Jaargang 22 - Nommer 25 - 30 Augustus 2024
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • So maak mens: 'n hele ring het net een predikant
  • Bid as gemeente op 1 September vir dowes
  • Blaai deur die CMR se foto-album en kyk na video-getuienisse
  • Toerusting rondom kerkadministrasie
  • Leraars beskikbaar vir aflospreekbeurte
  • Vakatures

Gevallestudie: Ring van Hanover

Praktiese bedieningsmoontlikhede waar predikantsposte in slag bly

Ds Marizanne Pfeil-Wessels van De aar en haar gesin (foto: Kerkbode)

Gemeentes voel dikwels desperaat wanneer 'n predikantspos nie langer gevul kan word nie. Dis vanselfsprekend, want die leierskap van 'n predikant in 'n landelike gemeenskap is vir beide gemeente en gemeenskap besonder baie werd.

Tóg is dit nie die einde nie. Ds Marizanne Pfeil-Wessels van De Aar sê aan Kerkbode: "Nuwe energie kom los wanneer gemeentes glo hulle het ’n toekoms op hulle dorp, selfs al is hulle sonder ’n vaste predikant. En daardie besef begin by die kerkraad." Die NG Gemeente De Aar is die enigste gemeente met ’n vaste predikant in ’n ring van sewe gemeentes in die Karoo.

Lees gerus hoe sy die verhaal van hierdie dilemma en onverwagse energie aan Kerkbode vertel.

Die nuwe opleidingsmodel van die NG Kerk met bane vir predikante, diensleraars en bedienaars, maak ruimte dat gemeentes in samewerking met hul ring steeds effektief bedien kan word.

Biddag vir Dowes - 1 September

Hierdie kort video verskaf gebedsversoeke wat gemeentes op die Biddag vir Dowes begelei om sinvol te bid

Sondag 1 September is Biddag vir Dowes. Gemeentes word genooi om tydens die erediens te bid vir persone wat nie kan hoor nie. Dink net aan al die uitdagings wat dit meebring in 'n wêreld waar klank so wesenlik vir kommunikasie is.

Volgens statistieke van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar meer as 466 miljoen mense wêreldwyd met 'n aansienlike gehoorverlies, waarvan 34 miljoen kinders is. In Suid-Afrika alleen word geskat dat ongeveer 4% van die bevolking gehoorverlies ervaar, wat dit 'n groot uitdaging maak vir hierdie groep mense om volledig te integreer in 'n samelewing wat dikwels nie sensitief is vir hul behoeftes nie.

Op 1 September vind die Biddag vir Dowes plaas en die maand van September word internasionaal ook aan Dowes gewy, 'n geleentheid om as geloofsgemeenskap in gebed saam te staan vir die Dowes in ons gemeenskappe en wêreldwyd.

Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) op Worcester lewer uitgebreide dienste aan dowe persone. Klik op die video hieronder om meer oor die NID se werksaamhede te leer.
'n Instrukteur gebruik gebaretaal om dowes by die Nasionale Instituut vir Dowes op te lei. Klik op die grafika hierbo om 'n kort agtergrondsvideo te sien.

Die Nasionale Instituut vir Dowes, geleë in Worcester, is sedert 1881 in bedryf. Dit is die voorste organisasie in Suid-Afrika wat omvattende dienste aan Dowes en persone met gehoorverlies in Suid-Afrika en Afrika verskaf. Die NID se visie is die holistiese ontwikkeling van die volle potensiaal van persone met gehoorverlies deur noodsaaklike gehalte dienste aan hulle te lewer. Vir meer inligting, besoek hul webwerf.

Hulpmiddel vir groepe, kategese en dissipelskap

Ons glo - die kern van ons geloof

Bybel-Media het 'n app ontwikkel, beskikbaar op die web, die Playstore en Appstore wat van groot waarde is om geloof te help vorm.

‘n Kooltjie in 'n vuur gloei die sterkste as dit naby ander kole is in die vuur. Net so het ons mekaar nodig om ons geloof te verwoord en te versterk. Reis saam met ons deur die belangrike temas van ons Christelike geloof. Hierdie is ‘n dissipelskap hulpmiddel wat deur kleingroepe, gesinne, kategese-groepe of individue gebruik kan word.

Hier is twee bane, die 5 bakens en die 12 artikels, wat elk sekere kernaspekte van ons geloof in die vorm van ‘n Bybelstudie aanbied. Kyk in die kieslys vir meer besonderhede.

Wie kan dit doen?
  • Kleingroepe of Bybelstudiegroepe
  • Tiener-kategesegroepe of jeuggroepe
  • Gesinne (oud en jonk kan saam deelneem)
  • Individue (soek ‘n mentor of geestelike vriend om mee die temas te bespreek en mee saam te bid.)
  • Gemeentes (preek volgens die bane se hoofgroeperings óf individuele temas)

Hoe verloop elkeen van die “dink saam”-gedeeltes?
  • Inleiding – ‘n bondige opsomming van die onderwerp
  • Delf Dieper – ‘n teoloog se samevatting van die onderwerp met nuttige skakels
  • Luister – ‘n verhaal of teks vanuit die Bybel
  • Dink – vrae om oor na te dink en te bespreek na aanleiding van die teks en onderwerp
  • Doen – praktiese voorstelle van hoe die onderwerp geleef kan word
  • Bid – ‘n gebedswenk
  • Tiener fokus – ‘n uitdaging of wenk wat op tieners gemik is
  • Familie fokus – ‘n praktiese voorstel van hoe om in gesinsverband met kinders hierdie tema verder kreatief te ontdek.
Klik hier vir die webweergawe, of gaan soek in jou selfoon se toepassingsarea.

CMR Port Elizabeth

Op 80 meer diensbaar as ooit

Hierdie kort video laat die kollig op die CMR se werksaamhede val met getuienisse oor die impak van die organisasie in mense se lewens

Die Christelike Maatskaplike Raad van Port Elizabeth word vanjaar 80 jaar oud. Die organisasie se impak is wyer as ooit, danksy steun van gemeentes.

By die feesvieringe is hoopvol vorentoe gekyk, maar ook dankbaar terug.

Me Magda von Solms, direkteur van die CMR, skryf aan lesers van Grens.Pos:

Ons is werklik dankbaar vir toegewyde personeel wat met vanuit hul Christelike geloofsoortuiging hul werk doen. Kyk na die kort video (hierbo) waarin ‘n paar getuienisse gegee word, maar ook een van ons maatskaplike werkers, Khanyisa Giyosi, wat uit haar hart praat tov haar belewenis van kinderbeskermingsdienste.

Ons ontvang baie goeie terugvoer tov werkswinkels wat gesins-en geslag gebaseerde geweld aanspreek en staan dikwels verbysterd wanneer die vroue hul lewensverhale in hierdie “veilige ruimtes” deel. Daar is ‘n gretigheid om bemagting te word met inligting en lewensvaardighede waarmee ingeligte besluite geneem kan word.

Skole ervaar ernstige uitdagings tov kinders wat ander boelie. Ons WITS (Walk away, Ignore, Talk in out, Seek help) program is hoog in aanvraag. Die afgelope jaar is 961 leerders met hierdie program bereik. Tans identifiseer skole kinders met aggressiewe gedrag wat in groepwerk betrek word.

CMR is oneindig dankbaar vir die ondersteuning wat vanaf gemeentes ontvang word tov ons dienste - finansiële bydraes asook praktiese bystand met verversings vir programme, skool klere en benodigdhede, noodhulpvoedsel om maar ‘n paar te noem.

Ons vra spesifiek vir voorbidding vir die veiligheid van ons personeel wat dikwels in baie gevaarlike areas huis besoeke moet doen en konflik belaaide omstandighede moet hanteer.

Klik hier om na die jongste jaarverslag te kyk. Dan is daar oor twee foto-albums wat by die 80-jarige fees vertoon is, die eerste wat foto's van die personeel en beheerraad in herinnering roep, en die tweede met foto's van die indrukwekkende programme van die CMR.

"Laat ons ophou verdeeldheid saai"

Ons is 'n kerkverband: "Ons bely 'n eenheid en beleef verskeidenheid"

"As Moderamen is ons verbind tot konstruktiewe gesprek waarin ons mekaar respekteer, in liefde by die waarheid bly oor wie ons is en wat besluit is, begrip vir mekaar se sieninge nastreef", skryf ds Jan Lubbe vandeesweek in 'n herderlike brief aan lidmate en leraars van die NG Kerk.

"Waar foute gemaak is, moet ons mekaar dit help raaksien, vergewe, regstel en verder saam op weg gaan. Geen gelowige of gemeente mag weens hul gewetensoortuiging – voor God en sy Woord – gebind of gedwing word nie; ons is in Christus vrygemaak.

"Terselfdertyd beteken dit nie dat ek kan maak wat ek wil, ten koste van ander òf die Here se gemeente nie; ons het ʼn Kerkorde. Ons word opgeroep om te waak teen selfsug, jaloesie, twis, bitterheid, gekonkel, vyandskap en alles wat onrein is; om ons te beklee met Christus en die vrug van die Gees – Efesiërs 4 en Galasiërs 5.

Lubbe vra dat ons "geregtigheid in vrede saai". Aangesien alleen God se Woord ewig bly, en nie ons menslike verklarings daarvan nie, moet ons ook ophou om mekaar te verketter.

Lees die volledige Herderlike Brief.

Negatiewe effek van "wen ten alle koste"

Bekamp oordrewe dryf vir prestasie en koop van leerlinge in skole

Kompetisie is goed en pret, maar net tot op 'n punt. Tans dryf sekere skole prestasie hopeloos te ver, sê dr Jaco Deacon van FEDSAS

Dr Jaco Deacon, hoof- uitvoerende beampte van Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole), het onlangs sy kommer uitgespreek oor die toenemende tendens van skole wat leerders "oorkoop" vir prestasies.

In 'n onderhoud met Naomi Meyer van LitNet het Deacon verduidelik dat sommige skole beurse aan leerders bied om hulle prestasies te verbeter, veral in sport. Hy meen dit versteur die opvoedkundige balans en maak leerders "verhandelbare items".

Deacon beklemtoon dat skole se hoofdoel onderrig moet wees, met 'n gesonde balans tussen akademie, sport en kultuur. Hy erken dat prestasiegedrewenheid dalk spruit uit 'n behoefte om 'n "wenkultuur" te skep, veral in 'n land met baie uitdagings.

Die Fedsas-hoof meen egter dat hierdie praktyk onvolhoubaar is en kleiner skole benadeel. Hy roep skole op om eerder op waardegedrewe onderwys te fokus, met klem op respek, verantwoordelikheid en medemenslikheid.

Wat vaardighede betref, verwys Deacon na die Wêreld- Ekonomiese Forum se lys van top vaardighede vir 2024. Hierdie sluit in analitiese en kreatiewe denke, aanpasbaarheid, tegnologiese geletterdheid en leierskap. Hy beklemtoon dat hierdie vaardighede deurlopend in alle vakke ontwikkel moet word.

Deacon pleit vir 'n meer gebalanseerde benadering tot onderwys, waar die fokus val op die ontwikkeling van elke leerder se potensiaal, eerder as net op prestasies. Hy moedig skole aan om hul programme krities te evalueer en te verseker dat dit opvoedkundig, wettig en eties verantwoordbaar is.

Deacon benadruk ook die belangrikheid van puik opvoeders om leerders toe te rus vir die uitdagings van die toekoms, met 'n kultuur van dissipline, harde werk en verantwoordelikheid in die onderwysstelsel.

Lees die volledige onderhoud op LitNet.

Leer en bou saam om neurodiverse bediening te ontwerp

Ds Jan Theron van die NG-gemeente Vredendal rig 'n uitnodiging om te help leer en bou aan bediening wat neurodivergente persone en die gesinne waarvan hulle deel is, kan verwelkom.
Klik hierdie skakel om by die whatsappgroep aan te sluit. Kontak ds Jan Theron vir verdere navrae.

Omgewingsbewaring

Shell kry weer kans om te vra vir eksplorasie aan die Wildekus

Die Konstitusionele Hof het geweier om 'n appèl deur Shell en Impact Africa aan te hoor teen 'n uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl (HHA) dat die reg om seismiese opnames langs die Wildekus uit te voer, onwettig toegestaan is.

Die hof het egter ingestem om die Wildekus-gemeenskappe aan te hoor wat die HHA se verdere uitspraak wil betwis, wat Shell die geleentheid gee om by die minister van minerale hulpbronne en energie aansoek te doen om die omstrede permit vir 'n derde keer te hernu.

Die HHA het, in die aanhoor van wat die mislukte appèl deur Shell en die minister geword het, met hierdie bevindings saamgestem. Maar die hof het gesê dit sou "te streng" wees om die eksplorasiereg onmiddellik ter syde te stel en het in plaas daarvan die bevel van ongeldigheid opgeskort hangende die uitkoms van 'n derde hernuwingsaansoek deur Shell (wat dit in 2023 ingedien het).

Die Wildekus-gemeenskappe sê dit was verkeerd. Hulle sê die HHA-bevel het nie die reg van gemeenskappe en ander partye op regverdige administratiewe optrede beskerm nie. Dit het ook nagelaat om duidelikheid te gee oor wat Shell en die minister moet doen om die gebreke in die vroeëre proses reg te stel, "wat beteken dat daar onvermydelik meer litigasie sal volg".

In 'n beëdigde verklaring het Delme Cupido, Suider-Afrika-streekdirekteur van Natural Justice, wat ook namens Greenpeace Afrika praat, die opskorting van die ongeldigheid as "buitengewone verligting" beskryf, wat as 'n "totale verrassing" gekom het omdat geen van die partye daarvoor gevra het nie en dit nie tydens die verhoor bespreek is nie.

(Daily Dispacth, 29 Augustus 2024)

Oos-Kaap hou Sinode in 2025

Gemeentes kan solank aanteken dat sinode Oos-Kaapland van 13-16 Oktober 2025 by die Willows Konferensiesentrum teen die see in Nelson Mandelabaai vergader.

Amptelike kennisgewings deur gemeentes aan Kerkbode en Sinode

Daar is 'n hele aantal sake waaroor gemeentes amptelike kennisgewings in Kerkbode se Amptelike kolom en ook aan die Direkteur Sinode moet stuur. Hoe werk dit? Hier is 'n inligtingstuk vir skribas van kerkrade en ringe.

Klik hier om na Kerkbode se amptelike kolom te loer.

Newtonpark hou Lentemark op 31 Augustus

Klik hierbo vir 'n groter weergawe van die voorafbestellings.

Fort Beaufort sê dankie vir 75 jaar met musiekfees

Die dankfees vind op 1 September 2024 plaas met ds Geo de Kock as prediker, Bouwer van Rooyen (bekroonde orrelis), sopraan Elmari Meyer (solis) en die Cantando@Algoa gemeenskapskoor.

NG Kerk Uitenhage-Oos hou Lentebasaar, 7 September

7 September 2024 vanaf 9h00 tot 12h30
Somersetstraat, Van Riebeeckhoogte, Uitenhage

Kerk-Dagboek

  • PE-Sonheuwels hou op 30 Augustus om 16:30 basaar - meer inligting. Die gemeente is in Bougainvilleaweg, Westering, Port Elizabeth.
Plaas gerus jul gemeente se gebeurtenis op Kerkbode se Kerkdagboek, jou nasionale digitale megafoon. Dis maklik en verniet.

Prof Stephan Joubert by Lorraine

Hoe leef mens in 2024 as Christen?

Kaartjies is by die kerkkantoor te koop.

Aanlyn VBO 12

Angs as die nuwe depressie - pastorale riglyne

Angs is al beskryf as die ‘amptelike emosie van ons eeu’. Waar depressie eers bo-aan die lys was in terme van geestesgesondheid versteurings, het angs dit nou vervang en word dit selfs beskryf as epidemies.

Bydraende faktore hiertoe is byvoorbeeld die getraumatiseerde samelewing waarbinne ons onsself bevind met sy hoë misdaad syfers, politieke onrus, motorkapings, plaasmoorde, die pas van die samelewing wat al vinniger raak, en dan veral ook die rol van die Internet en sosiale media.

Toenemende liggaamlike en emosionele probleme en selfs paniek aanvalle is sommige van die kritiese gevolge van al hierdie faktore.

Prof Wentzel coetzer bied op 12 November 2024 'n aanlyn VBO-kursus met pastorale riglyne vir die hantering van angs aan.Heling en langtermyn oplossings is slegs moontlik deur middel van ʼn multidissiplinêre benadering waarvan die Pastoraat ʼn onontbeerlike komponent is – veral omdat angs so dikwels ook lei tot ʼn geloofskrisis.

Die oogmerk met die voorgestelde pastorale benadering in hierdie kursus is dat afgesien van moontlike psigologiese en mediese insette, angs en vrees uiteindelik vervang sal word met die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, soos beskryf deur Paulus in Filippense 4:7.

Klik hier om in te skryf.

Verskeie seminare oor kerklike administrasie

David Rajh is leraaar by Every Nation N1 City in die Kaap. Hy het sy doktorsgraad in kerkadministrasie in 2023 by die Noord-Wes Universiteit verwerf. In sy proefskrif gee hy riglyne hoe om beginsels uit die bestuurswetenskappe teologies gesond op kerke van toepassing te maak.

David is 'n goeie administrateur en bied in September aanlyn opleiding aan. Hoewel dit nie spesifiek op die NG Kerk gerig is nie, kan die opleiding werklik waardevol wees, en is boonop op Zoom en dus toeganklik. Klik op die grafika hierbo vir agtergrondsinligting en om te registreer.

Vakature: NG-gemeente Middelburg-Karoo

Middelburg Karoo is ’n plattelandse gemeente in die Oos-Kaap met sowat 400 belydende lidmate en 50 dooplidmate ingedeel in 10 dorps- en vier plaaswyke. Die dorp beskik oor ’n hoër- en laerskool, sowel as ’n landboukollege.

Die gemeente beskik oor 'n vakature vir 'n predikant (vastetermynkontrak 1-3 jaar). Hier is die posbekendstelling. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 16 September 2024.

Vakature: NG Gemeente Humansdorp-Oos

Die NG Gemeente Humansdorp-Oos is geleë in die sentrale plattelandse dorp Humansdorp in die Oos-Kaap, met die naaste lughawe in Gqeberha slegs 80 km ver. Jeffreysbaai is ook net 17 km van ons af. Humansdorp is ’n gesogte woonbestemming vir families met die pragtige kusdorpe St Francisbaai en Kaap St Francis slegs 20 km van die dorp wat ook deel vorm van die gemeente. Die dorp spog verder met goeie, gevestigde hoër- en laerskole.

Lees die posbekendstelling. Die sluitingsdatum is 31 Augustus 2024

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Burgersdorp en omgewing
Schutte, ds Hansie - 082 659 2480

Gqeberha (Port Elizabeth)

Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764

Jeffreysbaai en omgewing

Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068
Vosloo, ds Johan -

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853
Muller, ds Christoph - 082 308 5795

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za

Leraars beweeg

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter