Grens.Pos
Jaargang 18 - Nommer 15 - 21 Mei 2020 - Hemelvaart
clouds
"Hierdie Jesus wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het" (Hand. 1:11).

Lees in hierdie uitgawe

  • Só kan lidmate dankoffers veilig by die kerkgebou afgee
  • Hoe gemeentes in die Baai honger saam takel
  • E-kerk se perspektiewe op bediening tydens en na Covid-19
  • Hoe Bybel-Media se aftelkalender deur 'n Baaise gesin gebruik word
  • Die Bybelgenootskap se kantoor is weer oop en feesvieringe gaan wel plaasvind

Grens.Pos trek nuwe digitale baadjie aan

Op 18-jarige leeftyd verskyn Grens.Pos vandag met 'n nuwe digitale baadjie op jou skerm. Die weeklikse e-Nuusbrief het die eerste lewenslig net na die Oos-Kaaplandse Sinode van 2003 gesien, en verskyn sedertdien onverpoos.

Vir die eerste agt jaar het Grens.Pos as OosKaap eNuus bekendgestaan, totdat die blad sy karakter as brug en konneksie oor grense heen, letterlik as pos wat mense bymekaarbring, vanaf 2011 met 'n naamsverandering sterker omhels het.

In die vroeëre dae van skrapse bandwydte en min data was dit belangrik om klein en kompak te wees. Grens.Pos het ook nog altyd van soberheid en voldoende wit spasie gehou. Daar is geen aspirasie om 'n versierde roomkoek te wees of lesers aan Tokio se neongevulde naglewe te herinner nie. Tyd is ook min en produksie moet blitsig gaan. Die aksent is eerder op goeie inhoud as blinkertjies.

Tog het die tiener op 18 nou behoefte om so bietjie grimering aan te sit. Laat ons weet wat dink jy van Grens.Pos se nuwe baadjie. En stuur foto's met nuus.

Outlook-gebruikers kan gerus op "download pictures" bo-aan hierdie e-pos klik, en dan "Add ngkok.co.za to safe senders" klik. Dan sal die foto's en grafika in Grens.Pos in die toekoms outomaties oopmaak. Moenie bekommerd wees nie, Grens.Pos sal nooit baie data met buitensporige groot foto's gebruik nie. Grens.Pos is ook virusvry, al leef ons in die koronatyd.
Slide1
Só het Grens.Pos tot 2010 gelyk toe dit nog OosKaap eNuus was. Altyd vol wysheid en goeie raad, soos hoe om huis toe te vlieg as jy nie meer daar is nie, maar ten alle koste hier wil kom.

SA Raad van Kerke vra Ramaphosa om kerke oop te stel

Tydens 'n ontmoeting met pres. Cyril Ramaphosa op 19 Mei het leiers van die SA Raad van Kerke, waarvan die NG Kerk lid is, versoek dat kerke oopgestel word.

Netwerk 24 berig biskop Malusi Mpumlwana, hoofsekretaris van die SARK, het aan die president gesê kerke wil weer begin om eredienste te hou, onderhewig aan Covid-19-veiligheidsmaatreëls. Die kerke het juis nou 'n belangrike rol om te speel.

Volgens dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk en lid van die SARK se uitvoerende komitee, hoop kerke om tydens Vlak 3 weer oopgestel te word. Claassen sê die president het nie 'n definitiewe antwoord gegee nie, maar tog gesê hy sal die kerke se voorstelle oorweeg.

Claassen het ook op 21 Mei 'n verklaring uitgereik oor selfregulering tydens Vlak 3. Lees hoe Kerkbode hieroor berig, ingesluit die teks van die verklaring.

Kerke in Baai span saam teen hongersnood

'n Groep kerkleiers tydens opleiding om 'n voedselbank ooreenkomstig Covid-19-veiligheidsreëls te bedryf.
Danksy Covid-19 is hongersnood 'n algemene werklikheid in baie van Nelson Mandelabaai se woonbuurte. Gemeentes van alle denominasies vat mekaar se hande in 'n gekoördineerde aksie om hongersnood te bekamp.

Die Nelson Mandela Bay Church Leader Network het 'n strategie geformuleer wat aksie op die kort-, medium- en langtermyn moontlik maak. Die strategie maak van ankerkerke in elk van die 60 munisipale wyke en hul susterskerke gebruik. Op hierdie manier word voedsel geteikend tot aan huis van noodlydens versprei. Verskeie NG Gemeentes in die Nelson Mandela Metropool tree as ankerkerke op.

'n Deeglike en omvattende praktiese strategie is ontwikkel. Op die medium en langtermyn word van Food Forward SA as strategiese voedselvennoot gebruik gemaak. Die volgende dokumente verduidelik die aksie:
Dit het verg harde, doelgerigte werk reg deur die kerklike gemeenskap van die metropool om Ankerkerke aan te wys en vennootskappe met ander kerke in die omgewing te vestig.

Volledige inligting met die vordering van die projek is beskikbaar by http://tcn.org.za/against-hunger/

Bring 'n laai of "posbus" by jou kerkgebou aan vir dankoffers

Slide1
'n Voorbeeld van 'n laai by die kerk waar lidmate hul dankoffers kan plaas. In hierdie geval land dit in 'n klein kluis in die groot instapkluis. Gemeentes kan gerus soortgelyke geriewe skep om kontantdankoffers te ontvang. Hierdie laai werk al dekades lank met groot sukses.
In baie gemeentes is die invorder van kontant-dankoffers 'n enorme probleem. Ons moedig gemeentes aan om 'n gleuf of laai by die kerkgebou aan te bring (jy haal stene uit en skep 'n veilige "posbus").

Een voorbeeld hiervan is PE-Hoogland wat al jare 'n laai buite die kerkgebou het. Dit word uitgetrek en diakens of lidmate plaas hul dankoffer daarin. Die laai se boom val ondertoe wanneer dit toegestoot word (op 'n sekuur manier) sodat die dankoffer dan direk in 'n kluis, wat binne die instapkluis aangebring is, val. Die geldtelspan het 'n sleutel van hierdie klein kluis en maak dit saam oop en tel dan die dankoffers.

Julle meganisme hoef nie so gesofistikeerd te wees nie. Maak 'n opening op 'n veilige plek sodat lidmate die geld daarin kan plaas. Dalk moet julle dit net op sekere tye van die dag gebruik, wanneer daar iemand in die gebou is en almal kan weet die prosedure, ruimte en tyd is veilig.

Ek weet van ander gemeentes wat dit tans doen, en sal terugrapporteer met wenke.

Belangrikste is egter om lidmate aan te moedig om elektroniese middele te gebruik. Zapper is ook 'n uiters veilige middel of 'n kollekte of dankoffer te gee.

Covid-19 op ons webblad

Besoek gerus die Covid-19-afdeling op die Oos-Kaaplandse webblad. Hier kan jy die vereiste permitte vir Vlak 4 van inperking aflaai, asook al die omsendbriewe lees wat oor die koronavirus en Covid-19 aan gemeentes in Oos-Kaapland gestuur is.

Nie "pause" nie, maar "reset": Kerk en geloof vars geleef in COVID-19-tyd

pause-reset
E-kerk het op 14 Mei 2020 'n wonderlike VBO-geleentheid o.l.v. Stephan Joubert gehou oor die heerlike uitdagings om geloof vars te leef in Covid-19-tyd. Die wêreld het digitaal gedraai, en gemeentes moet hiermee rekening hou in die storm wat Covid-19 veroorsaak het.

Wat moet gemeenteleiers in 'n tyd soos hierdie doen? Soos die stam Isaskar moet ons leer om die tye te lees (1 Kron 12:32). Moenie "pause" nie, hierdie is 'n "reset". Daarmee help die verskeie insette wat met die leergeleentheid gedoen is.
Read more

Van kansel na kamera: ABC van digitale bediening

Slide1
Hierdie is 'n baie bruikbare inleidende webinaar oor die gebruik van video, klank, lewendige stroming (livestreaming), redigering en Whatsapp. Dit ontsluit die basiese tegniese hulpmiddels wat ons kan help om geloofsgemeenskap te bly dien in die volgstroom van die Covid-19-pandemie.

'n Webinaar wat verdere digitale toepassings vir die bediening ontsluit, word tans adverteer. Dit word aan die einde van hierdie uitgawe geplaas.

Read more

Handleidings vir installasie en gebruik van die Zoom-platform

Hierdie handleidings is geskryf vir leraars en gemeentes wat wat die kragtige dog eenvoudige Zoom-platform vir byeenkomste wil gebruik, maar nog geen ervaring daarvan het nie.
  • Handleiding 1, vir installasie, help jou om Zoom op jou rekenaar , selfoon of tablet af te laai en 'n gratis rekening oop te maak.
  • Handleiding 2, beste praktyke en Zoom-etiket, gee jou 'n basiese verwysingsraamwerk vir die gebruik van die program.
Die uitgangspunt is dat die beste manier om Zoom te leer gebruik is om in te spring en dit doodeenvoudig te doen. Hoe meer jy dit gebruik, hoe meer leer jy - en dit gaan vinnig.

Zoom het self ook uitstekende hulpmiddels - besoek gerus www.zoom.us en klik op "Support".

Sedert Zoom vroeër misbruik is, is verskeie praktiese en effektiewe sekuriteitsmaatreëls in die platform ingebou om die gebruik daarvan volkome veilig te maak.

BM Aftelkalender beteken die wêreld vir Baaise gesin

Slide1
Juliette en haar kinders is daaglikse besoekers en aanhangers van die Aftelkalender wat KiesKerk vir die inperkingstydperk geloods. Juliette woon in Port Elizabeth saam met haar gesin van vier (haar man David en twee kinders), en is deel van die NG Kerk Somerstrand.

Juliette het op die eerste dag van die nasionale grendeltyd op Facebook van die Aftelkalender gelees – en dit is waar die pret begin het. Sy, haar man en hulle twee kinders, Jean (11) en Nina (9), doen elke dag na aandete saam Bybelstudie deur die materiaal van die aanlyn Aftelkalender te gebruik. Hulle geniet veral die praktiese wenke van “Liturgie van die Lewe”, soos om elke dag hulle beddens op te maak.

Na die dag se skoolwerk, musiektyd met hulle onderskeie musiekinstrumente, trampolienspring en bordspeletjies, lees die Le Roux’s saam die kinderaktiwiteit en sluit af met die “Slaaptydstorie”, wat Jean en Nina baie geniet.

Juliette is dankbaar vir die span wat die Aftelkalender saamstel, want sy voel daar is so min Bybelstudiemateriaal in Afrikaans wat maklik bruikbaar is vir die hele gesin.

Klik hier om die Aftelkalender te besoek.

Bybelgenootskap in bedryf en vol nuus

Ds Hein Barnard van die Bybelgenootskap in Port Elizabeth laat weet:

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is nie meer in isolasie nie. Ons is in bedryf op Maandae tot Vrydae tussen 09h00 - 15h00 en sal jou graag van hulp wil wees. Indien u een van ons spesifiek wil sien, kontak eers en maak seker ons is by die kantoor, aangesien ons meestal van die huise af werk.

Ons 200-jarige feesvieringe gaan voort. Die koorfees wat vir 2 Augustus in die Veremarksaal beplan is, word uitgestel na 'n datum in 2021. Die feesgeleenthede vir die naweek van 21 - 23 Augustus gaan voort, maar met 'n ander inhoud. Ons sal u almal inlig sodra meer besonderhede beskikbaar is.

Die beloofde preeksketse vir 23 Augustus kan besigtig en afgelaai word deur hier te klik. Daar is ook ander inligting beskikbaar op dieselfde webbladsy.

Ons as Bybelgenootskap bid daagliks vir elke leraar en gemeentelid in hierdie isolasietyd en vra spesifiek dat u hoop in God nooit sal wankel nie.

Christelike Lektuurfonds open aanlynwinkel

Berlisé Louwrens laat weet die CLF se aanlynwinkel het geopen. Tydens die grendeltydperk is 20% afslag op al CLF se produkte beskikbaar.

"Besoek ons aanlynwinkel vandag nog en kry Christelike boeke wat u geloof sal groei en versterk, veral gedurende hierdie ongekende tye en reg vir die winter. Rus uself en u kinders toe met geloofsvormende materiaal, Bybels en nog baie meer", skryf Berlisé.

Besoek die aanlynwinkel hier - https://clf.co.za/shop/

Prof Mary-Anne Plaatjies van Huffel oorlede

Die afsterwe van 'n beminde kerkleier van die Verenigende Gereformeerde Kerk in SA, Mary-Anne Plaatjies van Huffel, is vandeesweek met hartseer begroet. Sy was verbonde aan die fakulteit teologie aan Stellenbosch Universiteit en het voorheen as moderator van die VGKSA gedien. Sy was ook in leierskaprolle by die Wêreldraad van Kerke en die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke betrokke.
Mary-Anne was die eerste vrou wat in die destydse NG Sendingkerk as predikant georden is. Sy is ook die eerste swart vrou wat as hoogleraar by Stellenbosch aangestel is.

Van Huffel het 'n groot rol gespeel in die hertoelating van die NG Kerk tot die Wêreldraad van Kerke.

Haar man, Dawid van Huffel, dien as leraar van die VGKSA in Kraaifontein.

Sy het in April 'n groot operasie ondergaan en was tot en met haar afsterwe gehospitaliseer.

Gratis webinaar: Van konsistorie na kantoor

vbo-konsistorie-kantoor
Ons sluit af met 'n gedig vir Hemelvaart deur Neels Jackson:
IMG_0698
facebook twitter