Nuus
Die kind is nie dood nie, nóg in Bethelsdorp, nóg in Helenvale ….

Die kind is nie dood nie, nóg in Bethelsdorp, nóg in Helenvale ….

‘n Standbeeld wat die kinders uitbeeld wat hul lewens in die kruisvuur van bendegeweld in Port Elizabeth (Gqeberha) se noordelike gebiede verloor het, is op Jeugdag in Gelvandale onthul.

“Die laaste kind” – ‘n standbeeld van Duncan Stewart wat kinders gedood weens bendegeweld in die noordelike woonbuurte gedenk, is op Jeugdag 2021 in Gqeberha onthul

Die standbeeld is geskep in opdrag van National Glass, ‘n glasvervaardiger met sy hoofkantoor in die stad. Sommige van National Glass se werknemers het kinders weens bendegeweld verloor, terwyl ander trauma danksy geweld en misdaad moet verwerk.

Klere van die afgestorwe kinders is in die werk benut. Die standbeeld is omhul deur ‘n kas met koeëlvaste glas, waarmee die gemeenskap se aandrang om sy kinders te beskerm uitgebeeld word.

Op die voetstuk is ‘n paar versreëls aangebring, geïnspireer deur die bekende gedig van Ingrid Jonker, Die kind wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga:

Die kind is nie dood nie
nóg by Bethelsdorp nóg by Booysenpark
nóg by Gelvandale nóg by Helenvale
nóg deur die hele Northern Areas

By die inwyding het gemeenskapsleier Christian Martin gesê die standbeeld simboliseer al die onskuldige jong lewens wat so doelloos in die noordelike gebiede vernietig is.

By hierdie geleentheid het National Glass ook ‘n program aangekondig om kinders in die geweldgeteisterde woonbuurte by te staan.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.