met jou kan gesels.
Is jou werk in gevaar?


"Kan slimrobotte soos Figure 01 mense van sekere poste beroof?," vra veteraanprogrammeerder Mosh Hamedani in 'n Youtube-video. Wat is die voordele en nadele van hierdie ontwikkeling?

Binne die domein van die helpende professies, is een van die moontlikhede om die fisiese versorging van verswaktes aan robotte oor te dra. Talle huishoudelike take kan geoutomatiseer word. Geld dit ook vir preke en huisbesoeke?

Mosh Hamedani wys daarop dat menslike aanraking nooit vervang kan word nie. 'n Paar jaar gelede het joernalis Thomas Friedman in sy boek Thank you for being late al daarop gewys dat elke mens in krisisse of periodes van broosheid beland waar jy 'n medemens nodig het om jou by te staan en jou te ondersteun.

Die video wil gesprek aanspoor eerder as om konklusies of voorspellings te waag. Ewenwel, kyk na Hamedani se video hierbo en gesels saam!

Prop Conrad Pienaar

Nuwe diensleraar uit Oos-Kaapland gelegitimeer

Prop Conrad Pienaar, 'n lidmaat van Kraggakamma-gemeente, het sy opleiding voltooi en is op 8 April 2024 te Stellenbosch as diensleraar gelegitimeer. Hiermee sluit hy aan by verskeie ander diensleraars uit die Oos-Kaap, wat in terme van hulle veld van fokus in gemeentes werk.

Conrad is getroud met Lecia Pienaar, ’n apteker, en saam het hulle twee kinders, Leriché en Christiaan. Hy is werksaam by ’n maatskappy as ’n bestuurder en veiligheidsouditeur. In 2024 behaal hy met lof ’n BTh-graad in missionale bediening aan Hugenote Kollege.

Conrad het al verskeie leierskapsrolle vervul in gemeentes waarby hy betrokke was, naamlik diaken, ouderling, jeugleier, mentor en voorsitter van verskeie bedieninge. Hy was ook al as afgevaardigde by vergaderings van die ring en sinode. Hy het ’n passie vir jeug- en familiebediening met meer as tien jaar ondervinding daarin.

Conrad is tans betrokke by die NG Kerk Kraggakamma, waar hy ’n aktiewe rol speel in hulle musiekbediening en selgroepe, en by geleentheid ook eredienste lei. Hy is beroepbaar as ’n diensleraar met ’n fokus op jeug- en familiebediening, en kan by conradpienaar001@gmail.com gekontak word.

SA Inkomstediens het organisasies met belastingvrystelling in die visier

Die SAID fokus toenemend op 'n kategorie besondere welvarende individue maar ook op organisasies met belastingvrystelling, het die SA Inkomstediens se kommissaris Edward Kieswetter tydens 'n aanbieding aan die begin van April gesê, berig News24.com.

Gemeentes beskik oor belastingvrystelling kragtens hul registrasie as Openbare Weldaadsorganisasies (Public Benefit Organisations) by die SA Inkomstediens. Hierdie organisasies staan in die omgangstaal as PBO's bekend, en kan nie-winsgewende organisasies, maatskappye en trusts insluit.

Volgens Kieswetter is daar 'n totaal van 64,000 PBO's. News24.com haal hom as volg aan:

The level of abuse and low compliance in this area remain a huge concern, including [them] being used as vehicles for money laundering and tax crime," highlighting that this was one of the areas South Africa must address in order to be removed from the Financial Action Task Force's (FATF) grey list. The FATF is an intergovernmental body that sets global standards to combat money laundering and terrorist financing,
SARS has stepped up its risk detection of nonprofit organisations and disallowed R1 billion of impermissible claims, presented as donations, over the past year.

Additional reporting information is also now required as part of regulatory changes. Over the past year, tax revenue from these organisations increased by almost 9% to R16.5 billion.

Vir gemeentes wat by die reëls bly is daar geen rede tot kommer nie. Dit is belangrik om die LBS wat van werknemers verhaal word, maandeliks aan die SAID oor te betaal. Gemeentes se ouditeure kan advies oor die regte berekening van inkomstebelasting gee. Gemeentes betaal nie op hul inkomste belasting nie (behalwe inkomste uit handelsinkomste, wat volgens 'n formule berekening word waarmee die ouditeur kan help).

Laat die finansiële state jaarliks deur 'n geregistreerde ouditeur volgens die kerkorde ouditeer en dien die state betyds by die Ring én die Direkteur Sinode in. Waar gemeentes oor beleggings beskik, sal beleggingsinstansies dikwels spesifieke informasie aanvra, waarop in terme van die kerkorde reageer kan word. Nader die Direkteur Sinode om hulp hiermee by danie@ngkok.co.za.

Praktiese manier om jou bure te leer ken

Ds Toit Wessels vertel Kraggakamma-gemeente nooi lidmate om hul bure se klokkie te gaan druk en dan die bure te leer ken. Jy kan hulle respons op 'n paar gespreksonderwerpe op 'n vel papier aanbring en dit teen jou yskas sit. As hulpmiddel word 'n tabel beskikbaar gestel (sien hieronder of klik hier om dit af te laai).

Elders gesien

  • Drie Oos-Kaapse landelike munisipaliteite word deur die 2024 Indeks vir Regeerprestasie (Governance Performance Index, GPI) van Good Governance Africa as van die bes-bestuurde munisipaliteite in die land uitgewys. Die munisipaliteite Mnquma (gesetel op Butterworth) en Winnie Madikizela-Mandela (gebaseer om Mbizana) tel onder die top-vyf, geselekteer uit 61 munisipaliteite. Die Joe Gqabi distriksmunisipaliteit vaar die beste van 21 distriksmunisipaliteite met waterdienste. Faktore wat geweeg word sluit administrasie, beheer, leierskap, bestuur, dienslewering, beplanning, monitering en evaluasie in, berig die Daily Dispatch.
  • Byna die helfte van alle gesuiwerde water gaan deur lekkende pype, diefstal of nie-betaling verlore. Lekplekke is vir 40% hiervan verantwoordelik. Durban is voor in die koor met hierdie "non-revenue" waterverlies (58%), gevolg deur Johannesburg (48,2%), Gqeberha (48%), Bloemfontein (46,4%), Oos-Londen (37,7%), Ekurhuleni (30,9%) en Kaapstad (29,4%), berig Daily Maverick.
  • 'n Nuwe Hof vir Grondsake word tans saamgestel en vervang die ou Hof vir Grondeise. Die nuwe hof, gebaseer op wetgewing wat in 2023 aanvaar is, sal permanente regters, met 'n eie regter-president en 'n behoorlike infrastuktuur hê. Dit het die status van 'n Hooggeregshof. Die ou Hof vir Grondeise, met sy deeltydse en tydelike strukture, dateer uit die 1990's en het totaal agtergeraak met sake, sowat 30 jaar agter. Agterstande met grondeise sal sowat R170bn kos om uit te sorteer, berig BusinessLIVE.

VBO: Hoe reageer jul gemeente tydens 'n ramp?

Wêreldwyd is daar aanduidings dat ons meer en meer rampe begin beleef. Dit hou verband met weer, water, wind en vuur. Dit het ook 'n impak op menslike rampe en ons beleef ook toenemend rampe deur die mens veroorsaak. Suid-Afrika word nie gespaar nie.

'n Ramp kan relatief klein (hanteerbaar deur 'n plaaslike netwerk), groter (hanteerbaar deur 'n streeksnetwerk) of nasionaal (waarvoor 'n nasionale intervensie nodig is) wees.

Leraars en lidmate word genooi om opleiding vir die vestiging van so 'n netwerk in Port Elizabeth te kom deurloop. Die opleiding vind van 4-5 Junie 2024 by die Bybelhuis plaas, en word gelei deur die ervare Lester Sedras van die RESPOND-Netwerk. Klik hier om in te skryf.

RESPOND is 'n vennoot ook van ander kerke en interkerklike liggame soos die SA Raad van Kerke en die The Evangelical Alliance SA, vennote met die wie die NG Kerk ook in ander opsigte saamwerk.
Julle kan 'n glimps van RESPOND se benadering kry by https://www.warehouse.org.za/respond-coalition/

VBO: Bediening aan jong volwassenes buite die kerk

Werkswinkel met Jaco Strydom: Maak 'n verskil

Stap visueel saam deur die Ou Testament - in Despatch-Suid se kerksaal

Besoekers is welkom om besoek by Despatch-Suid af te lê, hoek van Kerkstraat en Kromstraat. die gemeente het 'n uitstalling wat die Ou Testament visueel voorstel. Hulle nooi jongmense spesiaal, hoewel almal meer as welkom is.

Vakature: NG Gemeente Dordrecht

Die NG Gemeente Dordrecht is `n plattelandse gemeente, geleë tussen die Stormberge in die Oos-Kaap.
Die gemeente is gestig in 1857 en bestaan tans uit 180 belydende lidmate en 50 dooplidmate. Hierdie vakature is `n driejaar-termyn voltydse leraarspos, hernubaar na 3 jaar. Die gemeente resorteer binne die Ring van Dordrecht en Sinode Oos-Kaapland.
Klik hier om die posbekendstelling te lees.
Sluitingsdatum: 25 Mei 2024

Leraars beweeg

Ds Llewellyn Oliver van Mosambiek is na die NG Gemeente Grasvoëlkop as gemeenteleraar beroep.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter