Skip to main content

VBO oor Trauma: Pastorale begeleiding en heling na trauma-ervarings

In hierdie aanlyn-kursus word daar gefokus op die pastorale begeleidingsproses tot heling en herstel na traumatiese ervarings soos plaasmoorde, motorkapings, aanranding, verkragting, bankrowe, geweldsmisdaad, ens.

Die kursus word op Zoom deur prof Wentzel Coetzer aangebied.

Talle praktiese voor- beelde sal bespreek word aan die hand van aspekte soos die volgende:
–    Wat gebeur wanneer ʼn  persoon trauma beleef?
–    Post-traumatiese stresversteuring
–    Die noue verband tussen liggaam, gees en emosies
–    Faktore wat die genesingsproses kan bevorder
–    Hoe bid ons saam met ʼn  getraumatiseerde persoon?
–    Die sin-vraag na trauma
–    ʼn  Pastorale model vir die begeleiding van trauma slagoffers
–    Toegerus om toekomstige trauma te hanteer

Meer inligting en die INSKRYWINGSVORM is hier beskikbaar.

Kerk vier Vrouemaand in Augustus

Baie Suid-Afrikaners is maar net te dankbaar vir ‘n vakansiedag op 9 Augustus, sonder om stil te staan by wat ons op daardie dag vier.


Hierdie vakansiedag word sedert 1994 gevier en herdenk die optog van 1956 waar ongeveer 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria gestap het en betoog het, met ‘n petisies van meer as 100 000 handtekeninge, en aangedring het op regte vir vroue.


Die vreeslose vroue het buite die gebou in stilte gestaan om hul stil stemme dik te maak, en so die toekoms verander.


Jaarliks dra ons Augustus op aan die vroue in ons land. Hierdie jaar fokus die Taakspan Gendergeregtigheid op die tema: Take up space. Terwyl ons hierdie maand die braafheid en prestasies van vroue in ons land vier, besef ons dat in die verlede en steeds nou, hulle braafheid en prestasies deur skeefgetrekte persepsies en gendervooroordeel oorskadu, onderdruk en afgemaak word as minderwaardig.
Ons dink hierdie maand aan vroue wat opstaan vir menswaardigheid, geregtigheid en billikheid vir almal en so hulle plek inneem, hulle self laat geld en hulle roeping uitleef.


Reis saam in Augustus met ‘n weeklikse Bybelstudie wat handel oor ‘n vrou in die Bybel wat haar stem laat geld het en haar spasie opgeneem het. Ons gaan kyk na die waardes wat ons by hulle leer, en inoefen hoe ons hierdie waardes kan uit oefen sodat ons getrou kan bly aan die visie van die vroue reg oor die jare: to “Take up space!”


Weekliks sal daar op Maandae ‘n Liturgiese wenk/gebed gestuur geplaas word op Facebook wat Sondae tydens die erediens gebruik kan word. Hierdie teks en tema sluit aan by die leesrooster. 


Daar sal ook deur die week paar gedagtes oor ons karakter van die week geplaas word, sowel as praktiese idees hoe daar in Vrouemaand ‘n verskil gemaak kan word.


Al die materiaal, ‘n 5 weke Bybelstudie Handleiding, sowel as die sosiale media stukke is aflaaibaar by hierdie skakel.

Dis Augustus 2023 en ons vier 90 jaar van die Afrikaanse Bybel

Presies negentig jaar gelede is die eerste Afrikaanse Bybelvertaling op 27 Augustus 1933 landswyd feestelik ontvang. Die 90 ste verjaardag van die vertaling val hierdie jaar weer op 27 Augustus. Ons sal baie dankbaar wees as elke kerk en gemeente in die streek op daardie dag, of as hulle dalk ‘n ander datum wil gebruik, iets spesiaals sal maak van die 90ste verjaardag

Lees gerus hoe die bekende Dana Snyman vertel wat die 1933-Afrikaanse vertaling vir hom beteken.

Die Bybelgenootskap het wonderlike hulpmiddels, selfs ‘n preekskets, vir gebruik om die 90ste verjaardag van die Afrikaanse Bybel te vier – klik hier.

Hier is ‘n praktiese manier om ‘n verskil in kinders se lewens te maak – Nioma Venter

Gelowiges kan ‘n geweldige verskil maak in jong kinders se lewens. Dit hoef ook nie ingewikkeld te wees nie. Daar is bloot mense nodig wat ‘n verskil wil maak, daarby spanwerk en praktiese diens. Stig bv ‘n storievertelgroep om deur die vertel van stories vroeë geletterdheid by klein kinders aan te moedig.

Lees in hierdie onderhoud met ds Nioma Venter hoe eenvoudig dit is om ‘n groot verskil te maak.

Lees ook: Om ‘ n kind ‘n kans te gee

Deur stories deel en speel leer gemeentes hoe om ‘n verskil te maak

Ds Joe Janse van Rensburg vertel:

Die afgelope Junie/Julie-vakansie het lidmate van NG Gemeente Jeffreysbaai, Sherwood en Kraggakamma uitgereik na Nyathi (Transkei) vir om verkennend te gaan ontdek hoe ons ’n volhoubare verskil in die hierdie gemeenskap kan maak.

As ’n gemengde span van jonk tot oud, uit verskillende agtergronde en kulture, het die Here dit so beplan dat ons in ons diversitiet ’n wonderlike sinergie en eenheid kon beleef waar elkeen se unieke gawes gebruik is om die mense van Nyathi te dien. 

Ons het met “Heartlines” se inistiatief gewerk met: What’s your Story? Dit het ons in staat gestel om met groter begrip, samehorigheid, vertroue en versoening deur middel van mense se stories verhoudings te kon bou. Ons het agtergekom dat stories nie-bedreigend is daar waar ons egte gesprekke kon voer om mekaar beter te verstaan nie. 

Die span het veral stories van kinders, leiers en van manne en vroue uit die gemeenskap gehoor. In hierdie ontdekking het ons stories van armoede, afwesige ouers, stories van verliese en gebrokenheid gehoor en werklik besef: “Die oes is groot, maar die arbeiders min”.


In ons ontdekking het dit weer duidelik na vore gekom dat dissipelskap en leierskaptoerusting, asook die identifisering en bemagtiging van leiers in die gemeenskap die fokus moet wees. Ons wil ook nader aan die VGK kerk in Lusikisiki beweeg om hulle hande sterker te maak om die gemeenskap van Nyathi meer effektief te kan dien. 

Ons kan baie geloofstories vertel oor hierdie afgelope uitreik, maar sommige stories can’t be taught, it must be caught en daarom nooi ons jou uit om nuwe stories saam met ons tydens ons volgende uitreik te kom ontdek. 

Hou gerus die Grenspos dop vir meer inligting oor ons volgende uitreik.

Die Nyathi-uitreikspanm Julie 2023

Verwelkom kinders met gestremdhede in die erediens en gemeente

“Waarom sien ek so min kinders met gestremdhede in die kerk?”, vra Desirae Pillay haarself af. In haar daaglikse lewe en werk ontmoet sy dikwels ouers met gestremde kinders, en weet dat daar baie sulke kinders in Suid-Afrika is. Tog merk mens hierdie kinders minder in kerke op, meen sy.

Self ‘n ouer van ‘n gestremde kind, wil sy kerke graag in staat stel om hierdie kinders en hul gesinne te verwelkom:

Desirae se bydraes verskyn op die webblad van RampUp, ‘n organisasie wat hul beywer om gemeentes te bemagtig om gestremde persone by bediening in te sluit. Besoek gerus hul webwerf ryk aan bronne en insiggewende insette.

Verbreding van teologiese opleiding vir bediening in gemeentes

Die NG Kerk het oor die laaste paar jaar ‘n wesenlike verbreding vir die opleiding van leiers in gemeentes geskep. Ons het nou predikante (ses jaar opleiding, toegerus vir die volle bediening in die kerk), diensleraars (opgelei vir toegespitste bediening onder leiding van ‘n predikant, bedienaars (kerkraadslede wat deeltyds deur die Hugenote kollege opgelei en deur ringe goedgekeur is om bv eredienste te lei of pastorale ondersteuning te hanteer) en standplaasleraars (opgelei vir spesialisbediening, bv aan dowes of spesifieke groepe).

Hier is meer inligting:

In hierdie video verduidelik dr Frederick Marais en ander dat God vandag steeds mense roep en hoe die verruimde model van teologiese opleiding in die NG Kerk werk.

Besoek www.seminarium.org.za om aansienlik meer inligting oor die verskillende opleidingsbane te bekom.

Watter hoop is daar vir die donker?

In ‘n onlangse nasionaal-verteenwoordigende meningsopname blyk dat sowat 80% van Suid-Afrikaners uit die middel- en hoër ekonomiese klasse mismoedig oor die land se toekoms voel, berig Daily Maverick. Nege uit tien respondente wys die blaam aan korrupsie en misdaad toe, volgens die SA Blackout Report deur BrandMapp-Silverstone. Bydraende faktore is die regering se onbekwaamheid, kaderontplooiing en ‘n gebrek aan politieke wil, sê die respondente,

Uit die 1,500 deelnemers voorspel ongeveer die helfte beurtkrag sal nooit beëindig word nie.

Ses uit die tien deelnemers is van voorneme om nie in 2024 vir die ANC te stem nie. Hierdie is ‘n belangrike tendens, want dit dui op ernstige politieke implikasies van beurtkrag onder belastingbetalers. Die huidige regerende party trek sy leierskorps uit die middel- en hoër klasse.

Slegs 3% van die respondente toon aan dat beduidende sonkraginstallasies binne hul vermoë is.39% van huishoudings stel egter ondersoek in na sonkrag. “… 79% of respondents are planning to spend money to fight blackouts – and about half of them can spend more than R15,000 doing so,” sê die verslag. Klik hier om die volledige verslag te lees.

Boodskap van hoop?

Watter betekenisvolle boodskap van hoop het gemeentes in ‘n tyd soos hierdie?Die gevaar is natuurlik om in algemeenhede en soetsappige beloftes te verval. Selfs om te veel te sê kan ‘n slaggat wees.

In sy boek Thank you for being late waarin Thomas Friedman skryf oor die impak van hewige versnellings in ons lewens, beklemtoon hy hoe belangrik dit is om te stop, om asem te haal, om net daar te wees vir mense. In die middel van die oog van die storm van versnellings het ons iemand nodig om saam met ons “laat” te wees, nie so gejaag te wees nie, maar om stil te staan en te reflekteer oor wat gebeur. Hy verduidelik hoe mense wat laat was vir afsprake in sy gejaagde lewe eintlik ‘n geskenk was, wat so het hy tyd gekry om bietjie na te dink, te reflekteer, bestek op te neem.

Friedman skryf dat instelling ‘n “topsoil van trust” moet skep waar mense bymekaar kan wees, mekaar kan aanvul, en bemoediging by mekaar kan vind. Menslike konneksie is net so belangrik as tegnologiese vernuwing. Ons het ‘n plek van tuiskoms nodig.

Gemeentes is die konkrete nuwe mensheid wat God die Vader in Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees skep. 

Gemeentes kan dalk minder eie woorde gebruik, maar meer ‘n gemeenskap van ondersteuning, bemoediging en vertroosting wees. Dalk moet ons minder doen, en meer wees. Meer hartseer wees. Meer rou. Meer stories van verlies vertel. en nie haastig wees om rou, verlies en vrees vir die toekoms onder die mat in te vee nie.

Dit is nie verkeerd om mismoedig te wees nie. Kom ons praat daaroor en vertel mekaar daarvan. Stadig en langsaam.

Dalk kan ons ook mettertyd begin vertel wat ons hoop gee. Waaroor ons dankbaar is. Waarvoor ons oë in ‘n tyd soos hierdie oopgaan. Hoe ons mekaar kan bystaan. Terwyl ons dit doen, dink ons ook aan diegene wat nog minder as ons het. 

Ons doen dit in Jesus se Naam. Iemand vertel hoe hy in ‘n swart Amerikaanse gemeente gepreek het toe die krag afgaan. In die stikdonker vra hy of hy moet ophou preek? Toe roep iemand uit die gehoor: “Preach, brother, preach, so we can still see Jesus.”

Sonpanele en kragopwekkers kan tans help. Maar ons kan ook dieper op mense eerder as net dinge leer vertrou. Ons kan Christus vir mekaar wees. Gemeentes is belangriker as ooit.