Nuus
Dr Cloete van Vuuren: “Inenting red lewens en beskerm jou gesin, ongetwyfeld”

Dr Cloete van Vuuren: “Inenting red lewens en beskerm jou gesin, ongetwyfeld”

In hierdie interaktiewe gesprek gee dr Cloete Janse van Vuuren, internis met ‘n bykomende spesialisasierigting oordraagbare siektes, bruikbare inligting oor die waarde van inenting en die jongste oor Covid-19.

Die jongste betroubare data illustreer die dramatiese effek van inenting teen Covid-19. Die tempo waarteen mense Covid-19 kry, neem dramaties af met inenting, sê dr Cloete Janse van Vuuren in ‘n praatjie op 4 Augustus 2021 met personeel van die SA Stamboekvereniging.

In die interaktiewe gesprek met hierdie groep, waarvan verskeie natuurwetenskaplikes is, sê dr Janse van Vuuren sommige mense is geneties meer vatbaar vir ernstige gevolge weens Covid-19, ander nie. Dit is ‘n bykomende rede waarom inenting so belangrik is.

Data uit Brittanje toon hoedat die infeksiekoers en sterftekoers in die eerste en tweede vlaag baie nou verband gehou het. Noudat verreweg die meeste Britte geïmmuniseer is, het hierdie verband verdwyn. Hoë infeksiekoerse lei nie meer tot verbandhoudende hoë sterftekoerse nie. Hy beklemtoon die enigste manier om kudde-immuniteit te verkry, is deur immunisasie.

Inenting het geweldige positiewe gevolge vir gesinne. In Brittanje is navorsing gedoen in die tyd toe slegs gesondheidswerkers ingeënt is. Mens het dan ‘n huishouding met slegs een beskermde persoon. Tog het die voorkoms van Covid-19 spesifiek in daardie gesinne met ‘n volle 50% gedaal. Iemand moet Covid kry en dit vir die res van die gesin aangee. Wanneer bepaalde lede van die gesin beskerm is, help dit die hele gesin.

Dit is natuurlik ook vir geloofsgesinne, gemeentes, waar.

Hierdie verskynsel beteken dat jongmense ook ingeënt móét word. Jongmense word siek, kom min oor, maar gee Covid vir hulle ouers aan, en dié sterf.

Jongmense word ook op ander maniere geraak. Hy vertel van ‘n 56-jarige pa wat siek geword het en verduidelik het watter geweldige effek sy dood op sy gesin sal hê. Hy wou oorleef. Hy het nie, hy is dood aan Covid, met groot implikasies vir die kinders wat agterbly.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.