Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Jaargang 24 - Nommer 23 - 7 Augustus 2026
TEKEN IN op Grens.Pos
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Vier Vrouedag op 'n gepaste manier - Christina Landman
  • Jou deernis is goed vir jou liggaam
  • Hoe om 'n valse media-narratief uit te ken
  • Die kerk se getuienis rondom korrupsie
  • Gemeentes aan die draf
  • Leraars beweeg

Vrouedag: meer as blomme en komplimente

Vrouedag verg dat ons vroue se diverse gawes en dikwels ongesiene bydraes ernstig opneem en vier, skryf prof. Christina Landman

Hoe vier ons Vrouedag op ’n manier wat vroue werklik eer, sonder om mans en vroue teenoor mekaar te stel? Volgens prof. Christina Landman, teoloog verbonde aan Unisa, behoort Vrouedag nie ’n kompetisie tussen die geslagte te word nie. Dit moet eerder ’n geleentheid wees om ons gedeelde menswaardigheid te vier en met dankbaarheid erkenning te gee aan vroue se bydrae op elke terrein van die lewe.

Die geskiedenis van 9 Augustus herinner ons aan die sowat 20 000 vroue wat in 1956 ordelik na die Uniegebou gemarsjeer het. Hulle het nie probeer om mans te vervang of die samelewing oor te neem nie. Hulle wou die land se aandag vestig op onregverdige wette wat vroue en hulle gesinne se vryheid en menswaardigheid aangetas het.
Daarom kan Vrouedag nie afgehandel word met ’n bossie blomme en ’n paar mooi komplimente nie. Dit vra dat ons vroue se menswaardigheid, gawes, arbeid en dikwels ongesiene diens ernstig sal opneem — nie net op een dag van die jaar nie, maar elke dag.

Landman beklemtoon ook dat gesonde verhoudings nie deur ’n stryd om mag gebou word nie, maar deur wedersydse verantwoordelikheid. Mans en vroue het albei hulle oorsprong in God en dra albei God se beeld. Om vroue te bemagtig, beteken nie dat mans verkleineer moet word nie. Dit beteken dat vroue die ruimte moet hê om verantwoordelike keuses oor hulle roeping, gesinslewe en loopbaan te maak.

’n Sinvolle Vrouedagviering sluit dus almal in. Dit eer die vroue wat groot openbare bydraes lewer, maar ook dié wie se daaglikse werk maklik ongesiens verbygaan. Die doel is nie dat iemand beskuldig of bedreig moet voel nie, maar dat ons saam sal bou aan ’n samelewing waarin elke mens se waardigheid erken word.

(Gebaseer op 'n artikel deur prof. Christina Landman op Netwerk24.com, 5 Augustus 2026)

Die mediese voordele van deernis en vriendelikheid

Dade van deernis en steun verlaag onder meer nadelige kortisolvlakke en lei tot verhoogde rustigheid, sê 'n medikus

Deernis en vriendelikheid word dikwels as mooi, maar ietwat sagte waardes beskou. Volgens dr. Neil Skolnik toon navorsing egter dat dit nie net ander mense bevoordeel nie. Dit kan ook ’n meetbare invloed hê op die liggaam en emosionele welstand van die persoon wat goed doen.

Een van die belangrikste bevindings is dat vriendelike optrede met laer vlakke van kortisol verband hou. Kortisol is ’n hormoon wat tydens spanning afgeskei word. Wanneer spanning lank voortduur, kan dit ’n nadelige uitwerking op die liggaam hê. Dade van goedhartigheid kan moontlik ook sekere merkers van inflammasie verbeter.

In een studie is deelnemers gevra om drie vriendelike dade per week te verrig. Hulle het daarna minder angs en ’n sterker gevoel van eiewaarde ervaar. In ’n ander studie het deelnemers ’n geskenk aan iemand gegee voordat hulle doelbewus aan ’n stresvolle situasie blootgestel is. Hulle hartklop en bloeddruk het daarna vinniger na normale vlakke teruggekeer as dié van deelnemers wat nie vooraf iets gegee het nie.

Wat sit dus agter deernis? Dit begin by die vermoë om ’n ander mens se behoefte, pyn of kwesbaarheid raak te sien. Maar deernis bly nie net by ’n gevoel nie. Dit beweeg ’n mens tot optrede: om te luister, tyd af te staan, iets te gee, iemand te ondersteun of bloot met respek en sagtheid op te tree.

Sulke optrede verander ook iets in die gewer. Dit verskuif die aandag weg van die eie spanning, versterk ’n gevoel van verbondenheid en herinner ons dat ons iets betekenisvols vir ’n ander kan doen.

Deernis is daarom nie swakheid of blote sentimentaliteit nie. Dit is ’n lewenshouding wat verhoudings versterk en moontlik ook ons liggame help om spanning beter te hanteer. Ons het dus goeie menslike én wetenskaplike redes om vriendelik te wees — terwyl daar nog tyd is.

Prof Malan Nel

Het die kerk vergeet hoe om dissipels te maak?

Baie kerke beleef vandag onsekerheid oor hulle identiteit en roeping. Lidmaatgetalle neem af, die kerk se invloed in die samelewing verander en beproefde bedieningsmodelle lewer nie meer vanself dieselfde resultate nie. Volgens prof. Malan Nel is die kerk by ’n kruispad: ons kan probeer voortgaan soos voorheen, of ons kan terugkeer na Jesus se oorspronklike opdrag: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies.”

In sy artikel, Disciple-making: What is it all about?, gepubliseer in die gesaghebbende HTS Theological Studies. vra Nel hoe die kerk hierdie kernroeping uit die oog verloor het. Een rede is dat lidmaatskap binne ’n Christelike kultuur maklik die plek van navolging ingeneem het. Mense kon hulleself as Christene beskou sonder dat hulle lewe werklik deur Jesus gevorm is. Die evangelie is soms ook verskraal tot sondevergifnis en ’n bestemming ná die dood, eerder as die omvattende goeie nuus van God se koninkryk wat mense en gemeenskappe reeds hier en nou verander.

Nel beklemtoon dat dissipelskap veel meer as ’n kursus of kerkprogram is. Dit is ’n lewenswyse waarin mense Jesus leer ken, Hom volg en algaande deur Hom verander word. Dissipels maak ander dissipels deur hulle alledaagse lewe: deur verhoudings, gasvryheid, diens, deernis, eerlike luister en die bereidheid om op ’n sagte en respekvolle manier oor hulle geloof te praat.

Die artikel bied nie ’n vinnige resep vir kerkgroei nie. Dit roep gemeentes eerder tot ’n diepgaande reformasie: elke lidmaat moet opnuut ontdek dat hy of sy geroep is om ’n leerling en navolger van Jesus te wees. Die kerk se toekoms lê daarom nie in die beskerming van ’n instelling of kulturele posisie nie, maar in gemeentes waar mense saam leer om elke dag “die Jesus-pad” te leef.

Hierdie is ’n belangrike en uitdagende artikel vir predikante, kerkrade en gemeenteleiers wat ernstig nadink oor missionale gemeentewees, geloofsvorming en die kerk se roeping in ’n veranderende wêreld. Dit help ons om weer die eenvoudige maar ingrypende vraag te vra: Maak ons werklik dissipels wat op hulle beurt ander dissipels maak?

Ses toetse om ’n misleidende mediastorie raak te sien

Mediaberigte gee nie altyd bloot die feite weer nie. Soms word ’n bepaalde vertelling doelbewus opgebou om die publiek se oordeel te beïnvloed.

Dink maar aan vals beskuldigings wat SAID-ondersoeke teen belastingontduikers ontspoor het of al die wanvoorstellings wat voor kommissies van ondersoek ontbloot word.

The Common Sense stel ses eenvoudige toetse voor om te onderskei of jy dalk gemanipuleer word.

1. Moenie naïef wees nie
Geen instelling is vanself teen korrupsie, vooroordeel of politieke beïnvloeding gevrywaar nie — ook nie die media of burgerlike organisasies nie. Groot stories kan groot verdraaiings bevat. Lees daarom met ’n gesonde mate van versigtigheid.

2. Vra presies wat verkeerd gedoen is
Moenie tevrede wees met vae beskuldigings soos “spioenasie”, “misbruik” of “onbehoorlike optrede” nie. Vra: Watter spesifieke oortreding is begaan? Is daar duidelike bewyse? Wanneer niemand dit presies kan verduidelik nie, moet waarskuwingsligte begin flikker.

3. Wees versigtig vir slagspreuke wat herhaal word
Wanneer dieselfde bewering voortdurend herhaal word, maar min nuwe feite verskyn, kan dit ’n poging wees om ’n boodskap deur herhaling geloofwaardig te laat klink. Sterk bewyse hoef nie deur vae slagspreuke vervang te word nie.

4. Wantrou ’n eensgesinde mediakoor
Baie berigte beteken nie noodwendig baie onafhanklike bronne nie. Verskillende publikasies kan dieselfde bron of vertelling herhaal. Soek ’n betroubare bron wat anders dink en toets die hoofstroomvertelling teen die teenargument.

5. Vra wie daarby baat
Wie wen wanneer iemand afgedank, stilgemaak of gediskrediteer word? Wie trek voordeel uit ’n beleidsverandering of die verswakking van ’n instelling? Hierdie vraag help om die praktiese doel agter die storie raak te sien.

6. Let op die omkering van die werklikheid
’n Algemene taktiek is om hervormers, ondersoekers of fluitjieblasers te beskuldig van juis dit wat hulle probeer blootlê. Vergelyk die beskuldiging met die persoon of instelling se geskiedenis en bewese optrede.

Die belangrikste vrae bly: Wat presies het gebeur? Wie baat by die gevolge? En word die werklikheid dalk doelbewus omgekeer?

Johann van Loggerenberg vertel

Sewe stappe waarmee ’n vals media-aanslag opgebou word

Johann van Loggerenberg, voormalige ondersoeker by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, en self die slagoffer van 'n ongegronde media-aanslag, aangedryf deur korruptes, beskryf in 'n plasing op X ’n herkenbare patroon waarvolgens mense deur verdraaide ondersoeke, gerugte en mediaberigte geteiken kan word. Hier is 'n opsomming:

1. Besluit vooraf dat iemand skuldig is
Die proses begin nie by feite nie, maar by ’n voorafbepaalde gevolgtrekking. Vals of versinde bewerings word gebruik om die teiken reeds skuldig te laat lyk.

2. Begin ’n geheime ondersoek om die verhaal te bevestig
Ondersoeke word agter geslote deure gevoer en magte word op twyfelagtige maniere gebruik om ’n voorafopgestelde vertelling te ondersteun.

3. Gebruik geheime ondersoekers en ongetoetste getuies
Die beskuldigings steun op naamlose of beskermde bronne wat nooit behoorlik ondervra of aan kruisondervraging onderwerp word nie.

4. Gebruik dramatiese opskrifte om maksimum skade aan te rig
Interne politiek, gerugte en onbeproefde bewerings word in opspraakwekkende mediaberigte omskep. Die doel is om die teiken se reputasie te vernietig voordat die feite behoorlik getoets is.

5. Skep stilte en lok opportuniste
Kollegas bly uit vrees stil, terwyl ander mense by die veldtog aansluit omdat dit hulle eie belange dien. Só kry die propaganda al hoe meer momentum.

6. Put die teiken uit en hou sy of haar stem uit die openbaar
Duur regsprosesse, voortdurende lekkasies, nuwe gerugte en sosiale isolasie word gebruik om die persoon finansieel en emosioneel af te breek. Die teiken moet moeg, stil en ongeloofwaardig gemaak word.

7. Vorm ’n onwaarskynlike koalisie van teenstanders
Verskillende groepe en individue wat normaalweg min gemeen het, verenig rondom hul afkeer van dieselfde teiken en versterk mekaar se beskuldigings.

Van Loggerenberg waarsku dat die waarheid soms eers jare later na vore kom. Teen daardie tyd is die reputasieskade dikwels permanent, terwyl diegene wat die staatsmasjinerie en media misbruik het, selde tot verantwoording geroep word. Dit is dan nie geregtigheid nie, maar mag wat as ’n wapen gebruik word.

Lees hoe Van Loggerenberg sy ontstellende verhaal vertel.

Die NG Kerk se roeping binne die konteks van korrupsie

Oor die afgelope jaar het die Algemene Sinodale Moderamen teologies besin oor die NG Kerk se openbare getuienis oor korrupsie in Suid-Afrika. In ons tyd waar korrupsie die waardigheid van mense aantas, lewens in gevaar stel, openbare vertroue ondermyn en die toekoms van gemeenskappe en ons land in geheel bedreig, kan die kerk nie afsydig staan nie.

Die kerk se betrokkenheid word nie deur politieke of ideologiese oorwegings bepaal nie, maar deur haar roeping om as teken, voorsmaak en instrument van God se geregtigheid en hoop in die wêreld te leef. Hiervan getuig ook ons Roepingsverklaring.

Korrupsie is nie bloot 'n administratiewe of politieke probleem nie, maar 'n diepgaande geestelike en morele krisis wat die waardigheid van mense, die vertroue in openbare instellings en die welstand van gemeenskappe ernstig aantas.

'n Volledige verslag gee verder rekenskap van die NG Kerk se samewerking met ander kerke in die aanspreek van korrupsie. Dit sluit onder meer die kerk se deelname aan die ekumeniese Anti-Korrupsiekonferensie van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in Julie 2025, die ondersteuning van die Anti-Korrupsieverklaring, medeondertekening daarvan saam met leierskap van die VGK in Mei vanjaar, asook deelname aan gesprekke met die regering oor sistemiese korrupsie, openbare aanspreeklikheid en die herstel van vertroue in staatsinstellings in.

Ten slotte gee die verslag praktiese riglyne aan gemeentes, ringe en sinodes om hierdie roeping deur verkondiging, geloofsvorming, verantwoordbare rentmeesterskap, pastorale begeleiding, diensbaarheid en voorbidding konkreet uit te leef. Ons vertrou dat hierdie dokument sinodes, ringe en gemeentes sal ondersteun in die uitleef van hul roeping.

Die verslag is hier beskikbaar.

Aanlyn VBO

Hoe kan KI my help om Grieks beter te verstaan?

Wil jy die Nuwe Testament se Grieks beter verstaan en ontdek hoe Kunsmatige Intelligensie (KI) jou kan help om die Bybelteks op ’n nuwe manier te lees en te bestudeer?
Sluit by ons aan vir ’n besonderse Zoom-sessie met Prof Marius Nel (US) waar ons saam gaan kyk na:
✅ Wat is Koine-Grieks?
✅ Hoe kan KI-modelle jou help om die Griekse teks beter te verstaan?
✅ Hoe werk ons met teksvariante, grammatika en vertaal-variasies?
✅ Hoe kan hierdie hulpmiddels jou Bybelstudie verdiep?
📅 Dinsdag, 11 Augustus
🕖 19:00 – 21:00
💻 Aanlyn via Zoom
🎓 2 VBO-punte
🔗 Sluit hier aan:
https://us02web.zoom.us/j/86306890174...
🆔 Meeting ID: 863 0689 0174
🔒 Wagkode: 259870
💬 Meeting Chat:
https://us02web.zoom.us/launch/jc/86306890174
Kom ontdek die krag van KI-Koine en hoe antieke tale en moderne tegnologie saam nuwe insigte kan ontsluit. Ons sien uit daarna om saam met jou die wêreld van die Nuwe Testament se Grieks op 'n vars en praktiese manier te verken!
📧 Navrae: leon@ngkvs.co.za

Aanlyn VBO, 13 Augustus

Die Pastor in 'n eeu van egtheid

Aanlyn webinaar : “Die pastor in ’n eeu van egtheid”
Wat beteken dit om vandag 'n geloofwaardige pastor te wees in 'n wêreld wat na egtheid smag? Sluit op 13 Augustus by dr. Gerrie Bodenstein aan vir 'n insiggewende aanlynsessie oor identiteit, roeping en relevante bediening in 'n veranderende kultuur. Registreer hier.

Aanlyn VBO

Sewe beginsels wat 'n huwelik laat werk - Pastorale beradingskursus

Dinsdag 1 September 2026 – Zoom aanbieding - Prof Wentzel Coetzer

Prof. John Gottman, emeritus-professor in sielkunde aan die Universiteit van Washington, word wêreldwyd as een van die voorste kenners op die gebied van huweliks- en verhoudingswetenskap beskou. Oor meer as 50 jaar het sy navorsing duisende pare bestudeer en baanbrekerswerk gelewer wat die veld radikaal verander het. Sy boek, The seven principles for making marriage work, is wêreldwyd ʼn top verkoper, en in hierdie kursus gaan ons veral fokus op die belangrikste perspektiewe wat in hierdie boek aan die orde kom.

Gottman se werk het veral ook bekendheid verwerf na aanleiding van die skepping van ʼn sogenaamde ‘Love Lab’ (liefdes laboratorium) waar pare vir 24 uur saam verkeer en ook oornag. Met behulp van kameras en monitors wat ook liggaamlik gekoppel is, word daar dan fyn waarnemings gemaak van ʼn verskeidenheid van sosiale, emosionele en fisiese aspekte gekoppel aan hul interaksie met mekaar. Na jare se waarneming het Gottman en sy span byvoorbeeld die vaardigheid ontwikkel om na 15 minute se waarneming van die interaksie tussen ʼn egpaar, met 91% korrektheid te kan voorspel of die huwelik uiteindelik sal oorleef of nie. Die praktiese riglyne en merkers wat hy vanuit jare se ervaring formuleer vir huwelike om suksesvol te kan wees, is uiters insiggewend en deurslaggewend.

Teen bovermelde agtergrond sal daar in hierdie kursus deurgaans ook gefokus word op ʼn verskeidenheid van pastorale implikasies wat basies geïntegreer kan word met Gottman se benadering.

Klik hier om in te skryf.

Datum: Dinsdag 1 September 2026
Tyd: 09.00 – 13.00
Akkreditering: 5x VBO punte – CPSC punte – ook AFM PCD akkreditasie
Koste: R300 pp
Handboek te koop (opsioneel): R390 pp (R250 vir die handleiding plus R140 koerierkoste)
Navrae: 0836600409 (ook whatsApp) of e-pos: wentzelc@gmail.com

Inligtingsessie oor die opleiding van Bedienaars

Hierdie aanlyn inligtingsessie is vir almal, leraars en lidmate wat nuuskierig is oor die opleiding van lidmate as Bedienaars in die NG Kerk. In die sessie sal ons oor alles gesels oor die kursus asook geleentheid gee om in Sinodale verband kan te gee om te deel oor die impak van Bedienaars in die kerk.

Daar is 2 aanlyn sessies op zoom. Jy hoef net een te kies wanneer jy op hierdie aanlyn vorm daarvoor registreer. Die skakel na die zoom sal in die week van die sessie aan jou per epos gestuur word.

Die sessies gaan opgeneem word vir persone wat nie een van die sessies kan bywoon nie. Vir meer inligting, kontak asb vir ds. Jaco Botha by jaco.botha@hugenote.ac.za

VBO: Van liefdadigheid na geregtigheid

Hier is nog 'n unieke geleentheid wat op 10 September aangebied word: Van liefdadigheid na geregtigheid, ’n inleidende gesprek oor die WCRC se GRAPE-program, waar ons saam vra hoe gemeentes op nuwe maniere kan deelneem aan God se missie van geregtigheid, vrede en menswaardigheid.
Jy kan hier registreer.

Opleiding as brugleraar

DATUMS : Week 1: 16 – 19 November 2026
Week 2: 08 – 11 Februarie 2027

Musiek en inspirasie by PE-Hoogland

Oor 3 weke, op Vrydag 14 Augustus, verwelkom Hoogland Gemeente een van Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse kunstenaars, Andriëtte Norman, op die verhoog van Impetus Teater.
Met haar warm persoonlikheid, besonderse stem en geliefde treffers soos "Sewe Oseane" en "Dink aan My", beloof dit om 'n aand vol musiek, inspirasie en onvergeetlike oomblikke te wees.
🎟️ Kaartjies: R200 per persoon
📍 Impetus Teater
📅 Vrydag 14 Augustus om 19:00
Kaartjies is reeds beskikbaar op Quicket – moenie te lank wag nie!
https://www.quicket.co.za/events/358644-andritte-norman/?ref=events-list#/

📞 Navrae: Kontak die kerkkantoor 041 3671485 of stuur ‘n WhatsApp 079 815 9325

Nooi sommer jou familie, vriende, bure en kollegas en kom geniet saam met ons 'n besonderse aand. Ons sien uit daarna om Hoogland én die gemeenskap daar te verwelkom!

Basaar op Colchester, 29 Augustus

Uitenhage-Oos hou basaar

NG Kerk Uitenhage-Oos hou LENTE BASAAR op 5 September vanaf 9h00.
Daar is verskeie musiek en sang items uit ons eie gemeenskap, asook ‘n vertoning deur ‘n plaaslike trompetspeler. Motorfiets entoesiaste kan uisien na 'n besoek van Guts en Glory MCC tussen 10h00 en 11h00. Daar sal natuurlik al die normale basaar lekkerte te koop wees, asook kinderspeletjies, 'n Thrift Shop, Lentehoed en Braaibroodjie Kompetisie, Popsi die Nar en privaat stalletjies
Jonk en oud word uitgenooi, want daar is iets vir almal by Freresingel 40, Riebeekhoogte, UITENHAGE

Stephan en Betsie Joubert by PE-Hoogland

Op, Saterdag, 19 September, nooi Hoogland se Gebedsaksie u hartlik uit om tyd saam met die Koning te kom spandeer. Ons verwelkom twee van ons mees geliefde Gassprekers, Stephan Joubert en Betsie Joubert, ‘n seminaar te NGK PE Hoogland.
Met hul warm persoonlikhede, besonderse boodskappe gaan hulle ons met so baie seën. Mans en Vroue is welkom.

🎟️ Kaartjies: R120 per persoon. Kaartjies beskikbaar by die Kerkkantoor (08:00-13:00 {Ma-Vry})
📍 NGK PE Hoogland, annalize@pehoogland.co.za
📅 Saterdag, 19 September 09:00 – 15:00
📞 Navrae: Kontak die kerkkantoor 041 367 1485 (Annalize) of Caroline 061 451 1402

Nooi sommer jou familie, vriende, bure en kollegas en kom geniet saam met ons 'n besonderse geleentheid. Ons sien daarna uit om Hoogland én die gemeenskap hier te verwelkom!

Teken die datum aan

De Duin hou basaar, 10 Oktober

Belangrike inligting op ons webblad

Klik hier vir direkte toegang tot belangrike inligting en dokumente op ons webblad (www.ngkok.co.za):
Besoek Kerkbode vir beskikbare poste in die NG Kerk

Verjaarsdae in Augustus

5 Augustus – ds Corné Slabbert, NG Gemeente Cradock
6 Augustus – ds Wouter O’Kennedy, NG Gemeente Despatch-Noord
9 Augustus – ds Jaco Botha, NG Gemeente Misgund
9 Augustus – ds Hendri Roberts, NG Gemeente Joubertina
12 Augustus – ds Gerhard Loubser, NG Gemeente Port Elizabeth-Lorraine
17 Augustus – ds Barbara-Mari Jacobs, NG Gemeente Port Elizabeth-Sherwood
18 Augustus – ds Wikus Venter, NG Gemeente Dias
20 Augustus – ds Anton Ferreira, NG Gemeente Gamtoosvallei-Oos
27 Augustus – dr Jaco Barnard, NG Gemeente Despatch-Eendrag
29 Augustus – ds Charl Coetzee, NG Gemeente Walmer
31 Augustus – ds Nadine Stoffels, NG Gemeente Somerset-Oos

Indien ons 'n verjaarsdag miskyk, laat ons asb weet. Ons stel dit graag reg.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Gqeberha (Port Elizabeth)
Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Grobbelaar, dr Jan (Snr) - 083 611 8731, grobbelaar.jan@gmail.com
Loots, ds Deon - 084 855 3444, dissipel@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, dr Carel - 082 821 7600, clvdm1@gmail.com
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com
Weyers, prop Chris - 081 270 4240, cjweyers1203@gmail.com

Jeffreysbaai en omgewing
Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853, heinbarnard@lantic.net (ook beskikbaar vir Ring van Albanie en Oos-Londen)
Strydom, Ds Deon - 082 9239 567, deonstr@gmail.com

Aflos (oral) vir korter of langer periodes
Dr Jan Grobbelaar (Snr) - 083 611 8731, grobbelaar.jan@gmail.com
Ds Louis Fourie; 0822946284; louisfourie2008@gmail.com

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za
Beskikbaar om die Enneagram en retraites aan te bied

Ds Deon Loots maak die Baai nou weer sy tuiste en is beskikbaar om die Enneagram of retraites in gemeentes of ringe aan te bied (084 855 3444, dissipel@gmail.com).

Leraars beweeg

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars. Hier is meer inligting hoe amptelike kennisgewings werk wanneer leraars beweeg.
facebook twitter