
Christelike Kernensiklopedie gratis aanlyn beskikbaar
Die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) is nou gratis beskikbaar by www.ecke.co.za. Hierdie Christelike ensiklopedie is die enigste van sy soort in Afrikaans is. Meer as 160 medewerkers het bygedra tot die ensiklopedie en dit bevat nagenoeg 4 000 lema (kort artikels).
Die eCKE vertel die verhaal van die Christelike geloof van aanvang tot hede en dui die verskillende stromings, gedagterigtings en historiese gebeurtenisse en persone aan wat ‘n bepalende invloed op die Christendom in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld gehad het.
Dit laat lig val op draaipunte in die voor-, antieke en moderne geskiedenis – soos die sondvloed, die Babiloniese ballingskap, die kruistogte, die Renaissance, die Hervorming, die Anglo-Boereoorlog, die wêreldoorloë, die Belydenis van Belhar, Nine-Eleven (9/11) sowel as COVID-19.
Die ensiklopedie word gratis beskikbaar gemaak danksy die bydraes en ondersteuning van uitgewers Bybel-Media, FAK, die Christelike Lektuurfonds, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, teologiese fakulteite, ATKV, Hiemstra-trust, Dagbreek-trust, Ton Vosloo-trust en PUK-Kanselierstrust.