Nuus
Kerke strenger ingeperk oor Paasnaweek?

Kerke strenger ingeperk oor Paasnaweek?

By die skryf hiervan rapporteer nuusmedia die Koronabevelsraad beveel aan dat die land voor die Paasnaweek op Vlak 2 van inperking geplaas word. Volgens Khumbudzo Ntshaveni, waarnemende minister in die presidensie, sal ‘n plan gereed wees, hoewel die besonderhede nog onbekend is. Die doel is om ‘n derde vlaag van Covid-19 te verhoed of te vertraag. Die moontlikheid word genoem dat ‘n kleiner getal persone eredienste mag bywoon, alkoholverkope beperk en die aandklokreël verleng word.

Hoofstroomkerke is oor die algemeen sterk ingestel op die voorkoming van infektering, en meen by monde van die SA Raad van Kerke dat groter vryheid vir byeenkomste op grond van ‘n bewese rekord van voorkoming verleen kan word.

Intussen het FOR SA – ‘n groep wat sig vir godsdiensregte beywer – die regering reeds in Januarie hof toe geneem omdat kerke einde Desember 2020 vir twee weke gesluit en daarna streng ingeperk is. Die saak is nog nie afgehandel nie (lees meer).

Daar is tans 21,042 aktiewe gevalle in die land, waarvan KwaZulu-Natal 5,614 en die Wes-Kaap 4,816 het. Die Oos-Kaapse aktiewe gevalle staan op 208, die laagste van alle provinsies in Suid-Afrika. Selfs al is hierdie syfer met ‘n faktor van 5 te laag gerapporteer, is dit steeds min.

Wat moet gemeentes doen?

Gemeentes kan gerus voortgaan om byeenkomste oor Paasnaweek te beplan. Die vlakke van infektering in die Oos-Kaap is immers laag. Die nodige maatreëls moet egter baie getrou nagekom word, sodat infektering beperk kan word. Moedig ook persone wat enigsins simptome ervaar aan om liewer tuis te bly. Families wat besoekers uit ander provinsies ontvang moet onthou familiebyeenkomste was ‘n groot drywer van die tweede vlaag en erns maak met sosiale afstand.

Vir versigtige kerke is die risiko onnodige self-inperking. Ons kan met vrymoedigheid bymekaarkom, onderhewig aan praktiese wysheid en goeie maatreëls.

Indien pres Ramaphosa wel strenger inperking voor Paasnaweek aankondig, moet dit natuurlik nagevolg word, in almal se belang.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.