Die invloedryke evangeliese tydskrif Christianity Today se jaarlikse toekennings vir uitstekende publikasies is altyd ‘n bron van goeie leesstof. Dit bly waar van die toekennings vir 2024.
Die toekennings word in verskillende kategorieë gedoen. Die algehele wenner is ‘n boek wat aandui hoe die Bybel moderne kultuur uitlê. Tim Keller skryf in dié publikasie, Biblical Critical Theory: How the Bible’s Unfolding Story Makes Sense of Modern Life and Culture, se voorwoord “a good theory make[s] visible the deep structures of a culture in order to expose and change them.”
Christopher Watkins, die outeur, beklemtoon:
Scripture does this better than anything else. Other critical theories—derived from deep analyses of race, gender, psychology, language, and law—might apply useful lenses to reality. But all are clouded or cracked to some degree, requiring a higher wisdom and a truer story to polish off the smudges and patch together the broken shards. God’s Word, in this sense, does more than explain God to the world. In unsurpassed fashion, it explains the world to itself.
Die moeite werd om te lees.
Kyk gerus ook na die ander publikasies op die lys – klik hier.
Aansoeke word ingewag vir die leraarspos by die NG gemeente van Steynsburg vir ‘n termyn van drie jaar. Sou omstandighede dit toelaat, kan die termyn verleng word.
Steynsburg is in die Noordoos-Kaap geleë, tussen 70 en 120 km vanaf Cradock, Middelburg, Burgersdorp en Aliwal Noord. Die gemeente bestaan uit 97 belydende en 20 dooplidmate en vier in 2024 sy 150ste bestaansjaar. Ons het ook ‘n tuiste vir bejaardes met sowat 60 inwoners van verskillende denominasies. Ons is ‘n stabiele landbougemeenskap, hoofsaaklik veeboerdery, maar danksy die Oranje-Visrivierskema ook besproeiingsboerdery. Die naaste goeie skole is te Cradock, Burgersdorp en Middelburg. Groot sentra soos Port Elizabeth, Oos-Londen en Bloemfontein is 300 tot 350 km ver.
Ds Gys van Schoor en sy vrou, Thea, (voorheen van Somerstrand- en Durbanville-gemeentes) van die Sentrum van Geloofsvorming (Greyton) het al meer as 300 predikante landswyd op die geloofsreis begelei. Hulle is ook genooi om dit in 2024 vir predikante in Namibië aan te bid.
Van die onderwerpe waaraan daar aandag gegee word is: -Die herontdekking van Jesus en sy Koninkryksevangelie. -Is jou “doing” besig om jou “being” te verlam? -Emosioneel gesonde spiritualiteit. -Hoe ontwikkel jy ‘n langasem vir die bediening? -Dissipelskap as geloofsvormende reis. -Om met groter vryheid te leef. -Hoe vind karaktertransformasie plaas?
Vele predikante vra hiervoor. Die lang gekoesterde ideaal word in 2024 werklikheid wanneer ds Gys van Schoor van die Sentrum vir geloofsvorming die geestelike reis vir predikante in die Oos-Kaap kom aanbied. Predikante word aangemoedig om in te skakel.
Predikante wat hierby ingeskakel het getuig met lof van die impak daarvan op hulle lewe.
Die reis duur oor drie jaar, met twee retraites per jaar. Teken solank die datums aan: Retraite 1: 18-21 Maart 2024 en Retraite 2, 21-24 Oktober 2024.
Die koste beloop R1,850 per retraite, maar daar is ‘n 50% subsidie beskikbaar vir predikante wat betyds inskakel.
Geestelike leiers van verskeie kerke het vandeesweek Sikunye se praktiese werkswinkel bygewoon hoe om kinders en families gedurende die eerste 1,000 dae van lewe by te staan
Families met klein kindertjies, en die kinders self, het ondersteuning nodig. Die gesegde sê: “You need a village to raise a child”. Die plaaslike gemeente kan die gemeenskap wees wat klein kindertjies en hulle ouers en versorgers bystaan om suksesvol te groei en te floreer. Dit is veral tydens die eerste 1,000 dae van lewe (konsepsie tot twee jaar) krities belangrik.
Richard Lundie van Sikunye het vandeesweek ‘n besondere werkswinkel in die Baai aangebied wat die belang van die eerste 1,000 dae en praktiese weë om kinders en families in hierdie tyd by te staan toelig.
Die Powerpoints van dag 1 en dag 2 is beskikbaar. Daar is meer hulpbronne en inligting oor komende kursusse, wat ook interaktief met Whatsapp-boodskappe angebied word by www.sikunye.org.za beskikbaar.
16 Desember. Versoeningsdag. ’n #TydVirTafels in ons verdeelde land. ’n Tafel skep ’n ideale ruimte vir saamwees, stories vertel en gedeelde lewensstories.
Op Versoeningsdag laas jaar het ons in die food court van Baywest Mall bymekaar gekom en ’n klomp tafels teenmekaar geskuif om ’n langtafel te vorm. Oor pizzas en koeldrank het swart, wit en bruin stories met mekaar gedeel, ’n feestelike viering van ons diverse ervarings.
Kom deel weer op Versoeningsdag in hierdie geleentheid deur ’n vriend van ’n ander kultuur te nooi om saam ’n pizza te breek en te kuier. Sien jou op Saterdag, 16 Desember om 11:30.
Groot afwagting by kinders wat kos kom haal by Mama Julia se sopkombuis in Walmer, Gqeberha (Foto: Daily Maverick)
Tussen Augustus 2022 en September 2023 is 1,732 gevalle van ernstige akute wanvoeding by kinders in die Oos-Kaap diagnoseer, berig Estelle Ellis onlangs in Daily Maverick. Hiervan het 101 kinders gesterf, met ‘n bykomende 13 oorlede wat “slegs” met gemiddelde akute wanvoeding diagnoseer is.
Honger by kinders in die Oos-Kaap kwalifiseer as ‘n ramp en moet in terme van Rampwetgewing as sodanig verklaar word, sê die Menseregtekommissie (SAMR) in ‘n verslag wat op 9 November gepubliseer is. Dit sal ‘n meer gekoördineerde respons deur die provinsiale regering moontlik maak.
Sowat 25% van die provinsie se bevolking lei aan belemmerde groei, dit is kinders wat te klein vir hul ouderdom is (“stunted”).
Volgens dr Eileen Carter, Oos-Kaapse hoof van die SAMR, word die probleem onder-rapporteer. Dit is ‘n veel groter probleem as wat die syfers toon.
Lees die SAMR se volledige verslag. Die waarde daarvan lê in die data, maar ook in die wye reeks praktiese aanbevelings vir die bydrae wat verskeie rolspelers kan speel.
In ‘n onderhoud met Grens.Pos sê joernalis Estelle Ellis, self ‘n aktiewe kerklidmaat, daar is veel wat gemeentes kan doen. Veral betrokkenheid by vroeëkindontwikkeling is van deurslaggewende belang. Die gehalte van die eerste 1,000 dae van ‘n kind se lewe (sedert die moment van bevrugting) is bepalend vir die res van ‘n kind se lewe. (Leraars en lidmate kan gerus kom deelneem aan die werkswinkel oor vroeëkindontwikkeling van op 28 en 29 November by die sinodale kantoor plaasvind – die uitnodiging verskyn elders in Grens.Pos.)
Ellis noem ook die volgende:
Help ongeregistreerde kinders om ‘n identiteitskaart by Binnelandse Sake te kry – sodat hulle toegang tot die kindertoelaag kan kry.
Help agtergeblewe moeders om verklarings suksesvol af te lê sodat hulle kan kwalifiseer vir kindertoelae – daar is arm moeders wat nie kan lees of skryf of selfs toegang tot ‘n swart pen het nie. Ja, daar is mense wat só arm is.
Help moeders voedsel spaarsamig “rek” en voorberei
Promoveer tuinmaak, bv op die model van “Farming God’s Way” – ‘n kursus wat in die Baai ontwikkel is en reeds suksesvol aangewend word.
Druk op die plaaslike regering om regulasies op te hef wat die verspreiding van voedsel wat in winkels verval verbied. Kleinhandelaars raak maandeliks noodgedwonge van tonne voedsel ontslae wat heraangewend kon word – as dit nie deur munisipale regulasies verbied was nie.
Versterk bestaande sopkombuise om meer kinders te voed, en ook meer gereeld.
Hier is ‘n braakland vir gemeentelike bediening wat ‘n geweldige verskil in ons land kan maak. Wie het nou weer gesê: “In soverre julle dit aan een van hierdie geringstes gedoen het …?”
Jaarboek 2024 bevat die sinodale, rings-, gemeente- en predikante-inligting van die NG Kerk, NG Kerk in Afrika, Reformed Church in Africa en familiekerke in die buiteland. Jaarboek van die NG Kerke verskaf al langer as 170 jaar belangrike inligting oor die NG Kerkfamilie aan predikante, kerkkantore en lidmate. Bybel-Media wil ook met hierdie publikasie gestalte gee aan sy leuse: Vennoot in geloof en bediening. Bestellings is nou oop! Jaarboeke is beskikbaar van Desember 2023. Klik hier vir die bestelvorm.
PE-Noord se “Tuin van Herlewing”, gebou met herwinbare plastiekdoppies
Ds Micaela Wahl van PE-Noord-gemeente in die Baai vertel:
Soos Nehemia die droom gekry het om die Jerusalem se muur te herstel, so kry ons die droom om die tuin van NGK PE-Noord te herstel met ’n gebedstuin omdat ons fondasie op gebed gevestig is. Die doel van die gebedstuin is om af te sonder van die wêreld en natuurlik gaan mense deur verskillende seisoene van die lewe, daarom omskep ons vier spasies vir “Woestyntyd”, “Herlewing”, “Rou” en “Vrede”.
Ons eerste poging was om die woestyn tuin te bou met die doel om mense uit te nooi wat deur ’n moeilike tyd gaan. Op hierdie paadjie hoop ons dat mense die vrede van God sal ervaar tydens moeilike tye.
Ons tweede poging was die Tuin van Herlewing met die doel om weer vars en nuut te kyk soos God na die wêreld kyk. Hier kleur ons die paadjie in met herwinbare plastiek doppies om iets van God se uniekheid en andersheid te ontdek . In die bou proses het ons vir die eerste keer in Nehemia se skoene gestaan toe hy Jerusalem se stadsmure herstel. Dit was ’n opwindende projek met sy uitdagings, konflik en kritiese opinies, maar met geloof, hoop en ’n span wat volhard word die tuin van herlewing bewaarheid deur om vars en nuut na mense en hul omstandighede kyk.
Ons nooi almal uit vir ons 90ste verjaarsdag viering vanaf 17 November tot 19 November, om die tuin, in sy beginstadium te kom beleef.
Dankie, vir almal wat doppies vir die Tuin van Herlewing ingesamel het, asook die doppie span wat hul hande, knieë en rûe opgeoffer het. Ons waardeer julle opreg.
’n Gesonde hart. Iets wat Leendert Wijnja sy lewe lank nie geken het nie. As predikant by Graaff-Reinet raak hy bewus van sy onvermoë om verder te werk. Op die ouderdom van 32 kry hy ‘n nuwe hart, en binne ‘n jaar durf hy ‘n 10 km padwedloop aan – ‘n rare prestasie só kort ná ‘n hartoorplanting. Nou maak Leendert hart oop oor God se krag in sy krisis.
Klik op die grafika hieronder om na sy getuienis te kyk.
LiG het ‘n splinternuwe YouTube-kanaal @godsekraginmykrisis waar hulle getuienisse soos dié van Leendert deel, van mense wat swak was ná hartseer, swaarkry of pyn, maar opgetel en gedra is deur God.
Indien jy jou getuienis wil deel, stuur gerus ‘n e-pos na getuig@lig.co.za en vertel hulle van God se krag in jou krisis.
RSG se Op-en-Wakkerspan het op 25 Oktober ‘n onderhoud met ds Jan Lubbe, moderator van die pasafgelope Algemene Sinode gevoer.
“Die NG Kerk se 18e Algemene Sinode het ten einde geloop. Die sinode is voorafgegaan deur erge meningsverskille oor ‘n aantal kwessies, onder meer verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag. Volgens die politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, Roland Henwood, bly die NG Kerk een van die belangrikste en grootste netwerke in Suid-Afrika. Ons praat oor die sinode met ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk.”
Klik hier om na die werklik insiggewende gesprek te luister.
Nuwe leiers
By die algemene sinode is die jongste onder-voorsitter sedert die Algemene Sinode in 1962 tot stand gekom het, ook verkies. Dit is die 39-jarige ds Maartje van der Westhuizen. Luister na ‘n Op-en-Wakkergesprek op RSG met Jan Lubbe en Maartje van der Westhuizen.