Jaargang 21 - Nommer 5 - 17 Maart 2023
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Gemeentes as gemeenskapskeppers bied hoop vir die donker
  • Profetiese aksie in Suid-Afrika vandag
  • Los die kners op jou tande
  • Geleenthede, vrugte en vakatures
  • Leraars beweeg

Prakties en padlangs

Watter hoop is daar vir die donker?

'n Groot persentasie Suid-Afrikaners is aangewese op kerse wanneer die donker toeslaan

In 'n onlangse nasionaal-verteenwoordigende meningsopname blyk dat sowat 80% van Suid-Afrikaners uit die middel- en hoër ekonomiese klasse mismoedig oor die land se toekoms voel, berig Daily Maverick. Nege uit tien respondente wys die blaam aan korrupsie en misdaad toe, volgens die SA Blackout Report deur BrandMapp-Silverstone. Bydraende faktore is die regering se onbekwaamheid, kaderontplooiing en 'n gebrek aan politieke wil, sê die respondente,

Uit die 1,500 deelnemers voorspel ongeveer die helfte beurtkrag sal nooit beëindig word nie.

Ses uit die tien deelnemers is van voorneme om nie in 2024 vir die ANC te stem nie. Hierdie is 'n belangrike tendens, want dit dui op ernstige politieke implikasies van beurtkrag onder belastingbetalers. Die huidige regerende party trek sy leierskorps uit die middel- en hoër klasse.

Slegs 3% van die respondente toon aan dat beduidende sonkraginstallasies binne hul vermoë is.39% van huishoudings stel egter ondersoek in na sonkrag. “… 79% of respondents are planning to spend money to fight blackouts – and about half of them can spend more than R15,000 doing so,” sê die verslag. Klik hier om die volledige verslag te lees.

Boodskap van hoop?

Watter betekenisvolle boodskap van hoop het gemeentes in 'n tyd soos hierdie?Die gevaar is natuurlik om in algemeenhede en soetsappige beloftes te verval. Selfs om te veel te sê kan 'n slaggat wees.

In sy boek Thank you for being late waarin Thomas Friedman skryf oor die impak van hewige versnellings in ons lewens, beklemtoon hy hoe belangrik dit is om te stop, om asem te haal, om net daar te wees vir mense. In die middel van die oog van die storm van versnellings het ons iemand nodig om saam met ons "laat" te wees, nie so gejaag te wees nie, maar om stil te staan en te reflekteer oor wat gebeur. Hy verduidelik hoe mense wat laat was vir afsprake in sy gejaagde lewe eintlik 'n geskenk was, wat so het hy tyd gekry om bietjie na te dink, te reflekteer, bestek op te neem.

Friedman skryf dat instelling 'n "topsoil van trust" moet skep waar mense bymekaar kan wees, mekaar kan aanvul, en bemoediging by mekaar kan vind. Menslike konneksie is net so belangrik as tegnologiese vernuwing. Ons het 'n plek van tuiskoms nodig.

Gemeentes is die konkrete nuwe mensheid wat God die Vader in Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees skep.

Gemeentes kan dalk minder eie woorde gebruik, maar meer 'n gemeenskap van ondersteuning, bemoediging en vertroosting wees. Dalk moet ons minder doen, en meer wees. Meer hartseer wees. Meer rou. Meer stories van verlies vertel. en nie haastig wees om rou, verlies en vrees vir die toekoms onder die mat in te vee nie.

Dit is nie verkeerd om mismoedig te wees nie. Kom ons praat daaroor en vertel mekaar daarvan. Stadig en langsaam.

Dalk kan ons ook mettertyd begin vertel wat ons hoop gee. Waaroor ons dankbaar is. Waarvoor ons oë in 'n tyd soos hierdie oopgaan. Hoe ons mekaar kan bystaan. Terwyl ons dit doen, dink ons ook aan diegene wat nog minder as ons het.

Ons doen dit in Jesus se Naam. Iemand vertel hoe hy in 'n swart Amerikaanse gemeente gepreek het toe die krag afgaan. In die stikdonker vra hy of hy moet ophou preek? Toe roep iemand uit die gehoor: "Preach, brother, preach, so we can still see Jesus."

Sonpanele en kragopwekkers kan tans help. Maar ons kan ook dieper op mense eerder as net dinge leer vertrou. Ons kan Christus vir mekaar wees. Gemeentes is belangriker as ooit.

Mcebisi Jonas: Hoe lyk profetiese aktivisme in Suid-Afrika vandag

In 'n onlangse lesenswaardige voordrag spel die voormalige adjunk-minister van Finansies, Mcebisi Jonas, uit hoe die kerk se profetiese aktivisme vandag in Suid-Afrika kan lyk.

Hy verduidelik eers insiggewend waarom Suid-Afrika tans in 'n afwaartse spiraal verkeer, en dui dan aan watter inisiatiewe kerk en gelowiges kan neem.

Hier is twee aanhalings:

The fifth area of action is to work towards ensuring that the next generation breaks the cycle of our current politics and corruption. We must invest in grooming young valuebased leadership across stakeholder groups, and especially in civil society given their watchdog and advocacy role. This is how we can begin to reverse the damage that our generation has inflicted.

en

The final area of action is around the governance and strategic alliances among and between faith-based organisations, other progressive formations, and the whole of society. In 2020, the South African Council of Churches launched its anti-corruption campaign. That campaign, which united the entire membership of the SACC, needs to be reignited and expanded across society.

Lees die volledige voordrag.

Stephan Joubert

"Die kerk van die toekoms begin en eindig by Jesus"

Ds Estian Mentz van Kimberley vertel in Kerkbode van 'n bemoedigende konferensie wat onlangs op Upington in die Noord-Kaap deur prof Stephan Joubert gelei is. Hy het gepraat oor die kerk van die toekoms:

Die kerk van die toekoms lyk so: Alles begin by Jesus, en alles eindig by Jesus. As ons waarlik kerk wil wees, moet ons daar begin, moet ons weer teruggaan na die evangelie toe, en net daar bly. Net by Jesus.

Dit is iets wat ons as lidmate en dominees al baie gehoor het, en eintlik moeg is om te hoor. Maar Joubert vertel dit so dat ’n mens geen ander keuse het as om in verwondering te staan teenoor dit waarmee die Here eintlik besig is in sy kerk nie.

Deurlopend word die tema herhaal van “Eenvoud” en hoe ons as geloofsgemeenskappe net die basiese goed herhaaldelik moet doen. Kom net weer by die kern van die kerk, van die geloof uit en werk dan vanuit daardie hoek. Soos Joubert verduidelik, “die kerk van vandag en môre doen basiese dinge aanhoudend reg.” Hy baseer hierdie stelling op 1 Tessalonisense.

Klik hier om na 'n ander insiggewende aanbieding van prof Joubert oor die kerk van die toekoms te kyk.

Kners van tande gaan nie help nie

deur Roedolf Botha (e-Kerk)

Don’t hate your enemies, it affects your judgment. So sê Michael Corleoni, Mafia-baas in die derde Godfather-fliek. Hy sê dit aan een van sy kollegas, wat van haat teenoor een van sy vyande gestoom het. Natuurlik moet Corleoni as Mafia-skurk sy spel baie fyn speel, almal rondom hom fyn dophou en sy oë oop hou vir enige vorm van verraad. Indien nie, kan enige iemand hom maklik onttroon en sy besigheid oorneem. Daarom moet hy koud, klinies en berekend wees in die neem van sy besluite. Sy eie voortbestaan en sy familie se beskerming hang daarvan af. Hy weet: wanneer ek kwaad raak of haat, neem ek verkeerde besluite. Slegte emosie is ‘n negatiewe afleiding.

Alhoewel hy in ‘n totale ander wêreld met ander waardes as ons leef, dink ek ons kan vandag by hom leer. Trouens, ek wens meer Jesus-volgelinge wil by die godfather leer, voordat hulle op sosiale media of in die verkeer reageer!

Want dit lyk my ons leef deesdae in die era van tande kners. Ek kom agter hoe baie mense met soveel opgehoopte emosies en veral aggressie loop. Of dit nou beurtkrag, swak diens of die verkeer is, dis asof soveel mense se nerfies dun is. Emosies net onder die oppervlak loop hoog. Mooi gelowige mense vertel vir my dat hulle nog die een oomblik glimlag en rustig is en die volgende oomblik geheel en al uit-freak! Meer as dit. As mense regtig eerlik is, sal hulle erken dat hulle eintlik met bedekte haat rondloop. Dalk onbewustelike, ongediagnoseerde haat, maar haat nietemin. As ek die intensiteit van hulle woede of frustrasie waarneem, dan sien ek die haat vlak in hulle oë. Haat teenoor Eskom, teenoor die regering, teenoor sekere politieke partye of sommer net mense op straat, wat foute maak en hulle irriteer.

Wanneer Jesus dus sê dat ons ons vyande moet liefhê en bid vir dié wat ons vervolg, dan is dit meer relevant as ooit. In Romeine noem Paulus dan ook dat ons ons vervolgers moet seën (12:14). Dis eintlik geniale raad, want dis uiters moeilik om iemand te haat, terwyl jy vir hom bid. Let wel, om vir vyande te bid beteken jy bid vir hulle welstand. Op hierdie manier dwing die bid-aksie jou om jouself in hulle skoene te plaas, om jou te probeer indink waardeur hulle gaan. Wanneer jy jou oë uitvee, haat jy nie meer nie.

Vervang dus tande kners met voorbidding vir diegene, wat dit veroorsaak. Dis die Jesus-weg.

Algemene Sinode 2023

Gravamina en beswaarskrifte vir Algemene Sinode

Geliewe kennis te neem dat die vierjaarlikse vergadering van die Algemene Sinode 2023 vanjaar van 15-20 Oktober te Birchwood Konferensiesentrum naby die OR Tambo Lughawe plaasvind.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, laat weet enige moontlike gravamen of beswaarskrif moet die algemene sekretaris voor of op 8 Junie 2023 om 12:00 bereik. Hierdie dokumente moet aan spesifieke vereistes voldoen (lees hierdie skrywe). Laat dokumente sal nie ontvanklik wees nie.

Bybelgenootskap se jaarlikse vrugtemark

Bybelgenootskap hou uitverkoping met Paasfees

NG Gemeente Patmos: Vakature vir gemeenteleraar

Patmos is ’n voorstedelike gemeente in Gqeberha (Port Elizabeth) met 600 belydende lidmate en 118 dooplidmate. Patmos se leuse is “waar liefde werk” en ons visie is “om vrede en genesing te bedien in die voetspore van Jesus”. Afgesien van bediening van die gemeente self, is Patmos sterk missionaal gerig met ’n gefokusde bediening in die gemeenskap rondom ons en ’n getuienisbediening wat wyd strek oor landsgrense heen. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 14 April 2023. Klik hier om die volledige posbeskrwying te lees.

NG Gemeente PE-Lorraine: Vakature vir gemeenteleraar

Lorraine Gemeente is geleë in ’n vooruitstrewende en groeiende woonbuurt van Port Elizabeth. Die gemeente bestaan uit 1867 belydende lidmate en 629 dooplidmate. Die gemeente word deur twee voltydse leraars bedien, waarvan een aan die einde van Maart 2023, die gemeente verlaat. Daar ontstaan dus 'n vakature vir gemeenteleraar. Klik hier om die posbekendstelling te lees. Die sluitingsdatum is 20 Maart 2023.

NG Kerk Uitenhage: Vakature Administratiewe en Finansiële Beampte

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Uitenhage Moeder het ‘n pos beskikbaar vir bogenoemde posisie en geskikte en gekwalifiseerde persone bo 40 word uitgenooi om aansoek te doen. Klik hier om die advertensie te lees.

NG Kerk Despatch-Eendrag: Vakature Gemeenteleraar

Die NG Gemeente Despatch-Eendrag adverteer tans 'n pos vir voltydse gemeenteleraar. Die sluitingsdatum is 31 Maart 2023. Klik hier om die posbekendstelling te lees.

Leraars beweeg

Prop Johan Bezuidenhout van Gqeberha is na Wakkerstroom beroep.

Ds HN (Nico) Lochner, wat die beroep na Uitenhage-Oos aanvaar het, tree vanaf 1 April 2023 in diens van die gemeente, met 'n verwelkomingsfunksie op 16 April 2023.

Ds Kobus de Leeuw lewer sy afskeidspreek by Humansdorp-Oos op 26 Maart 2023. Hy het 'n beroep na Kuruman-Die Oog aanvaar.

Ds Annatjie Marais lewer haar afskeidspreek by Algoapark op 26 Maart. Sy het 'n beroep na Fraserburg aanvaar.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter