
Rukwind beskadig Willowmore se kerktoring

Sterk rukwinde het die kerktoring van die NG gemeente Willowmore deur die nag van 29-30 Junie 2021 beskadig. Die boonste deel van die toring, bestaande uit ‘n staalstruktuur, is geknak. Indien die gedeelte heeltemal sou afbreek en in ‘n westelike rigting val, sal dit die kerkgebou mis, sê ds JF Maasdorp, leraar van die gemeente.
Hy vertel die wind het besonder sterk gewaai, maar het “met rukke en plukke in verskillende rigtings” gepaard gegaan.
Volgens mnr Garth Simpson van die weerburo in Gqeberha het die windspoed 90 km/h in Willowmore gehaal.
Die huidige kerkgebou is volgens Wikipedia opgerig in die tentsyl (kappiekerk), baie gewild rondom die 1960’s en die opvolger van die Neo-Bisantynse boustyl was. Dis op 5 Desember 1964 aan die einde van die gemeente se eeufeesjaar ingewy.

