Nuus
Oos-Kaapse kerke geloof vir Covid-19 ondersteuning

Oos-Kaapse kerke geloof vir Covid-19 ondersteuning

In sy verslag aan die Oos-Kaapse provinsiale leierskap van die SA Raad van Kerke (SARK-OK) wys die president, Lulama Ntshingwa, op groot waardering uitgespreek deur die Direkteur-Generaal van Gesondheid, Mbulelo Sogoni, vir die rol wat kerke speel om gesondheidswerkers en gemeenskapslede tydens Covid-19 te ondersteun. Die leierskap het op 2 Maart virtueel vergader.
Hierdie ondersteuning word beskryf as psigo-sosiale bystand en behels berading, geestelike begeleiding en pastorale versorging. Uit die lesse wat ons leer uit hierdie krisistyd moet die kerk leer sodat die effek van trauma en sielkundige uitdagings in die post-Covid-tyd hanteer sal kan word, het Ntshingwa gesê.

Die SARK-OK het oor die afgelope jaar ‘n oop kanaal na verskeie provinsiale regeringsdepartemente en die kantoor van die premier gehad. Soms moes die kerk haar stem oor afgryslike werklikhede laat hoor, soos swak dieet en selfs uithongering is sekere hospitale.

Tydens die vergadering is afgryse uitgespreek oor oud-president Jacob Zuma se weiering om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn. Dit is ‘n bedreiging vir ons grondwetlike bedeling. Net so is die sekretaris-generaal van die ANC se verskyning in die hof ‘n aanduiding van leiers wat koers verloor en verantwoordbaarheid bedreig, is gesê.
Die vergadering is ook ontevrede met dubbele standaarde in wetstoepassing. Tydens die begrafnis van minister Jackson Mthembu het Limpopo se premier sonder ‘n masker verskyn en is liggies oor die vingers getik. As ‘n gewone burger op die Kaapse vlakte dieselfde doen, is dit ‘n ander storie. In die Kaap is bejaardes in rye by die Sassa-kantoor met waterkanonne bygekom. Berigte word kort-kort ontvang van polisiebrutaliteit wanneer geloofsbyeenkomste of begrafnisse na bewering regulasies verbreek.
Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.