Nuus
Die NG Kerk: ‘n samevloeiing van verskillende teologiese strome

Die NG Kerk: ‘n samevloeiing van verskillende teologiese strome

Dr Christo Benade

Die konflik wat ons tans in die NG Kerk beleef, is ongelukkige niks nuuts nie en ook nie eers uniek aan die NG Kerk nie. Binne die NG Kerk was daar van die begin ‘n aantal filosofiese en teologiese strome teenwoordig. As ons terugkyk, kan die kerk vergelyk word met ‘n rivier wat ontstaan uit strome met verskillende oorspronge en uniek saamvloei hier in die Suidpunt van Afrika. Hierdie strome kan beskryf word as ‘n gereformeerde, evangeliese, piëtistiese, Neo-Calvinistiese strome asook die invloed van Karl Barth in die middel van die 1900’s.

Gereformeerde wortels

Die kerk in Suid-Afrika ontstaan as ‘n kerkplanting (1652) met ‘n sterk protestants-calvinistiese teologie uit die Switserse/Franse/Hollandse geledere. Binne hierdie tradisie bly die vyf solas wat as ‘n geheel gelees word, belangrik. Die vroeë predikante se fokus was op die bediening van die Hollanders aan die Kaap (sterk onder die invloed van die Sinode van Dordrecht) met het ‘n beperkte sendingvisie.  Die teologie is gekenmerk deur ‘n sterk intellektuele fokus met ‘n verwaarlosing van emosie. Die Hollanders se geledere word later aangevul deur die Franse Hugenote wat gou geassimileer het met die Hollanders en die kerk verryk het met hulle unieke spiritualiteit.

Evangeliese, Puriteinse en Piëtistiese invloede

Die behoefte aan ‘n onafhanklike kerk lei tot die stigting van ‘n onafhanklike NG Kerk aan die Kaap (vroeë 1800’s). Predikante word gesoek en ‘n aantal Skots-Presbiteriaanse predikante word gewerf om die kerk te bedien. Saam met die Skotte en ook van die Hollanders kom Evangeliese, Puriteinse en Piëtistiese invloede. Hierdie invloede vind hulle wortels in die nadere reformasie in die 16de en 17de Eeu. Dit plaas ‘n klem op ‘bekering’, ervaring, persoonlik heiligheid (dualisme), biblisisme en ook aktivisme na die NG Kerk. Die evangeliese invloede bring ‘n korreksie aan binne die nasionalistiese karakter van die gereformeerde tradisie en stimuleer die sendingbedryf binne die NG Kerk wat lei tot verskeie sendingaksies in Suidelike Afrika. Die Evangeliese, Puriteinse en Piëtistiese invloede word goed ontvang as ‘n reaksie teen ‘n soms droë gereformeerde spiritualiteit.  Die onderskeie herlewings in Amerika, Brittanje en Europa lei daartoe dat sendinggenootskappe in Suidelike Afrika kom werk en hier genootskappe stig. Die evangeliese dryfkrag van hierdie genootskappe steek sendingvure binne die kerk aan.  In die middel van die 18de eeu blyk die Evangeliese/piëtistiese/puriteinse invloed die sterkste in die NG Kerk te wees. Pinksterdienste in die NG Kerk ontstaan in hierdie tyd. Die Murraybroers se invloed is deurslaggewend. Die Murraybroers behou ‘n gereformeerde konfessionele teologie met ‘n piëtistiese spiritualiteit en ‘n sterk evangeliese dryfveer.

Liberale invloed

Die derde stroom in die 19de eeu was liberaal en vloei uit die verligtingsdenke in Europa. Liberale teologie word gekenmerk deur: geen onderskeid tussen die natuurlike en die bo-natuurlike wêreld; die mens het nie ‘n eksterne openbaring nodig nie omdat die godheid in hom te vind is; ‘n god word in alle godsdienste gevind. Wat slegs in die Bybelse, Christelike geloof gevind word, is: die totale verdorwenheid van die mens en die bestaan van die bose; Jesus is die Seun van God; gebore uit ‘n maagd; het uit die dood uit opgestaan; het wonderwerke verrig wat nie blote mites is nie. Weens die dominante posisie van die evangeliese teologie in die laat 19de eeu word die liberale teologie tydelik grotendeels onderdruk.

Neo-Calvinisme

Die vroeë 20ste eeu bring ‘n nuwe teologiese stroom, die Neo-Calvinisme. Die Neo-Calvinisme en die invloed van Abraham Kuyper sou die NG Kerk vir die volgende 80 jaar sterk beïnvloed.  Neo-Calvinisme in Europa was ‘n teenreaksie teen die liberalisme van die verligting, maar vind in  Suid Afrika sterk aanklank as die teologiese onderbou van die Afrikaner Nasionalisme. Die Neo-Calvinisme bied ook vir die Afrikaners sekerhede in baie moeilike tye (oorloë en depressie jare) wat die liberale teologie nie vir hulle kon gee nie. NG Kerk-teoloë en ander intellektueles studeer aan Hollandse universiteite waar die Neo-Calvinisme nie net ‘n teologie was nie maar ook ‘n wêreldbeskouing. Die teologiese konserwatisme en teologiese begronding wat die Neo-Calvinisme aan die Afrikaner Nasionalisme gee, maak dat die teologiese stroom sterk wortelskiet. Die dominante posisie van die Neo-Calviniste kan gesien word in die Du Plessis saak. Du Plessis het ‘n evangeliese en sendinghart gehad en ‘n liefde vir Andrew Murray, maar as akademikus ‘n ondersteuner van die histories-kritiese metode van eksegese. Hy word hieroor as liberaal gesien en as ‘n dwaalleraar deur die Neo-Calviniste aangekla en verbied om klas te gee.

Dit was ‘n groot oorwinning vir die Neo-Calviniste teen die evangelies-piëtistiese teologie en het hulle as die dominante teologiese stroom gevestig. Die Neo-Calvinisme soos in Suid Afrika beoefen, was ‘n karikatuur van die oorspronklike Neo-Calvinistiese ideale van Kuyper en hy is nie alleen verantwoordelik nie.  

Die Neo-Calvinisme het die volgende kenmerke: klem op die soewereiniteit van God; klem op die ortodoksie (m.a.w. Neo-Calvinisme) teenoor dwaling van ander; die onfeilbaarheid van die Bybel; letterlike en selfs fundamentalistiese Bybel interpretasie; die ware eenheid in die kerk word gevind ‘n gedeelde belydenis en nie in sigbare kerkstrukture nie; God openbaar Hom deur Sy Woord en skepping (‘n natuurlike teologie’, dus sou die natuurlike verskille tussen rasse normatief kan wees), onvoorwaardelike uitverkiesingsleer (dubbele predestinasie); sterk intellektuele spiritualiteit.

Karl Barth

Karl Bath se invloed word vanaf die tweede helfte van die 20ste eeu gesien. Sy invloed op prominente anti-apartheidsteoloë is belangrik. Sy trinitariese teologie en invloed op die verstaan van die missio Dei bied ‘n alternatief vir die Neo-Calvinisme sowel as die liberale teologie. Hy was een van die eerste teoloë wat sending as integraal met God se wese gesien het. ‘n Interessante nota is dat die anti-apartheidsteoloë nie uit die liberale teologie gekom het nie, maar eerder uit ‘n evangeliese stroom met sendingharte wat blootgestel is aan die lyding van die swart gemeenskap en daarop gereageer het.

Bart se teologie word gekenmerk deur: ‘n fokus op God se self-openbaring in en deur Jesus Christus; God is die gans andere en slegs Christus oorbrug die gaping tussen God en mens; ‘n verwerping van natuurlike teologie; ‘n nou verband tussen goddelike regverdiging en menslike geregtigheid; die kerk is nie onsigbaar nie, maar moet sigbaar wees in haar eenheid; die evangelie het politieke implikasies, veral vir die wat onderdruk word; sending is nie bloot ‘n aktiwiteit van die kerk nie, maar vloei uit die wese van God (die missio Dei); die Woord van God staan sentraal in ons denke oor God.

Barth het ‘n drieledige beskouing van die Woord van God: 1) die ewige Woord (Logos) — Jesus Christus; 2) die Bybelse se getuienis oor die primêre Woord;  3) die Woord van God as verkondiging.

Na ongeveer 1986 begin die swaai weg van die Neo-Calvinisme en die ondersteuning van Apartheid. Die invloed van Barth se teologie kan sterk hierin gesien word. Die reaksie teen die Neo-Calvinisme en die oopstel van die kerk lei tot die afstigting van die AP Kerk toe ‘n groep lidmate en predikante nie hul weg oopsien om saam met die kerk te skuif nie.

1994 – Teologiese Vakuum

Na 1994 bevind die kerk hom in ‘n teologiese vakuum. Dit word ‘n tyd van aftakeling van die apartheidsteologie, die kortstondige opkoms van die Nuwe Hervormingsbeweging, die sukkelende strewe na kerkhereniging en ‘n worsteling met die hantering van selfde-geslag-verhoudings.

Die kerk betaal ‘n duur prys in vertroue vir sy ondersteuning van apartheid. Tog slaag die NG Kerk daarin om met broosheid en skuldbelydenis die einde van apartheid te oorleef. Die kerk word egter die enigste samelewingstruktuur waar ontnugterde Afrikaners vastigheid kan vind. Vir baie word die kerk die laaste bastion van selfbeskikking en bekendheid. In baie gemeentes leef daar steeds sterk weerstand teen verandering omdat dit al bekende omgewing is wat die Afrikaner nog het. Afrikaner gemeenskapsleiers word gerangeer tot die rand van die samelewing en die kerkraad. Baie gemeentes en kerkrade kry dit reg om die onsekerheid binne te gaan en hulle gemeenskappe te begin dien, maar vir die meeste bly Sondagoggend die enigste veilige plek vir “ons” mense.   

Binne die geestelike vakuum steek die liberale teologie kop uit in die vorm van die Nuwe Hervormingsbeweging. Die beweging propageer ‘n liberale en modernistiese teologie wat sterk herinner aan die liberale beweging aan die einde van die 19de eeu. Daar is nie baie ondersteuning vir die beweging binne die kerk nie en die beweging word ‘n los vereniging van mense wat hierdie teologie deel. Enkele predikante en teoloë ondersteun die liberale teologie in boeke, uitsprake en artikels en veroorsaak spanning deur bv. Christus se maagdelike geboorte of opstanding te ontken. Min van hulle is egter gemeente-predikante.

Die kerk se poging om kerkhereniging met die VGK te bereik, het energiek begin maar word telkemale in die wiele gery deur die vrees vir verlies aan selfbeskikking, teologiese weerstand teen bv. die belydenis van Belhar (uit Neo-Calvinistiese kringe), persoonlike verskille tussen kerkleiers, die komplekse interne dinamika binne die onderskeie kerke, asook ekklesiologiese verskille. Daar is wel oomblikke en plekke van hoop soos eenheidsbedieninge in gemeentes en ringe.  

Ongewone vriende

Die worsteling met hantering van SGV bring ‘n hergroepering binne die kerk. Dit is my oortuiging dat die behoefte om ruimte te maak vir mense in SGV nie kom uit ‘n liberale teologie nie maar eerder uit ‘n diepe bewustheid van die foute wat die kerk gemaak deur teen mense te diskrimineer en hulle uit te sluit uit die gemeenskap van die gelowiges. Die poging om ruimte te maak vir SG-verhoudings bring egter twee ongewone teologiese strome saam. Gelowiges uit die piëtisme en die Neo-Calvinisme vind ‘n gedeelde gevaar in die beleid oor SGV. Alhoewel daar groot verskille tussen die twee groepe is, het albei ‘n letterlike lees van die Bybel wat dit vir hulle haas onmoontlik maak om ruimte maak vir SGV.

Binne die beweging wat hom beywer vir die omkering van die SGV-besluit, is gemeentes met ‘n sterk behoefte aan die aanvaarding van die bekeringsdoop wat self charismatiese trekke vertoon. Binne dieselfde groep is ook stoere Neo-Calviniste. Die probleem is dat dié groep die voorstanders van die SGV-verhouding beskou as liberaliste. In hulle kritiek op die Algemene Sinode en leiers word tipiese besware teen die liberale teologie saam met die beswaar oor selfde geslag verhoudings geplaas.

Die situasie is egter baie meer kompleks. Behalwe vir die Neo-Calviniste en die piëtiste wat saamspan teen die res, is daar ook ‘n kleiner liberale groep, maar dit is verseker nie die res van die kerk nie. Daar bestaan ‘n sterk (alhoewel stil) middelgrond wat ek glo die kerk kan vorentoe neem.

Die Middelgrond

Dit is moeilik om aan hulle ‘n naam te gee, maar dit is ‘n groep met gereformeerde teologiese en evangeliese oortuigings. Dit is gelowiges wat die Here Jesus bely as hulle verlosser en hoop, die Bybel lees as die Woord van God en in afhanklikheid van die Vader leef en streef om gehoorsaam aan die Gees te wees. Hierdie groep aanvaar dat die Bybel nie vir ons alles oor alles sê nie. Hulle lees die Bybel as God se openbaring, geskryf deur mense, in kontekste wat baie verskil van die waarin ons leef. Hulle leef saam met die onsekerheid wat ons het oor etiese sake van ons tyd en wat kan ruimte maak vir Christene wat SGV wil akkommodeer, al is hulle self nie gemaklik daarmee nie.

Ek sal graag meer van hierdie groep wil hoor—van hulle geloof, van hulle worsteling en hoe hulle God ervaar in hierdie tyd. Ek sal ook wil hoor wat hulle beskou as die grootste nood waaraan die kerk moet aandag gee en waar die kerk ‘n verskil kan maak. Die toekoms vir ons kerk lê nie in die ekstreme nie maar in die middel, by belydende gelowiges wat die Koninkryk wil bou.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.