Nuus
Geliefde ds Alwyn Griebenow oorlede

Geliefde ds Alwyn Griebenow oorlede

‘n Bekende en geliefde leraar van Despatch, ds Alwyn Griebenow, is op 16 Julie 2021 in die rype ouderdom van 85 jaar oorlede.

Ds Griebenow het in 1996 by die Bothasrus-gemeente op Despatch emeriteer, maar het sedertdien ‘n hele paar jaar as pastorale hulp by die nuutgestigte Sondagsriviermond-gemeente waargeneem.

Lewensgeskiedenis

Alwyn Griebenow het op 22 April 1936 op Laingsburg in die Karoo die lewenslig aanskou. Hy was die jongste van twaalf kinders.

’n Jaar later het sy gesin na Kaapstad verhuis en hulle in Goodwood gevestig. Alwyn het in 1952 tydens ’n pinksterbiduur kragdadig tot bekering gekom en in sy matriekjaar ervaar dat die Here hom roep om hom as leraar te bekwaam.

Nadat hy in 1953 aan die Hoërskool Goodwood-Epping gematrikuleer het, het hy aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer met ’n lening van die Helpmekaarfonds. Hy het sy B.A. Admissie asook sy Kweekskoolstudies met lof voltooi, en is in 1960 as predikant gelegitimeer. Op 17 Desember dieselfde jaar het hy met Muntie Benson van Jagersfontein in die Wes-Transvaal getrou. Saam het hulle ’n beroep na die Mashonalandse Sending in Suid-Rhodesië, wat deesdae as Zimbabwe bekend staan, aanvaar.

Ná ’n maand se taalstudie op Morgenster-sendingstasie is die twee na Alheit-sendingstasie, sowat 160 kilometer noordoos van Fort Victoria (Masvingo), uitgeplaas. Daar het hulle hul by ses ander sendelinge aangesluit. Alwyn het Shona bemeester en selfs in dié taal gepreek.

Die politieke klimaat het mettertyd versleg en die Griebenows is na Bulawayo verplaas. Die situasie in die swart woonbuurtes daar was ewe moeilik, maar danksy die beskermende genade van die Here kon Alwyn sy bediening voortsit. In Julie 1966 het Alwyn ’n beroep na Gatooma (Kadoma), halfpad tussen Salisbury (Harare) en Gwelo (Gweru), aanvaar. Die gemeente van 750 lidmate het ’n groot boeregemeenskap ingesluit, en die tyd daar het hegte geestelike en vriendskapsbande opgelewer.

Alwyn en Muntie se oudste, Marina, is in 1962 op Alwyn se verjaarsdag op Morgenster gebore. Hul seun Alwyn is in 1964 op Bulawayo gebore, en die laaste drie – Bertus (1966), Mariana (1969) en Francois (1972) – op Gatooma.

In Januarie 1973 het die Here duidelik vir Alwyn en Muntie gewys dat hulle hul bediening in Suid-Afrika moet voortsit toe hy na Dingaanstat beroep is. Hulle was net langer as ’n jaar op dié geskiedkundige sendingstasie. Alwyn moes weer ’n vreemde taal aanleer – hierdie keer Zoeloe – en ook die administrasie van ’n kinderhuis baasraak. Dit was ’n moeilike leerkurwe, vol toetse en beproewings, maar hulle het ryper en sterker anderkant uitgekom.

In Maart 1974 het Alwyn ’n beroep na Delportshoop, ’n delwersdorp anderkant Kimberley, aanvaar. Daar het hulle sowat vier jaar lank diamante vir God se koninkryk ontgin.

In Desember 1977 het Alwyn sy intreepreek in Bothasrus-gemeente op Despatch gelewer. Die Griebenows het vir ongeveer 20 jaar lank met groot vreugde hier bedien. Dit is ook hier waar Alwyn in 1986 die eerste keer ’n preekreeks oor die sewe kruiswoorde gelewer het, wat die basis vorm van ‘n boek wat later uit sy pen sou verskyn: Die Sewe Kruiswoorde – Oordenkings Oor Jesus Se Lyding,

Die Griebenows se bediening in Bothasrus was ’n baie gelukkige tydperk en hulle het swaar afskeid geneem van die gemeente toe Alwyn in April 1996 emeritaat aanvaar het. Die Griebenows het op Despatch gebly en is steeds baie betrokke by die gemeenskap, onder meer deur hul verbintenis met die Voortrekkers.

Drie van die kinders is getroud – Alwyn met Ronél Venter, Bertus met Welma van Rensburg, en Mariana met Izak van der Merwe. Alwyn en Muntie het in Desember 2020 hul 60ste huweliksherdenking gevier, en spog met tien kleinkinders: Alvard, Anmarí, Alwyn, Robert, Christian, Ben, Alwyntjie, Petrie, Suzanne en Jan-Louis.

Sy seun, Bertus Griebenow skryf op 17 Julie op Facebook:

“Dit het die Here van hemel en aarde behaag om ds Alwyn Griebenow, in die ouderdom van 85, gisteraand om 23h05 te kom haal. Ek sal altyd die Here dankbaar bly vir my pa en die feit dat hy my na Jesus toe gelei het en gedemonstreer het hoe n verhouding met Jesus moet en kan wees. Sy hart vir verloregaande siele sal my altyd bybly en aansporing wees om as ligdraer van Jesus in die wêreld op te tree. Die Here het gegee en die Here het geneem. Die Naam van die Here sy geloofd.

“Dankie vir al die baie boodskappe van meelewing. Ons as gesin waardeer dit baie. Ek kan maar net sê dat my pa swaar gehad het die laaste paar dae en ons nou groot vrede het met sy afsterwe, dat sy lyding verby is. Ons weet verseker hy is nou by Jesus.”

Die begrafnis vind Vrydag 23 Julie 2021 vanuit Bothasrus-gemeente plaas. Die diens word gestroom. Die skakel word later bekendgemaak – hou Bothasrus-gemeente se Facebookblad dop.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.