Jaargang 22 - Nommer 21 - 26 Julie 2024
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • Herwinning is goed vir die aarde, bring selfvervulling en is nie moeilik of morsig nie
  • 'n Klein gemeente met deelnemende, bemagtigde lidmate wys die pad vir kerk-wees
  • KwaMaqoma en Maletswai? 'n Gids toe hernoemde plekke in die Oos-Kaap
  • VBO: Gemeentes wat floreer en inspireer
  • Leraars beweeg

Só maak mens

Herwinning is prakties, goed vir die aarde, en maak 'n daadwerklike verskil

Laerskool Kabega in die Baai is voorvatters met die herwinning van glas en plastiek.
Hier staan drie onderwysers wat die projek lei by meubels op die skoolterrein wat uit herwinde plastiek vervaardig is - vlnr mnr Wikus Olivier, me Corrie van Eck en dr Adele Botha (projekleier)


"Gemeentes en skole is instellings wat op die mees natuurlike en opwindende manier by herwinning betrokke kan raak," vertel dr Adéle Botha, onderwyseres by Laerskool Kabega in die Baai, aan Grens.Pos. Dié skool is reeds meer as 10 jaar aan't herwin, het reeds verskeie kontantpryse vir die omvang van hulle projekte gewen. Die onderwysers wys trots na tuinmeubels op die skoolterrein tot voordeel van leerders en boonop watertenks wat dakwater versamel en waarmee toilette sedert die onlangse Oos-Kaapse droogte gespoel is.

Dit kom alles uit die opbrengs van hulle herwinningsprojekte.

Spanwerk is die sleutel tot sukses. Botha en twee ander onderwysers is ten nouste betrokke, maar die leerders, hulle ouers, en die ander personeel steun dit ook aktief. Die skool het groen prefekte en span met omliggende kerke, restaurante en ander instellings saam om glasbottels, plastiese botteldoppies en die plastiek sluiters van broodsakkies in te samel.

Die kultuur van herwinning maak die aarde 'n beter plek, sê Botha. Hulle leerders leer hiervan deur aktiewe deelname.

"Mense maak 'n fout as hulle dink herwinning is harde werk en 'n groot gemors," sê dr Botha. Mens kan en moet dit so aanpak dat dit 'n plesier is en vreugde en blydskap skep omdat ons so God se aarde versorg. Dis die moeite werd om klein te begin, sodat die projek deurgaans hanteerbaar bly.

Klik op die video hieronder om te kyk hoe lekker sy land en sand gesels oor hoe die skool te aanpak, en wat gemeentes by hulle kan leer sodat meer en meer instansies by herwinning betrokke kan raak:
Die krag van herwinning lê daarin dat 'n groot groep mense saamspan. Een mens maak .n klein impak, 'n groot groep mense saam maak 'n groot impak. Moenie bang wees om klein te begin nie.
Mnr Wikus Olivier, dr Adéle Botha en me Corrie van Eck by die houer waarin leerders bottelproppies plaas, reg by die skool se hoofingang. Sowat 75,000 plastiekproppies is nodig om een 'n buitelugtafel met twee bankies te maak, waarvan daar hordes op die skoolterrein staan.

Kerk wat werk

Klein gemeente, bemagtigde lidmate, kultuur van deelname ... "sukses"

Opbrengs uit die gemeenskapstuin op Pongola

Hier is 'n hoopvolle insette vir klein gemeentes uit die ervaring van die NG Kerk op Pongola:

As jy lidmate bemagtig, kry jy ’n kultuur van deelname eerder as ’n lys projekte. Dit hoor jy by hierdie plattelandse gemeente as hulle vertel van als van sop-aande op Hemelvaart, bande met die Zoeloesprekendes, tot kurperkompetisies en afvlerkvoëltjies. “As jy projekte het wat na binne gerig is, hou dit nie lank nie. Dit help nie jy groei maar jy het nêrens om dit gaan aflewer nie,” vertel ds Petrus Botha aan Le Roux Schoeman van Kerkbode. Lees gerus al die praktiese en inspirerende wysheid.

‘n Gids tot hernoemde plekke in die Oos-Kaap

Die herbenoeming van plekke in die Oos-Kaap is dikwels verwarrend. Is jy op pad Grahamstad of Makhanda toe, Fort Beaufort of KwaMaqoma? Dis ‘n goeie idee om die nuwe name aan te leer. Daarom het ons dit goed gedink om ‘n tabel met die nuwe name saam te stel – klik hier.

Kerklike Fees- en Vakansiedae 2025

Sommige gemeentes begin vroeg aan hul kalenders vir 2025 beplan. Hier is 2025 se kerklike fees- en vakansiedae, asook die skoolkwartale

Kom maak saam slaggate reg in die Baai (en leer hoe maklik dit is)

Vistarus Sentrum in die Baai maak 'n spesiale materiaal waarmee slaggate baie maklik gevul kan word. Kom kyk hoe word dit gedoen, neem deel en maak nuwe vriende. Dan kan jy en jou mense dit ook in jou straat gaan doen.

Kuns, musiek, sjerrie en sop by NGK Gamtoosvallei

Die kerkgebou van Gamtoosvallei is net anderkant Patensie (as jy van die Baai of Jeffreysbaai se kant af kom), direk langs die bekende Padlangs padstal en restaurant.

Aanlyn VBO in Pastorale Berading

Emosioneel verwonde Pa's en hulle kinders

Dinsdag 20 Augustus 2024, 09:00 - 13:00 – Zoom aanbieding

Prof Wentzel Coetzer is die aanbieder van 'n reeks gewilde VBO's rondom pastorale berading.

Oral waar ons rondom ons kyk (en ook in onsself) sien ons ‘Pa-wonde’ en ‘Pa-honger’. Pyn vanuit die verlede met betrekking tot ons verhoudings tot ons pa’s is dikwels die oorsaak dat talle Christene worstel met ‘n verdraaide Godsbeeld en dit gevolglik baie moeilik vind om God die Vader intiem en naby te ervaar. Om ‘n gesonde beeld van Hom te kan ervaar, sal ons gevolglik eers ontslae moet raak van al die gebroke ‘vader-filters’ wat meeste van ons met ons saamgedra het die volwasse lewe in. Tydens die kursus sal gefokus word op ʼn proses om eerstens hierdie gebroke ‘vader-filters’ te identifiseer, en tweedens, hoe om daarvan vry te kom.

Meer inligting en aanlyn inskrywingsvorm hier beskikbaar.

VBO Aanlyn, 27 Augustus

Gemeentes wat floreer en mense inspireer

Opleiding as Brugleraar

Let op dat die datums van hierdie kursus verander is sedert dit aanvanklik aangekondig is.
Klik hier vir die inskrywingsvorm.

Lentekonferensie in Pretoria van 17-19 September 2024

Die program en volle besonderhede van die Lentekonferensie is nou op die web beskikbaar. Die skakel vir registrasie is ook op die webblad - besoek www.lentekonferensie.co.za.

Daar is 'n voordelige fooi betaalbaar vir alle registrasies tot 18 Augustus.

Vakature: NG Gemeente PE-Noord

Ons is nie so geïnteresseerd in wat jy as predikant kan doen en wat jy ons kan laat doen nie. Ons is meer geïnteresseerd in wie jy is en wat jy ons kan help om te word.

In PE-Noord neem bemagtigde lidmate onder leiding van 'n dinamiese kerkraad inisiatief om die Here, mekaar en die gemeenskap te dien. Ons heg groot waarde aan liefde en gebed. Die gemeente het projekte soos vrouebemagtiging, bejaardeversorging, uitreik na die gemeenskap se jeug, 'n sopkombuis, voedselhulp aan behoeftiges en leerders, asook 'n klerebank. Ons het ook 'n fonds wat leerders ondersteun.

Ons omgewing is vir sommige 'n blyplek, vir ander 'n werkplek, en vir nog ander 'n gebied waar verskeie openbare dienste gelewer word. Ons area het woonhuise, meenthuise, woonstelblokke, kleiner fabrieke, hospitale, klinieke en gemeenskapsdienste.

Ons omgewing het drie skole, winkelsentrums en verskeie kleuterskole met hoofpaaie wat ons area deurkruis. Ons is naby blouvlagstrande en die lughawe. Klik hier vir die posbeskrywing. Die keerdatum is 31 Julie 2024.

Vakature: Brugleraar NGK Albanie

Die NG gemeente Albanie op Grahamstad (deesdae Makhanda) het 'n vakature vir 'n brugleraar. Dit is 'n termynpos van 6 tot 9 maande. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 5 Augustus 2024. Hier is die advertensie.

Leraars beweeg

Ds Anthonie Welman tree af op 30 September 2024. Hy ontvang Akte van Demissie tydens Gemeenteraadvergadering van 5 Augustus 2024 en sy afskeidspreek vind plaas op Sondag 18 Augustus 2024.

Die NG Kerk Nahoon in Oos-Londen het 'n samewerkingsooreenkoms met die Nederduitse Hervormde Gemeente Oos-Londen (NHK) gesluit. Die ooreenkoms het op 1 Julie 2024 in werking getree. Ds Larry van der Walt van die NHK tree as predikant van beide gemeentes op.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter