Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Jaargang 24 - Nommer 11 - 10 April 2026
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • #Imagine jeugbyeenkoms: Tieners beleef God, wat roep en stuur
  • Wyse wenke vir kinders in die digitale wêreld
  • Klein gemeentes: 'n krag in die koninkryk
  • Waarom die huwelik so goed is vir 'n gesonde samelewing
  • Leraars beweeg
Grens.Pos neem nou 'n blaaskans. Die volgende uitgawe verskyn weer 10 April 2026.

#Imagine en beleef die God wat roep en stuur

Tieners van regoor die Oos-Kaap het vanjaar 'n besondere vormende geestelike ervaring by #Imagine gehad (Foto's NG Gemeentes Jeffreysbaai en PE-Nooitgedacht)

#Imagine is 'n verbeeldingryke byeenkoms wat tieners vanjaar op drie sentra regoor die land bymekaargebring het, onder andere op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap.

Die tema was Geroep en Gestuur. Jongmense het ontdek dat hulle nie alleen op hulle geloofspad is nie, maar dat God sy kinders bymekaarbring en sin en betekenis aan ons lewens gee deur ons te stuur.

In hierdie video vertel twee tieners van hul belewenis tydens 2026 se #Imagine, in hierdie geval in die Wes-Kaap, waar dieselfde inhoud as die ander #Imagine-byeenkomste hanteer is.

Die foto-album van die NG Gemeente Jeffreysbaai gee 'n pragtige blik op hierdie inspirerende byeenkoms. So ook NG Gemeente Uitenhage-De Mist se foto-album.

Die NG Kerk in Oos-Kaapland is 'n borg van die byeenkoms te Jeffreysbaai.

Wenke vir kinders en jongmense in die digitale wêreld

Kinders en jongmense is afhanklik van hu ouers se begeleiding wanneer hulle die digitale wêreld betree. Hier is raad:

WEES VEILIG
  • Hou jou wagwoorde privaat, maar maak seker jou ouers/versorgers weet wat dit is en wanneer dit verander
  • Hou jou rekeninge privaat en moenie persoonlike inligting uitdeel nie
  • Gebruik toestelle net in gemeenskaplike areas van die huis
  • Praat net aanlyn met mense wat jy al persoonlik ontmoet het
  • Stel ouderdomsgeskikte beperkings (vra ’n ouer om te help)
  • Moenie nuwe apps of speletjies aflaai sonder om eers met ’n ouer te praat nie
  • Moenie die internet gebruik sonder jou ouers se toestemming nie
  • Laat jou ouers toegang hê tot jou toestelle—moenie dinge wegsteek of uitvee nie
WEES WYS
  • Onthou: die internet is sigbaar - baie mense kan sien wat jy doen
  • Wees jouself en moenie voorgee jy is iemand anders nie
  • Moet nooit iemand anders se rekening of wagwoord gebruik nie
  • Beperk jou tyd op toestelle - ongeveer een uur per dag is goed
  • Maak tyd vir vriende, familie, sport en ontspanning
  • Gebruik toestelle eers ná jou huiswerk en take klaar is
  • Moenie toestelle by die etenstafel of tydens gesinsaktiwiteite gebruik nie
  • Moenie alles glo wat jy aanlyn sien nie - praat met ’n ouer as iets jou pla
  • Sê dadelik vir ’n volwassene as iets jou ongemaklik, kwaad, bang of hartseer laat voel
  • Kyk en volg dinge wat jou inspireer, aanmoedig en by jou ouderdom pas
  • Respekteer die reëls en grense wat jou ouers stel
WEES VRIENDELIK
  • Wees respekvol aanlyn - moenie ander boelie of terg nie
  • Respekteer ander mense se idees en menings
  • Moedig ander aan en wees ’n goeie voorbeeld
  • Sê vir ’n volwassene as jy dink iemand het hulp nodig
VIR OUERS
  • Wees oop vir jou kinders se vrae en bekommernisse. Probeer die aanlyn wêreld verstaan
  • Verstaan hul behoefte om deel te wees van die digitale wêreld, maar stel duidelike grense
  • Help jou kinders om uit hul foute te leer
  • Moenie dat jou selfoon jou aandag aftrek wanneer jou kind jou nodig het nie
  • Moenie toestelle by die etenstafel of tydens gesinsaktiwiteite gebruik nie
  • Dit is jou verantwoordelikheid én voorreg om jou kind te help om gesond digitaal te leef
  • Gee die voorbeeld deur self goeie digitale gewoontes te hê
  • Bly betrokke en gee meer vryheid soos jou kind ouer en meer verantwoordelik word
  • Hou aan praat. Weet wat jou kind kyk en geniet, en gesels gereeld oor veilige en gesonde internetgebruik

Waarom die huwelik só goed is vir die samelewing

Nuwe data, soos vervat in 'n berig deur The Common Sense, wys op ’n kommerwekkende tendens: die verhouding van huwelike tot egskeidings in Suid-Afrika het oor 'n periode van tien jaar van 6:1 tot 4:1 gedaal. Dit dui op groeiende druk op gesinne en kan die stabiliteit van die samelewing raak.

Die huwelik speel steeds ’n belangrike rol

The Common Sense - 'n sekulêre publikasie - wys op navorsing wat toon dat huwelik in samelewings 'n geweldige belangrike bydrae lewer tot onder meer:
  • Sterker gesinne: ’n Stabiele huwelik skep ’n veilige ruimte waar kinders emosioneel en akademies kan floreer.
  • Waarde-oordrag: Ouers dra waardes soos respek, verantwoordelikheid en omgee aan die volgende geslag oor.
  • Sosiale samehorigheid: Getroude pare is dikwels meer betrokke by hul gemeenskappe en bou sterker netwerke.
  • Ekonomiese stabiliteit: Gedeelde finansies help om armoede te verminder en sekuriteit te bou.
  • Emosionele welstand: Huwelike bied ondersteuning, minder stres en groter lewensvreugde.
Hierdie afname in huwelike behoort ernstig opgeneem te word. Lees die volledige artikel by The Common Sense, asook die data waarop dit geskoei is, vir verdere insigte.

Prof Stephan Joubert

Waarom verwondering geestelik so goed is vir jou

Charles Scott Sherrington (1857-1952) het in 1932 die Nobelprys gewen vir sy navorsing oor die funksies van neurons in die brein. In een van sy lesings, wat later geboekstaaf is, skryf hy die volgende oor verwondering: “We dismiss wonder commonly with childhood. Much later, when life’s pace has slackened, wonder may return. The mind then may find so much inviting wonder the whole world becomes wonderful.”

Verwondering gebeur wanneer jou asem weggeslaan word. In Engels praat hulle van awestruck. Sulke verwondering was aan die orde van die dag terwyl mense Jesus se dade en leringe eerstehands ervaar het. Matteus vertel byvoorbeeld vir ons van die skares se verwondering nadat Jesus Sy bekende bergrede gelewer het (7:28-29). Dieselfde gebeur ook as Hy ’n verlamde genees (9:8), ’n bose mag verdryf (9:33), verskillende siektes genees (15:31), en godsdienstige leiers van die dag op hul plek sit (22:31).

In een oomblik het Jesus mense se voete onder hulle uitgeslaan. Hulle oë het oopgegaan. Hulle lewens het vir altyd verander. Hulle was meteens nuwe mense. Die woorde van 2 Korintiërs 5:17 het waar geword: “Iemand wat in Christus glo is ‘n splinternuwe skepping! Daardie ou lewe is oor en verby. Let op! Alles het nuut geword. Nuwe lewe het aangebreek.” (NNT)

Geloof wat verskuif vanaf blote belydenisse na diep belewenisse, is geloof wat verskuif vanaf verwonding na verwondering. Sulke verwondering oor Christus verskuif meteens al die geestelike meubels in ons lewe. Dit verskuif ons ganse lewe vanaf dood na lewe. Dit verskuif ons vanaf verveeld na vervuld. Dit maak dat ons lewe, in Sherrington se taal, wonderful raak. Of moet ek eerder sê: wonder-full!

(Stephan Joubert, e-Kerk)

Die heilige ritme van die klein gemeente

Waarom KLEIN die nuwe krag is

In ’n wêreld wat dikwels sukses aan grootte en spoed meet, word klein gemeentes maklik oor die hoof gesien. Tog toon statistieke dat die meerderheid van die NHKA-gemeentes (sowat 62%) minder as 200 lidmate het. Hierdie klein geloofsgemeenskappe is nie foute van die sisteem nie – hulle is die sosiale gom wat die hartklop van woonbuurte, dorpe en stede vorm.

Die krag van hoë-aanraking
Waar megagemeentes dikwels soos produksies voel, bied die klein gemeente ’n hoë aanraking in die gemeenskap. Dit beteken dat mense mekaar by die naam ken en dadelik opmerk wanneer iemand afwesig is. Dit gaan oor die deel van etes, laste en vieringe op ’n manier wat groter modelle nie maklik kan dupliseer nie. Hierdie diep persoonlike verhoudings is ’n teologiese belydenis dat elke mens deur God geken en geliefd is.

Van produksie na teenwoordigheid
In die moderne sekulêre era voel gemeentes dikwels die druk om vinnig te beweeg om relevant te bly. Klein gemeentes bied egter ’n noodsaaklike rusplek. In plaas daarvan om ’n produksie te wees wat moet presteer, bied die klein gemeente vryheid met kalmte en stilte. Dit is soos die verskil tussen ’n vinnige wegneemete en ’n maaltyd wat ure lank om ’n kombuistafel geniet word. Die fokus skuif van hoe baie ons doen na hoe teenwoordig ons vir God en mekaar is.

Nie ’n museum nie, maar ’n venster
Daar is ’n gevaar dat klein gemeentes slegs kan bestaan om ’n taal of kultuur te bewaar, wat hulle in museums verander. Die Goddelike roeping is egter om ’n venster na die ewige lewe te wees. Wanneer die kerkklok lui, is dit nie net tradisie nie, maar ’n verklaring dat God midde-in die alledaagse lewe teenwoordig is en praat. Die waarde lê nie in die gemeente se programme nie, maar in die feit dat die gemeenskap saam voor God staan, selfs wanneer hulle min is.

Die kuns van plek-deling
In ’n klein gemeente word lidmate gedwing tot plek-deling (place-sharing). Dit is die spontane oomblik waar ’n ouma ’n hand op die skouer van ’n moedelose jong ouer sit. Of ’n kleuter wat ’n ou tannie wat moeilik loop, se hand vashou vir ondersteuning. Dit is nie ’n formele program nie – dit is Christus wat deur een persoon ’n ander ontmoet.

Moenie in paniek verval nie
Wanneer getalle krimp, verval gemeentes dikwels in paniek. Die evangelie leer ons egter van die krag van die klein saadjie en die nederigheid van Christus aan die kruis. ’n Gemeente hoef nie in sy eie ambisies van grootheid te probeer oorleef nie, maar moet soms sterf aan daardie ambisies om weer te ontdek wat dit beteken om op God te wag. Die belangrikste werk van die klein gemeente is om die wêreld te herinner hoe om te wag.

In die koninkryk van God is daar geen marginale plekke nie – elke klein gemeente is ’n heilige ruimte waar die ewigheid die tyd ontmoet.

Dr Johan Bester (Randfontein Midpark/SGB)
Oorgeneem uit Bitspos, Hervormde Kerk

Prof Cas Wepener

Watter rituele vorm jou lewe (selfs sonder dat jy dit besef)?

Prof. Cas Wepener toon in 'n verhelderende artikel in Kerkbode aan hoe rituele – oud én nuut – ons lewens vorm, dikwels sonder dat ons dit besef. Vandag is dit nie net kerklike praktyke nie, maar ook algoritmes en digitale platforms wat ons denke, ritmes en selfs identiteit beïnvloed.

Selfs die inkopiesentrum kep rituele wat mense vorm - treffend baie soos goddienstige praktyke dit ook doen.

Sy artikel vra ’n diep vraag: watter rituele vorm ons werklik op ’n lewegewende manier? Lees verder om nuut te dink oor geloof, gewoontes en die kragte wat jou lewe rig. Lees verder.

NG Kerk en die Kommissie vir Godsdiensregte

Navrae word dikwels ontvang oor die posisie van die NG Kerk ten opsigte van die werksaamhede van die sogenaamde CRL-Kommissie (Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe). Leraars en lidmate wil graag weet hoe die kerkverband in hierdie gesprekke verteenwoordig word en of die NG Kerk ’n amptelike standpunt hieroor het.

Kommer bestaan - ook weens die kommissie se arbitrêre en bevooroordeelde optrede - dat die staat poog om godsdiensvryheid met staatsbeheer in te perk.

Tydens die onlangse vergadering van die algemene Sinodale moderamen is volledig oor die saak verslag gedoen. Die kerk se standpunt behels die volgende:
  • Dat die reg op godsdiensvryheid in al sy dimensies gerespekteer word, soos beskerm deur artikel 15 van die Grondwet en die Handves van Godsdiensregte en -vryhede.
  • Dat die reg van elke persoon om te glo en daardie oortuigings uit te leef, gerespekteer word.
  • Dat die reg van godsdienstige gemeenskappe om hul eie leerstellings te bepaal en hul interne sake te reël, bevestig word.
Ons kerk stel hierdie standpunt helder - saam met ander kerke - via die SA Raad van Kerke.

Klik hier om die verslag te lees.

'n Statutêre Raad vir Kerke?

Tydens 'n SABC-onrhoud op 2 April 2026 met die CRL=voorsitter, me Thoko Mkwanazi Xaluva aangedui dat wetgewing voorsien word om 'n statutêre Raad vir die godsdienssektor te skep. Hierdie opmerking wakker vrees vir staatsbeheer aan.

'n Aksiegroep vir godsdiensvryheid, FORSA, het hieroor 'n verklaring uitgereik wat die moeite werd is om te lees.

Pinksterreeks 2026 beskikbaar

CLF se 2026 Pinksterreeks is nou beskikbaar. Die tema is: Ontwrig die verdeeldheid: ’n Pinksterreis na Eenheid, Heiligheid en ’n Nuwe Mensheid in Christus.

Klik hier om die reeks af te laai.

Vir leraars en lidmate

Uitnodiging: Heartlines “Fathers Matter”-werkswinkel

Ons nooi leraars en lidmate hartlik uit om deel te wees van die Heartlines Fathers Matter Manne-werkswinkel — ’n praktiese opleidingsgeleentheid vir gemeentes wat die Fathers Matter-program in hulle kerk en gemeenskap wil vestig.

Hierdie werkswinkel help mans om die tipe vaders te word waartoe God hulle roep. Dit spreek ook die werklike uitdagings rondom vaderskap aan wat mans, vroue en kinders raak, en bied praktiese hulpmiddels om gesinne en gemeenskappe te versterk.
Ons moedig gemeentes aan om een of twee mans te benoem uit julle bedieningspan, mannebediening en/of gemeente om hierdie waardevolle sessie by te woon.

Besonderhede:
Datum: Saterdag, 9 Mei 2026
Tyd: 11:30 – 14:00 (ligte middagete ingesluit)
Plek: North Community Church
Aanbieders: Brian Helsby & Fana Ndhlovu
Gasheer: Pastor Russel Viljoen
Kom saam en help bou aan ’n sterker, gesonder volgende geslag deur die positiewe teenwoordigheid van vaders in kinders se lewens te bevorder.

Skryf in by by info@tcn.org.za teen 13 April 2026.
Inskrywings vir die Predikante SAAMkoms sluit vandag, Vrydag 10 April. Elke predikant en diensleraar het 'n skrywe ontvangs waarin die registrasieskakel verskaf word. klik daarop om aanlyn te registreer. Daarna word 'n faktuur aan jou gestuur.

Die aanbeveling is dat kerkrade instaan vir die registrasiekoste, of leraar gedeeltelik bystaan om dit te bekostig. Die koste word swaar gesubsidieer (sowat 80%), sodat die verskuldige bedrag binne bereik van predikante en kerkrade gebring kon word.

Belangrike inligting op ons webblad

Klik hier vir direkte toegang tot belangrike inligting en dokumente op ons webblad (www.ngkok.co.za):

Aanlyn VBO

Prof Wentzel Coetzer: 'n Pastoraal-holistiese benadering tot kanker - 21 April 2026

Wanneer die immuun sisteem gestimuleer word, selfbeeld en selfvertroue herstel word, onverwerkte trauma en emosionele pyn deurgewerk word, vertroebelde verhoudings herstel word en ʼn gesonde leefstyl in plek kan kom, kan dit lei tot ingrypende fisiese veranderinge. In hierdie kursus kom ʼn verskeidenheid van praktiese riglyne in hierdie verband aan die orde as deel van ʼn diepgaande pastoraal-holistiese benadering waar die biologiese, sosiale, emosionele en geestelike dimensies van siekte oor die algemeen geïntegreer word. Daar word veral gefokus op die benaderings van die pediatriese chirurg, Dr Bernie Siegel, asook die mediese dokter, Gabor Maté, met betrekking tot kanker. Teen hierdie agtergrond word daar dan telkens ook pastorale kommentaar gelewer en praktiese riglyne uitgespel.

Kursus oop vir almal
Datum: Dinsdag 21 April 2026.
Tyd: 09.00 – 13.00
Akkreditering: 5x VBO punte – CPSC punte – 5x AFM PCD punte
Koste: R300 pp (R45 ekstra vir inskrywings uit Namibië en die buiteland as
gevolg van bykomende bank heffings)
Handboek te koop (opsioneel): R370 (R250 plus R120 vir koerier)
Navrae: 083 660 0409 of e-pos: wentzelc@gmail.com
Volg die kursus op ʼn later datum:
Persone wat nie die betrokke oggend die kursus kan bywoon nie, kan nogtans registreer en dan agterna ʼn skakel ontvang om op enige later datum weer die kursus te kan volg.
Om te bespreek vir die kursus: Klik hier.

Vakature: Koste, NGK Gamtoosvallei (te Kwagga)

Die kerkraad wag aansoeke in vir 'n vakante kosterpos. Die koster is verantwoordelik vir die algemene instandhouding, netheid en bruikbaarheid van die kerkgeboue, terrein en toerusting, asook ondersteuning tydens eredienste, gemeente -aktiwiteite en funksies. Klik hier vir die posbeskrywing.

Verjaarsdae in April

7 April – ds Riaan Vlok, NG Gemeente Tarkastad
8 April – ds Toit Wessels, NG Gemeente Kraggakamma
13 April – ds MG van Rooyen, NG Gemeente Kraggakamma
14 April – ds Jan Grobbelaar, NG Gemeente Patmos
16 April – ds André Kleynhans, NG Gemeente Buffelsrivier
22 April – ds Clifford James, NG Gemeente Aberdeen
23 April – ds Jugi Barnard, NG Gemeente Jeffreysbaai
27 April – ds Ben Kock, NG Gemeente Mthatha
28 April – ds Vian du Plessis, NG Gemeente Somerstrand
29 April – ds Gillie Noeth, NG Gemeente Anchor of Hope
30 April – ds Lelani van Zyl, NG Gemeente Sondagsrivier-Suid

Indien ons 'n verjaarsdag miskyk, laat ons asb weet. Ons stel dit graag reg.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Gqeberha (Port Elizabeth)
Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Loots, ds Deon - 084 855 3444, dissipel@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, dr Carel - 082 821 7600, clvdm1@gmail.com
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com
Weyers, prop Chris - 081 270 4240, cjweyers1203@gmail.com

Jeffreysbaai en omgewing
Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853, heinbarnard@lantic.net (ook beskikbaar vir Ring van Albanie en Oos-Londen)
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com

Aflos (oral) vir korter of langer periodes
Ds Enslin van Velden - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Ds Pieter van Zyl - 073 225 8466, vanpzyl@gmail.com

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za
Beskikbaar om die Enneagram en retraites aan te bied

Ds Deon Loots maak die Baai nou weer sy tuiste en is beskikbaar om die Enneagram of retraites in gemeentes of ringe aan te bied (084 855 3444, dissipel@gmail.com).

Leraars beweeg

Ds Monozel Els van die NG Gemeente Drie Riviere het die beroep na die NG Kerk Uitenhage-De Mist aangeneem.

Ds JC Els van die NG Gemeente Suikerbos het die beroep na die NG Kerk Uitenhage Winterhoek aangeneem.

Prop Thea Wait (diensleraar) is na die NG Gemeente Port Elizabeth-De Duin beroep en het die beroep aanvaar. Sy word op 12 April 2026 in die amp bevestig.

Dr Wentzel Schoeman is op 8 April 2026 as predikant by die Stutterheim Verenigde Gemeente (NG Kerk en Presbiteriaans) bevestig.

Dr Elsje Büchner het op 22 Maart 2026 afskeid geneem van die NGK Dordrecht en ontvang demissie met ingang 1 April 2026.

Ds Jurie Blom is na die NG Gemeente Willowmore beroep.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars. Hier is meer inligting hoe amptelike kennisgewings werk wanneer leraars beweeg.
facebook twitter