Nuus
Ontmoet ds Mias Nortier

Ontmoet ds Mias Nortier

Ds Mias Nortier en sy gesin het pas by Despatch-Eendrag aangesluit. Hulle kom van die NG gemeente Laingsburg. Ons het so paar vrae vir ds Nortier gevra om hom beter te leer ken.

Vertel ons van jou gesin:

Ek is getroud met Yolandi. Sy het ‘n passie om saam met my ‘n verskil te maak in hierdie wêreld. Ons het een seun, Hanre, wat hierdie jaar drie jaar oud word.

Waar kom jy oorspronklik vandaan?

Ek kom oorspronklike van Upington af.

Waar het jy geswot?

Na skool het ek eers in George gestudeer om ‘n sjef te word. Nadat ek my studies voltooi het, het ek Teologie gaan studeer in Bloemfontein.

Is hierdie jou eerste gemeente? Indien nie, by watter gemeente het jy jou bediening begin?

My bediening het begin op Laingsburg.

Wat is jou doelwit in jou nuwe gemeente? Wat sal jy graag wil bereik?

My uitgangspunt vir my roeping is: “Die ENIGSTE hoop vir die wêreld, is die plaaslike kerk”. Ek wil by die gemeente se huidige bedienings aansluit en saam die gemeente en my kollega ook saam onderskei oor wat is ons roeping vanaf God.

Waarna sien jy uit in jou nuwe bedieningsgebied?

 Al die uitdagings en geleenthede wat God vir my en die res van die gemeente gee om aan gehoorsaam te wees. (En natuurlik die feit dat ons so naby aan die see nou is, om gereeld as gesin te gaan swem en stap by die strande)

Wat is ʼn hoogtepunt in jou bedieningsloopbaan?

My bediening is maar nog kort (vier jaar), maar ‘n definitiewe hoogtepunt was om te sien hoe medegelowiges mekaar ondersteun tydens die ergste droogte in Laingsburg se geskiedenis. Van oral af het die gemeente hulp en ondersteuning ontvang om lidmate, boere, plaaswerkers en mense op straat te help op verskeie terreine. Terugskouend word ek bewus van hoe Christus sorg vir Sy kinders, via die Liggaam van Christus en oor grense heen.

Wat is jou gunsteling Skrifgedeelte?

Jesaja 58

Ons wens vir ds Nortier en sy gesin ‘n geseënde bedieningstyd toe hier in die Sinode van Oos-Kaapland.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.