Nuus
Prysepartytjie vir Christelike Media oor TV

Prysepartytjie vir Christelike Media oor TV

Die Andrew Murray-prysfonds, wat pryse toeken vir Christelike en teologiese media in amptelike tale van Suid-Afrika, bestaan al langer as veertig jaar. Dit het algaande  prestige-pryse geword en die koppeling van Andrew Murray en Desmond Tutu se name aan een van die pryse, is ook ‘n teken van versoening – en van God se sin vir humor, soos emeritus-aartsbiskop Tutu daarna verwys.

As gevolg van die Covid-19-pandemie en die inperkings die afgelope twee jaar, kon die gebruiklike oorhandigingsfunksies nie gehou word nie. Vanjaar is ‘n goeie alternatief gevind. Op Sondag, 5 Desember, om 10:30 saai kykNET ‘n “prysepartytjie” uit wat vertel wie almal in 2020 en 2021 gewen het (Kanaal 144). Dit word gevolg deur ‘n herhaling van die program op kykNET Nou! om 12:00 (Kanaal 146). In die program praat die bekende akteur Hykie Berg oor sy oorwinning oor dwelmverslawing, Piet Meiring van die destydse Waarheids-en-versoeningskommissie praat oor versoening, Ernst Conradie, skrywer van boeke oor omgewingsbewaring, gesels oor aardverwarming en Ivor Swartz, wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk, vertel van sy ellendige grootwordjare in Grabouw se omgewing. Wyle Annalise Wiid, aan wie ‘n spesiale toekenning kort voor haar dood gemaak is, sing nog ‘n keer, so ook Jan de Wet, vanjaar se wenner van die Andrew Murray-FAK-toekenning. Roucher du Toit en Zorada Temmingh, ook vorige wenners, speel op die orrel.

Dit beloof om ‘n besondere prysepartytjie te wees en almal word uitgenooi: Kom kyk saam!

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.