Grens.Pos
Jaargang 20 - Nommer 13 - 20 Mei 2022 - Paastyd
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Jy is jou huis se waterspeurder - hoe jy water kan bespaar
  • Hoe lyk ons eredienste? Hier is 'n kans om saam te dink
  • Bronne vir jeugbediening rondom Hemelvaart
  • Leraars beweeg

Dag Zero kom nader vir Nelson Mandelabaai en omgewing

emptytaps
Met die Westelike opgaardamme prakties leeg stuur groot dele van Sarah Baartman distriksmunisipaliteit en Nelson Mandelabaai nou op leë krane af. Terwyl water wel via die Nooitgedachtskema beskikbaar is, is daar dele van die metropool en omliggende gebiede wat nie daartoe toegang het nie. Hierdie water kom ook in laagliggende gebiede in die stad aan, wat beteken dit moet na die hoërliggende gebiede gepomp word. Pompkapasiteit is egter beperk, omdat die water uit die tradisionele bronne deels met gravitasie vloei en nie so intensief gepomp hoef te word nie. Hierdie voordeel verdwyn met die leë damme.

Vandeesweek is berig die tesourie gaan 'n strategiese waterbestuurspan wat na die metropool ontplooi is, onttrek omdat die plaaslike owerheid nie hierdie span benut nie. Volgens die adjunkminister van Finansies, David Masondo, laat die stad die waterkwessie foutiewelik bloot in die hande van die water- en sanitasiedepartement. Dit beteken dat die nodige inisiatiewe rondom aankope en verkryging, breër ondersteuningsdienste, kommunikasie en begroting nie gelewer word nie.

Voorts het die plaaslike burgemeester ook nooit gereageer op kommunikasie hieroor deur die adjunkminister nie. Die burgemeester en haar kantoor het die tesourie ignoreer.

Intussen word noodplanne bekendgemaak. Tensy dit betekenisvol in die opvangsgebiede reën, staar die metro en omgewing 'n bleek toekoms in die gesig.

Gemeentes bid voortdurend vir die waterkrisis. Baie dankie daarvoor.

Jy is aangestel as jou huis se waterspeurder!

Lees gerus ons gids vir water-spaar hieronder en merk dan hieronder watter maatreëls in julle huis implementeer word:
  1. Word die kraan toegedraai as julle tande borsel? Of borsel jy tande deur net 1 koppie water te gebruik? Jy kan tot 6 liter water per minuut bespaar.
  2. Is daar 'n waterverplasingsvoorwerp in jou toilet se tenk om die volume water te beperk as daar gespoel word? Soos byvoorbeeld ‘n baksteen of ‘n koeldrankbottel?
  3. Is daar ‘n beker koue water in die yskas? Of draai julle elke keer die kraan oop en wag tot die water koud word?
  4. Is die koue en warm krane in jul huis duidelik gemerk? Of wag jy soms baie lank vir warm water om uit die koue kraan te kom?
  5. Word daar in die huis onder 2 Minute gestort? Of langer? 'n Stort kan enigiets tussen 6 en 45 liter per minuut gebruik. Op Youtube kry jy "2 minute shower songs", wat jou gaan help om nie langer as dit te stort nie.
  6. ‘n Bad gebruik gemiddeld 160 liter water, terwyl ‘n stort van 5 minute ongeveer 60 liter water gebruik. Word daar in die huis gebad of gestort? As jy wel ‘n bad tap, tap min water in of deel die pad met die res van jou huisgesin. Herwin jou badwater deur dit te gebruik vir die tuin.
  7. Is die wasmasjien of skottelgoedwasser vol gelaai wanneer dit gebruik word? Gebruik julle dalk die 'eco- funksie' (waterspaar-funksie) van die masjien? Onthou die masjien gebruik dieselfde hoeveelheid water of dit nou half vol of heeltemal vol is.
  8. Is daar in die wasbak/stort ‘n emmer waarmee die orige water mee opgevang word? Of loop dit net af in die drein? Grys water kan baie doeltreffend aangewend word.
  9. Maak julle tuin nat met 'n gieter of eerder 'n tuinslang? 'n Tuinslang gebruik 1 000 liter water per uur. Bedek jou plante met molm (swaar kompos of strooi) en as jy dit vroeg in die môre en laat in die middag water gee, sal dit verdamping verminder en water bespaar.
  10. Word die reënwater by julle huis enigsins opgevang? Soos byvoorbeeld met ‘n Eco/Jojo Tenk?
  11. Sien jy enige lekkende / druppende krane in die huis? 'n Lekkende kraan kan 15 liter water per dag vermors, of 5 500 liter water per jaar.
  12. Is daar enige lekkasies by jul waterpype? Gaan kyk na die water lesing op jul meter. Wag dan 15 minute (niemand mag in 15 minute die water gebruik nie), en gaan kyk dan of die watermeter nog dieselfde lesing wys. Indien die water lesing telling hoër is as 15 minute gelede, dan is daar heel moontlik ‘n lekkasie iewers in die huis.
  13. Wanneer jy groente en vrugte afspoel, tap jy eers water in ‘n bak of laat jy die kraan loop terwyl jy die afspoel werk doen?
  14. Is dit moontlik om die stofsuier (elektrisiteit) of besem te gebruik, eerder as om te mop (water)?
  15. Hoeveel plastiekbottels is daar in die huis? Ongeveer 1 Liter water word gebruik om die plastiekbottel te vervaardig waarin jy 500ml gebottelde water koop? Vervang die plastiek met glas. Herwinning (recycling) help om water te bespaar.
water
hemelvaart

Jeugbediening: Bronne oor Hemelvaart

DinkJeug het wonderlike hulpmiddels vir kategete, ouers en onderwysers rondom Hemelvaart ontwikkel. Klik gerus op die podsending oor eenvoudige maniere om Hemelvaart te vier, en stuur dit verder aan. Daar is ook hulpmiddels soos 'n kort video vir kinders oor Hemelvaart, tesame met aktiwiteite vir kinders.

Spesiale boekaanbiedings by CLF

Celebration SPECIAL AFR_March22
Ons herinner julle aan CLF se SPESIALE AANBOD om ons nuwe boekwinkels te vier!

AANBOD:
  • Tydsduur: Tot 30 Junie 2022 (of terwyl voorraad hou)
  • Aanbod: Koop hierdie uitgesoekte 10 boeke as ‘n pakket vir R100, of koop enige van hierdie boeke individueel teen R20 elk.
  • Slegs aankope by ons boekwinkels of bestellings na order@clf.co.za (die aanbod is nie op ons aanlynwinkel beskikbaar nie).
BOEKE:
  1. Die hap van die appel
  2. Ons kyk na die donkiemaan
  3. God se wysheid vir jou
  4. Troos in moeilike tye
  5. Fletcher vra hoekom
  6. Aangenaamsdal se geheim
  7. You are good enough
  8. The adventures of Mary and Abe
  9. Seisoene van genade
  10. Our Family prayer book
eredienste
Die erediens is die sentrale gebeurtenis in die lewe van ‘n gemeente: dié geleentheid waar God en sy gemeente mekaar ontmoet. Verskeie faktore plaas in ons tyd geweldige druk op die erediens en wek allerlei vrae oor die beste manier om dit liturgies in te klee. In hierdie module gaan ons kyk na hierdie vrae en saam soek na 'n manier waarop ons erediens steeds relevant en betekenisvol beleef kan word.

Plek: Aanlyn per Zoom
Tye: 24/05 (8:30 – 16:30), 25/05 (8:30 – 16:30)
Aanbieder: Dr André Bartlett
Koste: R95
VBO: 30 punte
Sluitingsdatum: 20 Mei 2022
Inskrywing: klik hier
(Inskrywings geskied deur middel van dié aanlynvorm)

Bankbesonderhede vir elektroniese betalings:
Bank: ABSA
Naam van rekening: TSO
Rekeningnommer: 142 0830 463
Takkode: 632005
Tak: PRETORIA
Verwysing: VBO naam en van
Bewys van betaling: epos na excelsus@up.ac.za

Navrae: Rika by excelsus@up.ac.za

Retraite vir Vroue-in-die-Bediening

vroue
Klik hier vir die inskrywingsvorm.

Heideveld hou kermis - 27 Mei

Wanneer: Vrydag 27 Mei 2022 om 15h30
Waar: Ons kerk is in Dundeeweg, Rowallanpark, PE

Kom kry aandete by ons : Heideveld se bekende kerrie en rys, pasteie, potjies, sosaties, roosterkoeke, kerrie vetkoeke en meer.

Al die soetgoed is ook daar – pannekoek, koek en tert, lekkers en poeding. Om alles af te rond - plaasvars groente en vrugte uit die Gamtoos.

En net miskien is daar ‘n winskopie by die Mot en Roes tafel. Sien jou daar!

Nuut in Kerkbode

  • NUUS | Onderlinge verskille oor Skrifgebruik en -gesag was, nes in ander sinodale streke van die NG Kerk, ’n groot besprekingspunt by die onlangse streeksinode van NG Kerk Noord-Kaapland. Dit was egter 'n versoeningsgesinde saamtrek. Lees meer oor wat in Kimberley gebeur het asook waarom die landwye reaksie op hul Rampdroogteprojek as 'n R11 miljoen 'wonderwerk' bestempel word. Kliek hier.
  • ARTIKELS | Marileen Steyn gesels met Nuwe Testamentikus prof Elna Mouton oor twee woorde Skrif en spiritualiteit terwyl dr Doret Niemandt by Namibiese teoloog dr Wynand Fourie uitvind hoe help die Bybel gelowiges met besluite in die alledaagse lewe? | Lees die twee gesprekke hier.
  • GETUIENIS | "Die realiteit is ons het almal as gelowiges iemand se wonderwerk of geleentheid in ons hart en ons hand. Ek dink dit is wat ek probeer sê as ek sê ons moet God se koninkryk bou op aarde," sê Kosie van Zyl, 'n Overbergse boer wat saam met sy onderwyseresvrou, Lize, verskillende maniere gevind het om die lewe van mense in hulle omgewing te verbeter. Kerkbode het onlangs gaan inloer om hul storie te sien en beleef. Om meer uit te vind kliek op die skakel vir VIDEO en TEKS.
  • DANA-RUBRIEK | "Soms betrap ek myself dat ek vir ’n lang ruk Facebook-plasing ná Facebook-plasing oor my foon se skermpie laat rol en rol," bieg die joernalis-skrywer Dana Snyman. Hoe beïnvloed sosiale media jou optrede teenoor ander? Kliek hier.

Colesberg: Vakature vir 'n leraar

Die NG Gemeente Colesberg stel 'n voltydse predikantspos bekend. `n Hele aantal vee- en wildsplase is binne die gemeentegrense. Die gemeente bestaan uit ongeveer 401 belydende en 87 dooplidmate wat verdeel is in 4 plaas- en 14 dorpswyke. Binne die gemeente funksioneer ‘n tehuis vir senior lidmate. Klik hier vir die posbekendstelling. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Mei 2022.
vakatures

Leraars beweeg

Ds Quinette le Roux-Weitsz is op Sondag, 15 Mei, as deeltydse leraar in die NG Gemeente Cambridge deur ds Willem Petzer bevestig.

Prop Marnico Wessels word op Vrydag, 10 Junie, in Paterson-gemeente met handoplegging bevestig.

Diensleraar prop. Tiaan Muller is na Humansdorp-gemeente met toegespitste terrein Jeugbediening beroep en word op Sondag, 22 Mei, bevestig.

Ds J-R Nieuwenhuizen ontvang op Sondag, 22 Mei, demissie by King William's Town en word op 5 Junie 2022 te Cradock-Noord bevestig.
Kerkkantore word herinner om die sinodale kantoor in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter