A4 Begeleiding (Sakelys Sinode 2021)

1.  Inleiding

1.1  Begeleiding is een van die vier sinodale funksies:

  • Visionêre leiding
  • Begeleiding
  • Navorsing
  • Strategiese bestuur.

1.2  Hierdie verslag gee ‘n oorsig oor die wyse waarop die sinode in die reses aandag gegee het aan die begeleidingsfunksie.

inperking

2.  Covid-19 en begeleiding

2.1  Sedert Maart 2020 met die eerste inperking het Covid-19 ‘n ingrypende impak op die bediening in gemeentes, ringe en in die sinodale gebied gehad. Aan die een kant is bediening innoverend gedigitaliseer, maar veral wat die emosionele en psigiese welsyn van leraars en lidmate het Covid-19 ‘n groot tol geëis.

2.2  Ons is dankbaar vir die mooi verhale van onderlinge sorg en steun wat tydens ons virtuele padberade in 2019 en 2020 vertel is. Ons bly ook bid vir ons geestelike leiers op alle gebiede.

2.3  Covid-19 het ook lewensverlies veroorsaak. Ds Marius Lourens van Vanstadensrivier-gemeente en me Augusta de Jager, eggenote van ds Strauss de Jager van Albanie-gemeente te Grahamstad, is tydens die tweede vlaag aan Covid-19 oorlede. Baie ander families het geliefdes aan die dood afgestaan, of worstel met die herstelproses na Covid-19.

2.4  Feitlik alle gemeentes het in die Covid-tyd hul barmhartigheidsbediening versterk en ook uitgereik na die armstes van die armes wat veral swaar getref is. Lidmate en ander lede van die gemeenskap het werk verloor, of inkomste het in die slag gebly.

2.5  Kommunikasie oor inperking was ‘n groot prioriteit. Gemeentes is met tye weerhou van die hou van eredienste en ander geestelike byeenkomste. By die verslapping van inperkingsmaatreëls is spesifieke veiligheidsprotokolle voorgeskryf. Die sinodale kantoor het konsekwent moeite gedoen om die regulasies, maatreëls en protokolle te kommunikeer en te interpreteer. Dit geld ook kommunikasie oor die TERS-reëlings van die Departement van Arbeid. Hierdie Covid-inligting is aanlyn beskikbaar by https://ngkok.co.za/covid-19/.

2.6  AANBEVELING

2.6.1  Die Sinode betuig innige simpatie met die families wat geliefdes weens Covid-19 aan die dood afgestaan het.

2.6.2  Die Sinode bedank leraars, kerkraadslede en lidmate wat by versorgende en vertroostende bedieninge betrokke gebly het ten spyte van die eise van Covid-19.

VOORTGESETTE BEDIEnINGSONTWIKKELING

3.  VBO-geleenthede in Oos-Kaapland

3.1  VBO-geleenthede: In die periode 2017 tot 2020 is 36 VBO-geleenthede in ons sinodale gebied deur die Sinode of in vennootskap met die Sinode aangebied. Naas hierdie aanbiedinge het verskeie ringe ook eie VBO-geleenthede soos retraites, boekbesprekings en werkswinkels aangebied.

3.2  Deelname aan VBO-geleenthede is baie goed gevestig in Oos-Kaapland. Benewens interne VBO-geleenthede het verskeie leraars ook van ander diensverskaffers (soos in Bloemfontein, Pretoria en Stellenbosch) gebruikgemaak. Dit word aangemoedig.

3.3  VBO behoort ‘n permanente item op die sakelys van kerkrade en ringe te wees. Waar kerkrade finansiële uitdagings ervaar, kan ringe leraars bystaan om sinvolle VBO by te woon.

3.4  Aanlyn-VBO: Covid-19 het uiteraard ‘n enorme impak op in-persoon VBO-geleenthede gehad. Dit kon prakties gesproke nie plaasvind nie. In die lig hiervan het die VBO-forum (‘n vennootskap bestaande uit die tien sinodes, tesame met Communitas en Excelsus) begin om VBO aanlyn aan te bied. Dit was ‘n enorme sukses. Die effek is dat VBO skielik baie goedkoper geword het, veral vir leraars in gebiede verder van sinodale sentra verwyder.

3.5  Registrasie vir VBO-krediete

3.5.1  Vir die periode 2009 tot 2019 het die Sinode Oos-Kaapland ‘n eie VBO-register in stand gehou. Hierdie register is aanlyn beskikbaar by https://ngkok.co.za/vbo-register/. Die motivering was die hoë koste verbonde aan die registrasie van VBO-krediete op die stelsel van CPD-Solutions. Hier moes predikante voorts self hul punte registreer, waarby skaars 50% uitgekom het. Die stelsel was dus oneffektief.

3.5.2  Sedert 2019 het die NG Kerk ‘n eie databasis vir die registrasie van VBO-krediete geskep. Sinode Oos-Kaapland skakel nou ook by hierdie stelsel in. Die sinodale kantoor registreer steeds krediete vir deelnemers wat aan Oos-Kaaplandse VBO-geleenthede deelneem, en ander diensverskaffers die VBO-krediete waarvoor hulle verantwoordelik is.

3.5.3 Handleiding vir registrasie: Leraars kan hul VBO-krediete besigtig by https://ngkerkdata.co.za/punte en registreer by https://ngkerkdata.co.za/profiel. ‘n Handleiding vir registrasie en besigtiging is op die Sinode se webblad beskikbaar – besoek https://ngkok.co.za/vbo/handleiding-ngkdata.pdf.

3.6  Jong predikante gedurende die eerste drie jaar van hul bediening

3.6.1  Jong leraars moet in die eerste drie jaar van hul bediening bykomende VBO-geleenthede bywoon. Die meeste studente skakel in by die VBO-programme van die sentra waar hulle hul teologiese opleiding voltooi het.

3.6.2  Sinode Oos-Kaapland beveel veral die opleiding van Excelsus aan, aangesien dit grootliks oorvleuel met ander sentra, maar veral omdat dit volledig aanlyn aangebied word. Hierdie geleenthede word konsekwent in Grens.Pos bekendgestel.

3.7  AANBEVELING

3.7.1  Die Sinode bedank kerkrade wat dit vir leraars moontlik maak om vakkundig by te bly met ontwikkelinge in die bediening.

3.7.2  Die Sinode moedig ringe aan om steeds VBO-geleenthede in eie konteks te skep.

VERSLAG: NETWERK VIR PREDIKANTE-BEGELEIDING

4.  Inleiding

4.1  Die netwerk vergader sedert 2010 en bestaan uit ‘n groep leraars wat die saak van predi­kante-begeleiding op die hart dra. Uit elke ring is daar een dominee, iemand wat graag aan die proses wil deelneem, en wat die belange van predikante-begeleiding in die ring verteenwoordig.

4.2  Die Netwerk het in die reses bestaan uit:

Ds Egbert Steyn – Ring van Albanie

Ds Armand Crous – Ring van Algoa

Ds Johan Esterhuysen – Ring van Burgersdorp

Ds Marius Barnard – Ring van Cradock

Ds Conrad Thomas – Ring van Dordrecht

Ds Kobus Eksteen – Ring van Graaff-Reinet

Ds Kobus Stapelberg – Ring van Humansdorp

Ds Nico Bezuidenhout – Ring van Oos-Londen

Dr Carel van der Merwe – Ring van PE

Ds Rudi van Tonder – Ring van PE-Wes

Ds Deon Strydom – Ring van Queenstown / Mentorskap

Ds André Lötter – Ring van Sondagsrivier

Ds Tobie van Schoor – Ring van Uitenhage

4.3  Ds Esterhuysen het ds Christo du Plessis vervang wat ‘n aanstelling as hoof van Huis Van der Horst op Aliwal-Noord aanvaar het, ds Marius Barnard het in die plek van ds Attie van Wyk gekom, wat ‘n beroep na Skotland aanvaar het. Ds Kobus Eksteen het ds Jaco van Eyssen vervang wat ‘n beroep na Edenburg aanvaar het, en ds Kobus Stapelberg het dr Willie de Koker vervang wat geëmeriteer het. Dr Carel van der Merwe het ds Rethie van Niekerk vervang. Die Ring van Queenstown het in 2018 ontbind, maar ds Deon Strydom het as lid voortgegaan in sy rol as koördineerder van die mentorskap-program. Na afloop van hierdie sinodale vergadering neem ds Rikus Botha oor by ds Armand Crous as verteenwoordiger by die Ring van Algoa.

4.4  Die netwerk het vier jaarvergaderings in die reses gehou.

5.  Fokus van die netwerk

5.1  Die lede van die begeleidingsnetwerk probeer om ‘n meer intensionele rol as predikante-begeleiers in ringsverband te speel. Hulle:

  • Help ringskommissies om ‘n kultuur van en sisteem vir predikante-ondersteuning te skep, o.a. deur kuiergeleenthede, saamrygroepe, ens.
  • Help ringskommissies om predikante bewus te maak van hulle eie verantwoordelikheid in persoonlike groei (VBO en mentorskap), spiritualiteit (geestelike begeleiding) en betrokkenheid in ‘n ondersteuningsisteem.
  • Help ringskommissies om dit vir predikante finansieel moontlik te maak om deel te neem aan VBO en ander groeigeleenthede.
  • Doen moeite om (veral) jong predikante in te skakel by ‘n mentorskap-program.
  • Doen moeite om kerkrade te oorreed om saam met nuwe dominees in die rings­gemeentes deel te neem aan ‘n induksie­program.
  • Moedig dominees van die ring aan om hulle verlof volgens die bepalings van die Kerkorde te neem.
  • Versoek Ringskommissies om ‘n kontrolelys as ‘n stel “huisreëls” op te stel as hulp vir kerkrade om aandag te gee aan die versorging van leraars, induksie en mentorskap, asook ander sake uit die A tot Z-Handleiding.

5.2  Die begeleidingsnetwerk verstaan onder die woord “predikante-begeleiding” baie meer as net “versorging”. Die predikant se hooftaak in die gemeente is om die gemeente missionaal te lei. Dit staan reg teenoor die konsep van ‘n “instand­houdingsgemeente” wat voorheen in ons kerk geheers het. Die netwerk wil dit vir die dominees in ons sinodale gebied moontlik maak om missionale leiers te wees.

5.3  AANBEVELING

Ringe en ringskommissies neem kennis van die rol wat die begeleidingsnetwerk in ringsverband kan speel en skep vir hulle ruimte om dit te kan doen.

6.  Versorging en ondersteuning van leraars

6.1  Die Netwerk het deurgaans vanuit die praktyk van leraars se bediening oor begeleiding bly dink.

6.2  Daar is verskeie rolspelers wanneer die versorging van leraars ter sprake kom. Die sinode, ringe en kerkrade het elkeen ‘n eiesoortige belangrike funksie te vervul om by te dra dat ons dominees bedieningsvreugde het (vgl. A tot Z-Handleiding se subtitel), maar die hoofrolspeler is die dominee self. As die dominee nie besluit “Ek wil versorg leef, en ek het die kerk (of ander bekwame mense) nodig om my te help versorg” nie, kan dit nie gebeur nie (A tot Z-Handleiding par 8.2).

6.3  Die netwerk het die volgende geloofs­gewoontes geïdentifiseer wat ‘n dominee kan help tot doelgerigte selfsorg:

  • Mentorskap: Hieroor meer later in die verslag.
  • Geestelike begeleiding: Ds Deon Loots bied uitstekende opleiding in geestelike begelei­ding aan vir predikante en lidmate. Opgeleides kan self as geestelike begeleiers optree, maar hulle word aange­moedig om eers self ‘n geestelike begeleier op gereelde basis te besoek. Uiteindelik droom ons dat elke dominee in die sinode ‘n geestelike begeleier het.
  • VBO: Dit gaan goed met die VBO “beweging” in die Oos Kaap, soos ons elders in hierdie verslag berig. Ringe neem verantwoordelikheid vir VBO, die Sinode self ook, terwyl die 4e industriële revolusie (digitalisering) VBO nou tot by elke leraar gebring het. Meer en meer dominees doen VBO om die regte rede: om prakties verder toegerus te word vir hulle gemeentewerk.
  • Geloofsvorming: Dominees se geloofslewens moet verdiep en al meer na die beeld van Christus gevorm word. Dit gebeur in geeste­like begeleiding, maar dit word aangevul deur by klein groepe in te skakel wat gereeld as ‘n geloofsnetwerk bymekaar kom. Verkieslik moet die dominee nie as groepleier optree nie.

6.4  In ons gesprekke met dominees het ons gevind dat hulle oor die algemeen goed bewus is van hierdie geloofsgewoontes, maar dat hulle programme so oorlaai is dat hulle dit onbedoeld afskeep. Onder die tema “Mentorskap” hieronder praat ons weer daaroor, maar dit is goed om hier te sê dat dominees werklik hulp nodig het hier­mee. ‘n Simpatieke persoon wat op ‘n sensitiewe manier die dominee kan aanmoedig, op so ‘n manier dat die dominee bereid is om teenoor daardie persoon verantwoordbaarheid te aanvaar, kan help. So ‘n persoon kan deur die kerkraad of ring as ‘n “versorger van predikante” aangewys word. Dit kan egter ook die mentor of geestelike begeleier wees, wat met die dominee se toestemming die kerkraad of ring inlig oor die mate waarin die dominee versorg is.

6.5  AANBEVELINGS

Die Sinode moedig leraars aan om verantwoordelikheid vir selfsorg te aanvaar.

7.  Predikanteversorgingskommissie en diensverhoudinge

7.1  Volgens die A tot Z-Handleiding wys elke kerkraad ‘n predikanteversorgingskommissie (PVK) aan wie se doelbewuste taak dit is om die predikant emosioneel-geestelik te help versorg. Die PVK is nie die diensverhoudinge kommissie (DVK) nie, maar die werk kan as onderdeel van die effektiewe bestuur van diensverhoudinge gesien word. Volledige riglyne oor DVK’s is beskikbaar in die Algemene Sinode se “Bestuursgids vir Diensverhoudinge”, beskikbaar op die Sinode se webblad (www.ngkok.co.za > ADMIN > Admin vir kerkkantore).

7.2  Die bediening is veeleisende werk en kan groot uitdagings aan ‘n predikant en sy/haar gesin stel. Wanneer die regte, vaardige persone (wat absolute vertroulikheid kan handhaaf) by predikanteversorging betrokke is, maak dit ‘n groot verskil. Leraars moet toegelaat word om ‘n keuse t.o.v. hierdie persone uit te oefen.

7.3Toerusting vir DVK’s: In opdrag van die vorige sinode het die Begeleidingsnetwerk ‘n pakket vir Diensverhoudingekommissies saamgestel wat op die Sinode se webblad gepubliseer is: https://ngkok.co.za/help/h-DVK.pdf. Dit is in Grens.Pos bekendgestel. Elke kerkraad en DVK moet hiervan kennis neem.

7.4  Dit is belangrik dat diensverhoudinge bestuur moet word op ‘n wyse wat by die identiteit en roeping van die kerk pas. Dit moet ook toepaslik wees ten opsigte van die aard van ‘n predikant se werk (vergelyk Artikel 9 van die kerkorde). Dit gebeur te dikwels dat leraars as werkers langs ‘n produksielyn gesien word, sodat slegs besoeke getel word. Soms word opkoms en getalle getel en die leraars op grond van statistiek beoordeel. Hierdie soort benadering veroorsaak dikwels groot ellende. Voorbereiding, gebed, die bestuur van die emosionele landskap in die gemeente, gehalte van selfsorg, ontwikkeling van die predikant in sy/haar rol as pastor, e.s.m. moet verreken word.

7.5  AANBEVELINGS

Gemeentes maak erns met predikante-versorging en die bestuur van diensverhoudinge.

8.  Ringe as versorgingseenhede

8.1  Binne die Oos-Kaaplandse kerkverband is ringe die belangrikste verbandsliggaam wanneer dit by die versorging van predikante kom.

8.2  Formele rol: By die versorging van predikante het ringe die volgende formele rol:

8.2.1  Begelei die gemeente tydens die vakature wat ontstaan wanneer ‘n leraar vertrek

8.2.2  Begelei die gemeente in die beroepingsproses – ‘n ringsleraar moet deel van die Pre-Advieskommissie wees wat die gemeente begelei om die posbekendstelling, posprofiel en evaluering van kandidate glad te laat verloop. Die beroeping van ‘n nuwe leraar wat pas by die gemeente en rol is een van die belangrikste take van ‘n kerkraad, en die ring moet hierin ‘n wesenlike ondersteuningsrol speel

8.2.3  Verseker by die uitbring van die beroep en kontraktering dat alles korrek verloop en dat die voorskrifte, prosesse en vergoedingsriglyne gevolg word

8.2.4  Help die gemeente om die nuwe leraar en sy gesin te ontvang – ‘n goeie induksieproses behoort gevolg te word

8.2.5  Indien die verhouding tussen leraar en gemeente of kerkraad onder druk kom, moet die ring die gemeente en leraar begelei en ondersteun

8.2.6  Die ring begelei kerkrade deurentyd om kerkordelike vereistes na te kom

8.2.7  Ringe moedig leraars aan om van mentors en geestelike begeleiers gebruik te maak

8.2.8  Die ring bied VBO’s aan, pasgemaak vir plaaslike behoeftes, en leraars vorm saam ‘n leergemeenskap

8.2.9  Waar verhoudinge tussen leraar en gemeente verbrokkel, kan die ring help met aansoeke of om standplaasverwisseling te fasiliteer

8.2.10  Beplan ringsprojekte en verkry fondse vir bedieninge en geleenthede wat die ring saambind.

8.3  Die meer informele rol van ringe sluit in:

8.3.1  Begelei gemeentes op ‘n meer informele vlak om hul leraars toepaslik by te staan en te versorg

8.3.2  Leraars in die ring groei saam tot ‘n vriendekring wat saamkuier en tyd met mekaar deurbring om vertrouensverhoudinge te vorm

8.3.3  Dink saam oor bedieningsuitdagings en leer by mekaar

8.3.4  Bid saam en doen saam Bybelstudie, sonder dat enige besluite geneem hoef te word (ringe moet daarteen waak om bloot in formele vergaderingsgeleenthede saam te kom waar ringe besluite moet neem

8.3.5  Wys twee-twee of drie-drie predikante aan mekaar toe om vir mekaar te bid en mekaar te ondersteun

8.3.6  In oop, kollegiale verhoudinge word dit moontlik om uitbranding en bedieningsuitputting by mekaar raak te sien en saam na oplossings te soek.

9.  Leraars: Sekulêre werkgewer-werknemer verhouding of ‘n Bybelse verstaan van bediening deur die ampte?

9.1  Tydens die 2016-sinode is B-Net versoek om navorsing te doen of daar ander moontlikhede is vir die werkgewer-werknemer verhouding waarin die predikantsamp in die NG Kerk gegiet word.

9.2  Die besluit van die Sinode lui:

Met inagneming van die eiesoortige roeping, verantwoordelikheid en taak van die leraar, tesame met die aard en karakter van die kerk as liggaam van Christus, te onderskei van enige sekulêre organisasie of maatskappy, versoek die Sinode die Netwerk vir Predikante-begeleiding (Navorsing) om ondersoek te doen rakende die rol wat die sekulêre model waarin korporatiewe beginsels wat die ooreenkoms tussen werkgewer en werknemer omskryf, en wat opgeneem is in die dienskontrakte tussen leraars en Kerkrade/gemeentes, speel om spanning by leraars en Kerkrade/gemeentes te veroorsaak.

Die Netwerk vir Predikante-begeleiding word versoek om na ‘n Bybels-gefundeerde formulering te kyk vir moontlike nuwe formulering vir ooreenkomste tussen leraars en Kerkrade/gemeentes.

9.3  Die jongste uitgawe van die Algemene Sinode se Bestuurshandleiding het reeds in 2010 verskyn. B-Net het hierdie besluit aan die Algemene Sinode se taakspan vir diensverhoudinge deurgegee en versoek dat kundiges hieraan aandag gee.

9.4  Die bestaande Bestuurshandleiding (2010) beklemteen reeds dat die werkgewer-werknemer verhouding op verantwoordelike wyse toegepas moet word, ooreenkomstig die Bybelse identiteit van die kerk. Die volgende staan op bladsy een van die handleiding:

Die Algemene Sinode het in die lig van nuwe arbeidswetgewing die Kerkorde hersien as deel van ‘n voortgaande proses om kerkvergaderinge en ampsdraers te help om op ‘n verantwoordelike en dinamiese wyse te funksioneer. Die nuwe arbeidswetgewing met ‘n klem op billikheid onderskryf die Skrifbeginsel dat gelowiges op ‘n regverdige wyse met mekaar in ‘n diensverhouding staan.

Die NG Kerk se benadering tot diensverhoudinge geskied vanuit ‘n kerklik-teologiese hoek. In die eerste plek word Skrif- en kerkregtelike beginsels gehandhaaf. Geoordeel aan die beginsels ten grondslag van die nuutste arbeidswetgewing word dit nie geag in stryd te wees met die Bybel en bestaande besluite wat by die Kerk as geloofsinstelling pas nie.

Die Kerkorde reflekteer reeds die feit dat die NG Kerk wetgewing met betrekking tot arbeidsverhoudinge in sy eie interne verhoudinge in berekening bring. Die formulering daarvan moet egter steeds kerklik van aard bly.

9.5  Daar is egter verhale en insidente oor die hantering van leraars deur kerkrade te boekstaaf wat daarop dui dat arbeidswetgewing op onverantwoordelike wyse teen leraars gebruik word, eerder as om die verhouding werkgewer-werknemer konstruktief te bevorder. Die volgende gevaarligte het uit B-Net se navorsing na vore gekom:

9.6  Gevaarligte

9.6.1  Eksterne faktore soos ontvolking, demografiese skuiwe en veroudering van lidmate plaas finansiële druk op die gemeentesisteem. Hierdie druk word dan op die leiers, en spesifiek die leraar, geprojekteer. Eerder as dat die hele sisteem verantwoordelikheid vir die onderskeiding van die weg vorentoe neem word die leraar gekritiseer, bevraagteken en gepenaliseer.

9.6.2  Die werklike aard van die predikantamp word nie in die hantering van diensverhoudinge verreken nie. Dit lyk asof sommige kommissies vir diensverhoudinge die predikant hanteer soos ondergeskiktes hanteer word in die primêre bedryf waaruit die lede kom (bv. soos werkers langs ‘n produksielyn in die vervaardigingsektor, soos plaaswerkers, soos junior werkers wat direkte supervisie nodig het).

9.6.3  Eensydige, beperkende en soms ontoepaslike prestasiekriteria word t.o.v. predikante se werk aangelê. Die predikant word bloot gemeet konkrete, kwantifiseerbare kriteria, soos die aantal besoeke, die getalle by eredienste of die kontant in die gemeente se bankrekening.

9.6.4  Volronde toepaslike evaluering deur kerkrade wat al die aspekte van bediening insluit, en direkte kommunikasie met die leraar, wat selfevaluering insluit, ontbreek dikwels.

9.6.5  Die gemeente word hanteer asof dit in wese ‘n besigheid is. Die predikant is dan die hoofbestuurder van ‘n besigheid. Hoe beter die besigheid presteer, hoe beter is die predikant. Daar is kerkrade wat leraars verlei deur bv. kommissie op inkomste van die gemeente te betaal. Dit het ‘n verwoestende impak op geestelike bediening en die vorming van dissipels.

9.6.6  Daar is ook verhale van leraars wat om meer as een rede sukkel om getrou hul werk te verrig. ‘n Leraar se gebrek aan toepaslike prestasie mag in sy of haar eie blindekol lê. Hier moet die hulp van die ring met behoorlike evaluering van leraars ingeroep word.

9.7  Missionale kapasiteite as grondslag vir evaluering

9.7.1  Elders in hierdie verslag word die bedieningskapasiteite waaroor ‘n leraar moet beskik, beskryf. B-Net stel voor dat hierdie kapasiteite gebruik moet word om die werk van ‘n leraar te beskryf en dan as basis vir evaluering dien. Dit is hier beskikbaar: https://ngkok.co.za/sinode2021/docs/kapasiteite.pdf.

9.7.2  Kerkrade moet deeglik kennis neem van die verantwoordelikhede van die gemeente en kerkraad soos beskryf in die voorgestelde beroepsbrief vir leraars (beskikbaar op Sinode Oos-Kaapland se webblad by www.ngkok.co.za > ADMIN > Admin vir kerkkantore). Indien hierdie houdings, gesindhede en dade vir versorging (beroepsbrief) gekombineer word met ‘n korrekte verstaan van die predikantsamp (missionale kapasiteite), en die ring betrek word by die hantering van leraars kan ons ver kom met die korrekte en konstruktiewe bestuur van die verhoudinge tussen gemeentes, kerkrade en leraars.

9.8  Grondslag vir nuwe ooreenkomste

9.8.1  Kerkrade moet seker maak dat die beskrywing van beide die kerkraad en leraar (soos verwoord in die voorgestelde beroepsbriewe en dienskontrakte – sien hierbo) uitgevoer word. Dit moet houdings, gesindhede en evaluerings bepaal.

9.8.2  As lede van kommissies vir diensverhoudinge moet geestelike volwasse persone wat ervaring het van die hantering van professionele persone aangestel word. Hierdie persone sal weet hoe om die personeel effektief en opbouend te bestuur.

9.9 AANBEVELING

9.9.1  Die Sinode neem kennis en verwys hierdie inligting aan kerkrade

9.9.2  Die sinodale kantoor sal die nuwe bestuurshandleiding, sodra dit verskyn, aan gemeentes deurgee.

10.  Mentorskap

10.1  Mentorskap is ‘n program wat regdeur die kerk sterk aangemoedig word. In ons sinode val dit onder die vleuels van Predikante Begeleiding. Hier in die Oos-Kaap het die verhaal in 2013 begin met die opleiding in Natal van 5 leraars (Riaan Steyn, Tobie van Schoor, Willie de Koker, Nico Bezuidenhout en Deon Strydom). Hierdie groepie het begin mentorskap geleenthede reël.

10.2  Sedert die laaste sinode is daar opleiding en afrondingsgeleenthede gehou in beide die ooste en weste van die Oos-Kaap.

10.3  Tans bestaan die span uit di Deon Strydom, Nico Bezuidenhout, Tobie van Schoor, Egbert Steyn en Rudi van Tonder.

10.4  Die mentorskap opleiding is natuurlik ook, soos so baie ander goed, “ge-covid”! Die opleidingspan het dus ‘n klompie video’s saamgestel en ‘n baie suksesvolle interaktiewe Zoom mentorskap inleiding virtueel aangebied. Daar word op die oomblik beplan om die inleiding uit te brei om soveel moontlik van die kursus virtueel te kan aanbied.

10.5  Die inhoud van die mentorskapkursus is as aanlyn VBO-geleentheid bekendgestel. Dit is hier beskikbaar: https://www.youtube.com/playlist?list=PL52bRXacoiBVrjhuJXZwoM7QviLwJnesy

10.6  Die mentorskapspan is oortuig van die waarde van die vaardighede wat aangeleer word in die opleiding. Dit help nie net in formele mentorsituasies nie, maar ook in normale interaksie byvoorbeeld van predikante met hulle gemeentelede.

10.7  Die volgende persone is geakkrediteerde mentors in die Oos-Kaap:

  • Bezuidenhout, ds Nico, Oos-Londen. Tel 043 721 0002, sel 082 490 8047, nico@sainet.co.za. Leraar, NG Moedergemeente, Oos-Londen
  • Bezuidenhout, me Tania, Oos-Londen. Tel 043 721 0002, sel 083 316 2337, ffa@sainet.co.za. Onderwyseres, Oos-Londen
  • De Koker, dr Willie, Jeffreysbaai. Tel 042 292 0333, sel 083 446 4809, sjef07@gmail.com. Emeritus leraar
  • Du Plessis, ds Christo, Aliwal-Noord. Sel 083 288 7008, smit72cs@gmail.com. Bestuurder, Aliwal-Noord aftreeoord
  • Jacobs (néé Els), ds Marike, Klerksdorp. Sel 072 379 6069, miexels@gmail.com. Leraar NG Klerksdorp-Doringkruin
  • Sieberhagen, me Marguerite, Oos-Londen. Sel 083 500 2472, margueritesieb@gmail.com. Jeugwerker, NG Moedergemeente Oos-Londen
  • Steyl, me Candy, Stutterheim. Tel 043 683 3052, sel 082 896 4267, candysteyl@telkomsa.net. Onderwyseres Stutterheim
  • Steyn, ds Egbert, Paterson. Sel 082 820 0929, steyn.2011@gmail.com. Leraar NG Paterson
  • Strydom, ds Deon, Stutterheim. Sel 082 923 9567, deonstr@gmail.com. Leraar NG Stutterheim
  • Van Schoor, ds Tobie, Uitenhage. Sel 079 877 8852, 2bvanschoor@gmail.com. Leraar NG Uitenhage-Noord
  • Van Tonder, ds Rudi, Sherwood. 083 255 2535, dsrudivt@gmail.com. Leraar Sherwood PE
  • Viviers, ds Lizette. Johannesburg. Sel 082 451 4049, lizetviviers@mweb.co.za. Beroepafwagtende leraar

10.8  Die opgedateerde lys mentors is aanlyn beskikbaar by https://ngkok.co.za/geakkrediteerde-mentors/.

BEGELEIDING VAN GEMEENTES

11.  Bedieningsvreugde en die welstand van gemeentes

11.1  Bedieningsvreugde sluit nie net leraars in nie, maar ook gemeenteleiers en lidmate. Is die gemeente ‘n ruimte waar gelowiges vervulling, sin en betekenis ervaar omdat hul hul gawes en roeping kan uitleef?

11.2  Begeleiding tot bedieningsvreugde sluit ook omsien na die welstand van gemeentes in. Welstand kan baie vorme aanneem, soos finansiële volhoubaarheid, goeie verhoudings, goeie leiding en bestuur in die gemeente, samehorigheid en betrokkenheid, ‘n gesonde Bybelse verstaan van die identiteit en roeping van die gemeente en ‘n gemeenskaplike fokus onder die formele en informele leierskap van die gemeente.

11.3  ‘n Wesenlike vraag is of die gemeente werklik gefokus is op die roeping wat die Here vir die gemeente het. Getrouheid aan die Evangelie van Jesus Christus soos die woord ons leer en God se roeping is wat gemeentes in die regte rigting stuur.

11.4  Die Covid-pandemie het ‘n enorme impak op die gesondheid van gemeentes. Dit sal inderdaad ontwrigting inhou en bring reeds groot onsekerheid. Dit is ook ‘n geleentheid om geestelik te groei.

11.5  Hierby kan ons nog die politieke en ekonomiese klimaat in ons land voeg, om nie te praat van toenemende ongeloof in die Weste en groeiende wantroue in groter strukture nie.

11.6  In hierdie paragraaf fokus ons op hulpbronne vir gemeentelike begeleiding.

12.  “In Pas”: Hulp aan leraars om gemeentes in veranderende tye te begelei

12.1  Agtergrond

12.1.1  IN PAS MET DIE LEWENDE GOD is ‘n wonderlike instrument wat deur ‘n taakspan in die NG Kerk ontwikkel is met die oog op die fasilitering van gemeentes na ‘n missionale bestaanswyse.

12.1.2  Fasilitering beteken dat IN Pas as bron riglyne vir die proses van missionale groei verskaf, maar dat elke spesifieke gemeente die inhoud verskaf deur God se roeping, gawes en weg vir die gemeente te ontdek.

12.1.3  ‘n Oos-Kaaplands IN PAS-fasiliteringspan is gevorm, bestaande uit Kobus Stapelberg (sameroeper), Carel van der Merwe, Deon Strydom, Kobus Eksteen en Danie Mouton. Hierdie is ‘n oop groep en meerdere belangstellendes is welkom.

12.1.4 Twee bekendstellingsgeleenthede vir IN Pas is in Oos-Kaapland gehou. Die insette is beskikbaar by https://youtu.be/T8cvsYXZiaY. IN PAS het ook ‘n eie webblad, wat hier beskikbaar is: https://www.inpas.co.za/.

12.1.5  Die handleiding kan hier afgelaai word: https://www.inpas.co.za/wp-content/uploads/2020/11/IN-PAS-DIGITAAL.pdf.

12.2  Inhoud van IN PAS

12.2.1  IN PAS bestaan uit:

  • 5 Ritmes, wat onderverdeel is in
  • 15 gewoontes, wat bestaan uit
  • 45 praktyke.

12.2.2  Die uitgangspunt is dus dat bedieningsvreugde en missionale groei gebore word uit wat ons doen: deur bepaalde geestelike en praktiese praktyke te beoefen, sodat dit gewoontes word, op ‘n manier wat saamhang met vyf ritmes waardeur ons gaan.

12.2.3  Let daarop dat die praktyke nie almal slaafs in volgorde gedoen hoef te word nie. Nie almal is ook nodig nie. Hier is die INHOUDSOPGAWE wat ‘n goeie oorsig oor die materiaal gee:

RITME I – ONTDEK EN VIER

Gewoonte 1 Sigbaar vier

Praktyk #1: Sigbare vieringe

Praktyk #2: Godstories

Praktyk #3: Daaglikse ondersoek

Gewoonte 2 Ontdek God se reis met ons

Praktyk #4: Ontwikkel ‘n verslag oor die gemeente se kultuur (leesverslag)

Praktyk #5: Ons onderskei ons patrone van gestuur-wees

Praktyk #6: Ons doen ‘n storiemuur

Gewoonte 3 Ontdek mede-reisgenote

Praktyk #7: Stel ‘n gemeentelike begeleidingspan saam

Praktyk #8: Vorm ‘n gemeente-netwerk (cluster)

RITME II – LUISTER EN ONDERSKEI

Trinitariese teologie en geloofsonderskeiding

Gewoonte 4 Word stil en ontvang God se teenwoordigheid

Praktyk #9: Stil word

Praktyk #10: Hou ‘n joernaal

Gewoonte 5 Lees die Woord luisterend

Praktyk #11: Wandel in die Woord

Praktyk #12: Lectio Divina

Gewoonte 6 Onderskei God se wil vir ons

Praktyk #13: Vra Godsvrae

Praktyk #14: Luister na die Gees

Praktyk #15: Vra Woordvrae

Praktyk #16: Voer ‘n “Egte Gesprek”

Praktyk #17: Die luistersiklus

RITME III – WAAG EN EKSPERIMENTEER

Gewoonte 7 Betree die vreemde

Praktyk #18: Beplan die eerste treë

Praktyk #19: Wandel in die wêreld (Son)

Praktyk #20: Verwelkom die vreemdeling (gasvryheid)

Praktyk #21: Stap ‘n pelgrimstog

Praktyk #22: Die luisterplons

Praktyk #23: Gebruik erediensreekse

Gewoonte 8 Bou vennootskappe

Praktyk #24: Vestig vennootskappe

Praktyk #25: Vorm bruggemeenskappe

Gewoonte 9 Eksperimenteer

Praktyk #26: ‘n Lae-risiko eksperiment

Praktyk #27: Die eksperimentele plons

RITME IV – VERHELDER EN FOKUS

Gewoonte 10 Ons kyk in die spieël

Praktyk #28: Waar op aarde is ons?

Praktyk #29: Vestig luistergeleenthede

Praktyk #30: Ons luister: Waarvoor roep God ons – hier en nou?

Praktyk #31: Die National Church Life Survey

Gewoonte 11 Ons leer ons gemeenskap ken

Praktyk #32: Ons luister wat in die gemeenskap aangaan

Praktyk #33: Ons kyk met nuwe oë na data oor die gemeenskap

Praktyk #34: Ons leer om na patrone te soek

Gewoonte 12 Onderskei roeping en fokus

Praktyk #35: Vind die fokus van ons roeping

RITME V – IMPLEMENTEER EN INOEFEN

Gewoonte 13 Leiers wat deur voorbeeld lei

Praktyk #36: Ontwikkel roepingsgesag

Praktyk #37: Aktiveer missionale intelligensie

Praktyk #38: Ontwikkel ‘n lewensritme (Regula)

Gewoonte 14 Skep konkrete aksies

Praktyk #39: Gee die eerste treë

Praktyk #40: Belyn die gemeentelike aktiwiteite

Praktyk #41: Die leierspanverbintenis

Praktyk #42: Hanteer polariteit en konflik

Gewoonte 15 Begeleiding

Praktyk #43: Ontwikkel geloofsgewoontes

Praktyk #44: Ontwikkel vaardighede

Praktyk #45: Ontwikkel nuwe oefeninge

12.2.4  Video

12.2.4.1  Soos voorheen gesê, is ‘n video met die Oos-Kaaplandse bekendstelling beskikbaar by https://www.youtube.com/watch?v=T8cvsYXZiaY.

12.2.5  Tabel

Meegaande tabel gee die ritmes en praktyke skematies weer:

13.  Lewenskragtige gemeentes word deur bemagtigde spanne bedien

13.1  Inleidend

13.1.1  Ons verskuif nou die aandag na bemagtigde leierskap as ‘n faset van die welstand van gemeentes.

13.1.2  Ons leef in ‘n tyd waar mense wil deelneem. Een van die onaantreklikste eienskappe van ‘n sosiale groepering is ‘n situasie waar slegs een persoon, of enkeles, toegelaat word of bemagtig is om mee te doen. “People moved from being an audience to being participants”, sê Thomas Friedman. Dit het met digitalisering te doen, want op die internet kan almal deelneem. In die vermaaklikheidswêreld sien ons hoe realiteit-TV-reeks steeds in gewildheid toeneem, ‘n verskynsel wat ook in die teater en ander kunsvorme gesien kan word.

13.1.3  ‘n Tradisionele gemeente waar slegs die dominee bedien, is nie langer lewensvatbaar nie. Waar hierdie “prentjie” van kerkwees domineer, taan gemeentes.

13.1.4  In dinamiese gemeentes hang daar nie langer foto’s van dominees in die konsistorie of raadsaal nie. Daar hang foto’s van spanne – bemagtigde spanne.

13.1.5  In die lig hiervan maak die ampsverbreding in die NG Kerk wat in 2019 deur die Algemene Sinode goedgekeur is ruimte vir gemeentes om lidmate teologies te laat oplei en deur bediening in die gemeente te vorm.

13.1.6  Die gedagte is dat daar naas “volle” leraars ook opgeleide “diensleraars” met toegespitste bediening en bedienaars (ouderlinge en diakens met toegespitse opleiding en bevoegdheid) in vennootskap met mekaar saam kan bedien.

13.2  Ampsverbreding: Nuwe vlakke van teologiese opleiding

13.2.1  Die Algemene Sinode het reeds in 2013 ‘n beleidstuk oor “bane” vir teologiese opleiding goedgekeur. In 2019 is die gewysig na “vlakke” van opleiding om aan te toon dat ontwikkeling, oorskuif of “artikulasie” van een baan na ‘n ander moontlik is. Hieronder word die vier bane aangedui. Ontwikkeling van vlak 1 (Bedienaars) tot vlak 4 is moontlik deur erkenning van voorafgaande leer. ‘n Ouderling wat ‘n bepaalde opleiding verwerf kan dus voortgaan en verder ontwikkel, deur tweede loopbaan onderrig en ontwikkeling tot by ‘n “volle” leraar.

13.3  Vlak 1: Bedienaars (ouderlinge en diakens met bevoegdheid)

13.3.1  Bedienaars is ouderlinge en diakens wat goedgekeurde bedieningsopleiding by die Hugenote Kollege in ‘n spesifieke bedieningsarea ontvang. Die kursus is nie-residensieel, duur een jaar en bestaan uit ‘n basiese inleiding tot bediening (teologie en ekklesiologie, d.w.s. Bybelse kerkverstaan of -begrip) asook toerusting t.o.v. die spesifieke bedieningsarea (lei van eredienste, of pastorale versorging of ander terreine). ‘n Leraar in die omgewing van die student word deur die Hugenote Kollege geakkrediteer en is by die opleiding betrokke.

13.3.2  Die Ring bevestig die bedienaars as ouderlinge en diakens tydens ‘n erediens en hulle word lede van die kerkraad, onderhewig aan ‘n termyn. Bedienaars verdien nie ‘n salaris nie – dit is nie ‘n besoldigde loopbaan nie. Honoraria en/of uitbetalings t.o.v. werklike koste word deur die kerkraad bepaal.

13.4  Vlak 2: Standplaasleraars met spesifieke bevoegdheid

13.4.1  Hierdie is leraars wat vir ‘n spesifieke konteks opgelei, bv. gehoorgestremde leraars of leraars vir inheemse gemeentes in Namibië. Hierdie leraars is nie vir ander kontekste beroepbaar nie. AS Reglement 19 (NGKOK Kerkorde 2020 is van toepassing).

13.5  Vlak 3: Diensleraars (hulpleraars)

13.5.1  Diensleraars is gelegitimeerde leraars met ‘n spesifieke opdrag ooreenkomstig die terrein van opleiding. Dit is dus ‘n toegespitste bediening. Dit behels terreine soos jeug en familie, pastorale versorging, diakonaat, aanbidding, kerkplanting en gemeenskapswerk. Diensleraars is soos gemeenteleraars beroepbaar in die verband, maar moet onder toesig van ‘n leraar werk. AS Reglement 19 (NGKOK Kerkorde 2020 is van toepassing).

13.5.2  Diensleraars word deur kerklik erkende opleiding opgelei en moet deur die kerkraad en ring vir opleiding goedgekeur word. Hierdie diensleraars meld by ‘n kuratorium aan en word vir legitimasie gekeur.

13.5.3  ‘n Gelegitimeerde diensleraar het proponentstatus en word ook bevestig. As proponente en bevestigde leraars kan diensleraars ook die sakramente bedien.

13.5.4  ‘n diensleraar moet oor ‘n B-graad beskik en ontvang aanvullende teologiese opleiding. Indien die B-graad ‘n teologiese graad is, varieer die bykomende teologiese opleiding. Voornemende diensleraars deurloop ook kerkeie opleiding.

13.5.5 Diensleraars dien op die kerkraad en staan onder die toesig van die ring. VBO is verpligtend.

13.6  Vlak 4: Leraars (tweede loopbaan met B-graad)

13.6.1  Hierdie opleiding is vir studente wat in ‘n beroep staan en oor ‘n B-graad beskik. Dit is persone wat tot die oortuiging gekom het dat die Here hulle roep vir die bediening as leraars. Na afloop van hul opleiding sou hulle as voltydse, deeltydse of tentmaker-leraars diens kon lewer.

13.6.2  Die opleiding is grootliks nie-residensieel en word aan die hand van erkenning van voorafgaande leer pasgemaak vir elke student. Die vereistes vir Grieks II en Hebreeus II geld. Die bedoeling is dat alle studente uittree uit die opleiding met gelykwaardige opleiding en kerklike ontwikkeling.

13.6.3  Keuring deur kerkraad, ring en uiteindelik kuratorium is van toepassing. ‘n Gemeentejaar word ook voltooi.

13.6.4  Die postestruktuur en diensverhoudinge is soos tans in die geval van leraars.

13.7  Vlak 4: Leraars (voltydse opleiding)

13.7.1  Die opleiding en vereistes is steeds soos tans die geval is.

13.8  Gevolgtrekking : die effek van ampsverbreding

13.8.1  Die opleiding van bedienaars, diensleraars en leraars (voltyds en tweede loopbaan) verbreed ons ampsopvatting, maar verbreed ook die leiding in gemeentes. Gemeentes kan meer effektief mobiliseer om die dienswerk te verrig waarvoor God ons geroep het – na binne en na buite.

13.8.2  Gemeentes is geroep om dissipels te maak, persone te nooi na geloof, ‘n verbintenis aan Jesus en om kinders, jongmense en volwassenes te vorm. Hierdie prosesse vind veel beter plaas wanneer spanne dit uitvoer.

13.8.3  Aangesien bedienaars nie besoldig word nie, behoort gemeentes ‘n onbeperkte aantal lidmate te laat oplei: van kerkraadslede, verby musiekbedieningspanne tot by katkisante – en dan nog verder.

13.9  AANBEVELING

Die Sinode voer gesprek oor die ontsluiting van groter bedieningskapasiteit deur die verbreding van die ampsbegrip.

14.  Teologiese opleiding gerig op spesifieke missionale bedieningskapasiteite (Bedienaars, Diensleraars en Leraars)

14.1  Die Algemene Kuratorium, wat oorhoofs verantwoordelik is vir teologiese opleiding in die NG Kerk, het die oogmerke van teologiese opleiding karteer. Alle teologiese opleiding het dus ten doel om die kapasiteite te vestig wat vervolgens beskryf word.

14.2  Hierdie kapasiteite word gekweek by Bedienaars, Diensleraars en Leraars – hoewel die vaardigheidsvlak wat bemeester moet word telkens meer word.

14.3  Die kategorieë van retoriese teologie (etos, logos en patos) word gevolg in die beskrywing van die missionale bedieningskapasiteite. Sommige het dus te doen met etos (‘n persoon van integriteit), logos (inhoud van ons geloof) en patos (omgee vir mense).

14.4 Grafika

Dit kan grafies as volg weergegee word:

14.5  Die volledige uiteensetting van hierdie kapasiteite is op ons webblad beskikbaar: https://ngkok.co.za/sinode2021/docs/kapasiteite.pdf.

14.6  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

15.  Faktore wat gemeentes laat struikel of floreer

15.1  Die Begeleidingsnetwerk het deur narratiewe terugvoer oor die welsyn van gemeentes ‘n aantal faktore wat beskryf wat gemeentes kniehalter versus ‘n aantal faktore wat gemeentes laat floreer. Hierdie faktore word in die verslag oor Navorsing beskryf.

15.2  AANBEVELING

Die vergadering neem kennis.

NETWERK VIR GETUIENIS: FOKUS ISLAM

16.  Doel van die Netwerk

16.1  Die Netwerk vir Getuienis teenoor Moslems is deur die Sinode in sitting tydens die 2012-vergadering in die lewe geroep in die lig van die groei van Islam in die Oos-Kaap. Dit wil die uitdra van die boodskap van verlossing aan Moslems bevorder en gemeentes en gemeenteleiers bemagtig om bogenoemde evangelisasie taak doeltreffend aan te pak deur Moslems in die gemeenskap met die evangelie te bereik. Verder wil dit ook kerke in Moslem lande bemoedig en vir hulle bid.

16.2  Baie gelowiges wat gereelde kontak met Moslems het, sal selde met hulle oor geloofskwessies praat. Dit is noodsaaklik dat gelowiges bande van vriendskap met Moslems bou, die vreemdeling verwelkom en tuis laat voel en nie skaam moet wees om oor hul geloof te praat nie. Dit is vir ‘n Moslem nie vreemd om oor geloof te praat nie en hulle sal nooit aanstoot neem as ‘n gesprek oor geloof vriendelik aangeknoop word nie.

16.3  Gemeentes en lidmate word uitgedaag om vindingryke maniere te soek om brûe te bou en om Moslems te leer ken as bure, kolegas en as medemense.

16.4  Daar is ‘n ongekende openheid onder Moslems vir die evangelie. Baie bevraagteken en verlaat hulle geloof vanweë die huidige gebeure, maar weet nie noodwendig van Jesus se verlossingswerk nie. Die boek  A wind in the House of Islam deur David Garrison vertel meer van hierdie aangrypende gebeure.

17.  Die lede van die Netwerk

17.1  Die lede van die Netwerk van Getuienis teenoor Moslems sedert die Oos-Kaap Sinode sitting van 2016 is die volgende:

Christo Stümke

Philip Kuhn

Komatie van Niekerk

Kobus Kok

Willem Schoeman (sameroeper)

Barbara-Mari Jacobs

Egbert Steyn

17.2  Persone betrokke by bediening aan Moslems, soos Alastair Jolley van Gqeberha, het ook op uitnodiging by die netwerk ingeskakel.

18.  Werksaamhede

18.1  Aanbied van die Any-3 kursus

18.1.1  Op 29 en 30 September 2017 is die Any-3 kursus by PE-Wes gemeente aangebied deur dr Mike Shipman. Hy is deur die ‘Southern Baptist’ kerk in Amerika uitgestuur om sendeling in Indonesië te wees. Hy het na baie jare van sendingwerk onder Moslems die kursus ontwikkel as ‘n gespreksriglyn om die evangelie met Moslems te deel.

18.2  Getuienis geleentheid

18.2.1  Op 22 September 2018 was ‘n getuienis geleentheid by die VGK kerk Ebenhaeser te Uitenhage aangebied. Prof Piet Meiring het as fasiliteerder opgetree. Bekeerde Moslems uit die VGK en URC kerk het geleentheid gekry om hulle getuienis te lewer. Daar is merkwaardige getuienisse gelewer waar Jesus aan ‘n vrou in ‘n droom verskyn het en sy toe tot bekering gekom het. Ook het Jesus aan ‘n Moslem man in die tronk verskyn en toe het hy sy lewe vir die Here Jesus gegee. Verder was daar ‘n pragtige getuienis van ‘n jong vrou wat tot bekering gekom het omdat die liefde wat sy tussen Christene gesien het, haar aangetrek het.

18.2.2  Daar was geleentheid vir bespreking. Van die kwessies wat bespreek was, is hoe om te bly bid vir een van jou familielede wat steeds Moslem is en hoe om na hulle uit te reik. Ook hoe om in die gemeente ‘n veilige ruimte te skep sodat Moslems die eredienste en kerkfunksies kan bywoon en daar Christus se liefde ervaar.

18.2.3  Prof Meiring se inset is as Bylaag 1 hieronder aangeheg.

18.3  Gebedsboekie tydens Ramadan

Gedurende Ramadan 2018 is ‘n gebedsboekie opgestel deur verskeie leraars van die NG Kerk in die Oos-Kaap wat gebedsversoeke deurgegee het rakende Moslems in hulle eie omgewing.

18.4  Kursus deur die Barnabas-Stigting

18.4.1  Een van die lede van die netwerk het ook ‘n driedaagse kursus oor Islam deur die wêreldbekende Islamkenner, dr Patrick Sookhdeo bygewoon.

19.  Aanbevelings

19.1  Die Sinode aanvaar die verslag van die Netwerk van Getuienis teenoor Moslems.

19.2  Die Sinode bespreek die kwessie van die groeiende teenwoordigheid van Islam in die Oos-Kaap en wat die kerk se reaksie daarop behoort te wees.

19.3  Die Sinode verkies ‘n Netwerk van Getuienis teenoor Moslems vir die volgende periode.

 

BYLAAG 1

Hoe praat ek met my bure wat nie Christene is nie?

Prof Piet Meiring

(Lesing gelewer by ‘n byeenkoms van die Netwerk vir Getuienis)

Suid-Afrika is ‘n land met baie mense – en met baie godsdienste. As jy deur ons dorpe en stede ry, sien jy nie net kerke nie, maar ook Moslem-moskees en Hindoe-tempels, Joodse sinagoges en Boeddhiste-sentrums. Die Christene is ver in die meerderheid, maar ons het baie bure wat anders glo, en wat ‘n groot rol in die samelewing speel. Ons kry elke dag met hulle te make. Ons doen saam besigheid. Ons ontspan saam. Ons kinders gaan saam skool.

Kan ons vir hulle van Jesus vertel?

Die groot vraag is: Kan ons met ons bure oor ons geloof praat? Ons praat maklik oor ons werk, oor wat in die koerant staan, wat op die sportveld gebeur, oor ons gesinne, oor die politiek. Maar kan ons met hulle oor Jesus Christus gesels? Kan ons Hom aan hulle voorstel?

Die antwoord is natuurlik “Ja!”. Ons kan dit nie net doen nie, dit word van ons verwag om getuies van Jesus se liefde te wees. Soos Jesus se dissipels, ontvang ons ook die opdrag om die goeie nuus van sy kruis en opstanding aan alle mense te verkondig. Hoe durf ons stilbly as ons so ‘n wonderlike geheim het om te deel?

Partykeer sal ons die kans kry – en dan moet ons dit gebruik – om met ons bure oor Jesus se liefde te praat. Wat egter net so belangrik is – partykeer nog belangriker – is dat ons deur ons gesindheid en dade die liefde van Jesus demonstreer en uitleef. Een liefdesdaad is ‘n duisend woorde werd! Wat jou Moslem- en Hindoe-kollega gaan oortuig, gaan nie soseer wees wat jy alles se nie, maar hoe jy optree, hoe jy in liefde na ander uitreik.

Reëls vir ‘n gesprek

Een van die opwindendste dinge wat met ‘n Christen kan gebeur, is dat daar so ‘n goeie verhouding tussen jou en jou buurman onstaan, dat hy (of sy) vir jou sê: “Ek kan sien dat jou geloof vir jou baie beteken. Vertel my daarvan”. Die inisiatief kan ook van jou kant kom, dat jy die gesprek aan die gang sit. Maar waaroor praat ‘n mens — en hoe praat jy? Die laaste ding wat jy wil doen is om ‘n twisgesprek aan die gang te sit, om op godsdienstige tone te trap. Ons wêreld het genoeg godsdiensoorloë – jy wil nie nog een begin nie!

Mense wat baie ervaring van intergodsdienstige gesprekke het, sê dat daar ‘n paar goue reëls is om te onthou:

  • Onthou dat ons medemense van mekaar is. Die gesprek is nie tussen godsdienste nie, nie tussen die Christendom en die Islam of die Hindoeïsme nie – die dialoog is tussen mense, Moslems en Hindoes en Christene. Ons is almal mense van vlees en bloed. Ons deel dieselfde wêreld, ons het met dieselfde vrae en vrese te make. Ons deel dieselfde bekommernisse en verwagtings. Ons wil almal saam die beste vir ons kinders en ons land hê. Dus, om een voorbeeld te noem, as jy met jou kollega gesels moet jy eers vergeet dat hy/sy ‘n Moslem is. Hy/sy is ‘n mens net soos jy! En dan, daarna, kan jy onthou dat hy of sy ‘n Moslem is — begin uitvra oor wat vir hulle en hul geloofsgenote so belangrik is.
  • Vermy karikature van mekaar. In ons gesprek moet ons uitgaan van wat die “beste” in die ander geloof is en nie die “slegste” nie. As Christene is ons dikwels geneig om die mooiste in ons geloof met wat ons meen die mees problematiese in die ander geloof is, te vergelyk. Dis nie billik nie – en dit help ook nie. Ons sal met groot belangstelling moet luister na wat hy/sy vertel van hulle geloof, wat hulle oortuig en inspireer – wat vir hulle so belangrik is dat hulle bereid is om daarvoor te lewe en, as dit nodig is, te sterf. Daarna sal jy ook die kans kry om dieselfde te doen, om met ewe groot erns te vertel wat jy glo en waarom jy so glo. As julle ‘n hele end op die pad gestap het en mekaar leer vertrou en respekteer het, sal die geleentheid ook kom om oor die groot verskille tussen julle te praat – maar dan sal julle gereed wees om dit met liefde en begrip te doen.
  • Onthou dat God deel van die gesprek is. Hy was eerste daar! Lank voordat jy besluit het om die gesprek te voer, het God alreeds besluit dat dit sal gebeur. Dis Hy wat jou geroep en voorberei het. Dis Hy wat jou gespreksgenoot na die tafel gelei het. Hy lei ons gedagtes. Hy gee, soos Jesus beloof het, vir ons die woorde wat ons nodig het. Dis wonderlik om te weet: die sukses van ons gesprek hang nie van my af nie, maar van die Here wat my begelei. Daar wag nie net vir my gespreksgenoot ‘n verrassing of twee nie, dit wag vir my ook!
  • Gaan sit waar jou gespreksgenoot sit! Toe die Here vir Esegiël as profeet na die ballinge in Babel gestuur het, het die Gees van God “hom laat sit waar die mense sit” (Eseg.3:15). Hy moes nie dadelik begin praat nie. Hy moes eers tussen die mense “gaan sit”. Hy moes hom met hulle identifiseer, hulle probleme leer verstaan, hulle lewe deel, regtig luister, voordat hy kon begin praat. Dis wat ons ook moet onthou. Die Here het ons toegerus vir ons taak deur vir ons twee ore te gee en net een mond! Om regtig te “gaan sit” is nie so maklik nie, Vra maar vir Paulus! Vir die Jode moes hy ‘n Jood word, vir die Grieke ‘n Griek, hy moes alles vir almal word – om sommige te kan red (1 Kor. 9:19vv). Om jouself prys te gee, om jou totaal en al met ander te identifiseer is baie moeilik. Maar dis die groot voorbeeld wat Christus self gestel het, toe Hy, God, ter wille van ons ‘n mens geword het (Fil. 2:2:5vv).
  • Verwag dat iets besonders gaan gebeur! As jy met iemand om die tafel gaan sit verwag jy dat iets gaan gebeur. Daar gaan gesels word, inligting gaan gedeel word. Ons gaan eet. ‘n Verhouding gaan ontwikkel. In die gesprek gaan my Moslem (of Hindoe) buurman hopelik iets van my leer. Maar ek gaan beslis ook baie van hom/haar leer! Maar die verrassing is nog groter: hoe verder die gesprek vorder hoe meer leer ons nie net van mekaar nie, maar van God, hoe meer kry die ou waarhede van die Bybel nuwe betekenis. Vra jouself af: in die eerste groot dialoog tussen ‘n Christen en ‘n nie-Christen, in die gesprek tussen die Jood Petrus en die Romein Kornelius (Hand 10), wie het die meeste geleer? Wie se lewe is die meeste verander? Daarby kom die heel grootste verrassing. In die gesprek kom jy agter dat dit nie net jy en jou gespreksgenoot is wat praat nie. God praat saam – met hom/haar en met jou. Die twee-gesprek word uiteindelik ‘n drie-gesprek! Hy lei ons op sy pad, vorentoe.

Waag dit – reik uit!

Moenie te lank wag nie. Tel gerus die telefoon op, maak ‘n afspraak met jou buurman/vrou. Begin die gesprek. Jy kan gerus met hom/haar die inhoud van hierdie pamflet deel – dis hoe jy die proses sien. Maak jou klaar vir ‘n lang gesprek wat oor ‘n lang tyd gaan verloop. Maar waag dit! En onthou, jy sit nie alleen aan die tafel nie. Jy en jou vriend sit in die geselskap van die Een wat jou gestuur het. Vertrou Hom om jou die woorde te gee – en om deur sy Gees die gesprek te lei.

Luister, terwyl jy jou op hierdie geestelike avontuurtog begeef, na die woorde van Paulus in jou ore: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van die wat die goeie boodskap bring!” (Rom. 10:15). Sterkte!

Ds Willem Schoeman

Sameroeper Getuienisnetwerk

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.