Jaargang 23 - Nommer 19 - 13 Junie 2025
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • Walter Brueggemann (1933-2025) het ons help leef met die bewussyn van 'n lewende, aktiewe God
  • Bewusmaking oor die lot van ouer persone
  • Straf God my wanneer slegte dinge gebeur? En hoe staan ek op as ek val?
  • Kom bid vir die gemeenskap - 14 Junie, PE-Noord
  • Toerusting vir operateurs van die klankbank tydens die erediens
  • Leraars beroep

Keer die Karoo om

Gemeente en gemeenskap gebruik musiek om verwelkomend te wees

Gamka Klassiek is 'n musiekfees wat Prins Albert se gemeente en gemeenskap omgekeer en nuwe geleenthede geskep het

Gamka Klassiek is 'n musiekfees wat soos 'n geskenk nuwe lewe in die Karoodorpie Prins Albert geblaas het. Die gemeenskap kom uit ’n verskriklike droogte toe die idee van die fees na hulle gekom het. Toe keer die fees hulle ten goede om.

Die betowering van goeie musiek luister die dorpie op en help die gemeente om verwelkomend en gasvry te wees. Dit help bande op die dorpie smee en bring nuwe lewe na die Karoo.

'n Leraar van die gemeente vertel hoe die fees grondgevat het:

Wat die gemeenskap gedryf het was die idee dat hulle gasvry wil wees teenoor besoekers. Die kerkraad het versigtig gekou hieraan, maar na die eerste fees het dit deel van die gemeente se kultuur geword. Hulle wil gasvry wees. Gasvryheid is vir hulle deel van wat dit beteken om die Here te dien. “Kom ons doen dit deur ons sterkpunte te benut. Ons is geseënd met ’n baie mooi kerkgebou wat wonderlike akoestiek het … Onthou, die ou mense moes ’n kerk bou sonder hedendaagse klanktoerusting. Daar is nie akoestiese dooie kolle in die kerk nie, almal kan hoor, perfek vir klassieke musiek

Frederick Marais vertel aan Kerkbode hoe die fees gemeente en gemeenskap vernuwe het.

Bydrae van Walter Brueggemann (1933-2025)

Legendariese kenner van die Ou Testament oorlede

Walter Brueggemann, wat onlangs op 92 oorlede is, was professor emeritus aan Columbia Theological Seminary en bekend vir sy besondere insig in die boodskap van die Ou Testament wat hy prakties op hedendaagse situasies kon toepas.

Vir hom was die Ou Testament steeds 'n ontmoeting met die lewende God, aan die werk ook in ons wêreld.

Sy bekende boek, The Message of the Psalms, ontsluit die psalms aan die hand van oriëntasie, disoriëntasie (klagpsalms) en heroriëntasie. Dit is 'n pragtige boek om te lees, wat die kerk ook uitdaag om saam met Ou Testamentiese gelowiges disoriëntasie in die vorm van 'n klag teenoor God uit te spreek - 'n vaardigheid wat moderne gelowiges volgens hom verloor het. En dan het hy ook nut vir die wraakpsalms waar menslike wraakgevoelens in die hande van God oorgegee word.

Een van sy invloedryke insigte is die verstaan van die rol van die Ou Testamentiese profete teenoor die politieke maghebbers van hulle dag. Hulle was in opdrag van God gekant teen totalitêre sisteme wat mense oorheers en lede van die magselite deur die uitbuiting van ander bevoordeel het. Die profete het hierdie stryd gevoer deur 'n "profetiese verbeelding" aan te wakker om ’n alternatiewe toekoms te kon voorstel.

Brueggemann beskryf drie hooftake van profetiese verbeelding soos volg: 1) ontbloot die mag en onreg van bestaande stelsels; 2) spreek profetiese oordeel uit teen verdrukking; en 3) verwoord die nuwe wêreld wat God belowe het.

Lees hier hoe hy dit netjies verwoord in 'n uitstekende toespraak by Sojourners in 2018. En kyk na hierdie video waar hy in gesprek uitlê wat dit beteken om 'n (moderne) profeet te wees.

Vyf fases van omval tot oorwin

Die kuns om weer op te staan

Dr Jannie le Roux, lewensafrigter, skryf:

Die lewe het 'n manier om ons almal soms te laat struikel en val. Soos Theodore Roosevelt gesê het, behoort die eer nie aan die kritikus wat langs die kant staan nie, maar aan die persoon wat in die arena is - die een wie se gesig deur stof, sweet en bloed gekenmerk word. Die ware oorwinning lê in die moed om weer op te staan en aan te hou probeer!

Hier is vyf kragtige fases om van omval na OORWINNING te beweeg, soos in gesprek met RSG:
  1. VAL - Begin deur die realiteit te aanvaar. Stop met ontkenning en erken eerlik waar jy jouself bevind. Al is dit moeilik vir ons ego om te erken dat ons geval het, is hierdie eerlikheid met jouself die eerste stap na herstel.
  2. VERWAGTING - Die lewe volg nie altyd ons beplande roete nie. Soms moet ons ons verwagtinge aanpas by nuwe realiteite. Soos met die Covid-19 pandemie, leer ons dat aanpasbaarheid noodsaaklik is. Elke struikelblok bied 'n geleentheid om nuwe moontlikhede te ontdek.
  3. VRA - Leer om die regte vrae te vra. Vra vir God se leiding. Vra jouself: Wat kan ek beheer? Wie kan help? Watter sterkpunte het ek? Wat het voorheen gewerk? Die kleinste aksie kan die begin van 'n groot verandering wees. Soos Jesus gesê het: "Vra, en vir julle sal gegee word." (Vgl. Matteus 7:7,8).
  4. VASBERADE - Dit gaan oor die onwrikbare gesindheid om vorentoe te beweeg, ongeag hoe jy voel. Trek jou skouers terug, haal diep asem, en neem aksie. Soos God vir Josua in Josua 1:1-9 aangemoedig het om sterk en vasberade te wees, moet ons ook daardie innerlike krag by God vind om aan te hou.
  5. VERWESENLIK - Wanneer jy die nuwe uitkoms bereik, vier dit met dankbaarheid. Al lyk die oorwinning dalk anders as wat jy verwag het, vertrou dat dit presies is wat God vir jou beplan het.
Die belangrikste is om te onthou dat ons nie slagoffers is wanneer ons val nie - ons word "lofoffers" wanneer ons opstaan en weer probeer. Romeine 8:37 herinner ons dat ons "meer as oorwinnaars" is deur God se liefde.

Net soos atlete by die Olimpiese Spele, is die ware prestasie nie net in die wen nie, maar in die deelname - in die bereidwilligheid om in die arena in te stap. Elke keer wat jy opstaan na 'n val, elke keer wat jy aanhou probeer ten spyte van struikelblokke, is jy reeds 'n wenner.

Die pad van omval tot oorwinning begin nie met perfekte omstandighede nie, maar met die besluit om weer op te staan, een tree op 'n slag, met God aan jou sy.

Waarom laat God slegte dinge gebeur? Straf God my?

Ds Jan Coetzer van Oos-Londen het 'n spesiale studie gedoen oor een van die moeilikste vrae wat mense vra: Waarom laat God slegte dinge met ons gebeur? Hiermee het hy 'n Meestersgraad in Teologie verwerf.

Hierdie vraag het ontstaan omdat mense in sy vorige gemeente geglo het dat God hulle straf deur storms en haelbuie te stuur. Hulle het byvoorbeeld kon dink: "As my koring verwoes word deur hael, beteken dit God is kwaad vir my?"

In plaas van om hierdie moeilike vraag te vermy, het Jan besluit om dit te bestudeer. Hy het gekyk na 'n Bybelse boek genaamd Klaagliedere – waar mense eerlik praat oor hul pyn en verwarring.

Wat sy studie so belangrik maak, is dat hy moderne navorsing oor trauma (hoe mense met skok en pyn omgaan) gebruik het om ou Bybelse stories beter te verstaan.

Sy groot ontdekking? Die Bybel gee ons woorde om ons pyn uit te druk, sonder om te dink dat God ons wil seermaak. Dit help ons om God te sien as iemand wat by ons is wanneer ons ly, nie as iemand wat ons straf nie.

Hierdie navorsing help veral mense op plase wat met droogtes, storms en ander natuurrampe te doen kry. Daar is ook waarde vir alle gelowiges wat swaarkry. Dit gee predikante nuwe maniere om mense te help wat dink God is kwaad vir hulle.

Die volledige studie is aanlyn beskikbaar.

Hierdie belangrike skripsie is 'n moet-lees vir enige pastor wat mense begelei wat al gewonder het waarom slegte dinge met goeie mense gebeur.

Verborge gevare van Vaping - 'n stille epidemie

Prof Wentzel Coetzer, pastorale terapeut verbonde aan die Noordwes Universiteit, beklemtoon die negatiewe impak van vaping op die gesondheid van jongmense en gevolglik hul lewensgeluk en 'n gesonde verhoudingslewe: Wat eers as 'n "veiliger" alternatief vir gewone sigarette bemark is, het vandag gegroei tot een van die mees kommerwekkende gesondheidsrisiko's vir ons jongmense. E-sigarette of vaping is nie die onskuldige … Lees verder

Bewusmaking op 15 Junie

Die lot en misbruik van ouer persone

15 Junie is die wêreldwye dag van bewusmaking oor die misbruik van ouer persone. Dit is ’n belangrike geleentheid om stil te staan by hoe groot die probleem eintlik is en watter vorme dit kan aanneem. Diskriminasie vind nie net op die basis van ras en geslag plaas nie, maar ook op grond van ouderdom.

Ouer persone kan misbruik en verwaarlosing in verskeie vorme ervaar. Fisiese mishandeling sluit slaan, stoot en ander geweld in. Emosionele misbruik kan wees deur vernedering, bedreigings of isolasie. Finansiële misbruik gebeur wanneer iemand geld of bates van ’n ouer persoon steel of misbruik, byvoorbeeld deur te voorkom dat hulle toegang tot hul eie bankrekeninge het.

Seksuele misbruik van ouer persone kom ook voor, al word dit selde gerapporteer. Verwaarlosing, waar basiese behoeftes soos kos, skoon klere of mediese sorg ontneem word, is nog ’n vorm van mishandeling en kom dikwels voor waneer ’n versorger oorlaai of nie verantwoordelik optree nie.

Statistiek wys dat wêreldwyd sowat een uit elke ses persone van 60 jaar en ouer in die gemeenskap die afgelope jaar ’n vorm van mishandeling ervaar het. In instellings soos bejaardesorgsentrums is dit selfs meer kommerwekkend: byna twee uit drie personeel het in die afgelope jaar self misbruik gepleeg of by daarvan betrokke geraak. Tydens die COVID-19-pandemie het hierdie syfer veral toegeneem, aangesien sosiale isolasie en spankrag onder versorgers onder druk gekom het.

Die gevolge van mishandeling kan ernstig wees. Fisiese beserings, depressie, angs en selfs vroeë dood kan die resultaat wees. Finansiële uitbuiting kan iemand in armoede dwing en maak herstel dikwels baie moeiliker. Ouer persone is dikwels meer kwesbaar weens swak gesondheid, kognitiewe beperkinge of finansiële afhanklikheid van ander, wat hulle ’n maklike teiken maak.

Om misbruik te voorkom, is ’n veelvlakkige benadering nodig. Wetstoepassers, families, gesondheidsorg en gemeenskapsorg moet saamwerk. Programme wat versorgers ondersteun, geldsake bestuur en nooddienste insluit, vertoon meestal belowende resultate. Dit verg ook bewustheid in die samelewing om ouderdomsdisrespek en aanvaarding van geweld te bestry.

Lees meer oor hierdie belangrike onderwerp op die bejaardemisbruik-feitblad van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Lees ook Albin Bouwler se brief hieroor in Kerkbode.

Jy is genooi

PE-Noord hou oggend van gebed, 14 Junie

Klik hier om jou bywoning te bevestig. Daar is ook heerlike gevulde pannekoek na die byeenkoms beskikbaar - plaas jou bestelling wanneer jy aanmeld.

Kraggakamma hou kermis op 16 Junie

Kraggakamma Gemeente hou op Maandag 16 Junie hulle jaarlikse Kermis. Die Kermis skop om 8:00 af met ‘n Pretdraf en koffie, waarna die stalletjies om 08:30 sal regstaan met heerlike kos, gebak, poeding en speletjies. Ons nooi almal om ons legendariese Kerrie en Rys te kom proe of om sommer ‘n hele klompie pannekoeke te kom koop. Pretdraf inskrywings kan die oggend vanaf 07:00 by die kerk gedoen word.

Reggie Hufkie (Peace) - Vredemaker

Bekende akteur en oud-leerling van Kinderoord MTR Smit besoek die Baai

Reggie Hufkie, bekende akteur in TV-reekse soos Huis Lelieveld, Spoorloos, Desert Rose en flieks soos Ouboet, Gielie, Vlamme, Brakpan Bruilof, Matilda en Matthys was 13 jaar oud toe hy by die kinderhuis MTR Smit se voordeur aangeklop het. Hy wou nie langer in die hok saam met sy pa en broer bly nie. Daar het hy stabiliteit gekry en gou begin presteer.

In sy eerste boek, Vredemaker, beklemtoon Reggie die waarde van selfliefde, positiewe verandering en geestelike groei. Reggie besoek die Baai vanaf Donderdag 26 Junie tot Sondag 29 Junie. Donderdagmiddag is hy by by sy alma mater, Huis MTR Smit, waar hy tyd met van die leerders gaan deurbring. Hy het ’n boekvrystelling op Saterdag 28 Junie om 13:00 by Three Sages in Walmer.

Vir meer inligting, kontak Reggie Hufkie, 072 991 4054. Op Sondag 29 Junie om 09:00 lewer hy ook sy getuienis by NG Sionsrand (Bramhope-straat, Morningside). Vir meer inligting, kontak Dr Willem Wiid, 071 866 0771).

Klank in die kerk: Hier is hulp om die basiese goed reg te doen

Neil Büchner gee in hierdie video basiese, maar goeie, opleiding aan persone wat klank in die kerk hanteer. Dit is spesifiek gerig is daardie waardevolle persone wat die klank in gemeentes tydens eredienste hanteer.

Aanlyn VBO Digitale Leergemeenskap

Kunsmatige intelligensie - Die kerk se nuwe speelveld?

Ons wêreld verander vinniger as ooit — en die kerk kan nie bekostig om agter te bly nie. Hierdie Leergemeenskap wil jou toerus om sinvol en strategies te dink oor jou gemeente se digitale teenwoordigheid, insluitend hoe jy kunsmatige intelligensie (AI) en digitale platforms kan gebruik om geloofslewens te verdiep en jou gemeenskap te bereik.

Logistieke Inligting:
  • Datum: 25 Junie 2025 vanaf 09:30 - 12:30
  • Jy kan die opname kyk op ‘n tyd wat jou pas tussen 25 Junie om 09:30 en 2 Julie om 09:30, waarna dit nie meer beskikbaar sal wees nie.
  • Toegang is gratis, maar registrasie is nodig om toegang tot die platform te kry. Registreer by hierdie skakel: https://www.ekerk.org/learning-community
  • Die regstreekse Q&A sal plaasvind om 12:00 op 25 Junie. Skakel en besonderhede vir die regstreekse Learning Community sal per e-pos gestuur word naderer aan die datum.
In samewerking met Excelsus sal hierdie leergeleentheid VBO-punte toeken. Indien jy vir VBO-punte kwalifiseer, sal Excelsus dit ná afloop aan jou aanlyn profiel koppel.
Registreer by hierdie skakel: https://www.ekerk.org/learning-community

Bedienaars (kerkraadslede toegerus vir bediening)

Krities-belangrike inligtingsessie vir gemeentes

Klik hier om in te skryf.

Aanlyn VBO bied pastorale perspektiewe

Wanneer godsdiens lei tot verwonding eerder as heling

Dinsdag 16 September 2025 – Zoom aanbieding - Prof Wentzel Coetzer

In hierdie kursus word daar gefokus op die oënskynlike paradoks van godsdiens wat enersyds binne sekere kontekste ‘n helende en bevrydende rol kan vervul, veral wanneer dit op gebalanseerde en gesonde wyse beoefen word en waar die motief daaragter suiwer en opreg is; en andersyds die gevaarkant van godsdiens - met ‘gevaar’ word in hierdie konteks dan bedoel dat daar dieperliggende onverwerkte emosionele pyn aanwesig mag wees wat uiteindelik as dryfveer kan dien tot ontvlugting in toksiese godsdienstige aktiwiteite. Die werklike pyn word nooit hanteer nie en deur middel van die stiptelike onderhouding van ’n magdom geestelike wette en reëls word daar eintlik net meer ‘pleisters’ en ‘verbande’ op ’n septiese wond geplaas. Die finale resultaat van so ’n proses kan dan godsdienstige verslawing en misbruik impliseer waar mense uiterlik gelukkig voorkom, maar innerlik met ’n magdom van onverwerkte emosionele pyn worstel. In die lewensverhale van geestelike leiers wat ’n bydraende rol vervul tot die geestelike verwonding en misbruik (abuse) van lidmate en volgelinge, is daar gewoonlik ook onverwerkte emosionele pyn en trauma wat dikwels reeds gedurende hul kinderjare ’n aanvang geneem het.
Daar word ten slotte ’n aantal praktiese riglyne uitgespel vir die pastorale begeleiding van geestelik verwonde persone met die oog op heling en restourasie.

Kursus oop vir almal: Geen toelatingsvereistes nie.
Datum: Dinsdag 16 September 2025 – sluit in sleutelnotas en tersaaklike dokumente.
Tyd: 09.00 – 13.00Akkreditering: 5x VBO punte – CPSC punte – ook AFM PCD akkreditasie
Koste: R275 pp
Handboek te koop (opsioneel): R370 (R250 vir die handleiding plus R120 koerierkoste)

Klik hier om in te skryf

Vakature: NGK Elliot

Predikantspos vir drie jaar termyn

Sluitingsdatum: 25 Julie 2025.

Die NG Gemeente Elliot is ’n volhoubare plattelandse gemeente met 170 belydende en 40 dooplidmate. Die dorp is aan die skilderagtige voetheuwels van die suidelike Drakensberg geleë en word deur paaie van goeie gehalte bedien. Landbou (wol, vleis en saai) en toerisme is belangrike ekonomiese aktiwiteite.

Die predikant is ’n gelegitimeerde wat verantwoordelik is om oorhoofse geestelike leiding te neem en die take soos vervat in Artikel 9 van die Kerkorde uit te voer. Die doel is dat Jesus Christus toenemend in ons lewe en dié van ons gemeente gestalte aanneem. Klik hier om die posbekendstelling te lees.

Vakature: NGK Hofmeyr

Predikantspos vir minimum twee jaar

Hofmeyr is ’n plattelandse dorp in die Oos-Kaap met 115 belydende en 24 dooplidmate. Die dorp is 63 km vanaf Cradock en 45 km vanaf Steynsburg.

Die gemeente wag vir aansoeke van ’n afgetrede leraar. Die gemeente verwag van die leraar om geestelike leiding te neem. Hy moet goeie verhoudinge handhaaf en self ’n geloofwaardige dissipel van Jesus wees.

Die sluitingsdatum is 30 Julie 2025. Lees die posbekendstelling.

Verjaarsdae in Junie

Baie geluk aan die volgende predikante en diensleraars wat in Junie verjaar:

4 Junie – ds Cobus Fourie, NG Gemeente Port Elizabeth-Wes
5 Junie – ds Johann Ekkerd, NG Gemeente Graaff-Reinet
6 Junie – ds Lisa Schmidt (Diensleraar, Dordrecht)
11 Junie – ds Nico Lochner, NG Gemeente Uitenhage-Oos
15 Junie – ds Trunette de Jongh, NG Gemeente Uitenhage-De Mist
17 Junie – ds Carolien du Pisanie, NG Gemeente Parkheuwel
22 Junie – ds Niel Muller, NG Gemeente Aliwal-Noord
24 Junie – dr Kobus Bohnen, NG Gemeente Humansdorp
24 Junie – ds David Higgs, NG Gemeente Jeffreysbaai
24 Junie – ds Hessie Van Der Watt, NG Gemeente Jeffreysbaai
28 Junie – ds Marius Wolmarans (Port Elizabeth)

Indien ons 'n verjaarsdag miskyk, laat ons asb weet. Ons stel dit graag reg.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Gqeberha (Port Elizabeth)
Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, dr Carel - 082 821 7600, clvdm1@gmail.com
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Weyers, prop Chris - 081 270 4240, cjweyers1203@gmail.com
Wiid, dr Willem - 071 866 0771, wiidwillem@gmail.com

Jeffreysbaai en omgewing
Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853, heinbarnard@lantic.net (ook beskikbaar vir Oos-Londen)
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com

Aflos (oral) vir korter of langer periodes
Ds Enslin van Velden - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Ds Pieter van Zyl - 073 225 8466, vanpzyl@gmail.com

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za

Leraars beweeg

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars. Hier is meer inligting hoe amptelike kennisgewings werk wanneer leraars beweeg.
facebook twitter