Nuus
“Hartseer omdat sulke stories waar is vir baie!”

“Hartseer omdat sulke stories waar is vir baie!”

Ds Deon Strydom beveel die lees van Odette Schoeman se skitterende debuutroman, Swartskaap, aan. Die boek het oorspronklike in 2009 verskyn.

Hy sê in sy resensie op GoodReads van dié boek: “Hartseer omdat sulke stories waar is vir baie! Ek het op ‘n stadium by ‘n kinderhuis gewerk en meisies soos die hoofkarakter geken, ongelukkig ook ander soos haar ma… Die ander hartseer is dat die verhale nie net waar is van arm mense of agv omstandighede nie. Lees dit!!

Uit die LitNet resensie: Odette Schoeman het voor Swartskaap nooit meer as ‘n bladsy op ‘n slag geskryf nie. Sy het geen letterkundige opleiding nie, maar het wel die droom gehad om haar eerste boek voor haar 30ste verjaarsdag die lig te laat sien. Sy het geen groot verwagtinge of illusies gehad nie en wou maar net ‘n storie vertel.

Toe die bekroonde skrywer Jeanne Goosen egter haar debuutroman lees, erken sy ruiterlik dat “… Swartskaap die eerste Afrikaanse roman is wat my aan’t huil had”. Wanneer jy Swartskaap lees, besef jy baie gou hiér is ‘n aangrypende verhaal van leef en oorleef deur iemand wat wéét hoe om nie net ‘n storie te vertél nie, maar dit as’t ware aan die leser te wýs.

Swartskaap vertel die lewensverhaal van Claudie Thompson. Dit is ‘n verwikkelde verhaal van armoede, ouers met ‘n misplaaste begrip van liefhê en sorg, van onvoorwaardelike kinderliefde, seksuele misbruik, huise sonder kos en meubels, lewe in die koshuis, die goed en sleg wat in elkeen van ons bestaan, en uiteindelik die vervolmaking van ‘n lewe sonder berou.

Odette Schoeman verduidelik aan Jaco Botha, in ‘n onderhoud vir Rapport se webwerf, dat die storie grotendeels fiktief is, maar dat ‘n beduidende deel van die ervaringe van Claudie Thompson die verwerking is van insidente wat werklik met haar of goeie vriendinne wat haar pad gekruis het, gebeur het. Claudie se verhaal is die verhaal van talle jong meisies, en daarom is dit belangrik om dié verhaal te vertel. Lees verder aan die Litnet-resensie.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.