Jaargang 21 - Nommer 3 - 3 Maart 2023
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Voortslepende droogte: Dag Zero vir Nelson Mandelabaai en Kouga skuif nader
  • Wat gebeur prakties in gemeentes wat floreer?
  • Hoe gaan dit oorhoofs in die NG Kerk se gemeentes volgens Kerkspieël 2022?
  • Algemene Taakspan Regte adviseer oor Kairosbeweging se Koinonia-Sinode
  • Leraars beweeg en 'n nuwe baba

Watertekorte in Nelson Mandelabaai en Kouga knyp nou ernstig

'n Kaart van woongebiede in Nelson Mandelabaai waar waterverbruik drasties ingekort moet word aangesien voldoende water uit die Gariep nie direk hierheen gekanaliseer kan word nie

Die Kouga-munisipaliteit (dorpe soos Humansdorp en Jeffreysbaai) en woonbuurte in Nelson Mandelabaai wat vir hul watertoevoer uit die sg. Westelike damme afhanklik is, ervaar nou daadwerklike watertekorte. Die krane het nie heeldag water nie. Sommige woonbuurte ervaar tot 7 dae op 'n slag sonder water. Wanneer 'n reservoir leegloop, is dit 'n ingewikkelde proses om dit te hervul sonder om die infrastruktuur te beskadig.

Tog is daar in Nelson Mandelabaai steeds meer as 40,000 huishoudings wat die oorhoofse perk van 9,000 liter per maand oorskry.

Weens die uitleg van die watersisteem kan die water uit die Gariep nie vryelik na al die woonbuurte versprei word nie. Oor die afgelope week is die onttrekking uit die Westelike damme beperk tot die toegelate kwota. Dit beteken dat nie alle gebruikers in die metropool gelyktydig tot water toegang het nie. Dieselfde is waar van die Kouga-munisipaliteit, wes van Nelson Mandelabaai.
Die Impofudam, die grootste dam waaruit Nelson Mandelabaai eksklusief water kry, is dolleeg. Hier is die watervlak by die waterinlaattoring waar net 'n poel water beskikbaar is

Gebed en verootmoediging

Oos-Kaaplandse gemeentes word versoek om gereeld vir die droogte te bid en tydens die eredienste ruimte vir verootmoediging en voorbidding te skep.

Hoe lyk gemeentes wat floreer en gereed is om uitdagings van die toekoms te ontvang?

Hoe lyk gemeentes wat gereed is om teen die agtergrond van die onsekere toekoms te floreer en te bly floreer?

Die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode het 'n steekproef by 'n aantal gemeentes gedoen om te bepaal waarom hierdie gemeentes floreer. Die Taakspan sê:

Leraars en gemeentes word voortdurend uitgedaag om sin te maak van hul roeping en wat dit beteken om “kerk te wees” vandag; bewus van nuwe (en unieke) uitdagings en tendense wat posvat in ons gemeentes en gemeenskappe, ons land en in die wêreld.

Raakpunte

Wanneer hierdie gemeentes hul verhale vertel, is daar die volgende raakpunte. Al vyf gemeentes:
  • ... beklemtoon die belangrike rol wat gemeenteleiers speel in ‘n gemeente.
  • ... het doelbewus nagedink oor hulle roeping: op ‘n retraite gegaan, ‘n strategiese sessie of droomvergadering gehou, hulself afgesonder en/of met ‘n teks oordink.
  • ... het besef dat vernuwing, verandering, en/of aanpassing nodig is, selfs onafwendbaar is (Jy kan nie verandering forseer nie, maar jy kan dit ook nie keer nie).
  • ... het besluit om vas te hou aan hul gereformeerde identiteit, maar om dit op nuwe en innoverende maniere in te kleur en toe te pas in hul konteks.
  • ... het belangrike (roepings)vrae gevra soos: Hoe bedien ons sinvol? Wat gee vir ons bestaansreg? Wat is die grootste nood in die gemeenskap? Hoe kan ons ‘n verskil maak? Wat moet verander in die gemeente?
  • ... het teenkanting, terugslae, misverstande en/of kritiek beleef, en was eerlik oor die foute wat hul in die verlede gemaak het.
  • ... bevestig die waarde van deursigtigheid en integriteit in sulke prosesse.
  • ... het ‘n kort en kragtige visie of opsommende roepingsbeleid (Saam Jesus na Sy nuwe wêreld; Ons is hier om ‘n verskil te maak; Gered – Geseën – Gestuur; Oase van Jesusliefde).
  • ... fokus sterk op plaaslike betrokkenheid en plaaslike netwerke.

Nog opmerkings

  • Al vyf narratiewe is stories van gemeentes wat groot kopskuiwe gemaak het in hul siening van lidmaattalle, finansies, fasiliteite, leierskap (en hiërargieë) en kerk-wees.
  • Al vyf narratiewe is getuienisse van waartoe gemeentes in staat is wanneer hulle nuut dink oor die kerk en die bediening.
  • Die gemeentes se stories bevestig dat interkulturele bediening en multi-talige eredienste moontlik is.
  • Die stories beklemtoon opnuut die waarde van maatskaplike dienste.
  • Die verhale bevestig dat die NG kerk veerkragtig en aanpasbaar is, en sonder twyfel ‘n beduidende verskil in gemeenskappe kan maak.
Hierdie is 'n baie handige lys waardeur kerkrade kan werk. Hoe help dit jou gemeente?

Data uit Kerkspieël 2022

'n Paar grafieke wat vertel hoe dit met die NG Kerk gaan

Kerkspieël 2022, die vierjaarlikse opname in die NG Kerk, was 'n groot sukses. Landwyd het meer as driekwart van gemeentes die vraelys voltooi - in Oos-Kaapland was die syfer 88% van gemeentes, die hoogste responskoers van al die sinodes van die NG Kerk.

Die eerste verwerkings van die data begin nou beskikbaar word. Hier is 'n paar perspektiewe oor hoe dit tans met NG gemeentes gaan.

1. Krimpend of groeiend?

'n Klein persentasie van gemeentes is krimpend of sterwend, maar die syfer het sedert 2004 gegroei. Heelwat gemeentes is steeds sterk op instandhouding gefokus, maar 'n beduidende persentasie groei of groei dinamies. Die effek van 2022 is beslis deur Covid beïnvloed.

2. Gemeentelike inkomste

Hoewel sommige gemeentes se finansies groei, is die gebrek aan ekonomiese groei in Suid-Afrika en die impak daarvan op gemeentes tasbaar. Ons beleef ook demografiese skuiwe.

3. Gemeente en gemeenskap

Gesonde, dinamiese gemeentes reflekteer hul gemeenskap se samestelling. Gemeentes kan dus kies om nie ten gronde te gaan as daar 'n vermindering in tradisionele lidmate plaasvind nie, maar die omliggende gemeenskap te bly bedien. Dit gebeur reeds in verskeie gemeentes.

4. Missionale gemeentes-wees

Hierdie is werklik 'n positiewe, nuwe verbeelding wat in die NG Kerk groei.

Datum van Algemene Sinode 2023 bekend

Geliewe kennis te neem dat die vierjaarlikse vergadering van die Algemene Sinode 2023 vanjaar van 15-20 Oktober te Birchwood Konferensiesentrum naby die OR Tambo Lughawe plaasvind.

Hou hierdie spasie dop vir hulp met beter sang in gemeentes

Het jy al gewonder waarom ons sing in eredienste?

Dalk is dit omdat ons gewone woorde soms so flou en leeg klink wanneer ons oor iets wil praat wat ons baie na aan die hart lê. Ons weet tog hoe stomp en onvoltooid ons woorde klink wanneer ons iets groots in ons lewe wil praat – soos die liefde, dis waarom ons eerder daaroor sing. Dit is asof die gevoelens in ons hart en die gedagtes in ons kop te groot is vir die woorde in ons mond. Veral wanneer ons oor God begin praat kan ons baie onbeholpe of lomp klink. Dit is asof praatwoorde nie genoeg is om te sê wat ons wil sê nie. Musiek kan dikwels emosies en gevoelens uitdruk wat nie in taal gesê kan word nie.

En daarom sing ons eerder oor God. As ons sing is dit nie asof ons ophou praat nie. Dit is eerder of ons meer en beter kan praat. Dit is asof ons met klank, ritme en musiek nuwe lewe in gewone woorde blaas. Met sang laat ons gewone woorde uit hul nate bars. Sang is die uitweg wanneer ons harte so vol is dat ons monde daarvan oorloop. Dit is altans hoe ons daaroor dink by die FLAM taakspan.

Die FLAM taakspan gaan in 2023 gereeld rubrieke in die verskeie sinodale nuusbriewe plaas om gemeentes wie se harte vol is, te bemagtig met musiek en liedere om hulle monde te laat oorloop elke Sondag. Hetsy dit nuwe musiek is wat pas goedgekeur is by FLAM, mooi musiek vir spesifieke tye van die kerkjaar is, of net ‘n paar liedere wat reeds lekker sing in gemeentes, jy sal dit hier vind. So “watch this space” as jy graag nuwe idees vir gemeentesang wil hê in 2023.

Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer

Tydens die onlangse vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het die advies van die Algemene Taakspan Regte (ATR) oor die Koinonia Sinode van die Kairosbeweging gedien. Dit lui as volg en word aangehaal:

Die ATR adviseer as volg:
  1. Alhoewel die skrywes en/of uitnodigings waarvan die ATR kennis geneem het, deurspek is met bekende kerkregtelike woorde en terme, kan hierdie byeenkoms niks meer wees as 'n konferensie wat sake hanteer soos geadverteer.
  2. Terwyl terme soos "nasionale sinode", "stigtingsvergaderings", "amptelike vergadering" en "geloofsbriewe" onder andere gebruik word, kan daar tydens hierdie byeenkoms geen bindende besluite geneem word wat die NG Kerk raak nie.
  3. Die kerkorde maak voorsiening vir vier amptelike kerkvergaderings te wete kerkraad, ring, sinode en algemene sinode (Artikel 22, Kerkorde 2019). Slegs 'n ring, 'n sinode en die algemene sinode konstitueer aan die hand van geloofsbriewe van afgevaardigdes (Artikels 30.4, 33.4 en Reglement 4, Kerkorde 2019)
  4. Die ATR bevestig weereens dat lidmate, ampsdraers en gemeentes wat beswaard voel oor bepaalde besluite van die Algemene Sinode gebruik behoort te maak van die kerklike middele wat die kerkorde bied - kerklike middele soos revisie, hantering van kerklike geskille, prosedurele besware, beskrywingspunte en gravamina.
  5. Die ATR wys verder daarop:
    5.1 dat lidmate hulle lidmaatskap van 'n NG gemeente beëindig deur middel van 'n bedanking
    5.2 dat 'n gemeente kan uittree uit kerkverband (ring en sinode) met die gevolg dat lidmaatskap van die NG Kerk beëindig word wat ook 'n invloed het op diesulke predikante se bevoegdheid en die gemeente se voortbestaan. Sulke prosesse word deur die ring en sinode hanteer, in ag genome bv. die "universitas"-beginsel (Nota: die lidmate wat agterbly is die voortsetting van die gemeente)
    5.3 Sinodes kan met 'n konsensusbesluit uit die Algemene Sinode tree aan die hand van Artikel 37.
  6. Die ATR wys weer op die moontlike negatiewe gevolge vir lidmate en gemeentes indien 'n eie sinode of kerk tot stand sou kom:
    6.1 Die voortbestaan van die oorspronklike gemeente ("universitas"-beginsel)
    6.2 Verlies van lidmaatskap van die NG Kerk
    6.3 Verlies van bevoegdheid en gevolglike beroepbaarheid van predikante
    6.4 Die verlies van bates en eiendomme
    6.5 Verlies aan die groter kerkverband met historiese verbintenisse.
Hierdie advies het gedien by die ASM-vergadering van 28 Februarie tot 2 Maart 2023.

Hoe word die Algemene Sinode 2019-besluit oor Selfdegeslagverbintenisse interpreteer?

Die Algemene Sinode se 2019-besluit het uiteenlopende reaksie ontlok, beide 'n positiewe ontvangs en die behoefte om daaroor te treur, sê die dagbestuur van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) in 'n voorlegging wat vandeesweek tydens 'n ASM-vergadering bespreek is.

Hoewel die Algemene Sinode 'n taakspan voorsien het wat die besluit saam met ander kerkvergaderings sou vertolk, en 'n gids hiervoor ontwikkel het, was dit om verskeie redes van beperkte waarde.

Die dagbestuur stel dan voor dat die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverbintenisse binne die volgende kontoere interpreteer moet word (opsommenderwys):
  • AS-2019 het 'n voortgaande proses van geloofsonderskeiding voorsien
  • AS-2019 het advies van 'n prinsipiële aard aan die kerkverband gegee
  • AS-2019 het vorige prinsipiële besluite van die NG Kerk gehandhaaf (soos dat slegs die verbintenisse tussen een man en vrou as huwelik beskou word)
  • AS-2019 het haarself verbind tot verdere studie oor die huwelik en menslike seksualiteit. Daar is ook besluit om 'n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse, maar die ASM het in die lig van Kerkorde Art 48.2 (die AS ontwikkel liturgiese riglyne) besluit om hiervan af te stap.
Lees die dagbestuur se volledige interpretasie.

Die ASM het die interpretasie indringend bespreek. Dit dra die status van 'n gespreksdokument.

Pinksterreeks 2023 beskikbaar

Die Christelike Lektuurfonds (CLF) het die Pinksterreeks vir 2023 bekendgestel. Die tema is "Hoop in Handelinge". Handelinge is een van die mees indrukwekkende boeke in die Bybel – dit vertel die storie van die vroeë kerk. Daar is verhale van wonderdade, geloof wat mense inspireer, buitengewone wysheid, waagmoed en menselewens wat handomkeer verander het. Dít alles te danke aan die …

Read more
Pinksterreeks 2023 beskikbaar

Bestellys vir Sonheuwels se Basaar: 3 Maart

NG Gemeente PE-Lorraine: Vakature vir gemeenteleraar

Lorraine Gemeente is geleë in ’n vooruitstrewende en groeiende woonbuurt van Port Elizabeth. Die gemeente bestaan uit 1867 belydende lidmate en 629 dooplidmate. Die gemeente word deur twee voltydse leraars bedien, waarvan een aan die einde van Maart 2023, die gemeente verlaat. Daar ontstaan dus 'n vakature vir gemeenteleraar. Klik hier om die posbekendstelling te lees.

NG Kerk Uitenhage: Vakature Administratiewe en Finansiële Beampte

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Uitenhage Moeder het ‘n pos beskikbaar vir bogenoemde posisie en geskikte en gekwalifiseerde persone bo 40 word uitgenooi om aansoek te doen. Klik hier om die advertensie te lees.

NG Kerk Despatch-Eendrag: Vakature Gemeenteleraar

Die NG Gemeente Despatch-Eendrag adverteer tans 'n pos vir voltydse gemeenteleraar. Die sluitingsdatum is 31 Maart 2023. Klik hier om die posbekendstelling te lees.

Eersteling vir Ruan en Liezel-René Nieuwenhuizen gebore

Trotse oupa Rigardt Nieuwenhuizen laat weet sy derde kleinseun is eergister vir ds Ruan en me Liezel-René Nieuwenhuizen van Somerset-Oos gebore. Ons sê baie geluk aan die egpaar, en die oupa.

Leraars beweeg

Prop Niel Muller van Bloemfontein is as mede-leraar na Aliwal-Noord beroep.

Ds GJ (Kobus) de Leeuw van Humansdorp-Oos is beroep na Kuruman-Die Oog.

Ds Lisa Schmidt het 26 Februarie 2023 haar afskeidspreek by Dordrecht-gemeente gelewer (kennisgewing deur Anemè van Pletzen, NGK Dordrecht).

Prop Trunette de Jongh word op 5 Maart te Uitenhgae-De Mist georden.

Ds Daniel de Kock is op 26 Februarie as leraar in Alexandria-gemeente deur ds Riaan Vlok bevestig.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter