
“In Lusikisiki brand, verwoes en steel ons nie”
13 Julie 2021
Die taxi-vereniging van Lusikisiki, ‘n dorpie noord van Port St John’s in die voormalige Transkei, het vroegoggend ingegryp en gekeer dat besighede gestroop en infrastruktuur beskadig word, laat weet biskop Msikinya, ‘n kerkleier van hierdie gemeenskap.
Die taxi-mense het helder gekommunikeer, net toe die diewe en stropers wou toeslaan. Hulle het vir die polisie gesê hulle gaan die dorp help verdedig. “Geen mamparas (sic) sal toegelaat word om brand in die dorp te stig, te stroop of verwoesting te saai nie. Niemand gaan dan langer werk hê nie, en vervoer na en van die dorp sal tot ‘n einde kom,” vertel die biskop.
“Ek bedank die taxi-vereniging van ons dorp, die Here sal hulle en hul families ryklik seën.”

Msikinya is ook vol lof vir die plaaslike polisie. Die vinnige respons van beide die polisie en die plaaslike sakeleiers het die dorp gered. Hulle dapperheid het diegene wat die swaarste sou ly weens verwoesting gered.
Dis ‘n mooi verhaal wat illustreer hoe ‘n gemeenskap kan saamstaan.