Nuus
Herinneringe aan my grootwordjare op Hofmeyr

Herinneringe aan my grootwordjare op Hofmeyr

Mens kan jou deesdae nie indink hoe die lewe vyftig, sestig of sewentig jaar gelede op die platteland verloop het nie. In hierdie vertelling oor sy jeugjare op die posseëlgrootte dorpie, Hofmeyr, roep ds Kobus Victor nostalgies die lewe en sy vormingsjare in herinnering. Hierdie plasing het aanvanklik op 6 Julie 2021 op sy Facebookmuur verskyn:

Ek was nog nooit skaam om te sê dat ek van Hofmeyr af kom nie. Inteendeel, ek is baie trots daarop en innig dankbaar daarvoor. Wat ek egter onverklaarbaar vind, is dat die persoon wat my na my herkoms vra, dan opmerk: “En waar is daardie ou plekkie? In die Vrystaat?” “Nee man. Nie daar nie. Dit is in die middel van Noordoos Kaap.”

Noord van Hofmeyr is Steynsburg, vertel ek hom dan. So Noordoos daarvan is Molteno en Suidoos lê Tarkastad. Aan die Suidekant is Cradock terwyl Middelburg so effens Noordwes van Hofmeyr geleë is.

‘n Straattoneel op Hofmeyr (Foto: Karoospace)

Geen wonder nie dat hierdie ou dorpie dikwels vir my die middelpunt van my verlange is nie. Net jammer dat ek nou te oud is om ooit weer daar te kom. In Hofmeyr het ek die grootste gedeelte van die eerste agtien jaar van my lewe deurgebring. Ek was van Sub. A tot Matriek daar op skool. Ons was in 1960 net sewe in die matriekklas, naamlik Ellison Blom, Rosa de Beer, Linda Pretorius, Dienie du Plessis, Bennie (Tiekie) Pienaar, Johan (Toetie) Bester en ek. So ver ek weet, lewe ons almal nog.

Laat ek dit ook maar sê dat Matriek die moeilikste eksamen was wat ek in my lewe geskryf het. Om dit nie te sou slaag nie, sou die grootste skande en vernedering gewees het. Ek reken dat dit die sosiale druk van die gemeenskap was wat daarin ‘n groot rol gespeel het. Ons het almal geslaag! Dankie, Hofmeyr.

In daardie ou groot pienk kerk (in my dae was dit nog wit) met sy wonderlike houtwerk het ek in 1959 belydenis van geloof afgelê. Dit was die dae toe katkisante nog die veertien dae katkisasie (boermatriek) by die dominee (bygestaan deur ‘n paar ouderlinge wat toesig moes hou) deurloop het. Ons spannetjie het saans in ds. Nathan Wilson se studeerkamer saamgekom. Almal netjies aangetrek asof ons kerk toe gegaan het.

Hofmeyr het, as ek so daaraan terugdink, vir my die raamwerk vir my lewe geskep. Dit het aan my sekere waardes en norme gelewer waarbinne ek verder my lewe kon inkleur. Hierin het die ouerhuis, die kerk en die skool ‘n groot rol gespeel. Daar was ‘n tyd toe Hofmeyr ‘n bedrywige en florerende dorp was. Die Departement van Landbou en Gronderosie, het aan die begin van die vyftigerjare in die Vlekpoortrivier en omgewing grootskaalse grondherwingswerk gedoen. Keerwalle is gebou en fluitjiesriet is aangeplant om die grond te stabiliseer. Dit het werkgeleentheid aan meer as veertig blanke gesinne gebied.

Ek wens ek kon vasstel hoeveel van die ander bevolkingsgroepe ook daarby gebaat het. Verder was die vyftiger jare ook ‘n bloeitydperk as gevolg van die rekord pryse wat Merinowol behaal het. Die prys was op ‘n stadium £1 vir ‘n pond wol.

Hofmeyr het in daardie tyd nie ‘n tekort aan winkels of Algemene Handelaars gehad nie. Daar was oom Paul Pretorius s’n en oom Dick Pretorius se winkel. Ook die Handelshuis en tant Francis de Lange het hulle klandisie gehad. Dan was daar ook die die Hoekwinkel. Tant Katie du Plessis (Pretorius) van die Losieshuis het selfs ook ‘n modewinkel gehad wat die jongste modes aangebied het vir die dames. Die Koöperasie was dikwels Maandae en Vrydae ‘n gewilde en bedrywige kuierplek van die boere waar kopstukke gesels is.

Daardie jare het handelsreisigers (travelers) met hulle handelsware die winkels besoek. Internet en aanlyn bestellings het nie bestaan nie. Sommige mense het op die boekie by die winkels gekoop. Ja, dit is op skuld, maar dit was ook ‘n manier van koop waar die koper vir die winkelier ‘n boekie stuur met ‘n lys benodigdhede wat hy dan opmaak en per fiets laat aflewer.

Ja, dis jammer, selfs tragies en hartseer, as ek uit so baie oorde hoor dat Hofmeyr, soos baie ander plattelandse dorpies, nie meer is wat hulle was nie. Die tekens van verwaarlosing, verval en agteruitgang is duidelik. Maar nou is ‘n dorp ook maar soos die mens. Veroudering bring die plooie en die grys hare. Alles funksioneer nie meer soos toe jy 18 jaar oud was nie. Die bene word swak en die litte styf. Daar is pyne op plekke waarvan jy nie voorheen geweet het dat jy daardie plekke het nie.

Ek hoor egter ook dat daar ten spyte van al die mankemente en kranklikhede ook tog tekens van hoop is. Dis wonderlik, byvoorbeeld, om te hoor dat die ou klein kuddetjie in die gemeente nog saamstaan. En om te hoor van projekte soos “Hugs of Hope” van Teresa Hill Opperman wat oor alle grense heen mense bemagtig en weer moed laat skep en hoop gee.

En dat die plaaslike predikant nie net fokus op sy gemeente (die klein kuddetjie van sy eie mense) nie, maar op die hele gemeenskap. Hy is bereid om self ook die hande uit die mou te steek om te help opbou en te red wat nog te redde is. Om selfs die gras te sny op die plein of die sypaadjies skoon te maak, is nie benede sy waardigheid nie.

Dankie Hofmeyr vir alles wat jy vir my gedoen en beteken het. Jy bly die middelpunt van my verlange . . .

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.