Nuus
Waterskaarste: Dag Zero breek in woonbuurte van Nelson Mandelabaai aan

Waterskaarste: Dag Zero breek in woonbuurte van Nelson Mandelabaai aan

Droë waterkrane sal die westelike voorstede van Port Elizabeth reeds in Augustus 2021 tref, terwyl die res van die metropool teen die einde van die jaar nie meer water sal hê nie.

KwaNobuhle, ‘n buurt van Uitenhage (Kariega), sal reeds binne die volgende twee maande sonder water wees, het die burgemeester, Nqaba Bhanga, op 28 April 2021 tydens ‘n media-konferensie aangekondig. ‘n Honderd watertenkers word vanaf Junie in hierdie area ontplooi.

Voorstede soos Baywest, St Albans, Korsten, Charlo, Mount Pleasant, Ibhayi, Fairview, en Noordeinde kry water uit die Churchhilldam, en sal teen 1 Augustus sonder water wees. Die Impofudam voorsien Newtonpark, Millpark, Walmer, Mountweg, Somerstrand, Humewood, Mangoldpark, Suideinde en Sentraal, wat vanaf 1 Oktober sonder water sal wees.

Die Kougadam, een van die hoofbronne van water in Nelson Mandelabaai, beskik in April 2021 reeds oor minder as 5% van sy bakmaat

Die munisipaliteit beplan ‘n ontsoutingsaanleg wat daagliks sowat 85 megaliter kan lewer, en teen 2022 voltooi sal wees. Water uit die Gariepdam wat via die Nooitgedachtskema gelewer word, vul ook watervoorsiening aan. Hierdie twee skemas is egter nie voldoende om in die bestaande daaglikse aanvraag na water te voorsien nie.

Tans is die waterverbruik van die metro steeds hoër as wat voorsien kan word. Inwoners word dringend versoek om water spaarsamig te gebruik.

Volgens die burgemeester is die hoeveelheid water wat deur lekkasies verlore gaan van 49% in Junie 2020 tot 29% teen April 2021 verminder.

Meters wat watertoevoer na hoëverbruikers beperk word ook beplan. Die Nelson Mandelabaai Sakekamer tree in vennootskap met skole om beskadigde waterinfrastruktuur te herstel en vermorsing sodoende te beperk.

Print Friendly, PDF & Email
close
Teken in op Grens.Pos, ons e-nuusbrief
Ons hanteer jou data privaat en deel dit nie met buitestaanders nie.