Nuus
Dag Zero kom nader vir Nelson Mandelabaai en omgewing

Dag Zero kom nader vir Nelson Mandelabaai en omgewing

Met die Westelike opgaardamme prakties leeg stuur groot dele van Sarah Baartman distriksmunisipaliteit en Nelson Mandelabaai nou op leë krane af. Terwyl water wel via die Nooitgedachtskema beskikbaar is, is daar dele van die metropool en omliggende gebiede wat nie daartoe toegang het nie. Hierdie water kom ook in laagliggende gebiede in die stad aan, wat beteken dit moet na die hoërliggende gebiede gepomp word. Pompkapasiteit is egter beperk, omdat die water uit die tradisionele bronne deels met gravitasie vloei en nie so intensief gepomp hoef te word nie. Hierdie voordeel verdwyn met die leë damme.

Vandeesweek is berig die tesourie gaan ‘n strategiese waterbestuurspan wat na die metropool ontplooi is, onttrek omdat die plaaslike owerheid nie hierdie span benut nie. Volgens die adjunkminister van Finansies, David Masondo, laat die stad die waterkwessie foutiewelik bloot in die hande van die water- en sanitasiedepartement. Dit beteken dat die nodige inisiatiewe rondom aankope en verkryging, breër ondersteuningsdienste, kommunikasie en begroting nie gelewer word nie.

Voorts het die plaaslike burgemeester ook nooit gereageer op kommunikasie hieroor deur die adjunkminister nie. Die burgemeester en haar kantoor het die tesourie ignoreer.

Intussen word noodplanne bekendgemaak. Tensy dit betekenisvol in die opvangsgebiede reën, staar die metro en omgewing ‘n bleek toekoms in die gesig.

Gemeentes bid voortdurend vir die waterkrisis. Baie dankie daarvoor.

Dag Zero kom nader vir Nelson Mandelabaai en omgewing
Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.