Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Jaargang 24 - Nommer 24 - 14 Augustus 2026
TEKEN IN op Grens.Pos
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Oor die boek Ester: Bybelse verhale kan gebruik word om mense aan te val
  • Beide instandhouding en innovasie (in balans) is belangrik vir gemeentes
  • Prof Pat Keifert oorlede
  • Aansoeke om studiehulp by Helpende Hand Studietrust
  • Leraars beweeg

Balans tussen innovasie en instandhouding

Hulde aan sinvolle instandhouding in gemeentes

Ons leef in ’n tyd wat graag die nuwe vier. Innovasie, ontwrigting en vernuwing trek aandag; instandhouding doen selde. Tog herinner Daniël Eloff in ’n besonder waardevolle artikel op OntLaer daaraan dat ’n samelewing nie net deur uitvinders en hervormers gedra word nie, maar ook deur die mense wat dag ná dag herstel, versorg en in stand hou.

Eloff sluit aan by Andrew Russell en Lee Vinsel se bekende pleidooi vir die sogenaamde maintainers: die mense wie se werk dikwels onsigbaar bly totdat hulle ophou om dit te doen. ’n Rioolstelsel, pad, gebou of instelling kan uitstekend ontwerp wees, maar sonder gereelde onderhoud verval dit uiteindelik. Suid-Afrikaners hoef nie ver te soek om te sien wat gebeur wanneer infrastruktuur nie versorg word nie.

Dieselfde beginsel geld egter vir meer as infrastruktuur. Ook instellings, tradisies, kennis, waardes en gemeenskappe moet in stand gehou word. Dit geld eweneens vir gemeentes. Kerke het innovasie nodig: nuwe bedieningsvorme, vars denke en die moed om aan te pas by ’n veranderende wêreld. Maar gemeentes kan nie leef van voortdurende vernuwing alleen nie. Iemand moet ook die geloofstaal oordra, mense versorg, verhoudings koester, eredienste voorberei, jonger geslagte vorm en die gemeenskap se geheue bewaar.

Die uitdaging is daarom nie om tussen vernuwing en behoud te kies nie. ’n Gemeenskap wat niks wil verander nie, verstol. Een wat gedurig alles wil vervang, verloor egter maklik die wysheid en praktyke wat dit moontlik gemaak het om tot hier te kom. Daar is 'n belangrike "" in beide instandhouding en innovasie.

Gesonde gemeentes en samelewings het dus bouers én instandhouers, innoveerders én versorgers nodig. Eloff se artikel help ’n mens om weer waardering te kry vir die stil werk waardeur iets waardevol oor dekades heen bly bestaan.

Die boek Ester ’n wapen in die kultuurstryd

As politieke teenstanders Haman word

In Esther’s Army ondersoek sosioloog Katie Gaddini die Christenvroue wat ’n belangrike dryfkrag binne die Amerikaanse regse politieke beweging geword het.

Op grond van etnografiese navorsing beskryf sy die uiteenlopende ervarings, vrese, oortuigings en gemeenskappe wat vroue tot politieke aktivisme beweeg.

Die boek wys veral hoe Bybelse verhale, waaronder dié van Ester, identiteit en roeping vorm, maar ook politieke konflik as ’n stryd tussen goed en kwaad kan voorstel en teenstanders in gevaarlike vyandsbeelde kan verander.
Hoe gebeur dit dat opregte Christene politieke teenstanders begin sien as vyande wat verslaan moet word?

Elizabeth Neumann, ’n Amerikaanse kenner van nasionale veiligheid en teen-terrorisme, dink in ’n onlangse refleksie na oor hierdie vraag aan die hand van Katie Gaddini se Esther’s Army.

Gaddini ondersoek Christenvroue wat aktief geword het binne die Amerikaanse regse politieke beweging. Wat Neumann veral ontstel, is die verhaal waardeur sommige van hierdie vroue hul politieke betrokkenheid verstaan: hulle word aangemoedig om hulself met die Bybelse Ester te vereenselwig.

In die Ester-verhaal waag Ester haar lewe om die Joodse volk van Haman se plan tot uitwissing te red. Wanneer dié verhaal egter direk op hedendaagse politiek toegepas word, gebeur iets gevaarliks. As ek Ester is, moet iemand anders Haman (wat die uitwissing van die Jode beplan) wees. Gewone politieke teenstanders word dan nie meer bloot mense met ander oortuigings nie, maar ’n bedreiging vir “ons” voortbestaan.

Volgens Neumann is dit juis een van die meganismes waardeur radikalisering kan plaasvind. Politieke meningsverskille oor sake soos aborsie, seksualiteit, onderwys en godsdiensvryheid word omskep in ’n heilige stryd tussen goed en kwaad. Die ander groep word toenemend as boos, gevaarlik en uiteindelik as ’n vyand voorgestel teen wie buitengewone optrede geregverdig kan wees.

Die probleem lê dus nie daarin dat Christene sterk politieke oortuigings het of aktief aan die openbare lewe deelneem nie. Die gevaar ontstaan wanneer politieke deelname met ’n Bybelse reddingsdrama versmelt en ons onsself as God se helde begin sien.

Neumann wys daarom op ’n dieper Christelike vraag: nie net “Het ons gewen?” nie, maar “Wat het hierdie stryd van ons gemaak?” Dra ons politieke betrokkenheid die vrug van die Gees? Kan ons waarheid praat, geregtigheid soek en sterk oortuigings handhaaf sonder om ons naaste te demoniseer?

Haar bespreking van Esther’s Army is daarom veel meer as kommentaar oor Amerikaanse politiek. Dit is ’n ernstige waarskuwing oor hoe maklik Bybelse taal gebruik kan word om vrees te heilig en politieke teenstanders in vyande te verander.

Lees gerus Neumann se volledige inset.

Prof Pat Keifert oorlede

Ons groet die teoloog en vriend wat die NG Kerk leer luister het

Prof Pat Keifert, president van die Church Innovations Instituut en sistematiese teoloog, 'n gereelde besoeker ook aan Oos-Kaaplandse gemeentes, is onlangs oorlede. Hy het blywende invloed in die NG Kerk uitgeoefen. Op die foto demonstreer Keifert tradisionele cowboy hoede, geneem in 2003.

Wat verander wanneer ’n kerk ophou om te vra: “Hoe red ons die kerk?” en eerder begin vra: “Waar is God reeds aan die werk?” In ’n persoonlike huldeblyk onthou dr. Frederick Marais en prof. Nelus Niemandt die invloedryke teoloog Patrick R. Keifert, wie se denke diep spore in die NG Kerk en ver daarbuite getrap het. Prof. Keifert is op 6 Augustus 2026 oorlede.

Hy word onthou as ’n mentor en medereisiger wat gemeentes geleer het om aandagtig te luister na God, die Skrif, mekaar en die gemeenskappe rondom hulle.

Keifert het ons aan die praktyk van Wandel in die Woord bekendgestel. Hy was die inspirasie agter Vennootskappe van Gestuurde Gemeentes, waarvan 'n hele paar in die Oos-Kaap gevestig is. Hierdie benadering leef vandag voort in IN PAS met die lewende God.

Lees hoe sy nalatenskap voortleef.

Verbreding van ampte baat gemeentes van die NG Kerk

'n Goeie artikel wat ampsverbreding, die term wat meer bane van opgeleide opleiding vir bediening in NG Gemeentes ontsluit, toelig het onlangs op Netwerk24.com verskyn. Dit vertel van predikante (goed opgeleide spesialiste), diensleraars (wat ook die sakramente kan bedien) en dan Bedienaars (opgeleide kerkraadslede wat bediening kan ondersteun, sonder vergoeding).

Joernalis Retha Fick voer gesprek met ds Jaco Botha van die Hugenote Kolege en prof. Hannes Knoetze van UP.

Klik hier om die artikel te lees.

Vir alle voornemende studente

Aansoeke vir studiehulp by Helpende Hand is oop tot 30 September

Beplan jy om in 2027 verder te studeer? Die Helpende Hand Studietrust se aansoeke vir rentevrye studielenings is nou oop.

Die Helpende Hand Studietrust help om jongmense met studiepotensiaal die geleentheid te gee om hul drome te verwesenlik en hul toekoms te bou.

📅 Aansoeke is oop van 1 Julie tot 30 September 2026.
🌐 Doen aanlyn aansoek by: www.hh-studietrust.co.za
📧 Vir navrae: studente@helpendehand.co.za

Moenie hierdie geleentheid misloop nie – jou toekoms is die moeite werd om in te belê.
Dis meer as ’n lening – dis ’n toekoms.

Nuwe publikasie van Coenie Burger

Soos sagte reëns - oor die werk van die Heilige Gees

CLF Uitgewers se jongste publikasie, Soos sagte reëns - Luisterend nagedink oor die werk van die Heilige Gees, deur Coenie Burger, is binnekort op ons rakke beskikbaar!

Soos sagte reëns is presies dit: ’n welkome, verkwikkende gawe aan die kerk ná ietwat van ’n droogte in ons nadenke en gesprek oor die Heilige Gees. Met die wysheid van ’n ervare teoloog en deurleefde kerkmens, help Coenie Burger ons om die Gees opnuut raak te sien as die Een wat lewe gee, geloof wek, gemeenskap skep en die kerk die wêreld instuur. Hierdie boek val soos sagte reën op grond – stil en sonder vertoon, maar met die belofte van nuwe lewe.
Prof. Nelus Niemand – oud-rektor van die Hugenote Kollege,oud-moderator van die Alg. Sinode van die NG Kerk

In plaas van blote “kopkennis” oor die Heilige Gees, gaan dit in dié boek eerder oor die lewende en vernuwende teenwoordigheid van ‘n Goddelike Persoon. Coenie Burger nooi ons om die derde groot verhaal van die Christelike geloof, oor die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, opnuut te ontdek. Met die warmte van ’n pastor, die insig van ’n teoloog en die wysheid van ’n deurleefde kerkleier ontvou hy die ryk Bybelse getuienis oor die Gees as die Gawe wat vernuwe. Hy wys hoe die Gees mense lewend maak, aan Christus verbind, van vrees bevry, verander, roep en stuur – maar ook hoe die Gees gemeenskap skep en die kerk vorm. Hierdie uitnodigende boek help ons om ons lewens oop te stel vir die Gees se teenwoordigheid, leiding en verrassende werk. Dit vul ons met vreugde en hoop.
Ds. Danie Mouton – PSD Sinode Oos-Kaapland van die NG Kerk

Met dié boek lewer Coenie Burger ‘n uitstekende en belangrike bydrae in nadenke oor die Heilige Gees. Dit bied ‘n diepgaande, dog toeganklike blik op die volheid van die werk van die Gees in gelowiges, gemeentes en die wêreld. Vanuit ‘n Gereformeerde vertrekpunt tree hy op ‘n ruimhartige, respekvolle wyse in gesprek met ander Christelike tradisies en bied so ‘n bruikbare hulpmiddel vir groter begrip.
Prof. Marius Nel - professor in Nuwe Testament,Universiteit van Stellenbosch

Gebedsinisiatief met die oog op die plaaslike verkiesing

Uit die stil kusdorp Pearly Beach kom ’n eenvoudige maar dringende oproep via ds Marnette van Rensburg: : dat Christene regoor Suid-Afrika in die aanloop tot die verkiesing op 4 November saam sal bid vir ons land, sy mense en sy toekoms.

Ons hoor dikwels die woorde: “Net God kan ons land red.” As gelowiges weet ons egter dat God nie ’n towerstaffie is wat ons vir ons eie doelwitte kan gebruik nie. Gebed is ook nie ’n manier om God aan ons politieke voorkeure te bind nie. Tog roep die Here sy mense uitdruklik om te bid, om ons nood voor Hom te bring en ons afhanklikheid van Hom te erken. Paulus skryf: “Maak alles deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

Die bekende woorde uit 2 Kronieke herinner ons eweneens aan die belang van verootmoediging, gebed, bekering en die soeke na God se teenwoordigheid. Dit is ’n oproep om nie bloot vir verandering rondom ons te bid nie, maar ook om toe te laat dat God óns verander.

Hierdie gebedsinisiatief wil daarom Christene oor kerk- en denominasionele grense heen aanmoedig om voor die verkiesing volhardend voorbidding te doen. Dit hoef nie op een bepaalde dag of by een sentrale byeenkoms te gebeur nie. Die bedoeling is eerder dat gemeentes, kleingroepe, families en individuele gelowiges regoor die land ruimte sal maak vir opregte gebed.

Ons kan bid vir vrede en veiligheid, vir eerlike en verantwoordelike leierskap, vir wysheid by kiesers, vir geregtigheid en goeie regering, en vir versoening tussen mense en gemeenskappe. Ons kan ook bid dat die kerk self met nederigheid, waarheid en liefde aan die openbare lewe sal deelneem.

Die uitnodiging is eenvoudig: laat ons saam bid vir Suid-Afrika — nie uit vrees nie, maar uit vertroue; nie teen ander mense nie, maar vir die welstand van almal wat hierdie land met ons deel.

Deel gerus hierdie oproep met gemeentes, kleingroepe en Christelike netwerke, sodat ’n stroom van gebed regoor die land kan groei.

Rig navrae aan ds Marnette J van Rensburg by marnette1@gmail.com.

Aanlyn VBO

Sewe beginsels wat 'n huwelik laat werk - Pastorale beradingskursus

Dinsdag 1 September 2026 – Zoom aanbieding - Prof Wentzel Coetzer

Prof. John Gottman, emeritus-professor in sielkunde aan die Universiteit van Washington, word wêreldwyd as een van die voorste kenners op die gebied van huweliks- en verhoudingswetenskap beskou. Oor meer as 50 jaar het sy navorsing duisende pare bestudeer en baanbrekerswerk gelewer wat die veld radikaal verander het. Sy boek, The seven principles for making marriage work, is wêreldwyd ʼn top verkoper, en in hierdie kursus gaan ons veral fokus op die belangrikste perspektiewe wat in hierdie boek aan die orde kom.

Gottman se werk het veral ook bekendheid verwerf na aanleiding van die skepping van ʼn sogenaamde ‘Love Lab’ (liefdes laboratorium) waar pare vir 24 uur saam verkeer en ook oornag. Met behulp van kameras en monitors wat ook liggaamlik gekoppel is, word daar dan fyn waarnemings gemaak van ʼn verskeidenheid van sosiale, emosionele en fisiese aspekte gekoppel aan hul interaksie met mekaar. Na jare se waarneming het Gottman en sy span byvoorbeeld die vaardigheid ontwikkel om na 15 minute se waarneming van die interaksie tussen ʼn egpaar, met 91% korrektheid te kan voorspel of die huwelik uiteindelik sal oorleef of nie. Die praktiese riglyne en merkers wat hy vanuit jare se ervaring formuleer vir huwelike om suksesvol te kan wees, is uiters insiggewend en deurslaggewend.

Teen bovermelde agtergrond sal daar in hierdie kursus deurgaans ook gefokus word op ʼn verskeidenheid van pastorale implikasies wat basies geïntegreer kan word met Gottman se benadering.

Klik hier om in te skryf.

Datum: Dinsdag 1 September 2026
Tyd: 09.00 – 13.00
Akkreditering: 5x VBO punte – CPSC punte – ook AFM PCD akkreditasie
Koste: R300 pp
Handboek te koop (opsioneel): R390 pp (R250 vir die handleiding plus R140 koerierkoste)
Navrae: 0836600409 (ook whatsApp) of e-pos: wentzelc@gmail.com

Inligtingsessie oor die opleiding van Bedienaars

Hierdie aanlyn inligtingsessie is vir almal, leraars en lidmate wat nuuskierig is oor die opleiding van lidmate as Bedienaars in die NG Kerk. In die sessie sal ons oor alles gesels oor die kursus asook geleentheid gee om in Sinodale verband kan te gee om te deel oor die impak van Bedienaars in die kerk.

Daar is 2 aanlyn sessies op zoom. Jy hoef net een te kies wanneer jy op hierdie aanlyn vorm daarvoor registreer. Die skakel na die zoom sal in die week van die sessie aan jou per epos gestuur word.

Die sessies gaan opgeneem word vir persone wat nie een van die sessies kan bywoon nie. Vir meer inligting, kontak asb vir ds. Jaco Botha by jaco.botha@hugenote.ac.za

VBO: Van liefdadigheid na geregtigheid

Hier is nog 'n unieke geleentheid wat op 10 September aangebied word: Van liefdadigheid na geregtigheid, ’n inleidende gesprek oor die WCRC se GRAPE-program, waar ons saam vra hoe gemeentes op nuwe maniere kan deelneem aan God se missie van geregtigheid, vrede en menswaardigheid.
Jy kan hier registreer.

Opleiding as brugleraar

DATUMS : Week 1: 16 – 19 November 2026
Week 2: 08 – 11 Februarie 2027

PE-Sonheuwels hou basaar, 28 Augustus

Basaar op Colchester, 29 Augustus

Uitenhage-Oos hou basaar

NG Kerk Uitenhage-Oos hou LENTE BASAAR op 5 September vanaf 9h00.
Daar is verskeie musiek en sang items uit ons eie gemeenskap, asook ‘n vertoning deur ‘n plaaslike trompetspeler. Motorfiets entoesiaste kan uisien na 'n besoek van Guts en Glory MCC tussen 10h00 en 11h00. Daar sal natuurlik al die normale basaar lekkerte te koop wees, asook kinderspeletjies, 'n Thrift Shop, Lentehoed en Braaibroodjie Kompetisie, Popsi die Nar en privaat stalletjies
Jonk en oud word uitgenooi, want daar is iets vir almal by Freresingel 40, Riebeekhoogte, UITENHAGE

Stephan en Betsie Joubert by PE-Hoogland

Op, Saterdag, 19 September, nooi Hoogland se Gebedsaksie u hartlik uit om tyd saam met die Koning te kom spandeer. Ons verwelkom twee van ons mees geliefde Gassprekers, Stephan Joubert en Betsie Joubert, ‘n seminaar te NGK PE Hoogland.
Met hul warm persoonlikhede, besonderse boodskappe gaan hulle ons met so baie seën. Mans en Vroue is welkom.

🎟️ Kaartjies: R120 per persoon. Kaartjies beskikbaar by die Kerkkantoor (08:00-13:00 {Ma-Vry})
📍 NGK PE Hoogland, annalize@pehoogland.co.za
📅 Saterdag, 19 September 09:00 – 15:00
📞 Navrae: Kontak die kerkkantoor 041 367 1485 (Annalize) of Caroline 061 451 1402

Nooi sommer jou familie, vriende, bure en kollegas en kom geniet saam met ons 'n besonderse geleentheid. Ons sien daarna uit om Hoogland én die gemeenskap hier te verwelkom!

Teken die datum aan

De Duin hou basaar, 10 Oktober

Belangrike inligting op ons webblad

Klik hier vir direkte toegang tot belangrike inligting en dokumente op ons webblad (www.ngkok.co.za):
Besoek Kerkbode vir beskikbare poste in die NG Kerk

Verjaarsdae in Augustus

5 Augustus – ds Corné Slabbert, NG Gemeente Cradock
6 Augustus – ds Wouter O’Kennedy, NG Gemeente Despatch-Noord
9 Augustus – ds Jaco Botha, NG Gemeente Misgund
9 Augustus – ds Hendri Roberts, NG Gemeente Joubertina
12 Augustus – ds Gerhard Loubser, NG Gemeente Port Elizabeth-Lorraine
17 Augustus – ds Barbara-Mari Jacobs, NG Gemeente Port Elizabeth-Sherwood
18 Augustus – ds Wikus Venter, NG Gemeente Dias
20 Augustus – ds Anton Ferreira, NG Gemeente Gamtoosvallei-Oos
27 Augustus – dr Jaco Barnard, NG Gemeente Despatch-Eendrag
29 Augustus – ds Charl Coetzee, NG Gemeente Walmer
31 Augustus – ds Nadine Stoffels, NG Gemeente Somerset-Oos

Indien ons 'n verjaarsdag miskyk, laat ons asb weet. Ons stel dit graag reg.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Gqeberha (Port Elizabeth)
Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Grobbelaar, dr Jan (Snr) - 083 611 8731, grobbelaar.jan@gmail.com
Loots, ds Deon - 084 855 3444, dissipel@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, dr Carel - 082 821 7600, clvdm1@gmail.com
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com
Weyers, prop Chris - 081 270 4240, cjweyers1203@gmail.com

Jeffreysbaai en omgewing
Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853, heinbarnard@lantic.net (ook beskikbaar vir Ring van Albanie en Oos-Londen)
Strydom, Ds Deon - 082 9239 567, deonstr@gmail.com

Aflos (oral) vir korter of langer periodes
Dr Jan Grobbelaar (Snr) - 083 611 8731, grobbelaar.jan@gmail.com
Ds Louis Fourie; 0822946284; louisfourie2008@gmail.com

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za
Beskikbaar om die Enneagram en retraites aan te bied

Ds Deon Loots maak die Baai nou weer sy tuiste en is beskikbaar om die Enneagram of retraites in gemeentes of ringe aan te bied (084 855 3444, dissipel@gmail.com).

Leraars beweeg

Ds Attie Botha word op 14 Augustus 2026 as predikant van die NG Gemeente Albanie bevestig.

Ds John Holtzhausen is op 10 Augustus 2026 na die NG Gemeente Willowmore beroep.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars. Hier is meer inligting hoe amptelike kennisgewings werk wanneer leraars beweeg.
facebook twitter