Nuus
Ontmoet Rion van Niekerk, proponent-diensleraar

Ontmoet Rion van Niekerk, proponent-diensleraar

Rion van Niekerk is op 29 Maart 2021 deur die Kuratorium op Stellenbosch as diensleraar gelegitimeer (lees hier oor wat ‘n diensleraar is). Ons het vir Rion ‘n paar vrae gevra om hom beter te leer ken.

1.   Vertel ons meer van jouself. Waar kom jy vandaan en hoe het jou lewenspad tot hier geloop?

Ek is in Port Elizabeth gebore en het ook hier skool gegaan. Ek het skool gegaan te Laerskool Kabegapark en Hoërskool Framesby. Hierna is ek Kroonstad toe vir my basiese opleiding by Korrektiewe Dienste. Voordat ek teruggekeer het Port Elizabeth toe het ek eers ‘n draai in Oos Londen gaan maak. Vir twee en twintig jaar was ek hier werksaam. Die laaste vier jaar te Korrektiewe Dienste het ek my B Diac Jeugwerkgraad te Wellington voltooi. Terwyl ek gewerk en geleer het, het ek my jeugwerkprakties aan ‘n rehabilitasiesentrum voltooi. Gevolglik, toe ek my dienste beeindig het, het ek by die rehabilitasiesentum gaan werk. Ek het hoofsaaklik berading gedoen van alkohol en dwelmverslaafdes. Vir ‘n tydperk van ses jaar het ek hier gewerk. Weens omstandighede het ek my werk verloor en was vir ses maande lank werkloos. ‘n Vriend van my het my vertel van ‘n werk by Hoërskool Despatch as ‘n lewensoriënteringsonderwyser. In April 2017 het ek die werk aanvaar. So tussen die werke deur het ek verder geleer en my B Min en B Min Honneurs graad te behaal. Deur al die rondswerwinge was ek die heeltyd herinner aan ‘n ooreenkoms wat ek met die Here in1984 aangegaan het. Ek het belowe dat ek ‘n dominee sal word. Ek het intussen verskillende range ontvang by Korrektiewe Dienste, ek was ‘n berader, ek was werkloos en is ‘n onderwyser. Alles behalwe ‘n dominee. Ek het uitgereik na Stellenbosch en in kontak gekom met dr Eddie Orsmond. Hy het my weer rigting gegee om te verseker dat ek my ooreenkoms met die Here kan nakom. Na die voltooiing van werksopdragte en ‘n proefpreek asook ‘n week lange opleidingsessie is ek op 29 Maart 2021 gelegitimeer as Diensleraar.

2.   Vertel ons meer van jou roeping. Hoe het jy die roeping ontvang om predikant te word en hoe het jou bedienings- en opleidingspad tot hier toe geloop?

Ek vereenselwig my roeping met die naam Diensleraar. Dis al wat ek wil doen, ek wil net diens lewer. Daar waar die Here my wil gebruik, daar wil ek ‘n diens lewer, ongeag die diens. Ek is op ‘n ouderdom in my lewe waar ek baie dinge in my lewe reeds bereik het, en daarom is ek gemaklik om te dien. Daarom het ek ‘n sterk oortuiging tot diensbaarheid.

3.   Dit was ‘n lang reis totdat die NG Kerk begin het om diensleraars te legitimeer. Hoe het dit gevoel toe die groot dag aangebreek het en jy eintlik tot die amp in die NG Kerk toegelaat is?

Ek het 36 jaar lank binne en buite die NG kerk gestap voordat ek as Diensleraar gelegitimeer is. Van 1984 tot 2021, glo ek dat die Here met my ‘n pad gestap het ter voorbereiding van dit wat op my wag. Daardie oggend van 29 Maart voor die kweekskool in Stellenbosch het dit uiteindelik tot my deurgedring dat my droom bewaarheid kan word. Dit was vir my ‘n baie emosionele oomblik en wat verder daartoe bygedra het was toe die mede student een vir een opdaag en ons sit saam en wag op die kuratoriumgesprekke. ‘n Baie spesiale oomblik vir my was toe ons gesit het, en die leraars agter ons gestaan het, met hul hande op ons skouers en vir ons gebid het. Wat ‘n onbeskryflike belewenis en ervaring.

4. Wat is jou spesialisasierigting as diensleraar? Vir watter veld is jy spesifiek opgelei?

My spesialiseringsveld is prediking en erediensbegeleiding. Ek hou ook daarvan om berading te doen, aangesien ek baie by die skool gebruik word om die leerders by te staan met dit waarmee hulle sukkel.

5. Wat sou jy graag wou beteken vir ‘n gemeente wat jou as diensleraar beroep?

Ek wil net betekenis gee aan die opdrag wat aan my gegee word. Wanneer ek betekenis gee aan God se Woord en in gehoorsaamheid lewe, sal Sy wil en doel deur gewillige mense betekenis kry. Ek wil graag betekenis gee aan mense wat ondersteuning en bystand nodig het. Dit is ‘n groot behoefte wat ek in die gemeenskap geidentifiseer het. Betekenis gee, kan wees om net te luister na iemand wat dit nodig het. Dit is soos ek betekenis wil gee, meestal in dit somtyds die klein dingetjies in die lewe.

Ons wens vir prop. van Niekerk ‘n geseënde tyd toe hier in die Sinode van Oos-Kaapland.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.