Verslag van die Luisterspan (Sinode 2016)

Tydens die pasafgelope Sinode van die NG Kerk in Oos-Kaapland (31 Oktober tot 3 November) het prof Stephan Joubert klem gelê op Jesus se voorbeeld en leer as roetekaart vir die kerk. Hy het ook verwys na die profeet Habakuk wat geworstel het met God wat skynbaar nêrens is nie, maar kon toe uiteindelik bely dat God nou hier is.

Die luisterspan het in aansluiting by prof. Joubert God se beweging tydens die sinode opgevang met hierdie luisterverslag:

LUISTERVERSLAG

Ons het gehoor dat die heilige God aan die werk is langs die kus, in die Karoo, by groot gemeentes, by klein gemeentes, in die onderwys, by Universiteite en dat daar die opregte soeke is om relevant saam met Christus te leef, sy roeping ons roeping word, ons harte soos syne liefde lek; ons trane soos syne, verlossing bring.

Soms, het ons gehoor, egter, neem Jesus ons na hoë plekke. Nie altyd na die veilige vlaktes, maar deur leë beeskrale, berg uit, na die hoogste plek.

Dit maak ons bang, onseker, wanhopig, gefrustreerd, selfs kwaad. Maar dis waar Hy ons ontmoet.

Hier moet ons vertoef. Tyd gee. Tyd maak vir mekaar, vir ander, vir God. Tyd om saam te loop. Saam te eet.

Ons hoor: Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie. Al sou die olyfoes misluk en land geen lewer nie. Al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ons jubel in die Here. Sal ons juig in God ons redder.  Hy maak ons voete soos die van die ribbok. Selfs op die hoogste plekke laat Hy ons veilig loop.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.

Leave a Reply