Jaargang 22 - Nommer 27 - 20 September 2024
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • 'n NOOTsaaklike toerustingsgeleentheid
  • Twee klein gemeentes vat hande ter wille van voortbestaan en effektiewe bediening
  • 'n Lekker probleem wat elke gemeente kan hê
  • Aanlyn inligtingsessie wat klein gemeentes, eintlik alle gemeentes, baie kan help
  • Leraars beskikbaar vir aflospreekbeurte
  • Leraars beweeg

Gemeentes wat hande vat

NG Gemeente en Presbiteriane werk saam om toekoms te verseker

Stutterheim se NG kerkgebou op 'n reënerige, bewolkte dag in dié dorp van houtproduksie en saagmeule

Helene Meissenheimer van Kerkbode was pas op 'n nuustoer in die Oos-Kaap. Een van die wonderlike verhale om te vertel is die wyse waarop die klein NG en Presbiteriaanse gemeentes op Stutterheim, die bosboudorp tussen die ou Ciskei en Transkei, hande vat om 'n gemeenskaplike toekoms te verseker.

Sou die twee gemeente nie saamwerk nie, sou beide se toekoms in gedrang wees. Ander gemeentes kan baie leer by dié twee gemeentes en die praktiese wysheid waarmee hulle saamwerk.

Die eredienste en gemeentelike bediening word insluitend ingerig sonder om behoeftes van die moedertaalsprekers te negeer. Daar is weer 'n Sondagskool. En die een pastorie is in woonstelle omskep en bring byna R20,000 per maand in.

Daar is nog veel meer om te leer. Hoe lyk 'n kerk wat só werk? Lees gerus hoe berig Helene hieroor in Kerkbode.

'n Lekker probleem (wat enige gemeente kan hê)

'n Heerlike erediens om tafels in die kerksaal skep 'n nuwe "probleem", 'n goeie probleem, 'n probleem wat elke gemeente kan hê

Kerkbode vertel:

Een Oos-Kaapse stadsgemeente het deesdae ’n goeie probleem …

Hulle eksperiment om kwartaalliks ’n diens in die kerksaal te hou waar oud en jonk saam om tafels sit word só goed bygewoon dat daar nie altyd vir almal plek is nie.
Só vertel ds Robert-John de Kock van die NG Gemeente Nooitgedacht in Gqeberha. Die eksperiment is een van ’n paar waarmee hulle gemeente besig is om eredienste meer verwelkomende ruimtes vir kinders en hulle ouers te maak.

De Kock is een van Gqeberha se drie ringskriba’s wat Kerkbode vandeesmaand besoek het. Ons doel is om meer uit te vind oor ’n omvangryke inisiatief in daardie deel van die wêreld wat vroeër vanjaar sowat 240 mense vanuit 24 gemeentes in die stad by ’n reeks gesprekke betrek het. Die kern van die saak? Al meer Baaise gemeentes sê: “Ons wil ’n kultuur vestig dat kinders welkom is in eredienste”.

Lees verder hoe Kerkbode hieroor berig.

Aanlyn Inligtingsessie wat almal behoort by te woon

"Bedienaars": 'n nuwe moontlikheid vir bediening

Is jy passievol oor bediening in jou gemeente, wil jy jou roeping laat groei, of in jou geloof belê? Hugenote Kollege is opgewonde om die bekendstelling van die herontwerpte, aanlyn teologiese opleidingsprogram aan te kondig. Hierdie program is daarop gemik om gelowiges toe te rus met die vaardighede om Bedienaars te word. Die program maak dit moontlik vir gelowiges wat die Here wil dien, om hul roeping te verdiep deur gehalte opleiding. Die program is ook ontwerp vir gelowiges wat gewoon net hul eie dissipelskap wil verdiep deur nuwe vaardighede aan te leer. Areas van formasie sluit in:

• Verkondiging van die Woord
• Missionale Leierskap
• Jeug en Familie
• Gemeenskapsdiakonaat
• Pastorale Sorg

Of jy reeds by ’n bediening betrokke is of voel dat jy geroep is om jou geloof te verdiep, bied hierdie program ’n omvattende teologiese opleiding met praktiese toepassings wat jou voorberei om met vertroue te dien.

Sluit by ons aan vir ’n aanlyn inligtingsessie om meer te leer oor die kurrikulum, struktuur en hoe hierdie program jou in jou bediening kan bemagtig. Ons dek alles van die kursus inligting tot die aansoek proses, en jy sal die geleentheid hê om enige vrae te vra wat jy mag hê.

Datum: 17 Oktober 2024
Tyd: 18:00–20:00
Platform: Zoom
Registreer hier om die skakel te ontvang.

Vir meer navrae oor die geleentheid, kontak ds. Jaco Botha by stb4@hugenote.ac.za.

Onbeskaamd tree op by Lorraine Familiekerk - 4 Okt

Nooitgedacht Minibasaar

Saterdag, 5 Oktober om 10:00 in die kerksaal, Vanderstelstraat, Kabegapark, Gqeberha.
Daar sal Roosterkoeke, Jaffels, Poeding, Koffie/Tee, Pannekoek en Slap Chips te koop aangebied word. Kindervermaak: Springkasteel en gesigverf.
Navrae: Leandi (0838814283).

Nooitgedacht Rolbaldag

Vrydag, 25 Oktober om 14:00 by Western Suburbs Bowling Club in Sunridgepark, Gqeberha. Koste is R100 per persoon (4 persone per span). Gratis Boereworsrol en “Lucky Draw”. Kom ondersteun ons gerus.
Navrae: Leandi (0838814283).

Willie Joubert, Uitenhage-Oos, erediens 27 Okt

NOOTsaaklik vir leraars en musiekbedieningspanne

Eredienste en aanbidding wat Jonk en Oud bereik en betrek

Hier is 'n wonderlike, praktiese geleentheid om gemeentes se bediening 'n hupstoot te gee! Dit is gerig op gemeenteleiers (leraars, orreliste, musiekbedienaars, orkesleiers, eredienswerkgroepe, ja eintlik die hele kerkraad).

Gemeentes weet dis krities belangrik om kinders, jongmense en hul ouers by die gemeente te verwelkom en te betrek. Ons dilemma is ons gemeentes verouder sonder om oor die vaardighede te beskik om kreatief alle ouderdomme te betrek en te bedien in die gemeente se eredienste en aanbidding.

Neil Büchner beskik oor die kennis en vaardighede om ons te help. Hy is 'n begaafde musikant, getroud met Lettie Büchner, 'n predikant van die NG Kerk, en baie betrokke by musiekbediening in sy tuis- en ander gemeentes. Hy het ook sy merk in die wêreld van geestelike musiek gemaak. Neil is bekend vir musiek wat geloof en inspirasie by luisteraars aanwakker.

Naas musiek beskik Neil oor die gawe om met uiteenlopende groepe (klein en groot gemeentes, skole) en ander musikante saam te werk om musiekbediening te bevorder.
Hy leef met waardering vir ander se talente en is betrokke by verskeie gemeentes se ontwikkeling en die toerusting van hul musiekbedienaars. Hy help gemeentes gereeld om musiekbedieningspanne op die been te bring.

Klik hier vir meer inligting en om in te skryf.
Klik hier om te registreer.

Webinaar oor neurodiversiteit op 9 Oktober:

Hoe bedien ons gesinne met kinders met bv outisme of disleksie?

In ons gemeentes en gemeenskap is daar ouers wat swaar dra met die diagnose van hul kind, wat autisties, aandag-afleibaar, disleksies ens. is. Hierdie diagnose laat ouers baie skaam, bang en alleen voel.

Hoe bedien ons hierdie gesinne? Wat is ons rol as gemeente in hierdie ouers se lewe? Dit is geweldig moeilik vir hierdie gesinne om in ‘n erediens in te skakel, kinderkerk en kategese is baie oorstimulerend vir die kinders. Waar begin ons?

In hierdie webinaar gaan ons saam droom en gesels oor verskillende kontekste (platteland en stedelik), Lorindi Nel van Learning for Life gaan ons help met wonderlik inligting vir die wêreld van so ‘n gesin en dit kan ons help in ons bediening in ons gemeentes.

200 jaar van kerkwees by Kerkargief gevier: 2 November 2024

U word vriendelik uitgenooi om te kom deel in die Feesvieringe vir die 200-jarige herdenking van die eerste Sinodesitting op 2 November 1824. Dit is vanjaar 200 jaar gelede. Klik hier vir die uitnodiging en konferensieprogram.

Aanlyn VBO 12 November

Angs as die nuwe depressie - pastorale riglyne

Angs is al beskryf as die ‘amptelike emosie van ons eeu’. Waar depressie eers bo-aan die lys was in terme van geestesgesondheid versteurings, het angs dit nou vervang en word dit selfs beskryf as epidemies.

Prof Wentzel Coetzer bied op 12 November 2024 'n aanlyn VBO-kursus met pastorale riglyne vir die hantering van angs aan.Heling en langtermyn oplossings is slegs moontlik deur middel van ʼn multidissiplinêre benadering waarvan die Pastoraat ʼn onontbeerlike komponent is – veral omdat angs so dikwels ook lei tot ʼn geloofskrisis.

Die oogmerk met die voorgestelde pastorale benadering in hierdie kursus is dat afgesien van moontlike psigologiese en mediese insette, angs en vrees uiteindelik vervang sal word met die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, soos beskryf deur Paulus in Filippense 4:7.

Klik hier om aanlyn in te skryf.

Vakature: Leraar NG Gemeente Murraysburg

In biddende afhanklikheid nooi die NG Gemeente Murraysburg leraars en emeritusleraars om aansoek te doen vir hierdie vakante leraarspos.

Die NG Kerk Murraysburg is geleë in die hartjie van die Sentraal-Karoo met sy eiesoortige natuurskoon. Murraysburg is ’n kleiner plattelandse dorp ongeveer 90 km noordwes van Graaff-Reinet, waar hoofsaaklik skaap-, Angorabok- en beesboerdery bedryf word. Die gemeente bestaan uit 103 belydende lidmate en 35 dooplidmate wat in ’n dorpswyk en vier plaaswyke ingedeel is. Mense en menseverhoudinge is baie belangrik in ons dorp en ons streef na onderlinge samewerking om die hartklop van die dorp te versterk. Ons dorp met sy mooi omgewing, gesonde vars lug en ’n aktiewe gemeenskap voorsien in die noodsaaklike behoeftes en infrastruktuur. Talle jonger gesinne het hulleself in die laaste paar jaar in die gemeente gevestig.

Klik hier om die posbekendstelling te lees. Die sluitingsdatum is 30 September 2024.

Vakature: Voltydse Leraar, Jansenville

Die NG Gemeente Jansenville stel 'n voltyds predikantspos vir 'n termyn bekend.

Jansenville-gemeente is in die Oos-Kaap geleë, in ’n omgewing wat die Noorsveld genoem word. Dit is 180 km vanaf Gqeberha (Port Elizabeth) en Graaff-Reinet is 85 km verder op pad na Middelburg en Colesberg. Die gemeente bestaan uit ongeveer 209 belydende en 33 dooplidmate wat in drie plaaswyke en vyf dorpswyke woon.

Boerdery vorm die kern van ekonomiese aktiwiteit en Jansenville is ’n sleutelpunt van die wêreldwye bokhaar- (“mohair”) bedryf. Verskeie groot en klein sakeondernemings is die werkverskaffers wat in die meeste verbruikerbehoeftes voorsien.

Klik hier om die posbekendstelling te lees. Die sluitingsdatum is 11 Oktober 2024.

Vakature: NG-gemeente Middelburg-Karoo

Middelburg Karoo is ’n plattelandse gemeente in die Oos-Kaap met sowat 400 belydende lidmate en 50 dooplidmate ingedeel in 10 dorps- en vier plaaswyke. Die dorp beskik oor ’n hoër- en laerskool, sowel as ’n landboukollege.

Die gemeente beskik oor 'n vakature vir 'n predikant (vastetermynkontrak 1-3 jaar). Hier is die posbekendstelling. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 16 September 2024.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Burgersdorp en omgewing
Schutte, ds Hansie - 082 659 2480

Gqeberha (Port Elizabeth)

Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764

Jeffreysbaai en omgewing

Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853
Muller, ds Christoph - 082 308 5795

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za

Leraars beweeg

Dr Stephan Naudé van Newtonpark is beroep na die NG Gemeente Doornpoort.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter