Nuus
Defend our Democracy-beweging verwelkom Zuma se inhegtenisneming

Defend our Democracy-beweging verwelkom Zuma se inhegtenisneming

Die Defend our Democracy-beweging het oud-president Zuma se inhegtenisneming nadat hy vir minagting van die hof tot 15 maande gevonnis is in ‘n mediaverklaring verwelkom. Dit bevestig dat ons almal gelyk voor die reg is, en is ‘n deurbraak vir ons grondwet en die oppergesag van die reg, sê die beweging.

Uit die onsekerheid van die polisieminister oor die vraag of die oud-president wel in hegtenis geneem moet word, het baie afgelei ons staar moontlik ‘n konstitusionele krisis in die gesig. Dit is toe afgeweer, want die oud-president is nou agter tralies.

Dit is goeie nuus. Die kerk het direkte belang by die handhawing van die grondwet.

Een van die doelstellings van die SA Raad van Kerke, waarvan die NG Kerk ‘n lid is, is om die Suid-Afrikaanse demokrasie te beskerm en te versterk. As deel hiervan het die Raad die “unburdening panel” geloods waar prominente regeringslede oor wanpraktyke in die regering kon kom vertel. Dit het grootliks bygedra om staatskaping te ontbloot. 

Prominente kerkleiers is deel van die nuwe “Defend our Democracy”-beweging. Die uitgangspunt is dat gewone burgers die laaste linie van verdediging van ons demokrasie teen korrupsie, diefstal en die stroop van die staat se bronne is.

In ‘n onlangse voordrag aan kerkleiers in Nelson Mandelabaai deur pastor Frank Chikane, een van die sameroepers van Defend our Democracy, het hy verwys na korruptes wat in vrede tronk toe moet gaan en nie – soos Simson – in die proses moet probeer om die pilare van die samelewing om te trek nie. Dit is ook op oud-president Zuma van toepassing. Hier is ‘n kompakte opsomming van Chikane se voordrag.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.