Nuus
Ontmoet Lisa Schmidt, proponent-diensleraar

Ontmoet Lisa Schmidt, proponent-diensleraar

Lisa Schmidt is op 29 Maart 2021 deur die Kuratorium op Stellenbosch as diensleraar gelegitimeer (lees hier oor wat ‘n diensleraar is). Ons het vir Lisa ‘n paar vrae gevra om haar beter te leer ken.

Vertel ons meer van jouself. Waar kom jy vandaan en hoe het jou lewenspad tot hier geloop?

Ek is gebore in Oos-Londen op 6 Junie 1991. Ek het grootgeword in Molteno, Oos-Kaap en het ook daar skoolgegaan tot graad 5. Van daar af is ek koshuis toe en het verder skoolgegaan by Hangklip, Queenstown en het ook daar gematrikuleer (2009).

In Mei 2015 behaal ek my BTh (Unisa) en het ook verdere studies aan NWU gedoen: Grieks 1 en Grieks 2. Ek het dit voltooi en geslaag in 2018. Daarna het ek verdere opleiding gedoen deur Hugenote Kollege om ‘n Kerklike Diploma te verwerf in preek- en erediensleiding-vaardigheid. Ek het dit voltooi in Februarie 2021 en word as diensleraar gelegitimeer op 29 Maart 2021. 

Ek is ‘n persoon wat nog altyd met mense wou werk en het dit goedgevind om my roeping in die bedieningsveld uit te leef. Ek is ook baie lief vir musiek en maak dit gereeld deel van die erediens of enige ander byeenkoms waar moontlik. Ek dien tans op die Ring van Dordrecht se ringskommissie en geniet dit om elke dag iets by ervare mense te leer. Ek sien myself as iemand wat baie leerbaar is en kyk op na mense wat ervaring en kennis het in die veld waarin ek werk. Ek hou daarvan om nuwe idees toe te pas en om op hierdie wyse na mense se behoeftes om te sien.

Ek is getroud met ‘n veeboer, Gert Schmidt, en ons het ‘n 12 maande-oue gesonde dogtertjie wat ons lewens baie opwindend maak. Ons woon op ‘n plaas waar ek my liefde vir die buitelewe en natuur uitleef en is baie lief vir die platteland. Ek sal graag in my gemeente, NG Kerk Dordrecht, wat ek tans as ouderling met preekbevoegdheid bedien, beroep wil word.

Vertel ons meer van jou roeping. Hoe het jy die roeping ontvang om predikant te word en hoe het jou bedienings- en opleidingspad tot hier toe geloop?

Ek wou al sedert ek in kleuterskool was, met mense werk. Ek het later, toe ek in die hoërskool kom, besef ek wil graag met mense se siele werk.

Ek is as kind baie gespot en geboelie en ek glo dit het my verhouding met God baie intiem gemaak, omdat ek vir my spotters gebid het, want hulle het nie geweet wat hulle doen nie. Alhoewel ek as jong kind nog nie alles van God verstaan het nie, het ek baie tyd saam met Hom spandeer. Hoe meer tyd ek saam met Hom spandeer het, hoe groter het my honger na Hom geraak en ek het alles in my wese met Hom gedeel. Ek het al hoe meer besef hoe God my gebede beantwoord. Letterlik in ‘n kwessie van een of twee uur het God vir my duidelikheid gegee en ek het net elke keer geweet: “Dis Hy!” Ek het in graad 11 besef dat my passie vir God sò groot is, dat ek dit deel van my daaglikse lewe wil maak, veral in my beroep. Ek wil my roeping my beroep maak en die Woord vir mense bring. Ek wil mense vertel hoe goed God is en hoe Hy gebede beantwoord. Ek wil met alles in my die Woord uitdra na die wêreld wat geestelik honger, arm en blind is. Ek het meer en meer in my lewe gesien hoe alles wat met jou gebeur, deel van God se groter prentjie is, en ons moet dit so sien. Ek leef met die wete dat alles in my lewe uiteindelik ten goede meewerk. En dìt is die boodskap wat ek wil uitdra met, nie nèt met my beroep nie, maar met my leefstyl.

Dit was ‘n lang reis totdat die NG Kerk begin het om diensleraars te legitimeer. Hoe het dit gevoel toe die groot dag aangebreek het en jy eintlik tot die amp in die NG Kerk toegelaat is?

Dit was ‘n absolute seën uit die hemel! Dit is presies hoe dit gevoel het. Asof God my bederf met ‘n geskenk wat ek nie verwag het nie. Aangesien ek my BTh deur Unisa gedoen het, en eers in my vierde jaar van studies gehoor het dat Unisa se BTh nie voldoende is vir die NG Kerk nie, was dit vir my geweldig skokkend. Ek het vir ‘n oomblik gedink ek gaan nêrens kom nie. Ek het net besluit om vas te byt en het in samewerking met die kuratorium die voldoende pad begin stap. Ek het soveel hulp, ondersteuning, motivering en leiding gekry om by my doelwit uit te kom, en uiteindelik is ek oppad daarnatoe. Ek staan op die punt van hierdie berg wat ek al 11 jaar lank klim.

Wat is jou spesialisasierigting as diensleraar? Vir watter veld is jy spesifiek opgelei?

Ek is tans spesifiek opgelei vir preekbevoegdheid in die NG Kerk en sal ook die sakramente bedien. Ek bedien alreeds 5 jaar lank die NG Kerk Dordrecht as ouderling met preekbevoegdheid en het tot dusver onder leiding van mentors gewerk. Om ‘n vol leraar te word, is eintlik my groot droom. Ek is oppad soontoe. Ek het reeds my “padkaart” en vereistes gekry waaraan ek moet voldoen om daarby uit te kom, onder andere Hebreeus 1 en 2. Ek sal dit in die nabye toekoms begin aanpak. Het alreeds Grieks 1 en 2 deur NWU voltooi. Dit was ‘n onbeskryflike reis. Ek is baie lief vir tale en sien uit vir wat die toekoms inhou.

Wat sou jy graag wou beteken vir ‘n gemeente wat jou as diensleraar beroep?

Ek sou graag ten volle beroep wil word en permanent aangestel word in die gemeente waar ek reeds besig is, naamlik NG Kerk Dordrecht, Oos-Kaap. Dit is vir my lekker om hulle te bedien, Bybelstudies en wyksbyeenkomste te doen en enige ander funksies te open. Ek kry ‘n gevoel van “behoort” as ek op hierdie wyse aan my gemeenskap se behoeftes te kan voorsien.

Ons wens vir prop. Schmidt en haar gesin ‘n geseënde tyd toe hier in die Sinode van Oos-Kaapland.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.