Nuus
Om sin te maak in hierdie tyd van vrees en verwoesting

Om sin te maak in hierdie tyd van vrees en verwoesting

Mens se eie insig is so beperk en jou oordeelsvermoë so deur skok en afgryse aan bande gelê dat dit moeilik is om te weet wat om tydens prediking of in geestelike gesprekke oor die afgelope week se verwoesting te sê. Hoe maak ons sin?

Hier is ‘n paar voorstelle:

Ons weet dat ‘n dekade van onverdunde staatskaping nou al hoe meer aan bande gelê word deur die versterking van die nasionale vervolgingsgesag en ander wetstoepassingsagentskappe. Hoewel ons ‘n ver pad het om nog te loop, begin die wiele van die gereg stadig maar seker die kriminele in te haal. Die arrogansie waarmee die wet ignoreer is en flagrante korrupsie kom nou tot ‘n einde.

Oud-president Zuma, wat die staat op ‘n skinkbord aan ‘n buitelandse familie oorhandig het, het ‘n skokkende werklikheidservaring gehad omdat hy ook nie bo die reg verhewe is nie. 

Hierdie kriminele elemente veg nou terug. Daar is aanduidings dat hulle die vonk by die kruitvat gebring het, en dat die vuur wat hulle aangesteek het buite hul beheer begin brand het. Hierdie aksies word nou ondersoek en geregtigheid moet hier geskied. Die oplossing is egter nie om enigiemand vry te laat ter wille van vrede nie. Dit sal ‘n valse vrede en toegee aan kriminele elemente wees.

Wat ons nou beleef, het dus begin as pogings om deur politiekery en rampokkery terug te veg teen die oppergesag van die reg. Ons sal dit moet verduur en moet bly staan op die gesag van die grondwet. Ons kan gerus ook bid dat die president en die kabinet saam met wetstoepassers en die howe by dit wat reg en waar is sal bly staan.

Die kabinet is duidelik onkant gevang en het die afgelope week gesukkel om beheer oor die situasie te kry. Ons kan ook vir hulle bid en bid vir ‘n politieke klimaat waarin meer talentvolle en gesaghebbende ministers aangestel sal word. Ons kan die Here dank vir ons huidige president, wat heeltemal ‘n ander persoon is as sy voorganger. 

Terwyl die verwoesting dus die aardskudding is wat aandui die era van steel en kaping gaan verby, is dit ook aangevuur deur honger en armoede. Mense wat niks het om te verloor nie, het openlik begin steel en verwoes. Die ongelykheid in ons samelewing neem steeds toe en is die droë hout wat maklik vlamgevat het. Ons sal die regering verantwoordbaar moet hou vir ekonomiese ontwikkeling en die uitwis van ongelykheid.

Hieroor sê die moderatuur van die algemene sinode: “Die hoë werkloosheid, armoede en gaping tussen ryk en arm is alles faktore wat grootliks bydraend was om ’n voorspelbare plofbare situasie te skep. Indien opgehoopte frustrasies gekombineer word met kriminaliteit en opportunistiese misdadigheid is die slegte gevolge daarvan dit wat ons tans op ons TV-skerms sien afspeel.”

Daar is duidelik meer as honger en armoede ter sprake. Die aanvalle op hospitale, radiostasies en die uitbrand van vragmotors dui op ‘n aanslag teen die staat en die samelewing. Dit moet weerstaan word. Hoe verrassend dat taxiverenigings belangrike vennote is in die proses om orde en reg in gemeenskappe te handhaaf. 

Later vanjaar stem ons weer. Gemeentes moet almal aanmoedig om hul kruisie te gaan trek. Dit maak ‘n verskil. Hoewel die kerk nie partypolitieke voorkeure het nie, moet ons lidmate leer om te stem vir eerlike, bekwame verteenwoordigers. Korruptes en onbekwames moet uitgestem word.

Rassisme is steeds nie toepaslik nie. Rassisme kan nie al die goeie dinge wat ons die afgelope week sien gebeur het verklaar nie. Daar is goeies en slegtes in elke bevolkingsgroep. Weerstaan jou eie gevoelens van rassisme as dit in jou opstaan. Dit klop nie met die feite nie.

Lees gerus in die volgende berig wat ‘n breë groep verteenwoordigende kerkleiers (oor die hele spektrum van die bevolking) in Nelson Mandelabaai as verklaring na ‘n indaba uitgereik het. Die groep sê dit is nou die tyd om te kies watter soort samelewing ons wil wees. As ons ruimte wil skep vir almal om waardig te lewe, is daar sekere stappe wat op die kort termyn geneem moet word. Die belangrike en werklik dringende dinge wat gedoen moet word, is langtermynsake. Dit moet egter nou begin. Dit is belangrik en dringend.

Een voorbeeld wat die kerkleiers noem: Kom ons verbind ons om groentetuine aan te lê. Jy kan self tuis begin en die opbrengs met jou werkers deel. Help hulle om in hul eie omgewings met tuine te begin. Maak sommer op jou sypaadjie tuin sodat die publiek by jou gratis, voedsame voedsel verniet kan kry. Dit is ‘n manier om honger en armoede aan te spreek/ 

Ons kan die voorbeeld volg van mense wat aanbied om slagoffers te help. Emelda Masango het op Facebook aangebied om te help skoonmaak. Zakhele Rahlogo het aangebied sy konstruksiemaatskappy sal help herstel.  Dit het tot ‘n waterval van mense gelei wat gaan help skoonmaak. Ons kan hierdie voorbeeld navolg.

Terwyl kla nie gaan help nie, moet ons sensitief wees vir mens wat geskud, oorweldig, geskok en hooploos voel na die gebeure. Die pastorale houding van luister, eggo, valideer en empatie bly belangrik.

Ons moet hoop bly beklemtoon. Hoe sleg die gebeure ook al is, kan mooi hieruit voorkom. Een positiewe teken is die wyse waarop gemeenskappe saamstaan om hulself en die gemeenskap se bates (soos winkelsentrums) te beskerm. 

Gebed en voorbidding bly ook belangrik. Ons kan die psalms van disoriëntasie en klag weer afstof en dit leer bid. Ons kan soek na die heroriëntasie wat net die Here kan bring. 

Ten slotte kan ons onsself bly herinner aan Jesus se woorde: “Moenie bang wees nie, Ek is by julle …”

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.