Jaargang 23 - Nommer 22 - 25 Julie 2025
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • Hoe lyk jeugbediening in die platteland?
  • NG Kerk Taakspan vra: leef plastiekvry
  • Aanlyn VBO: Wanneer godsdiens ly tot verwonding
  • Groeiende boeliegedrag en vandalisme in SA laerskole
  • Leraars beweeg

Gemeentes bedien kinders in die Wintervakansie

Verskeie Oos-Kaapse gemeentes het geseënde Avontuurweke met kinders uit die gemeenskap in die Julievakansie aangebied. Hierdie groep was by die Sherwood-Gemeente bymekaar

Studie ondersoek boeliegedrag, geweld en vandalisme in SA laerskole

Laerskole in SA is toenemend uitgelewer aan boeliegedrag, vandalisme en geweld - ook op onderwysers gemik

Laerskole in Suid-Afrika beleef tans ’n ernstige krisis. Elke dag is daar voorvalle waar leerders baklei, boelie, eiendom beskadig en ander leerders en onderwysers intimideer. Skole, wat veilige plekke behoort te wees, word só plekke van vrees en wantroue.
Navorsing wys dat leerdergedrag dikwels geweld, boeliegedrag en vandalisme (beskadiging van skool se eiendom) insluit – en dit bedreig die veiligheid van beide leerders en personeel.

Die media berig gewoonlik net oor ernstige gevalle van geweld, maar onderwysers en skole word daagliks gekonfronteer met uitdagende en gevaarlike gedrag wat dikwels nie aangemeld word nie. Hierdie probleem van onderrapportering is nie uniek aan Suid-Afrika nie – dit gebeur ook in ander lande.

Studies toon dat sulke gedrag die onderrig en leerproses ernstig ontwrig, wat uiteindelik tot swak prestasie en selfs skoolverlating lei.

Onderwysers ervaar gereeld aggressie en dreigemente van leerders, wat hul vermoë om doeltreffend te onderrig, ondermyn. Hulle voel onveilig en moedeloos, veral wanneer ouers hul kinders se swak gedrag verskoon eerder as om dit reguit aan te spreek.

Geweld, boeliegedrag en skade aan skoolgeboue raak nie net die slagoffers en onderwysers nie – dit het ook ’n finansiële koste vir die skool en lei tot emosionele trauma en lyding vir die slagoffers en hul gesinne. Lees verder.

Eensaamheid styg sodra KI menslike kontak verdring

'n Onlangse voordrag by die Calvin institute for Christian Worshop deur Felicia Wu Song fokus op die invloed van KI (kunsmatige intelligensie) op menslike verhoudinge, en hoe geloofsgemeenskappe daarop behoort te reageer.

Een van die mees oortuigende argumente ten gunste van KI-kletsbotte is dat dit “beter as niks” is wanneer menslike teenwoordigheid en betrokkenheid digitaal nageboots word in omgewings soos onderwys, terapie of gesondheidsorg. Maar wat word daarmee gewen – en wat gaan verlore?

Die lesing voer aan dat een van die grootste verliese wanneer instellings toenemend van KI-gebaseerde tegnologie afhanklik raak, ’n toekoms is waar eensaamheid nie net toeneem nie, maar ook ongelyk versprei word. Soos menslike teenwoordigheid en interaksie al hoe meer as ’n produk beskou en verkoop word, het kwesbare groepe al minder toegang tot die unieke ervaring van werklike menslike kontak.

Geloofsgemeenskappe moet dus gereed wees om teenwoordigheid en nabyheid as bediening te leef – en so die menswaardigheid wat in beliggaamde ontmoeting lê, te beskerm en te beliggaam. Klik hier om na die voordrag te kyk.

NG Eko-Taakspan rig pleidooi

Plastiek in ons oseane, ons kos, selfs ongebore babas

Plastiekbesoedeling het ’n pandemie geword. Dit is in ons oseane, ons drinkwater en ons kos. Wetenskaplikes het selfs onlangs mikro-plastiekdeeltjies in ongebore babas gevind. Só sê ds Fay van Eeden van die Algemene Taakspan Ekologie in ’n kort video wat vandeesweek bekend gestel is.

Sy doen in haar video ’n dringende oproep op almal (regering ingesluit) om te help om plastiekproduksie te verminder. Fay gee ook maklike wenke wat mense kan doen om eenmalige gebruik van plastiekprodukte soos inkopiesakke te bekamp. Lees verder.

Hoe lyk jeugbediening in die klein platteland?

In hierdie DinkJeug-podcast gesels Christi Thirion met Gert Nothnagel van NG Kerk Herold oor die uitdagings en vreugdes van jeugbediening in ‘n baie klein, plattelandse gemeente.

Gert deel eerlik oor hoe hulle as geloofsgemeenskap probeer om kreatief en volhoubaar by jongmense betrokke te bly, selfs met beperkte hulpbronne. Hierdie gesprek herinner ons daaraan dat betekenisvolle jeugbediening nie altyd groot of met flitsende liggies gedoen hoef te word nie, dit vra net egtheid, geloof en ‘n hart vir mense.

Gestremdheidsbewusmakingsondag -
31 Augustus 2025

Elke jaar op die laaste Sondag van Augustus (of enige ander datum wat by jou gemeente se program pas) vier kerke regoor Suid-Afrika die waardevolle rol en betrokkenheid van mense met gestremdhede in ons gemeenskappe.
Dit is ’n feestelike geleentheid om erkenning te gee daaraan dat hierdie groep mense ook gawes het wat ons lewe saam met God kan verryk.

Op die RampUp-webblad, onder die oortjie Disability Awareness Sunday, is verskeie hulpmiddels beskikbaar – insluitend kreatiewe idees oor hoe julle dié viering in jul gemeente kan organiseer.

Die webblad van RampUp is 'n wonderlike hulpbron om gemeentes te help om bewus te raak van gestremdheid en die korrekte wyses waarop persone met gestremdhede omhels kan word. Die organisasie se motto is: "That His house may be filled," ontleen aan Lukas 14:23 - “Daar is nog plek!” roep die verbaasde dienaar in Lukas 14 uit. Sy Meester antwoord: “Gaan uit na die paaie en die stegies toe, en dring by hulle aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.”

Begrip is nodig

Geheue-probleme van Covid-19 is werklik, wys studie

Marelize Barnard, Netwerk24

Meer as die helfte van Suid-Afrikaners wat met Covid-19 besmet was, het ’n langtermyn-impak op hul geestesgesondheid en kognitiewe gesondheid ervaar, wys ’n studie wat met die hulp van pasiënte in Kaapstad gedoen is.In sommige gevalle het die negatiewe impak vir tot twee jaar geduur.

Die studie is deur navorsers verbonde aan die Universiteit van Kaapstad gedoen en is deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) gefinansier. Hoewel dit as ’n beperking beskou word dat die studie ’n klein groep pasiënte ingesluit het (97), is daarop gewys dat die bevindings ooreenstem met dié van soortgelyke studies in Afrika asook elders in die wêreld.

Die deelnemers aan die studie het pasiënte ingesluit wat positief getoets het en geen simptome gehad het nie tot mense wat kritiek siek geraak het. Hulle is op die vroegste ses maande nadat hulle besmet was, getoets vir voortgesette neuro-psigiatriese simptome soos angstigheid, moegheid of “uitdagings” met hul geestesgesondheid ondervind. Selfs mense wat matige of geen simptome gehad het nie het maande later probleme gehad.

Byna die helfte van die deelnemers aan die studie het tekens van kognitiewe of geheue-probleme gehad en meer as die helfte het voortdurende moegheid of “uitdagings” met hul geestesgesondheid ondervind. Volgens die bevindinge van die studie het stres, isolasie en die trauma van die pandemie ’n beduidende rol gespeel in die ontstaan van lang-Covid – veral die impak op geestesgesondheid.

Die studieleier, prof. Jonny Peter, hoof van die eenheid vir allergieë en kliniese immunologie by die Universiteit van Kaapstad se Long-instituut en die Groote Schuur-hospitaal, sê dit is belangrik om te besef dat langtermyn-simptome ’n werklikheid is en dat mense ondersteuning moet word.

Soortgelyke studies oor die neuro-psigiatriese simptome nadat pasiënte met Covid-19 besmet was (wat in 22 lande gedoen is met ’n totaal van 1 285 407 deelnemers), het gewys 20% van die deelnemers het negatiewe gevolge ervaar.

Preekreeks vir Koninkrykstyd

Die Taakspan Miga 6 vers 8: vir Versoening en Geregtigheid wil plaaslike gemeentes ondersteun in die uitleef van ons roeping tot versoening en geregtigheid in Suid-Afrika.

Om hierdie proses te dien, het die taakspan materiaal ontwikkel om as dissipels van Christus in 2025 oor versoening en geregtigheid te praat en te leef. Die benadering bestaan uit sewe slagspreuke en 'n preekreeks wat die slagspreuke ondersteun.

Preekreeks:
1. Geseënd is die vredemakers – Matteus 5:9 en Johannes 4:1–26
2. Een in Christus – Psalm 122
3. Nie slagoffers nie – 2 Korintiërs 4
4. Hard oor onreg, sag met mekaar – Nehemia 5:1–19
5. Let’s take hands – 1 Korintiërs 12:12–31
6. Hoop bo vrees – 2 Samuel 9:1–13
7. Ons suffers saam – Lukas 10:25–37

Die hele reeks met ondersteunende materiaal kan hier afgelaai word.

Rol saam vir (en van) pret

Hier is meer inligting oor die Hoogland Tenpin Bowling-uitdaging
In vandag se wêreld speel aanlyn ruimtes en tegnologie ’n al hoe groter rol in hoe ons as kerk teenwoordig is, stories vertel en mense bereik. Hierdie webinaar help jou hoe om dit eenvoudig, sinvol en met selfvertroue te doen.

Wat bied die werkswinkel?
Deel 1: Sosiale media as uitbreiding van jou bediening
Leer hoe sosiale media ’n tweede preekstoel kan word waardeur die gemeente mense kan bereik.
Deel 2: Kunsmatige Intelligensie (AI) as hulpmiddel in die kerkkantoor
Ontdek hoe AI jou daaglikse take makliker en vinniger kan maak, sonder om die hart van bediening te verloor.

Klik hier om te registreer.

Aanlyn VBO bied pastorale perspektiewe

Wanneer godsdiens lei tot verwonding eerder as heling

Dinsdag 16 September 2025 – Zoom aanbieding - Prof Wentzel Coetzer

In hierdie kursus word daar gefokus op die oënskynlike paradoks van godsdiens wat enersyds binne sekere kontekste ‘n helende en bevrydende rol kan vervul, veral wanneer dit op gebalanseerde en gesonde wyse beoefen word en waar die motief daaragter suiwer en opreg is; en andersyds die gevaarkant van godsdiens - met ‘gevaar’ word in hierdie konteks dan bedoel dat daar dieperliggende onverwerkte emosionele pyn aanwesig mag wees wat uiteindelik as dryfveer kan dien tot ontvlugting in toksiese godsdienstige aktiwiteite. Die werklike pyn word nooit hanteer nie en deur middel van die stiptelike onderhouding van ’n magdom geestelike wette en reëls word daar eintlik net meer ‘pleisters’ en ‘verbande’ op ’n septiese wond geplaas. Die finale resultaat van so ’n proses kan dan godsdienstige verslawing en misbruik impliseer waar mense uiterlik gelukkig voorkom, maar innerlik met ’n magdom van onverwerkte emosionele pyn worstel. In die lewensverhale van geestelike leiers wat ’n bydraende rol vervul tot die geestelike verwonding en misbruik (abuse) van lidmate en volgelinge, is daar gewoonlik ook onverwerkte emosionele pyn en trauma wat dikwels reeds gedurende hul kinderjare ’n aanvang geneem het.
Daar word ten slotte ’n aantal praktiese riglyne uitgespel vir die pastorale begeleiding van geestelik verwonde persone met die oog op heling en restourasie.

Kursus oop vir almal: Geen toelatingsvereistes nie.
Datum: Dinsdag 16 September 2025 – sluit in sleutelnotas en tersaaklike dokumente.
Tyd: 09.00 – 13.00Akkreditering: 5x VBO punte – CPSC punte – ook AFM PCD akkreditasie
Koste: R275 pp
Handboek te koop (opsioneel): R370 (R250 vir die handleiding plus R120 koerierkoste)

Klik hier om in te skryf

Vakature: NGK Hofmeyr

Predikantspos vir minimum twee jaar

Hofmeyr is ’n plattelandse dorp in die Oos-Kaap met 115 belydende en 24 dooplidmate. Die dorp is 63 km vanaf Cradock en 45 km vanaf Steynsburg.

Die gemeente wag vir aansoeke van ’n afgetrede leraar. Die gemeente verwag van die leraar om geestelike leiding te neem. Hy moet goeie verhoudinge handhaaf en self ’n geloofwaardige dissipel van Jesus wees.

Die sluitingsdatum is 30 Julie 2025. Lees die posbekendstelling.

Verjaarsdae in Julie

Baie geluk aan die volgende predikante en diensleraars wat in Julie verjaar:

28 Junie – ds Marius Wolmarans (Welbedacht Rehabilitasiesentrum)
1 Julie – dr Dewald Davel, NG Gemeente Sterkstroom
6 Julie – ds Robert-John de Kock, NG Gemeente Port Elizabeth-Nooitgedacht
19 Julie – ds Jan de Bruin, NG Gemeente Port Elizabeth-Noord
24 Julie – ds Johan (Joe) Janse van Rensburg, NG Gemeente Jeffreysbaai
30 Julie – ds Strauss Joubert, NG Gemeente Murraysburg

Indien ons 'n verjaarsdag miskyk, laat ons asb weet. Ons stel dit graag reg.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Gqeberha (Port Elizabeth)
Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, dr Carel - 082 821 7600, clvdm1@gmail.com
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Weyers, prop Chris - 081 270 4240, cjweyers1203@gmail.com
Wiid, dr Willem - 071 866 0771, wiidwillem@gmail.com

Jeffreysbaai en omgewing
Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853, heinbarnard@lantic.net (ook beskikbaar vir Oos-Londen)
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com

Aflos (oral) vir korter of langer periodes
Ds Enslin van Velden - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Ds Pieter van Zyl - 073 225 8466, vanpzyl@gmail.com

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za

Leraars beweeg

Prop Ulrich Barnard (diensleraar) van Somerset-Wes is deur die NGK PE-Sherwood met die oog op jeug- en familiebediening beroep. Hy het die beroep aangeneem en word op 10 Augustus 2025 deur sy vader, dr Paul Barnard van NGK Helderberg, bevestig.

Prop Rion van Niekerk (diensleraar) is na Bothsrus op Despatch beroep.

Prop Conrad Pienaar is op 6 Julie 2025 deur ds Gerhard Loubser by die NGK Newtonpark bevestig.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars. Hier is meer inligting hoe amptelike kennisgewings werk wanneer leraars beweeg.
facebook twitter