Nuus
Moedig lidmate aan om te registreer vir immunisasie

Moedig lidmate aan om te registreer vir immunisasie

Die Oos-Kaapse bevolking sluit sowat 800,000 persone ouer as 60 jaar in. Uit hierdie groep het sowat 215,000 teen Dinsdag, 18 Mei, volgens die nasionale register geregistreer om Covid-immunisasie te ontvang.

In gesprek met Oos-Kaapse leiers van die SA Raad van Kerke het die Provinsiale Gesondheidsdepartement die reëlings, die immunisasie en aard van die middel bespreek. Dit blyk ‘n uitstekende opsie te wees om die bevolking te help ontkom aan die verwoestende effek van Covid.

Die Dept. het ook mooi gevra dat kerke hul lidmate en ander moet aanmoedig om te registreer. Dit is nie nou ‘n tyd om allerlei samesweringsteorieë te troetel nie. Ons benodig ‘n helder boodskap dat immunisasie ‘n daad van liefde teenoor jou familie, vriende en die gemeenskap is.

Jonger persone met toegang tot die internet word ook gevra om ouer persone of mense sonder aanlyn-toegang te help registreer.

Die webportaal is hier beskikbaar: https://vaccine.enroll.health.gov.za/#/ 

Belangrik vir die voltooi van die aanlyn-registrasie:

  • Op die eerste vraag, “Are you a Health Care Worker” MOET jy NEE antwoord om na die registrasieportaal te gaan. Indien jy JA antwoord, gaan jy die ‘n ander portaal, en dit is nie waar jy wil wees nie. Jy gaan ook nie daar regkom nie, tensy jy ‘n bona fide gesondheidswerker is.
  • Jy moet die ID-nommer van ‘n persoon 60 of ouer invul, hetsy jou eie of iemand anders s’n namens wie jy registreer. Gebruik verkieslik die ID-nommer vir registrasie, hoewel paspoorthouers, nie-burgers en persone met vlugtelingstatus ook kan registreer. 
  • Vul ook jou mediese fondse se besonderhede in, indien jy oor een beskik. Die koste van die immunisasie word nie van jou dag tot dag fondse verhaal nie.
  • Jy kry ‘n SMS om jou registrasie te bevestig.

Die middel waarmee die inenting plaasvind moet onder baie spesifieke omstandighede gestoor word. Daar is nie baie stoorplek nie, wat beteken die Dept moet die beskikbaarheid van die middel en die aantal persone wat dit ontvang goed koördineer. Gaan dus net wanneer jy ‘n afspraak het, maar GAAN ASSEBLIEF wanneer jy ‘n tydgleuf ontvang. 

Soms mag dit gebeur dat jou afspraak op ‘n plek is wat ‘n hele entjie weg van jou woonplek is, selfs 50 tot 150 km. Die Dept vra dat mense moeite doen om wel die afspraak op die voorgestelde plek na te kom. 

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.