Nuus
Op hierdie dag: Barkly-Oos gemeente gestig

Op hierdie dag: Barkly-Oos gemeente gestig

Die NG gemeente Barkly-Oos is ‘n gemeente in die Noordoos-Kaap. Die gemeente is op 19 April 1873 gestig nadat dit van die gemeentes Lady Grey en Dordrecht afgestig is. Die eerste kerkgebou is in 1877 ingewy.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog is die gemeente in skuld gedompel en verskeie lidmate gevange geneem op aanklag van hoogverraad. Selfs die dominee van die moedergemeente Lady Grey, ds Ross, is in hegtenis geneem weens sy simpatie teenoor die boere. Die gemeente het so gesukkel dat die destydse leraar, ds Gie, aangebied het om van die kerkraad skape, koring en groente as salaris te ontvang.

Lede by die hoeksteenlegging van die huidige kerkgebou op 15 Desember 1906. Dié gebou is deur Hermann Kallenbach en A. Reynolds ontwerp. Die bouheer, William Henry Ford, self ’n kerkargitek van formaat, staan tweede van regs.

Op 14 Desember 1907 is die huidige kerkgebou, wat sitplek vir sowat 1000 kerkgangers het, teen ‘n koste van £10 000 ingewy. Die argitek was Hermann Kallenbach wat ook ‘n aantal ander NG kerke in Suid-Afrika ontwerp het, onder andere die NG Gemeente Jeppestown. Die susters van die gemeente het gesorg vir die aankoop van ‘n pyporrel wat £650 gekos het. In 1930 is ‘n ruim en doelmatige kerksaal ingewy teen ‘n koste van ongeveer £3 000.

Lees hier meer oor die geskiedenis van die gemeente en kerkgebou.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.