Jaargang 21 - Nommer 4 - 10 Maart 2023
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Eers wou ek ons gemeente toemaak. Nou wil ek help bou!
  • Church on the edge - hoe kan die kerk as leier in die samelewing konstruktief help
  • Kraggakamma vier 50 jaar, met 50 minute
  • Bybelgenootskap hou Paasuitverkoping
  • Leraars beweeg

Kraggakamma vier 50-jaar en vertel haar verhaal in 50 minute

Kraggakamma-gemeente het hul 50ste verjaardag aan die begin van Maart met 'n naweek vol feesvieringe gevier. Deel hiervan was die belendstelling van 'n heerlike video wat die verhaal van Kraggakamma in herinnering roep. Dit duur een minuut vir elke jaar. Kyk dit gerus.
Deel van die fees was 'n formidabele kaskarwedren teen die steiltes van Gazaniarylaan af. Kyk gerus na al die foto's daarvan.

En hier is die fotoalbum van die feesnaweek.

'n Nuwe gemeentekultuur

"Waarom ek nie langer ons gemeente wil toemaak nie, ek wil nou help bou!"

In hierdie bydrae vertel ouderling Hercules Fourie van De Duin-gemeente in Port Elizabeth hoe hy nuwe visie en energie vir die voortbestaan van die gemeente gevind het, danksy nuwe geloofspraktyke en 'n Bybels-geïnspireerde manier van dink oor gemeente-wees.

Vyf jaar gelede was NG Kerk De Duin amper op die einde van sy pad. Die destydse dominee het gestel dat hy meer lidmate begrawe het as wat daar nog oor was. Al die lidmate was ouer mense en geen jong gesinne het meer ingetrek nie, daar was ook nie 'n skool binne die gemeente-grense nie en die gemeenskap het begin verengels.

Met die aftrede van ons dominee, het ek begin dink aan hoe die gemeente afgesluit moet word. (Gelukkig is die einde van 'n gemeente nie die einde van die Koninkryk nie.) Die funksionele kerkgebou sou seker deur 'n Engelse gemeente benut kon word? Elke gemeente het seker maar 'n lewensiklus en by ons is die seker nou die einde van 'n era? In ons stad staan verskeie kerkgeboue wat in fabrieke of store omskep is nadat die ou woonbuurtes in besigheidsareas omskep is. Dit is net 'n kwessie van tyd, het ek gedink.

Ons kry toe 'n nuwe dominee. So 'n drie-jaar-kontrak-dominee wat na aftrede soms nog betrokke bly. Ek was oortuig dat drie jaar juis 'n goeie tyd is om die gemeente finaal te sluit en by 'n buurgemeente te amalgameer. Dit is nou byna vanselfsprekend.

Die nuwe dominee het egter ander planne gehad. Hy was nie bereid om met 'doodsbegeleiding' die gemeente toe te maak nie. (Nota: Die kerkraad het ook die nuwe predikante aangestel met die spesifieke opdrag om die gemeente te hervitaliseer - Red.)

Die eerste ding wat my opgeval het was 'n kern teks of grondteks, wat hy vir die gemeente gegee het uit Ps. 1:1-3:

“Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie. Maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.”

Die 'boom by die waterstroom' het ons logo geword.

Daar het egter ook iets anders gebeur. Ons geloofsgewoontes het verander (vernuwe?). Ons het op 'n ander manier begin werk. Ons Bybelstudie het verander na “Wandel in die Woord”. My tipiese (Protestantse) analise en beredenering van die Bybel het verander na: “wat hoor ek...” Miskien het ons geleer om meer te luister en minder te praat? Ons luister na God, na mekaar en na die gemeenskap.

Dit het die gevolg gehad dat ons “geroep en gestuur” as ons nuwe slagspreuk aangeneem het. Dit het die hele kultuur van die gemeente begin verander.

Ons het natuurlik ook op jeug en jong volwassenes begin konsentreer.

Ek kan self nie glo dat ek 5 jaar gelede gereed was om die gemeente toe te maak nie. Maar daardie ou 'kultuur' in daardie gemeente was nie 'in pas' met die 'nuwe vereistes' nie.

In 'n sekere sin het ons dus die ou kultuur toegemaak en 'n nuwe kultuur begin. Dit is presies wat gereformeerd beteken. Om te vernuwe. (nie altyd maklik nie!!)

Ons is nog lank nie klaar nie. Die verskil is dat ek nie meer die gemeente wil toemaak nie. Ek wil nou help bou.

Church on the Edge

Kyk gerus na 'n uitdagende en insiggewende webinaar oor gemeente-wees

Ons samelewing is regtig "on the edge". Dink misdaad, korrupsie, beurtkrag, staatskaping, rassevoorvalle. Waar laat dit die kerk? 'n Blote toeskouer en kritiese kommentator of 'n aktiewe fasiliteerder, vredesbouer en morele leier in die burgerlike samelewing?

Stort ons as kerk saam met die res oor die rand of oorbrug ons die gaping? Kyk hier.

Datum van Algemene Sinode 2023 bekend

Geliewe kennis te neem dat die vierjaarlikse vergadering van die Algemene Sinode 2023 vanjaar van 15-20 Oktober te Birchwood Konferensiesentrum naby die OR Tambo Lughawe plaasvind.

Leraar beskikbaar vir aflos / preke

Prop. Johan Bezuidenhout skryf:

Ek is beskikbaar vir aflos / preekbeurte in gemeentes. As gelegitimeerde proponent is ek tans ouderling in Sherwood-gemeente in Port Elizabeth. Ek stel my hiermee bekend om uit te help in gemeentes waar daar ‘n behoefte is. Kontak my gerus by 083 231 6297.

Pinksterreeks 2023 beskikbaar

Die Christelike Lektuurfonds (CLF) het die Pinksterreeks vir 2023 bekendgestel. Die tema is "Hoop in Handelinge". Handelinge is een van die mees indrukwekkende boeke in die Bybel – dit vertel die storie van die vroeë kerk. Daar is verhale van wonderdade, geloof wat mense inspireer, buitengewone wysheid, waagmoed en menselewens wat handomkeer verander het. Dít alles te danke aan die …

Read more
Pinksterreeks 2023 beskikbaar

Bybelgenootskap hou uitverkoping met Paasfees

Opleiding in Gemeenskapsdiakonaat

In Gereformeerde kerke, soos die NG Kerk, is diakonaat een van die primêre maniere waarop gemeentes die gemeenskap betree. Hugenote Kollege bied nou opleiding vir lidmate aan om gemeenskapsdiakonaat doeltreffend te beoefen. Die opleiding dra die status van bedienaarsopleiding, m.a.w. lidmate kan as kerkraadslede met die opdrag gemeenskapsdiakonaat verkies word. Dit is 'n nuwe vorm van bedienaarstoerusting. Die opleiding om eredienste te lei, is nog 'n vorm van bedienaarsopleiding.

NG Gemeente Patmos: Vakature vir gemeenteleraar

Patmos is ’n voorstedelike gemeente in Gqeberha (Port Elizabeth) met 600 belydende lidmate en 118 dooplidmate. Patmos se leuse is “waar liefde werk” en ons visie is “om vrede en genesing te bedien in die voetspore van Jesus”. Afgesien van bediening van die gemeente self, is Patmos sterk missionaal gerig met ’n gefokusde bediening in die gemeenskap rondom ons en ’n getuienisbediening wat wyd strek oor landsgrense heen. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 14 April 2023. Klik hier om die volledige posbeskrwying te lees.

NG Gemeente PE-Lorraine: Vakature vir gemeenteleraar

Lorraine Gemeente is geleë in ’n vooruitstrewende en groeiende woonbuurt van Port Elizabeth. Die gemeente bestaan uit 1867 belydende lidmate en 629 dooplidmate. Die gemeente word deur twee voltydse leraars bedien, waarvan een aan die einde van Maart 2023, die gemeente verlaat. Daar ontstaan dus 'n vakature vir gemeenteleraar. Klik hier om die posbekendstelling te lees. Die sluitingsdatum is 20 Maart 2023.

NG Kerk Uitenhage: Vakature Administratiewe en Finansiële Beampte

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Uitenhage Moeder het ‘n pos beskikbaar vir bogenoemde posisie en geskikte en gekwalifiseerde persone bo 40 word uitgenooi om aansoek te doen. Klik hier om die advertensie te lees.

NG Kerk Despatch-Eendrag: Vakature Gemeenteleraar

Die NG Gemeente Despatch-Eendrag adverteer tans 'n pos vir voltydse gemeenteleraar. Die sluitingsdatum is 31 Maart 2023. Klik hier om die posbekendstelling te lees.

Leraars beweeg

Dr Jan Grobbelaar (emeritus) van Cradock het die beroep na Brandvlei aanvaar.

Ds. Michael Antonie (Anton) Ferreira het die beroep van NG Kerk Krugersdorp –Oos na Gamtoosvallei-Oos, Patensie, aanvaar.

Ds GJ (Kobus) de Leeuw van Humansdorp-Oos het die beroep na Kuruman-Die Oog aanvaar.

Ds Lisa Schmidt het 26 Februarie 2023 haar afskeidspreek by Dordrecht-gemeente gelewer (kennisgewing deur Anemè van Pletzen, NGK Dordrecht).

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter