Nuus
Gemeentes, neem Covid-veiligheidsmaatreëls en immunisering ernstig op

Gemeentes, neem Covid-veiligheidsmaatreëls en immunisering ernstig op

Pres. Cyril Ramaphosa het die land vanaf 16 Junie 2021 op ‘n aangepaste Vlak 3 van inperking geplaas. Die staatskoerant waarmee die regulasies uitgevaardig word, is hier op ons webblad beskikbaar.

Samevattend behels die maatreëls die volgende:

  • Byeenkomste van enige aard is beperk tot 50 persone binnenshuis en 100 buite. Binnenshuis mag 50% van die lokaal se kapasiteit nie oorskry word nie. Dit geld alle byeenkomste.
  • By alle byeenkomste moet Covid-maatreëls gevolg word, met goeie ventilasie en sosiale afstand. Rekord moet gehou word van wie aanwesig is, tesame met die ander protokol.
  • Die aandklokreël geld van 22:00 tot 04:00.
  • Die dra van maskers in openbare ruimtes is verpligtend. ‘n Erediens, huweliksbevestiging of begrafnis is ‘n publieke ruimte.
  • Maak seker dat oppervlakke waaraan meerdere persone raak (bv. sekere deurknoppe) gereeld ontsmet word. Moenie iets doen wat beteken mense raak aan dieselfde objek nie, soos om kollekteborde deur rye te stuur nie.

Die versoeking is altyd om te dink dit gaan oor maatreëls. Ten diepste gaan dit oor die sorg en verantwoordelikheid wat ons vir mekaar neem. Dit aan oor ‘n virus wat ons nie versprei nie, sodat die kapasiteit van hulpverleners (soos mediese dienste en hospitale) nie oorskry word nie.

Meer gevalle word bekend van persone wat Covid reeds gehad het, en dit nou vir ‘n tweede keer kry. Verlede jaar is gesê dat die siekte self jou net vir ‘n paar maande immuniteit gee. Dit word nou bevestig.

Gevolglik is immunisering krities belangrik. Op hierdie stadium moet gemeentes moeite doen om persone bo 60 aan te moedig om hulle te laat immuniseer. Vroeë aanduidings is dat immunisasie gesondheidswerkers daadwerklik beskerm, en daarom vir die res van ons belangrik is. 

Reël met owerhede vir inenting

Ds Bas Peters, emeritus. voorheen van PE-Oos, vertel hoe hy met die Dept. van Gesondheid gereël het om 200 bejaardes in sy gemeente te kom inent. Hy stel ‘n mooi voorbeeld. Bas skryf:

Ek het met die Wes-Kaap dept van gesondheid kontak gemaak om 60+ mense te help met inentings. Ek kon reël dat die Gemeente waar ek betrokke is se lidmate Donderdag in die kerksaal ingeënt word. 200 Persone. Die res van die gemeentes in die area sal volg. Ook Engelse kerke.

Ek noem dit want as jy dieselfde in die Oos-Kaap kon reël is dit ‘n wonderlike geleentheid om die kerk weer meer sigbaar te maak en te wys dat ons omgee.

Meer inligting oor Covid-19 is hier beskikbaar.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.