Nuus
Huis Welverdiend op Jansenville swaar getref deur Covid

Huis Welverdiend op Jansenville swaar getref deur Covid

Huis Welverdiend, die Kerk se tuiste vir bejaardes op Jansenville, word die afgelope maand swaar getref deur Covid, berig die Graaff-Reinet Advertiser op 2 Julie 2021.

Me Ria de Kock is op 4 Junie na die Cuyler-kliniek op Kariega (Uitenhage) oorgeplaas nadat sy geval het. Tydens ‘n roetine ondersoek is bevind dat sy Covid-19-positief is en hierna het een na die ander inwoner en personeellid positief getoets vir die virus.

Tannie Ria is op 28 Junie 2021 aan Covid oorlede, berig Huis Welverdiend se Facebookblad. Ander inwoners het weer wonderbaarlik herstel.

Daar is tans nog drie inwoners en twee personeellede in die hospitaal terwyl vyf inwoners by die tehuis verpleeg word, omdat die hospitaal op die oomblik slegs pasiënte met asemnood en wat ernstig siek is opneem. Een van die personeellede wat ontslaan is, het intussen ‘n terugslag gehad en is per ambulans na ‘n hospitaal in Gqeberha vervoer, aldus die Graaff-Reinet Advertiser.

Die beheerraad van die Tuiste het intussen noodmaatreëls getref om die verdere verspreiding van die virus te stuit. Ruim skenkings van hulpmiddele is ook van die publiek ontvang, vertel Huis Welverdiend op sy Facebookblad.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.