Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Jaargang 24 - Nommer 31 - 9 Oktober 2026
TEKEN IN op Grens.Pos
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Selfsorg vir leraars: hoe gemaak?
  • Staatsbeheer oor godsdiens: minister probeer vure doodslaan
  • Drie Bedienaars voltooi hul studie suksesvol
  • Leraars beweeg

Hoe sorg leraars vir hulself terwyl hulle soveel van hulleself aan ander gee?

In die eerste episode van die Saamkoms Podcast gesels Pieter Visser en Siegfried Louw oor selfversorging van leraars: hoe om beter na jou eie welstand om te sien te midde van die daaglikse verantwoordelikhede van die bediening.

Leraars stap saam met mense deur vreugde, verlies, onsekerheid en verandering. Hierdie betrokkenheid vra tyd, aandag en emosionele energie. Dit maak dit noodsaaklik om ook aandag te gee aan die mens agter die bediening—iemand met eie behoeftes, verhoudings en beperkings.

Die tema nooi ons om na ons eie lewensritme te kyk. Is daar genoeg ruimte vir rus en herstel? Wat gee jou nuwe moed en energie? En watter klein, haalbare verandering kan jou help om selfversorging ’n meer gereelde deel van jou lewe te maak?
Hierdie episode is vir leraars, mense in versorgende rolle en almal wat die welstand van hul gemeente se leraar op die hart dra.

Opgeneem tydens die PredikanteSAAMkoms 2026 in Goudini.
Daar is reeds meer episodes van die Saamkoms Podcast beskikbaar.

Koffie en jou lewer

Skink maar daardie koffie na kerk!

Vir baie mense begin ’n goeie dag met die geur van vars koffie. Ons drink ook graag koffie na kerk.Boonop al hoe meer goeie kwaliteit koffie!

Maar kan daardie koppie ook gesondheidsvoordele inhou? In ’n artikel op Medscape bespreek die gastroënteroloog dr David Johnson navorsing wat koffiegebruik met ’n laer risiko vir ernstige lewersiektes verbind.

’n Studie het ongeveer 350 000 deelnemers oor sowat 13 jaar gevolg. Mense wat koffie gedrink het, het minder dikwels lewersirrose en lewerkanker ontwikkel en het ’n laer risiko gehad om aan lewerverwante oorsake te sterf. By deelnemers wat drie tot vier koppies per dag gedrink het, was die risiko vir sirrose en lewerkanker ongeveer 35% laer.

Interessant genoeg was soortgelyke verbande by gewone én kafeïenvrye koffie sigbaar. Die moontlike voordele hou dus waarskynlik met meer as net kafeïen verband. Koffie bevat talle verbindings, waaronder antioksidante, wat moontlik die lewer help beskerm.

Johnson plaas die bevindings egter in perspektief: die studie toon ’n verband, maar bewys nie dat koffie die beter uitkomste veroorsaak het nie. Koffie genees ook nie vetterige lewersiekte of vervang gesonde leefgewoontes en behandeling nie.

Lees gerus die oorspronklike artikel op Medscape vir sy verduideliking van die navorsing. Dit bied koffieliefhebbers interessante stof tot nadenke oor ’n alledaagse drankie wat dalk meer voordele inhou as bloot wakkerbly.

Staatsbeheer oor godsdiens?

Kerke vra minister duidelikheid oor CRL-kommissie se planne

Kerke se kommer oor moontlike staatsregulering van godsdiens bly groot, ondanks gerusstellings deur dr. Zweli Mkhize, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA).

Volgens Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA, het Mkhize op 3 Oktober tydens ’n godsdiensvryheidsimbizo by die Kasteel die Goeie Hoop na geloofsleiers se besware geluister. Alle voorleggings het die proses van die CRL-kommissie se artikel 22-komitee vir die Christelike sektor teengestaan.

Die kernvraag is of ’n grondwetlike instelling wat geloofsgemeenskappe moet beskerm, behoort te help om ’n stelsel te ontwerp wat hulle registreer, beheer en sanksioneer. Die voorgestelde raamwerk maak onder meer voorsiening vir verpligte registrasie, ’n openbare register en moontlike deregistrasie.

Mkhize het gesê die CRL-kommissie het geen mandaat om wetgewing te skep nie en dat verwysings na wetgewing uit hierdie proses verwyder moet word. Hy het ook saamgestem dat die proses nie oor staatsregulering van die kerk behoort te gaan nie. Verder het hy erken dat beswaarmakers nie deur deelname aan die komitee gebind behoort te word aan ’n proses wat hulle verwerp nie.

FOR SA verwelkom dié uitsprake, maar beklemtoon dat die gerusstellings mondelings was. Die amptelike dokumente is nog nie openbaar gewysig nie en verwys steeds na ’n wetgewende raamwerk. Parlementêre regsadviseurs ondersoek intussen die komitee se totstandkoming en opdrag.

Mkhize het ook steun uitgespreek vir ’n etiese gedragskode wat geloofsleiers self opstel, bestuur en monitor. Volgens FOR SA bestaan so ’n kode reeds: dit is in 2019 voltooi en in 2020 aan COGTA voorgelê.

FOR SA vra nou skriftelike bevestiging van Mkhize se gerusstellings, die formele onttrekking van die wetgewende opdrag en ’n onderbreking van die verhore totdat die regsadvies beskikbaar is. Die bestaande gedragskode behoort volgens die organisasie die vertrekpunt te wees, met geloofsgemeenskappe self verantwoordelik vir die toepassing daarvan.

Veels geluk

Drie Bedienaars voltooi hul studie suksesvol

Bedienaars is kerkraadslede wat deur middel van 'n aanlyn program by die Hugenote kollege opgelei word om sinvol aan bediening in gemeentes deel te neem. Dit versterk die kapasiteit van gemeentes en dien ter ondersteuning en in samewerking met die gemeente se predikant.

Vanjaar kan drie gemeentes trots voel op Bedienaars wat hul opleiding suksesvol by die Hugenote kollege voltooi en daarmee 'n KAST (Kerklik-geakkrediteerde Sertifikaat in Teologie) en deur praktykgerigte opleiding ook bedieningsvaardigheid en dus -bevoegdheid ontwikkel het:
  • Wentzel Greyling - Prediking en Liturgie
  • Cecil Pierre Roux - Prediking en Liturgie
  • Carike Barkhuizen - Jeug en Familiebediening
Ons wens hierdie drie hartlik geluk. Baie sterkte ook aan die ander studie uit ons Sinode wat steeds besig is met hul studie. Daar is studente wat in ander vaardighede opgelei word wat eers in Desember afstudeer. Nog ander is vanjaar in hul eerste jaar van studie.

Wentzel Greyling getuig
Lees hier hoe Bedienaar Wentzel Greyling getuig oor die roeping wat hy ontvang het om te bedien wat as dryfkrag vir sy deelname aan die opleiding gedoen het.

Gesprekreeks en nuwe publikasie

Gemeentes en gemeenskappe kan met eie bronne, reeds beskikbaar, floreer

FixLocal is 'n Suid-Afrikaanse inisiatief wat gemeenskappe bemagtig om self verantwoordelikheid te neem om eie lotgevalle te verbeter. Die beginsels is besonder van toepassing vir gemeentes. Dit staan as ABCD, Asset-Based Community Development, bekend. Ervaring leer dat gemeentes en gemeenskappe reeds oor die bronne beskik (geskenk deur god) wat hulle nodig het om 'n betekenisvolle toekoms te skep en binne te gaan.

Gedurende Oktober stel FixLocal 'n nuwe publikasie en die beginsels daaragter bekend deur aanlyn gesprek. Klik hier om daarvoor te registreer. Die gesprek vind op 26 Oktober om 17:00 plaas.

Susterskerke verskil, maar bly in gesprek

Wat doen susters wat stry kry? Hulle praat met mekaar. Hierdie gedagte vorm die hart van dr Wouter van Wyk se artikel oor die drie Afrikaanse susterskerke in Blitspos, die Hervormde Kerk se nuusbrief van 1 Oktober 2026.

Van Wyk bespreek die spanning tussen die Nederduitsch Hervormde Kerk, die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke. Die GKSA se besluite oor vroue in die amp en verhoudings met ander kerke het diepgaande verskille blootgelê. Volgens hom lê uiteenlopende benaderings tot Skrifverstaan aan die wortel daarvan.

Verteenwoordigers van die drie kerke het op 1 September in Pretoria byeengekom om hierdie verskille te bespreek. Die gesprek het in ’n goeie gees plaasgevind, hoewel belangrike vrae oor toekomstige samewerking bly staan.

Wat beteken dit vir kanselruil, sakramentsbediening en gemeentes wat saam wil werk? Van Wyk verduidelik dat plaaslike samewerking steeds moontlik is, maar deeglike gesprek en duidelike ooreenkomste vereis.

Die kerke het besluit om verder te praat. Van Wyk herinner lesers daaraan dat Christelike eenheid in die eenheid van God gewortel is: ons behoort aan dieselfde huisgesin.

Lees gerus sy volledige artikel in Blitspos. Dit bied waardevolle agtergrond en stof tot nadenke oor hoe kerke, ondanks ernstige verskille, mekaar steeds as broers en susters in Christus kan ontmoet.

Christene en die verkiesing 2026

Motiveer lidmate om te gaan stem

In metropolitaanse gebiede ontvang stemgeregtigdes twee stembriewe. Die eerste sttem is vir die wykskandidaat van jou keuse. Hierdie stem word 'n tweede keer getel, saam met jou tweede stembrief wat geld vir proporsionele verteenwoordiging, Albei stemme is belangrik want dit het 'n direkte impak op die samestelling van die raad.

In landelike munisipaliteite met 'n plaaslike en 'n streeksraad ontvang kiesers drie stembriewe. Die effek hiervan is ook gerig op beide kandidaats- en proporsionele verteenwoordiging.

Predikante word versoek om hierdie inligting via 'n kort aankondiging by die erediens met lidmate te deel. Daar is 'n volledige inligtingsdokument beskikbaar.

Lidmate word versoek om die volledige dokument te lees en ook op die aanlyn portaal waar grafika en Powerpoints voorberei is van die grafika af te laai en op hul sosiale media profiele te plaas.

Aanlyn

Gesprek oor die 16de-eeuse Reformasie en vandag

Op die vooraand van Hervormingsdag nooi ons julle graag uit na ‘n webinar waar ps. Felix Meylahn, dr. Angelique Havenga en dr. Tom Smith gaan gesels oor wat die 16de-eeuse Reformasie en stemme soos Luther en Calvyn vandag, in 2026, nog vir ons te sê het. Sluit op 19 Oktober aan van 16:30 tot 17:30. Registreer hier.
Die skakel vir die aanlyn gesprek word na registrasie aangestuur.

Vir jou dagboek

Global Leadership Summit te Jeffreysbaai - 7 November

Gys van Schoor deel agtergrond

Uitnodiging: Neem gerus deel aan Geloofsreis 2027

In hierdie aanbieding stel ds Gys van Schoor en medewerkers die Geloofsreis met Jesus 2027 bekend. Dit vind in Oos-Kaapland plaas en is bedoel vir predikante en gemeenteleiers. Belangstellendes kan gerus met ds Tobie van Schoor kontak maak vir meer inligting: 2bvanschoor@gmail.com

Lof en aanbidding met Reggie Peace, 9 Okt, Sydenham-gemeente

Die byeenkoms vind by Sydenham-gemeente, Uitenhageweg, plaas - klik hier vir die ligging van die kerkgebou.

Teken die datum aan

De Duin hou basaar, 10 Oktober

Humansdorp-Oos vier 50-jaar met Elvis Blue in konsert, 16 Okt

Basaar by Dagbreek-gemeente op Despatch, 30 Okt

Fees by Blouwaterbaai Familiekerk, 30-31 Oktober

Despatch-Bothasrus vier 85-jarige fees, 21 November

Bothasrus gemeente vier op 21 November 2026 ons 85ste verjaarsdag. Ons vier die verjaardag met ‘n groot Kos-&-Kuierfees. Heerlike basaarkosse, kunsstalletjies, boeresport, tuk-tuk ritte en kaskarritte. ‘n Dag van pret, plesier en baie lag en eet word beplan. Sondag 22 November is dit ‘n Dankdiens om dankie te sê vir die Here se genade oor 85 jaar vir Bothasrus. Nagmaal. Die aand sal ons Kerssangdiens wees.

Belangrike inligting op ons webblad

Klik hier vir direkte toegang tot belangrike inligting en dokumente op ons webblad (www.ngkok.co.za):

Vakature: PSD Diens van Barmhartigheid

Voltydse senior leierskapspos by die Vrystaatse Sinode

‘n Toegewyde en dinamiese leier met ‘n hart vir mense in nood word gesoek om as PSD: Diens van Barmhartigheid te dien. Die pos bied die geleentheid om barmhartigheid terug te bring na die hart van die gemeente: van noodleniging na ‘n verhoudingsgebaseerde, missionale diakonaat wat gemeentes self dra. Die suksesvolle kandidaat kan diakonaat teologies begrond én prakties in gemeentes laat gebeur sodat gemeentes, ringe en ander rolspelers saam doeltreffende en volhoubare ondersteuning bied.

Klik hier om die posbeskrywing en verdere inligting te lees.

Verjaarsdae in Oktober

Veels geluk aan die leraars wat tot die einde van Oktober verjaar:

4 Oktober – ds Franz Gottschalk, NG Gemeente Rhodes
7 Oktober – ds Wicus Wait, NG Gemeente Port Elizabeth
13 Oktober – ds Llewellyn Oliver, NG Gemeente Uitenhage
13 Oktober – dr Paul Stoltz, NG Gemeente Algoapark
21 Oktober – ds Arrie Preller, NG Gemeente Despatch-Suid
22 Oktober – ds Attie Botha, NG Gemeente Albanie
29 Oktober – ds Ruan Nieuwenhuizen, NG Gemeente Somerset-Oos
30 Oktober – dr Gerard Olivier, NG Gemeente Grasvoëlkop

Indien ons 'n verjaarsdag miskyk, laat ons asb weet. Ons stel dit graag reg.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Gqeberha (Port Elizabeth)
Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Grobbelaar, dr Jan (Snr) - 083 611 8731, grobbelaar.jan@gmail.com
Loots, ds Deon - 084 855 3444, dissipel@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, dr Carel - 082 821 7600, clvdm1@gmail.com
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com
Weyers, prop Chris - 081 270 4240, cjweyers1203@gmail.com

Jeffreysbaai en omgewing
Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853, heinbarnard@lantic.net (ook beskikbaar vir Ring van Albanie en Oos-Londen)
Strydom, Ds Deon - 082 9239 567, deonstr@gmail.com

Aflos (oral) vir korter of langer periodes
Dr Jan Grobbelaar (Snr) - 083 611 8731, grobbelaar.jan@gmail.com
Ds Louis Fourie; 0822946284; louisfourie2008@gmail.com

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za
Beskikbaar om die Enneagram en retraites aan te bied

Ds Deon Loots maak die Baai nou weer sy tuiste en is beskikbaar om die Enneagram of retraites in gemeentes of ringe aan te bied (084 855 3444, dissipel@gmail.com).

Leraars beweeg

Ds John Holthausen van Klawer het die beroep na Die NG Gemeente Willowmore aanvaar. Sy bediening begin op 1 Desember en hy word op 6 Desember 2026 bevestig.

Die NG Gemeente Uitenhage-Noord het ds Ruan Nieuwenhuizen van Somerset-Oos op 14 September as leraar van die gemeente beroep.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars. Hier is meer inligting hoe amptelike kennisgewings werk wanneer leraars beweeg.
facebook twitter