A2 Verslag van die Sinodale Kommissie (Sakelys Sinode 2021)

Terug na INHOUDSOPGAWE

Geagte voorsitter en afgevaardigdes,

Die Sinodale Kommissie doen hiermee oorsigtelik verslag oor haar werksaamhede sedert die vergadering van die Sinode in Oktober/November 2016.

Die verslag word as volg gestruktureer:

DEEL 1
Samestelling van die SK
Werksaamhede van die Sinodale Kommissie

DEEL 2
Teologiese raamwerk waarbinne die sinode funksioneer

Ons gebed is dat die Sinode ‘n geseënde ervaring vir afgevaardigdes mag wees.

DEEL 1 :

SAMESTELLING EN WERKSAAMHEDE

SAMESTELLING VAN DIE SINODALE KOMMISSIE

1. Personeel en vergaderings

1.1  Aangesien die sinodale vergadering wat vir 2020 geskeduleer was weens Covid-19 tot 2021 uitgestel is, was die termyn van die Sinodale kommissie vyf jaar.

1.2  Die Sinodale Kommissie het oor die afgelope vyf jaar ‘n hartlike werksverhouding gehandhaaf. Vergaderings is gekenmerk deur indringende gesprek oor die bevordering van bediening in die kerkverband.

1.3  Die samestelling van die Kommissie het ietwat verander met die uittrede en vertrek van lede. By die skryf van hierdie verslag is die samestelling as volg:

1.3.1  Dagbestuur

Ds JJ Louw – Voorsitter

Dr DH Davel – Onder-voorsitter

Dr DH Davel –  Aktuarius (waarnemend)

Ds DW Mouton – Skriba / Direkteur Sinode

Ds E Bester – Addisionele lid

Ds C Coetzee

Ds EH Steyn

Ds JJD Nel

Mnr TP van der Mescht – Deskundige Lid Finansies

1.3.2  Lede deur ringe benoem

Ring van Albanie:

Ds EH Steyn (sek Ds WD Schoeman)

Oudl H Feuth (sek Oudl L Greyvenstein)

Ring van Algoa:

Ds E Bester

Oudl A Louwrens (sek Oudl DJW van der Mescht)

Ring van Burgersdorp

Ds AJJ van Tonder (sek Ds AC Vlok)

Oudl CW Myburgh (sek Oudl EM Wilters)

Ring van Cradock

Ds C Slabbert (sek Ds J Grobbelaar)

Oudl MMM du Plessis

Ring van Dordrecht

Ds R Nel (sek Ds DC Thomas)

Oudl (ds) L Schmidt (sek Diak D Cloete)

Ring van Graaff-Reinet

 Ds AJ Beyers (sek Ds J Eksteen)

Oudl JM Nel (sek Oudl GJ Smith)

Ring van Humansdorp

Ds J van der Merwe (sek Ds B Lordan)

Oudl GR Meyer (sek Oudl PR Nel)

Ring van Oos-Londen

Ds WP Petzer (sek Ds J-R Nieuwenhuizen)

Diak PW van Biljon  (sek Oudl AJ de Jager)

Ring van Port Elizabeth

Ds C) Coetzee (sek Ds P Nel)

Oudl FE Potgieter (sek Oudl J Fourie)

Ring van Port Elizabeth-Wes

Ds PH Voigt (sek Ds RM van Tonder)

Oudl T Kriek (sek Oudl (ds) GEG Louw)

Ring van Sondagsrivier

Ds AHG Lötter (sek JM Janse van Rensburg)

Oudl Z Dorfling)

Ring van Uitenhage

Ds JJD Nel (sek Ds TJ van Schoor)

Oudl HE Van der Risjt sek Oudl DPD Coetsee)

1.4  Die Sinodale Kommissie het vyf keer in die reses vergader, terwyl die dagbestuur 25 keer vergader het, waarvan drie vergaderings elektroniese stemmings was.

1.5  Ds Wiekus van Straaten, aktuarius, het in 2019 ‘n beroep na Skotland aanvaar, en sodoende die sinodale gebied verlaat. Dr Dewald Davel neem sedert sy vertrek as aktuarius waar.

1.6  AANBEVELING

Die sinode neem kennis.

Werksaamhede van die sinodale kommissie

As hoofmomente van die werksaamhede van die kommissie word die volgende uitgelig:

2.  Hantering van Covid-19

2.1  Vanaf die eerste instelling van inperking weens Covid-19 het die sinodale kantoor moeite gedoen om regulasies en die gepaste implementering daarvan onder gemeentes se aandag te bring. Die inligting is ook voortdurend op die sinode se webblad opdateer. Omsendbriewe is voortdurend versend.

2.2  VBO is in vennootskap met die VBO-Forum na aanlynplatforms verskuif.

2.3  Die Sinodale Kommissie het die padberade in 2020 en 2021 op die Zoomplatform hanteer.

2.4  Sinodale vergaderings in al sy gestaltes (bv kommissies en netwerke) het oorwegend aanlyn plaasgevind.

2.5  Die sinodale vergadering wat vir Oktober 2020 beplan is, is met ‘n jaar na Oktober 2021 uitgestel om ruimte te laat dat dit wel in-persoon sou kon voortgaan.

2.6  Die Covid-pandemie het op baie plekke ‘n verwoestende effek gehad. Persone het hul werk verloor, ander se inkomste het gedaal, en families het geliefdes aan die dood afgestaan. Die geestelike versorging van siekes en bedroefde persone het groot druk op leraars en kerkraadslede geplaas. Sommige gemeentes het ook ‘n daling in inkomste ervaar. Die uitmergelende effek van die voortslepende inperking eis ook sy tol.

2.7  AANBEVELING

2.7.1  Die vergadering neem kennis van die aksies geneem.

2.7.2  Die Sinode verseker lidmate en families wat deur die verwoestende effek van Covid-19 geraak is van haar voorbidding.

3.  Brande: Hulp na verwoesting

3.1  In Junie 2017 het wind en vuur in die Loerie en Thornhill omgewing (tussen Gqeberha en Jeffreysbaai) sowat 17,000 hektaar bos en plantegroei verwoes, woonhuise en geboue vernietig en lewens geëis. ‘n Bejaarde egpaar, Walter (73) en Myrna (72) van der Riet het in die vlamme omgekom. Wild het in groot getalle omgekom. Geboue van die privaatskool Woodridge Kollege is deels in puin gelê.

3.2  Die brande het saamgeval met die soortgelyke verwoesting wat in Knysna, Plettenbergbaai en omgewing aangerig is.

3.3  Sinode Oos-Kaapland het ‘n brandhulpfonds gestig en die volgende hulp uitbetaal:

  • Meer as R300,000 aan die Ring van George
  • R227,000 aan die Thornhill Fires Trust, waar die gemeente van Loerie ‘n leidinggewende vennoot is.

3.4  Die Thornhill Fires Trust (Loerie-gemeente) het met behulp van onder meer bogenoemde donasie 52 5,000 liter watertenke en 25 waterpompe aan brandslagoffers geskenk.

3.5  AANBEVELING

Die Sinode neem met dank van die skenkings van gemeentes en die ramphulp kennis.

4.  Droogtehulp

4.1  ‘n Uitmergelende droogte teister dele van die Oos-Kaap al vir sowat 8 jaar. Hoewel sekere gebiede sedertdien goeie reën gekry het, is veral die westelike deel van die provinsie by die skryf van hierdie verslag steeds in ʼn knellende droogte. Watervoorsiening in Nelson Mandelabaai en die Sarah Baartman distrik stuur op ʼn ramp af weens opgaardamme wat leeg geraak het.

4.2  Droogte raak die hele gemeenskap. In landelike gebiede is die landbou die ekonomiese slagaar van gemeenskappe, en maak in baie gevalle ook gemeentes finansieel volhoubaar. Om hierdie negatiewe sosiale impak te vermy, moet boere ondersteun word. Elke arbeider wat ‘n boer in diens het, het gemiddeld vyf direkte en vyf indirekte afhanklikes.

4.3  Verder ly gemeenskappe ook direk, want daar is ook dorpe sonder water. Damme is leeg, die watertafel laag en die water-infrastruktuur in ‘n swak toestand.

4.4  Praktiese stappe

Die Sinodale Kommissie het die volgende aksies onderneem:

4.4.1  Sinode Oos-Kaapland het ʼn droogteramp-fonds gestig, maar ook ten nouste met die groter NG Kerkverband se ramphulp saamgewerk.

4.4.2  Gesprek is met AGRI Oos-Kaap oor die landbousituasie gevoer, en AGRI Oos-Kaap se rampfonds is finansieel ondersteun deur ‘n kontantskenking van R100,000.

4.4.3  ‘n Verdere bedrag van meer as R280,000 is aan droogtegeteisterde gemeenskappe geskenk.

4.4.4  Die sinodale kantoor het ook donasies uit ander dele van ons kerk aan gemeentes en gemeenskappe ter waarde van sowat R100,000 gefasiliteer. Die skenking van voer uit Goudland-sinode is ook bemiddel.

4.4.5  Die droogtenood is voortdurend gekommunikeer, sodat gemeentes sinvol voorbidding kon doen.

4.4.6  In droogtegeteisterde gemeenskappe lewer gemeentes en leraars deurlopend belangrike geloofs- en psigososiale ondersteuning aan die landbougemeenskap.

4.4.7  Verskeie Oos-Kaaplandse gemeentes het ook direk donasies aan droogtegeteisterde gemeentes gemaak. Die Sinode het in verskeie gevalle hulpverleners en hulpbehoewendes met mekaar verbind.

4.4.8  Die sinodale kantoor het ‘n groot hulpprojek deur Kerksondermure, ‘n NG gemeente van Centurion, aan die gemeenskappe van Adelaide, Bedford, Fort Beaufort, Graaff-Reinet en Aberdeen bemiddel. Die waarde hiervan beloop bykans een miljoen rand.

4.4.9  In alle gevalle is die verdeling van die noodhulp oorgelaat aan geloofwaardige plaaslike landbouverenigings.

4.5  Konklusie

4.5.1  Te midde van die erge lyding van mens, dier, plant en veld tydens die droogte, het die droogte ook die beste in ons kerk na vore gebring. Gelowiges het die liefde van die Here beliggaam.

4.6  AANBEVELING

Die vergadering verseker gemeentes, landbouers en gemeenskappe wat deur die voortslepende droogte geteister word van ons voorbidding en meelewing.

5.  Ringsprojekte

5.1  Bediening op grondvlak

5.1.1  Die stelsel van ringsprojekte beteken dat die Sinode bediening en besluite oor bediening so na as moontlik aan grondvlak laat plaasvind. In hierdie opsig het die Sinode van Oos-Kaapland die unieke benadering dat ringe befonds word om deur ringsprojekte bediening op grondvlak uit te voer.

5.1.2  Op praktiese vlak werk die stelsel as volg: Ringe doen vir bepaalde projekte – wat hulle self identifiseer – aansoek by die Sinodale Kommissie. Aangesien elke gemeente op ‘n ring verteen­woordig word, besluit gemeentes en ringe dus deur die inisiatiewe wat hulle neem hoe die fondse aangewend word. Die Sinodale Kommissie – ‘n konferensie van ringe – finaliseer die toe­kennings aan die ringsprojekte. Aan die einde van elke jaar doen ringe verslag oor die aanwending van die fondse. So word verantwoordbaarheid in stand gehou.

5.2  Fondse toegeken

5.2.1  Befondsing vir ringsprojekte bestaan uit ‘n toekenning uit die sinodale dankoffers wat gemeentes aan die sinode oorbetaal, sowel as al die fondse wat deur die sinodale kollektes gevorder word.

5.2.2  Sedert 2016 is die volgende bedrae deur die Sinodale Kommissie aan ringsprojekte toegeken:

JaarBedrag
2016-17705 000
2017-18723 800
2018-19748 000
2019-20807 000
2020-21720 000
2021-22792 000
Totaal4 495 800

5.3 Waarvoor word fondse aangewend?

5.3.1  Hier is ‘n oorsigtelike, samevattende opsomming van die projekte waarvoor ringe fondse aanwend, gekategoriseer volgens die klassieke verstaan van gemeentelike bediening. Die opsomming is nie volledig nie en bedoel vir illustratiewe doeleindes:

Barmhartigheid

  • Verswakte bejaardes word tuis versorg en vervoer om inkopies te doen of by die dokter te kom
  • Leerders met spesiale onderrigbehoeftes word bygestaan
  • Bystand aan behoeftige pasiënte in hospitale
  • Voor- en na-geboorte begeleiding van swanger, jeugdige moeders
  • Voedingsprojekte.

Gemeentebediening

  • Voortgesette bedieningsopleiding aan predikante om hul vaardighede uit te bou, word verskaf
  • Daniëlkonferensies aangebied
  • Geestelike ondersteuning en versorging van leraars
  • Toerusting van orreliste word ondersteun
  • Ouderlinge word opgelei om eredienste te lei.

Jeugbediening

  • Befondsing vir #Imagine 2015 in die Oos-Kaap
  • Avontuurweke vir laerskoolkinders in die wintervakansie
  • Kinders in kinderhuise en behoeftige leerders word bedien en ondersteun
  • Leierskapsontwikkeling by skoliere
  • Geestelike ondersteuning aan kinders wat verliese ervaar
  • Verskeie kampe word met jongmense gehou.

Hulp aan gemeentes

  • Behoeftige gemeentes wat ‘n werkbare groei-strategie kies, word finansieel bygestaan
  • Behoeftige gemeentes word gehelp om bedieningsprojekte aan te pak
  • Behoeftige gemeentes word finansieel ondersteun.

Getuienis

  • Getuienis teenoor Islam
  • Uitreik na die Transkei
  • Getuieniswerk onder jongmense, veral in geweld- en misdaadgeteisterde gebiede
  • Evangelisasie in die Koukamma-gebied en Gamtoos-plaasbediening
  • Bybelverspreiding in die Oos-Kaap
  • Bybelvertaling gerig op onbereiktes
  • Evangelisasie en getuienis in skole.

Vrouebediening

  • Opheffingsprojekte onder vroue
  • Projekte gerig op die bediening van vroue en gesinne
  • Ondersteun die sorgsentrum vir verkragtingslagoffers in Port Elizabeth
  • ‘n Vrouekamp in die Oos-Kaap word in Oos-Londen aangebied.

5.4  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

6.  Finansiële bestuur

6.1  Die Sinodale Kommissie het die finansiële bestuur van die Sinode in oorleg met die Sinodale Fondsekommissie hanteer. Dit sluit in:

  • Die jaarlikse goedkeur en bestuur van die finansiële begrotings
  • Die jaarlikse goedkeuring van die ringsprojek­toekennings
  • Bestuur van die sinodale finansiële portefeulje waarmee sinodale werksaamhede befonds word
  • Verwerking en goedkeur van die jaarlikse traktementskale vir leraars, diensleraars en jeugwerkers.

6.2  Die Sinodale Fondsekommissie bestaan uit mnr. Tommie van der Mescht (voorsitter, geoktrooieerde rekenmeester), mnr. William Ferreira (finansiële bestuurskundige), mnr. Paul Louw (beleggingskundige) en ds Danie Mouton (skriba).

6.3  Mnr Tommie van der Mescht het as Deskundige Lid Finansies waardevolle diens as lid van die Sinodale Kommissie en as voorsitter van die Sinodale Fondsekommissie gelewer.

6.4  AANBEVELING

6.4.1  Die sinode bedank die lede van die Fondsekommissie en mnr Van der Mescht as deskundige lid vir finansies vir hul waardevolle, onontbeerlike dienste

6.4.2  Die sinode neem kennis van die moeite gedoen met finansiële bestuur en oorsig.

7.  Padberade

7.1  Die lede wat tydens die 2016-vergadering op die moderatuur verkies is, het ringe (leraars, gemeentepersoneel en gemeenteleiers) gedurende die reses jaarliks in streekverband besoek. Dit het in 2016 2017 en 2018 gebeur, terwyl ‘n leiersberaad in 2019 by Willows gehou is. Weens Covid-19 is die byeenkomste in 2020 en 2021 aanlyn gehou.

7.2  Die temas was soos volg:

  • 2016: “A Fellowship of Differents” – gesprek oor Scot McKnight se missionale verstaan van Nuwe Testamentiese gemeentes
  • 2017: Waarderende ondersoek na aanleiding van verhale van geloof, hoop en liefde, en groepsinterpretasie daarvan, met ‘n inset oor “What’s your story”, ‘n projek om oor grense lewensverhale te deel en gemeenskap te skep
  • 2018: Gesprek oor die tema: ” Wat bring lewe in gemeentes? Wat sterf? Hoe is God hierin teenwoordig?”
  • 2019: Leiersberaad: vaardighede om gepas op snelle verandering te reageer
  • 2020: Gesprekke oor die impak van Cvoid-19 (aanlyn)
  • 2021: “Fathers Matter”: Insette oor vaderskap na aanleiding van Heartlines se projek om verantwoordelike vaderskap te bevorder

7.3  Kontekstuele gesprekke: by elke padberaad word daar ook ‘n gesprek oor die konteks en die kerk se roeping in die lig daarvan gevoer. Hierdie gesprekke informeer ringe se uiteindelike identifisering van ringsprojekte.

7.4  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

8.  Leiersberaad

8.1  Die Sinodale Kommissie het in 2019 die padberade vervang met ‘n leiersberaad van 5 tot 7 Februarie 2019. Die voorsitter en skriba van elke ring, tesame met vrouepredikante en ‘n jong leraar per ring het die geleentheid bygewoon.

8.2  Gegewe die snel-veranderende omgewing waarin ringe en gemeentes geroep word om kerk te wees, het die SK me Hanna Kotze gevra om die praktiese inoefening van Otto Scharmer se Theory U met die vergadering te hanteer. Dit het oor drie dae plaasgevind.

8.3  Die vergadering is goed bygewoon. Lede is bemagtig om gepas te reageer op die groot uitdagings van kerkwees.

8.4  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

9.  Vroeëkindontwikkeling

9.1  Tydens die leiersberaad wat die Sinodale kommissie in Februarie 2019 gereël het vir voorsitters en skribas van ringe, asook jong leraars uit elke ring, is vroeëkindontwikkeling as ‘n strategiese prioriteit geïdentifiseer.

9.2  Die algemene sinode het vroeëkindontwikkeling ook as fokus vir die kerkverband gekies.

9.3  Die Sinodale Kommissie het ‘n inligtingsessie met ds Nioma Venter gereël waartydens sy die moontlikhede en werkswyses met die vergader gedeel het.

9.4  Daarna is ‘n opleidingsessie oor vroeëkindontwikkeling oor drie dae in Port Elizabeth aangebied.

9.5  Gemeentes het daarna werkswinkels in hul omgewings aangebied.

9.6  Grens.Pos het deurlopend berigte, kennisgewings en insette oor vroeëkindontwikkeling gedra.

9.7  AANBEVELING

Die vergadering beveel vroeëkindontwikkeling by ringe en gemeentes as belangrike gemeenskapsinisiatief aan, en moedig alle ringe en gemeentes aan om dit te bevorder.

10.  SA Raad van Kerke: Oos-Kaap

10.1  Die Sinode van Oos-Kaapland is ‘n lid van die SA Raad van Kerke : Oos-Kaap. Die amptelike afgevaardigdes is dr Dewald Davel en ds Danie Mouton.

10.2  Die afgevaardigdes het die driejaarlikse streeksberaad van 16-17 November 2017 te Oos-Londen bygewoon.

10.3  Die vergadering is deur baie goeie teologiese posisionering gekenmerk, met ontsteltenis oor korrupsie, onreg en verset daarteen.

10.4  Van die belangrikste projekte van die Raad oor die afgelope termyn is die volgende:

  • ‘n “Unburdening Panel” waar fluitjieblasers en persone betrokke by korrupsie met gewaarborgde veiligheid kon kom getuig. Hierdie inligting het ‘n waardevolle bydrae gelewer om staatskaping te ontmasker.
  • ‘n Projek waarin die visie vir ‘n herstelde Suid-Afrika uitgespel word, The South Africa we Pray4. Die doelwitte word beskryf in die projek se aksieplan:
    • Healing and reconciliation;
    • Restoration of the family fabric,
    • Destruction of poverty and inequality,
    • Economic transformation
    • Anchoring democracy
  • Die herstel van historiese belangrike (sending-)skole in die Oos-Kaap

10.5  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

11.  Ontbinding van die Ring van Queenstown

11.1  Die Sinodale kommissie het die versoek van die Ring van Queenstown om te ontbind op 22 November 2018 goedgekeur. Die gemeente van Tarkastad het by die Ring van Cradock ingeskakel, Stutterheim by Oos-Londen en Queenstown sowel as Cathcart by die ring van Burgersdorp.

11.2  AANBEVELING

Die sinode neem kennis.

12.  Finansiële voorsiening by afsterwe van ‘n leraar

12.1  Tans bepaal die Oos-Kaaplandse kerkorde dat die eggenoot en/of afhanklike kinders “ontvang vir ses maande na sy/haar dood sy/haar gewone traktement. Hulle het ook vir drie maande na sy/haar dood vrye en onbelemmerde inwoning van die pastorie.”

12.2  Die bestaande voordele is besonder hoog, veral aangesien die pensioenfonds die afgelope paar jaar uitstekende, uitgebreide sterftevoordele bied. Hierdie sterftevoordeel word bekostig uit die gemeente se pensioenbydrae. Die bykomende voordeel waartoe die Oos-Kaaplandse kerkorde werkgewers verbind, beteken gemeentes kan by afsterwe moeilik die vakature vul. Die traktement is immers vir ses maande betaalbaar, bo en behalwe die voorsiening by die pensioenfonds.

12.3  Gevolglik het die SK besluit om ‘n wysiging aan te beveel.

12.4  Ander sinode beskryf die sterftevoordeel waartoe die werkgewer direk verbind is, reeds anders. Aangesien Wes-Kaapland die pensioenfonds administreer, waarvan die Vrystaat ook nou lid word, kan dit voordelig wees om dieselfde formulering as Wes-Kaapland te gebruik. Die besluit moet maklik uitvoerbaar wees en die wyse waarop die finansiële som gemaak moet word, moet helder uitgespel word.

12.5  Die SK het die Sinodale Regskommissie gevolglik versoek om die formulering van Artikel 14 in die Oos-Kaaplandse Kerkorde as volg aan te pas:

1. Wanneer ’n predikant wat in diens van ’n gemeente staan te sterwe kom, is die huweliksmaat of ander afhanklikes geregtig op ’n volle daaropvolgende maand se vergoedingspakket (toelaes ingesluit) asook drie maande se behuisingsvoordele, in beide gevalle soos voor die afsterwe van die persoon. Die volgende volle maand se vergoedingspakket is sonder die pensioenpremie (dit het gestaak) en die nuwe mediesefonds premie (met een lid minder) betaalbaar. Salaris, pensioen- en mediese premies word vir die maand waarin die sterwe plaasvind ten volle betaal.

2. Die kerkraad het die verantwoordelikheid om behulpsaam te wees met die hervestiging van die predikant se huweliksmaat en afhanklike kinders soos hierbo genoem, indien van toepassing.

3. Bogenoemde reëlings is ook van toepassing in geval van die afsterwe van predikante in diens van die kerkverband.

12.6  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis dat die Sinodale Regskommissie hierdie wysiging steun (vergelyk Verslag A3 pt 5) en keur die wysiging goed.

13.  Ondersteuning van kerkrade

13.1  Die Sinodale Kommissie het ook enkele versoeke van kerkrade ontvang rondom uitdagings wat gemeentes ervaar. Waar kerkregtelike aspekte ter sake was, het die aktuarius die adviese hanteer. Rondom die praktiese implementering van herstellende en bestuursmatige aangeleenthede het die Sinodale Kommissie in enkele gevalle hulp aan gemeentes verleen.

13.2  Daar is ook gemeentes wat vrae oor besluite van die Algemene Sinode gevra het. Ook hier het die Sinodale Kommissie bystand en ondersteuning verleen.

13.3  Hierdie ondersteuning het in alle gevalle op versoek van kerkrade en ringe plaasgevind.

13.4  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

14.  Handelinge

14.1  Die handelinge van die twaalfde vergadering van die Sinode (2016) is na afloop van die vergadering deur die skriba gepubliseer en aan kerkkantore en leraars beskikbaar gestel. Dit is ook aanlyn op die sinode se webblad gepubliseer.

14.2  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

15.  Kerkordeboek

15.1  Die Sinode het opdrag aan die Sinodale Kommissie gegee om in die reses die finale weergawe van die kerkordeboek vir gebruik in die NG Kerk in Oos-Kaapland goed te keur.

15.2  Die besluit is uitgevoer.

15.3  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

16.  Toekomstige verkiesing van moderatuur

16.1  Tydens Sinode 2016 is die volgende voorstel hanteer:

Voorstel 3

1. Die sinode besluit dat die verkiesing van Moderatuur vir die volgende Sinodesitting en daarna aan die einde van elke Sinode sitting sal plaasvind om sodoende afgevaardigdes die geleentheid te gun om genomineerdes beter te leer ken gedurende die vergadering voordat daar tot stemming oorgegaan word.

2. Die sinode besluit dat wanneer daar vir die Moderatuur gestem word kortliks agtergrondsinligting oor die genomineerdes aan die vergadering deurgegee word sodat afgevaardigdes wat nie genomineerdes ken nie ʼn ingeligte stem kan uitbring.

Besluit:

Die voorstel word na die Sinodale Regskom­missie (SRK) verwys vir verslag aan die Sinodale Kommissie.

16.2  Oor die eerste punt van die voorstel het die Sinodale Regskommissie (SRK) die Sinodale Kommissie adviseer dat so ‘n reëling die sinodale vergadering die reg ontneem om sy eie voorsitter te kies. Die SRK beveel dus aan dat die status quo gehandhaaf word.

16.3  Oor die tweede punt adviseer die SRK dat gewaak moet word teen “oneweredige propagandamaking”. Die SRK beveel hoogstens aan dat genomineerdes kan opstaan en hul standplaas bekendgemaak kan word.

16.4  Die Ontwerpspan / Ordekommissie is dus versoek om die verkiesing van die moderatuur In die lig van hierdie advies te hanteer.

16.5  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

DEEL 2 :

TEOLOGIESE RAAMWERK VAN DIE SINODE

IDENTITEIT, VISIE EN ROEPING

17.  Die sentrale taak van Ring en Sinode in Oos-Kaapland

17.1  Die uitgangspunt van Sinode Oos-Kaapland is sedert 1993 dat die plaaslike gemeente primêr kerk is, en dat ring en sinode bestaan om die plaaslike bediening te ondersteun.

17.2  Die sisteem plaas ook groot klem op ringe. Die ring is verantwoordelik vir die bediening in ‘n gebied, en moet toesien dat gemeentes en bedieninge floreer. Die ring moet ook soek na geleenthede om die koninkryk van God op innoverende maniere te bevorder.

17.3  Die beginselbesluite van 1993 is in 2002 verder geneem deur middel van ringsprojekte. Fondse word aan ringe beskikbaar gestel wat dit moontlik maak om geestelike koninkryksdoelwitte na te streef en te bevorder.

17.4  Hierdie strategiese koers is by opeenvolgende sinodale vergaderings deurlopend verdere verfyn.

17.5  Waar ons kerkverband om verskeie redes onder geweldige druk verkeer, is hierdie ‘n unieke geleentheid vir ringe om ‘n beduidende verskil te maak.

17.6  AANBEVELING:
As kerkverband herinner ons mekaar aan ons verantwoordelikheid om die Here se wil te onderskei, en dit kreatief en innoverend uit te voer.

18.  Gemeenskaplike visie vir kerk-wees in Oos-Kaapland

18.1  Aangesien ons onsself voortdurend moet herinner aan ons eie geestelike identiteit en roeping, en aangesien daar voortdurend nuwe leraars en kerkraadslede tot ons sinodale gebied toetree, is dit krities belangrik om te fokus op ons gemeenskaplike verstaan van ons identiteit, visie en roeping as sinodale verband.

18.2  Die NG Kerk van Oos-Kaapland het in 2002 besluit om voortaan die visie te vestig van een, heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges. Die visie word spesifiek uit die Apostoliese Geloofsbelydenis ontleen, om daarmee die teologiese inhoud van ons visie, en ons kontinuïteit met die kerk van die eeue uit te druk.

18.3  Die praktyk van hierdie teologiese visie word uitgespel in ons sinodale geloofsverbintenis (ook uit 2002):

GELOOFSVERBINTENIS

Ons glo aan een kerk as spieëlbeeld van ons een God: Vader, Seun en Heilige Gees.
Daarom verbind ons ons aan eenheid onder mekaar, in ons kerkfamilie en met ander Christene oor die wêreld.

Ons glo aan ‘n heilige kerk wat deur wet en belydenis ‘n ligdraer in die wêreld is.
Daarom verbind ons ons om as Geesvervulde mense prakties aan die evangelie gestalte te gee. 

Ons glo aan ‘n algemene kerk wat weens Christus se koningskap oor tyd en ruimte heen bestaan.
Daarom verbind ons ons om die boodskap van Christus oor die wêreld heen te dra.

Ons glo aan ‘n Christelike kerk wat as barmhartigheidsgemeenskap in Christus gesalf is.
Daarom verbind ons ons om met dade lief te hê en blymoedige offers te bring.

Ons glo aan die gemeenskap van die heiliges wat hulle gawes met vreugde tot nut van mekaar gee.
Daarom verbind ons ons om na mekaar om te sien en die ander se belang eerste te soek.

18.4  Prakties gestel: Ons is geroep om te bou aan eenheid, praktiese diensgestalte aan die evangelie te gee, die boodskap van Jesus uit te dra, blymoedige offers te gee, na mekaar om te sien en ander se belange eerste te stel.

18.5  Die Sinodale Kommissie is daartoe verbind om prosesse van geloofonderskeidingin die Oos-Kaap te bevorder.  Geloofsonderskeiding is liefde wat toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ringe en gemeentes die regte dinge kan identifiseer wat die Here wil hê hulle moet doen.

18.6  Ons is nie ‘n verband waar die sinode of sinodale kommissie namens gemeentes en ringe kies hóé om die teologiese visie en geloofsver­bintenis uit te leef nie.  Ons begelei ringe en ge­meentes om self geloofsonderskeiding te beoe­fen, en só by die Here te hoor wat Hy plaaslik op gelowiges se harte druk.

18.7  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis

19.  Beliggaming van die Oos-Kaaplandse roeping

19.1  Die vraag hoe die sinodale verband (ge­meentes, ringe, sinode) haar teologiese visie kan beliggaam, is van wesenlike belang. ‘n Bybelse antwoord is nodig, om te verseker dat die kerk nie maar net ‘n formele instituut is nie, maar ‘n lewende geloofsgemeenskap.

19.2  Die volgende formulering gee inhoud aan die verband se Bybelse roeping:

 

‘N VISIE OP DIE KERK:
ENKELE OPMERKINGS UIT DIE APOSTOLICUM
(TWAALF ARTIKELS)

“Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”

TEOLOGIESE BESINNING : WAT IS ONS IDENTITEIT?

1. Ons glo aan een kerk

1.1 Die eenheid van die kerk ontspring aan die eenheid tussen Vader, Seun en Heilige Gees. Daarom bid Jesus: “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U my gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees” (Joh 17:11). Die eenheid van die kerk lê dus buite haarself in haar oorsprong in een Here, een God en Vader, en een Gees wat van die kerk een liggaam met een doop, een hoop en een geloof maak (Ef 4:4-6).

1.2 Hierdie eenheid is van die vroegste tyd af op verskillende maniere bedreig en selfs opgehef.

1.2.1 Binne die grense van een gemeente is daar twisvrae , faksies , stryd om leraars, onverdraag­saamheid en ander onenighede soos in briewe van Paulus aan Korinthe, Galasiërs en Filippense vertel.

1.2.2 Binne die verband van kerke kan onenigheid ontstaan oor teologiese vrae waaroor daar nie eenstemmigheid bereik kan word nie. Die Apostelkonvent in Jerusalem (Hand 15) oor die wet en besnydenis is voorbeeld van ‘n stryd­gesprek binne die verband van die vroegste ge­meentes. Dit is in die eerste vyf eeue na Christus opgevolg met vrae oor die Triniteit en Christus se twee nature.  Tydens ekumeniese konsilies (sinodes) is geloofsbeslissings gevel wat onder andere neerslag gevind het in credo’s soos Nicea en Athanasius.

1.2.3 Die totstandkoming van parallelle konfessionele tradisies het die een kerk van Christus verder verdeel. Die skeuring van een kerk tussen Oos en Wes in 1054 en binne die Westerse Katolieke kerk in 1521 met die Reformasie, is opgevolg met ‘n tallose verdere verdeeldheid wat in die Pinkster- en Onafhanklike kerke hul uiterste punt berei het.

1.2.4 Selfs binne een konfessionele verband het verskeurdheid tot stand gekom. Dink maar aan die tallose skeuringe onder Nederlandse Gereformeerde kerke sedert 1834 wat na die verdeeldheid tussen Gereformeerd, Hervormd en NG Kerke onderskeidelik in SA oorgedra is. Ons eie geskiedenis spreek daarvan: die driedubbele afstigting van die NG Sendingkerk in 1881, NGKA in 1911, RCA in 1968, asook die wegbreking van die APK in 1986, is voorbeelde hiervan.

1.3 Vanuit hierdie identiteitsmerk as een kerk, het die sinode die volgende roeping:

1.3.1 Die sinode skep fasiliteringsmeganismes om gemeentes en ringe te ondersteun sodat die eenheidsverhouding binne gemeentes en ringsverband versterk word.

1.3.2 Die sinode steun inisiatiewe op plaaslike vlak om gestalte te gee aan eenheid binne die NGK familie.

1.3.3 Die sinode neem aktief leiding om die eenheid binne die NGK familie in sinodale en breër sinodale verband te bevorder.

1.3.4 Die sinode steun inisiatiewe op plaaslike vlak en neem aktief leiding om ekumeniese betrekkinge met ander Christelike kerke buite die NGK familie te vestig en uit te bou.

2. Ons glo aan ‘n heilige kerk

2.1 Die heiligheid van die kerk is ‘n toegerekende heiligheid aangesien Christus Jesus vir ons die heiliging geword het (1 Kor 1:2, 30). Ons is vanweë ons geloof deur Christus en die Heilige Gees geheilig (1 Kor 6:11) en staan vanweë Christus se verdienste volmaak voor God ons Vader.

2.2 Hierdie heiligheid is terselfdertyd ‘n roeping om te leef volgens ons status: “Wees heilig, want Ek is heilig”, roep God tot sy volk in Israel en die Nuwe Testament. Ons moet in ons hele lewenswandel geheilig wees soos Hy wat ons geroep het heilig is (Lev 11:44; 1 Pet 1:15).

2.3 Die riglyn vir ‘n heilige lewe is die wet van die Here. Dit begin met gebed as vernaamste deel van ons dankbaarheid (HK vr 116) en staan op die vervulling van die wet in Christus sonder dat een jota of tittel daarvan verbygaan. “Geliefdes, dis nie ‘n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe nie, maar ‘n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.” (1 Joh 2:6, 7; 3:24).

2.4 Die stryd om heiligheid omvat die Christen se hele lewe – woord, gedagte en daad – en hou die visie van God se heilige ryk in die ganse kosmos vas (kyk Jes 11:1-9; Ps 24). God het alles – konings, heersers, maghebbers, gesagsvoerders – vir Christus geskep; die hele wêreld met Homself versoen, en Christus die eerste plek in die heelal laat inneem (Kol 1:15-20). Daar is dus geen lewensfeer uitgesluit van die roeping om ‘n heilige kerk te wees nie.

2.5 Die stryd om heiligheid is egter ook na binne. Die gemeenskap van heiliges (communio sanctorum) is terselfdertyd die gemeenskap van sondaars (communio peccatorum). Dieselfde Gees wat ons van sonde en vergifnis oortuig, is die een wat ons gedrag bepaal om onberispelik te lewe en die vrug van die Gees te dra. ‘n Heilige kerk is dus ‘n nederige kerk en verstaan dat sonde ook institusioneel in doen en late gestalte vind. ‘n Heilige kerk is egter ook ‘n vreugdevolle kerk, omdat God getrou en regverdig is om ons van al ons sonde te vergewe en selfs aan ons oortredinge nie meer dink nie (1 Joh 1:9; Jer 31:31-34).

2.6 Vanuit hierdie identiteitsmerk as heilige kerk, het die sinode die volgende roeping:

2.6.1 Die sinode ondersteun die heiligheid “na binne” deur aan leiers uit gemeentes/ringe toerusting te verskaf om as volwasse Christene in vandag se wêreld te lewe.

2.6.2 Die sinode gee waar nodig leiding oor brandende vrae wat die leer en lewe van ons lidmate raak.

2.6.3 Die sinode speel ‘n rol om die openbare gesig van die NGK in die Oos-Kaap te vestig om o.a. saam met ander kerke die wil van die Here vir ons samelewing te verkondig en in toepaslike projekte uit te leef.

3. Ons glo aan ‘n algemene (katolieke) kerk

3.1 Die algemeenheid van die kerk verwoord dat die kerk die evangelie oor die hele wêreld heen dra (Hand 1:8; Matt 28:19) en vanuit Christus oor alle eeue heen bestaan en sal bestaan (Matt 28:20; Joh 10:28-30). Die kerk is ekstensief in tyd en ruimte, want Christus, die Hoof van die kerk, is ook Koning oor die ganse wêreld en “’n ewige Koning wat nooit sonder onderdane kan wees nie” (NGB art 27).

3.2 Terselfdertyd is elke plaaslike (lokale) gemeente volledig kerk in die volle sin van die woord soos tot uitdrukking kom in die merktekens van evangelie, sakramente en tug (NGB art 29). Die kerk is – paradoksaal gesproke – algemeen in haar lokaliteit.

3.3 Dit gee aanleiding tot ‘n groot verskeidenheid van kerk-wees, bv. liturgie, tradisie, credo en spiritualiteit waarin die katolieke kerk juis kreatiewe uitdrukking vind (vgl. briewe aan verskillende gemeentes in NT). Hierby is mans en vroue, kinders, jongmense, volwassenes en bejaardes as een Pinkstergemeenskap inbegrepe (Hand 2, 1 Kor 12-14).

3.4 Vanuit hierdie identiteitsmerk as algemene kerk, het die sinode die volgende roeping:

3.4.1 Die sinode is self uitdrukking van die ver­band tussen lokale kerke en bevorder deurentyd ons geloof in ‘n “algemene” kerk waarvan die NGK ‘n uitdrukking is.

3.4.2 Die sinode verseker gepaste verbands­reëlings op ringsvlak as uitdrukking van sowel die “plaaslike” as “algemene” kerk.

3.4.3 Die sinode beskou verskeidenheid in pas met plaaslike omstandighede as kreatiewe uit­drukkings van die Gees in die kerk, en gee leiding – waar nodig – oor gepaste uitdrukkings van ons gereformeerde tradisie.

3.4.4 Die sinode verseker dat die verkondigings­taak van die kerk “oor die hele wêreld” maksimaal bevorder word.

3.4.5 Die sinode neem inisiatief om bedieninge aan spesifieke teikengroepe (kinders, ouers, ens) te vestig waar dit nie binne kleiner verbande of op projekbasis opgeneem kan word nie.

4. Ons glo aan ‘n Christelike kerk

4.1. Die betekenis van ‘n “Christelike” kerk hang met Christus, die Gesalfde saam (HK, vr 31). Hy roep mense tot geloof en salf hulle in die tradisie van Israel as profeet, priester en koning (1 Pet 2:9).

4.2. As profetegemeenskap bely en verkondig die kerk (1 Joh 2:27); as priestergemeenskap dien die kerk deur lewende offers te bring (Rom 12:1-2; Heb 13); as koningsgemeenskap weerstaan die kerk versoekings, heers oor die sonde, en verwag die ewige heerskappy van Christus (2 Tim 2:12).

4.3. Waar profesie onder die “algemene” kerk en koningskap onder die “heilige” kerk kan tuiskom, val die klem op die Christelike kerk as offergemeenskap. Christus is ons enigste Hoëpriester en het eens en vir altyd die offer vir ons sonde gebring (Heb 10:11-14). Ons offers dra geen heilswaarde nie, maar is uitdrukkings van ons dankbare antwoord op die genade wat ons verniet ontvang het (Rom 12:1; Heb 13:16).

4.4. Die wesenlike van ons godsdiens is om onsself aan God en sy diens weg te gee (Rom 12:1). Ons geloof is ‘n offer in diens van God en ons lewens is drankoffers wat vir die evangelie uitgegiet word (Fil 2:17).

4.5. As priestergemeenskap is die Christelike kerk by uitnemendheid ‘n barmhartigheidsgemeen­skap. Ons word gekenmerk deur ons gasvryheid aan onbekendes (Heb 13:2); ons hart vir hulle wat gebrek ly (1 Joh 3:17); ons fokus op siekes, ge­vangenes, regsloses (Jak 1:27) en die wat deur die samelewing uitgestoot word (Heb 13:3). Ons het nie met lippetaal lief nie, maar met die daad omdat ons die genadejaar van die Here aan­kondig (1 Joh 3:18; Luk 4:19).

4.6 Vanuit hierdie identiteitsmerk as Christelike kerk, het die sinode die volgende roeping:

4.6.1 Die sinode het ‘n dure verantwoordelikheid om haarself nie ernstig te neem ter wille van haar eie status of behoud nie: as sinode van ‘n Christelike kerk, is die sinode (mense, strukture, infrastruktuur) radikaal in diens van haar samestellende gemeentes ter wille van die evangelie.

4.6.2 Die sinode tree so op dat die vermoë van gemeentes en ringe as barmhartigheids­gemeenskappe versterk word.

4.6.3 Die sinode is geroep om – waar omstandig­hede dit vereis – projekte aan te pak of bedieninge te vestig wat nie in kleiner verband kan tuiskom nie.

4.6.4 Die sinode soek aktief samewerking met ander Christelike kerke, NGO’s en die staat om te verseker dat die liefde van Jesus prakties aan mense bedien word.

5. Ons glo aan die gemeenskap van die heiliges

5.1. Dat die kerk ‘n “gemeenskap” is, stam uit die Ou Testament waar die volk van die Here ‘n innige verbondsgemeenskap vorm. Deur besnydenis word mense ingelyf by hierdie spesiale gemeenskap en deur die wet word ‘n leefstyl gekweek wat pas by die Here se mense (Gen 17, Ex 20): Hulle sien om na mekaar en het ‘n hart vir vreemdelinge, wese en weduwees. Daarom sing die Psalms van ‘n verlange om in die geloofsgemeenskap te leef (Ps 84); en word dood vereenselwig met diegene “buite gemeenskap”.

5.2. In die Nuwe Testament leef die vroegste gemeente in Jerusalem as besondere geloofs­gemeenskap (Hand 2): Hulle breek brood van huis tot huis, gee hul besittings vir mekaar, kom gereeld by die tempel bymekaar, loof en prys die Here, en sorg reeds vroeg vir die Grieks­sprekende weduwees (Hand 7).

5.3. Die beelde vir die gemeente spreek van hierdie innige verbondenheid: die kerk het baie lede, maar net een liggaam (1 Kor 12); daar is baie stene, maar net een gebou (1 Pet 2); daar is baie kinders, maar net een Vader in een huisgesin (Ef 4).

5.4. Deur die doop word ons ingelyf by hierdie nuwe verbondsgemeenskap waarvan Christus die Hoof is (Kol 2). En deur die nagmaal word ons telkens deur die een brood en een beker herinner aan ons verbintenis aan Christus en aan mekaar. Hier leef ons in liefde met mekaar met ‘n oog vir die nood van die wêreld (1 Joh 3).

5.5 Vanuit hierdie identiteitsmerk as gemeenskap van gelowiges, het die sinode die volgende roeping:

5.5.1 Die sinode neem oorhoofs verantwoordelik­heid om deur sy funksies die unieke veelheid van gemeentes met innige verbondenheid binne ons kerkverband saam te snoer, en om hierdie band te vier en te versterk.

5.5.2 Die sinode skep ‘n styl en atmosfeer waar elke gemeente besef dat hulle verplig is om hulle gawes gewillig en met vreugde tot nut en heil van ander gemeentes en die noodlydende wêreld aan te wend (HK. Vraag 55).

19.3  AANBEVELING:
Die sinode besin oor die wyse waarop haar teologiese visie prakties beliggaam kan word in ‘n tyd soos hierdie.

20.  ‘n Verbandskerk

20.1  Agtergrond

20.1.1  Vir Gereformeerdes is die plaaslike ge­meente volledig kerk, maar dan in verband met ander gemeentes. Geen plaaslike gemeente kan ooit die volheid van die kerk van Christus uitdruk nie, sodat verband altyd belangrik bly.

20.1.2  Hierdie oortuiging is daarvoor verant­woordelik dat die Gereformeerde tradisie beskryf word as een van die mees ekumeniese tradisies in die kerkgeskiedenis. Gereformeerdes weet dat ons slegs in betrekking met ander gemeentes, uiteindelik die volle omvang van die liggaam van Christus, volledig kerk kan wees.

20.1.3  Hierdie opvatting gaan terug op die Bybelse hantering van die begrip ekklesia (kerk) in die enkelvoud om ‘n gemeente op ‘n bepaalde plek (bv Jerusalem, Korinte, Antiogië) of in ‘n bepaalde streek, bv Judea of Samaria, aan te dui.

20.1.4  Kerke vind hul verband met mekaar dus in Christus. In die Nuwe Testament was die kerk nog in wording, sodat die struktuur in sy verbandsvorm nog onontwikkel was. Soos wat die kerk gevestig geraak het, word struktuur noodsaaklik. Die Bybel gee egter baie min leiding oor hoe die struktuur moet lyk.

20.1.5  Strukture moet gevolglik die missie van die kerk dien. Strukture bestaan nie ter wille van sigself nie, maar moet die kerk in staat stel om sy roeping uit te voer. Ons roeping is deelname aan God se missie / arbeid / sending in die wêreld. Die kerk moet altyd verseker dat strukture nie ‘n momentum van hul eie kry nie en Christus, sy regering en sy roeping verduister nie.

20.1.6  Deur die geskiedenis het die kerkverband in reformatoriese kerke ‘n sterk ondersteunende rol vir plaaslike gemeentes gespeel. ‘n Voorbeeld is die wyse waarop die klassis (ring) in die Neder­landse konteks gefunksioneer het, nadat Kerkorde-artikels by die sinode van Emden (1571) dit in die lewe geroep het:

Kandidate tot die bediening is geëksamineer, proefpreke is aangehoor en kandidate tot die bediening toegelaat. Die klassis het vier keer per jaar vergader, gemeentes besoek (persoonlike visitasie) en probleme hanteer. Die predikante van die klassis is in preekkringe ingedeel sodat die bediening in elke gemeente vlot kon verloop. Die klassis was die onmisbare verbandsliggaam waar die gemeente sy hulp gekry het. Die sinodes was bloot net vergaderings sonder ‘n voortgaande adres of kantoor. Die voortgang van die sinode na die vergadering het gekom toe daar klem geplaas is op die effektiwiteit van die kerk in die moderne samelewing. (Sakelys OK Sinode 2002 bl 23)

20.1.7  Gemeentes het behoefte aan die onder­steuning van die kerkverband in die uitvoering van hul roeping. Die struktuur waardeur die kerk­verband in die NG Kerk tot uitdrukking kom, is dié van Ring, Sinode en Algemene Sinode soos dit tydens die Hervorming ontwikkel het. (Lees gerus die volledige hoofstuk oor die kerkverband in die Sakelys van die Buitengewone Sinode Oos-Kaapland 2002 bl 22v.)

20.2  Ondersteunende rol

20.2.1  Dit is oorwegings soos hierdie wat die NG Kerk in Oos-Kaapland tot die formulering van die rol van die kerkverband gebring het, soos goedgekeur in 2002. Die Sinode funksioneer ter ondersteuning van die roeping van Ringe en Gemeentes. Die Ring begelei en rig die bediening in ‘n bepaalde area.

20.2.2  AANBEVELING
Die Sinode neem kennis.

21.  Sinodale funksies

21.1  Tydens die Buitengewone Sinode van 2002 is vier sinodale funksies goedgekeur. Hierdie funksies verteenwoordig die instrumente of modi waardeur die geloofsverbintenis uitgevoer word:

●  Visionêre leierskap

●  Begeleiding

●  Navorsing

●  Bestuur

21.2  Die vier sinodale funksies, verbind aan die vyf aspekte van ons geloofsverbintenis, vorm die oriënteringspunte aan die hand waarvan hierdie verslag saamgestel is.

21.3  AANBEVELING
Die vergadering neem kennis
.

22.  Missionale vertrekpunte

22.1  Reeds sedert 2003 het die sinodale verband in Oos-Kaapland gekies om missionaal te wees. Hierdie beweging het van grondvlak regdeur die kerk gegroei. Die Algemene Sinode het in 2013 formeel ‘n missionale uitgangspunt gekies het.

22.2  Die raamwerkdokument of verslag wat die missionale identiteit van die NG Kerk bevestig (AS 2013) is beskikbaar op die Sinode se webblad by https://ngkok.co.za/as2013/missie-verslag.pdf.

22.3  AANBEVELING:

Die Sinode hou die missionale identiteit van die kerk in gedagte by gesprekvoering en besluite.

23.  Sinodale ritme

23.1  Ten einde uitvoering aan al die vaste oriënteringspunte te gee, is ‘n bepaalde sinodale ritme geformuleer wat verseker dat die kerkverband jaarliks deur ‘n sinvolle proses van geloofsonderskeiding gaan.

23.2  Aan die begin van elke kalenderjaar doen die SK-Dagbestuur strategies-teologiese beplanning.  Die inhoud van die padberade word onder andere hieruit geformuleer.

23.3  Wat ringe betref, aktiveer die padberade die jaarlikse ritme van geloofsonderskeiding.  Reeds daar word besin oor die omgewing en oor wat die Here deur die ring en gemeentes wil doen.

23.4  Teen die tyd van die ringsvergaderings het die gesprek uitgeloop op praktiese projekte om uitvoering aan die Here se roeping te gee.

23.5  Hoewel wonderlike aksies – getrou aan ons geloofsverbintenis – reeds uit die prosesse van onderskeiding en ringsprojekte voortgespruit het, is daar steeds ‘n behoefte aan die voortdurende verduideliking en inoefening van geloofsonder­skeiding.

23.6  Die meeste ringe het wegbeweeg van ‘n geformaliseerde styl van vergadering, waar bloot verslag oor die afgelope jaar ontvang word.

23.7  Ons gebed is derhalwe dat ons kapasiteit om saam te droom, te bid, en te wag op die verassende inisiatiewe wat die Gees in ons skep, sal toeneem – met liefde in begrip en fyn aanvoeling vir waarop dit werklik aankom.

23.8  AANBEVELING:

Ringe streef voortdurend om sinvolle geleenthede en praktyke te ontwikkel om vergaderings ‘n kerklike karakter te gee en geloofsonderskeiding aan te help.

Met seënbede,

Ds Japer Louw (voorsitter)
Ds Danie Mouton (skriba)
Lede van die Sinodale Kommissie

Terug na INHOUDSOPGAWE

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.