Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Jaargang 24 - Nommer 19 - 17 Junie 2026
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • Oor vaderskap
  • Die werklik diep vrae waarop geloof 'n antwoord moet gee (en troos is nie genoeg nie)
  • Publieke getuienis: Motiveer kiesers om te registreer en te stem
  • TedX Somerstrand
  • Leraars beweeg

Die gawe van Vaderskap (met eredienswenke)

Vadersdag herinner ons daaraan dat ’n pa ’n unieke figuur is wat dinge vir sy kinders kan beteken wat niemand anders kan nie.

Daar is ’n treffende gedagte van die skrywer Umberto Eco waaruit elke pa kan leer: “Ek glo dat dit wat ons word, afhang van wat ons vaders ons leer in vreemde oomblikke, wanneer hulle nie probeer om ons te leer nie. Ons word gevorm deur klein stukkies wysheid.” Hierdie “vreemde oomblikke” - die onbeplande oomblikke tussen die groot gebeure van die lewe - is dikwels waar die diepste spore van geloof getrap word.

Vir die Christelike pa is hierdie konsep nie nuut nie; dit is eintlik ’n eeue-oue Bybelse opdrag. Lees meer oor Vaderskap (met dank aan Vrydagnuus).

DinkJeug deel eredienswenke vir Vadersdag

DinkJeug se derde Sondag in Jeugmaand sluit aan by Vadersdag en fokus op dié tema: Voorbeeld. Die wenk van die week nooi gemeentes om dankie te sê vir pa’s, ooms, oupas, broers, stiefpa’s, onderwysers, kategete, afrigters, mentors en ander vaderfigure wat tyd maak vir kinders en jongmense. Met ’n Bar One as simbool word daar erkenning gegee aan mense wat daardie ekstra uur van liefde, teenwoordigheid en voorbeeld-wees in ’n kind of tiener se lewe gee.

Klik hier vir meer Vadersdagwenke, onder meer vir die erediens.

'n Toets vir geloof (Deel 1)

Die werklik wesenlike vrae waarop geloof 'n antwoord moet gee

Prof. Marius Nel, Nuwe Testamentiese kenner, verwys in 'n onlangse lesing na Roberto Unger se wesenlike kritiek op die Christelike geloof.

Unger beskryf in sy boek Religion of the Future (2014) vier “onherstelbare gebreke” van die menslike bestaan wat 'n geloofwaardige godsdiens moet kan aanspreek: sterflikheid, grond(e)loosheid, onversadigbaarheid en die vernedering of verkleining van die menslike lewe.

Hy gebruik dié vertrekpunt van sy boek: die mens moet eerlik kyk na dié diep breuke in ons bestaan voordat enige geloofwaardige godsdiens of lewensbeskouing moontlik is.

Sterflikheid beteken dat elke mens onder die sekerheid van die dood leef. Ons bou, bemin, hoop en skep, maar alles word begrens deur die feit dat ons lewe eindig. Vir Unger is dit een van die redes waarom tradisionele godsdienste dikwels probeer troos bied deur die dood te relativeer of deur ’n lewe ná die dood te belowe.

Grondeloosheid verwys na die ervaring dat die lewe geen vanselfsprekende, finale waarborg of vaste fondament het nie. Ons kan nie eenvoudig bewys dat ons individuele lewens ’n vooraf-gegewe betekenis het nie. Die mens moet dus leef met die moontlikheid dat betekenis nie bloot ontdek word nie, maar geskep, gevorm en gewaag moet word.

Onversadigbaarheid dui op die mens se rustelose begeerte na meer: meer liefde, meer lewe, meer erkenning, meer moontlikheid. Ons verlang na ’n volheid wat die werklikheid nooit volledig kan gee nie. Daarom is die mens vir Unger nie net ’n behoeftige wese nie, maar ’n wese wat voortdurend oor sy of haar huidige grense wil uitstyg.

Vernedering of verkleining van die menslike lewe beteken dat mense dikwels deur sosiale strukture, armoede, mag, gewoonte, mislukking en ander mense se oordeel kleiner gemaak word as wat hulle kan wees. Ons word vasgedruk in rolle, verwagtings en stelsels wat ons moontlikhede beperk. Een resensie som Unger se breër projek op as ’n poging om mense vryer te maak van die beperkings en vernederings wat hulle omring.

Unger se punt is dat tradisionele godsdienste dikwels probeer sê: uiteindelik sal alles regkom. Mense word met toekomsbeloftes getroos. Kerklike aksies spreek dalk vernedering op verkleinering aan (bv. sopkombuise vir die hongeres, werkskepping vir die werkloses) maar troos bloot oor die ander kondisies. Dit spreek nie regtig mense se siepe nood aan nie, aldus Unger.

Hy wil eerder ’n godsdiens of geestelike lewenshouding hê wat eerlik sê: alles is nie vanself reg nie; die dood, onsekerheid, rusteloosheid en vernedering is werklik. Tog moet hierdie besef ons nie passief maak nie. Dit moet ons aanspoor om die lewe nie te vermors nie, maar met groter vryheid, moed, liefde en skeppingskrag te leef.

Roberto Unger lees die Christendom met bewondering én agterdog. Hy bewonder die Christelike geloof se oproep tot transformasie, hoop en wêreldverandering. Maar hy wantrou die Christendom waar dit óf in reëls en instellings vasval, óf in private vroomheid terugtrek. Sy “godsdiens van die toekoms” wil die energie van geloof behou, maar sonder die tradisionele geloof in God, verlossing en die hiernamaals.

Vanuit ’n Christelike perspektief lê die groot gesprekspunt juis hier: Unger raak aan ’n werklike gevaar — geloof wat legalisties of wêreldvreemd word — maar sy oplossing sny die hart van die Christendom uit. Hy wil die etiese en transformerende vrugte van Christelike geloof behou, maar sonder die lewende God, sonder Christus as Verlosser, en sonder die eskatologiese hoop waarop die Christelike lewe rus.

Tog het sy waarneming van die vier fundamentele vrae waarop geloof moet reageer werklik waardevol.

Tot sover Unger. In volgende week se aflewering, deel 2, keer ons terug na prof Nel se aanbieding en kyk hoe die vroeë Christelike kerk 'n antwoord kon bied op Unger se diepgaande vrae.

Kerk se publieke rol

Kerke mobiliseer kiesers vir 2026

Kerke in Nelson Mandelabaai neem ’n gesamentlike, nie-partydige inisiatief om kieserstoerusting en motivering in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November 2026 te bevorder. Die doel is nie om enige party of kandidaat te ondersteun nie, maar om lidmate en gemeenskappe te help verstaan dat deelname aan die demokratiese proses ’n vorm van verantwoordelike burgerskap is.

Die projek werk eenvoudig: gemeentes ontvang weekliks ’n kort aksiestap, boodskap en grafika wat tydens eredienste, op sosiale media en in gemeentelike WhatsApp-groepe gebruik kan word. Predikante word gevra om die boodskap aan lidmate oor te dra en ’n mediapersoon in die gemeente aan te wys wat die materiaal gedurende die week verder kan versprei. Lidmate word ook aangemoedig om die inligting met familie, vriende en gemeenskapsnetwerke te deel.

Die kernboodskap van die veldtog is duidelik: stem gaan nie daaroor om politici blindelings te vertrou nie; dit gaan daaroor om verantwoordelikheid te neem. Wanneer mense onttrek, gee hulle hulle stem weg. Wanneer hulle deelneem, help hulle om hulle gemeenskap te vorm.

Sondag 21 Junie 2026: Registrasie-Sondag

Die tema vir Sondag 21 Junie is Registrasie-Sondag. Die kernboodskap is:
“Jy kan net stem as jy geregistreer is.”

Gemeentes word gevra om lidmate dringend daaraan te herinner om hulle registrasiestatus na te gaan. Dit is veral belangrik dat kiesers seker maak dat hulle in die korrekte munisipale wyk geregistreer is waar hulle tans woon. Mense wat verhuis het, moet hulle woonadres bywerk.

Predikante word ook aangemoedig om gesinne te vra om bejaarde lidmate, jong eerstekeerkiesers en mense sonder maklike internettoegang te help. Waar moontlik kan gemeentes ná die erediens ’n hulptafel reël waar vrywilligers mense help om hulle registrasie-inligting aanlyn na te gaan.

Ouers en grootouers kan ’n belangrike rol speel deur met jong stemgeregtigde kiesers in hulle families te praat en hulle aan te moedig om betyds seker te maak dat hulle geregistreer is.

Die kernboodskap bly:

Jou stem is jou stem.
Moenie jou stem weggee nie.
Gebruik dit om ’n beter gemeenskap te bou.

Ondersteuningsmateriaal, insluitend grafika vir sosiale media, kan hier afgelaai word. Hieronder is 'n voorbeeld

Uitgesoekte kinderboeke en kinderbybels op promosie by CLF

CLF bied 'n spesiale promosie op uitgesoekte Kinderboeke en Kinderbybels gedurende Jeugmaand.

Kry 40% afslag op die volgende Kinderbybels en Geloofsvormingsboeke:

- God se kinders Storieboek Bybel (ook beskikbaar in Engels, Sepedi, Sesotho, Setswana en isiXhosa)
- Vertel my meer Kinderbybel (ook beskikbaar in Engels en isiZulu)
- Die Verlore Skapie (ook beskikbaar in Engels)
- God se verhaal (ook beskikbaar in Engels)
- My eerste Belofte Bybel (ook beskikbaar in Engels)

Besoek CLF in Wellington, Kaapstad, of CLF Boekwinkels in Bloemfontein en Kimberley.
Koop aanlyn of stuur e-pos: order@clf.co.za

Promosie geldig van 15 – 30 Junie 2026
Terwyl voorraad hou
BTW ingesluit, Posgeld uitgesluit

Mening - The Conversation

Wanneer die staat vreemdelingehaat help moontlik maak

’n Onlangse artikel in The Conversation wys hoe vreemdelingehaat in Suid-Afrika nie bloot uit “frustrasie in gemeenskappe” ontstaan nie. Die skrywers argumenteer dat die staat self dikwels help om ’n klimaat te skep waarin anti-immigrantgroepe, bendes en vigilantes sterker word.

Dit gebeur wanneer die polisie nie optree teen onwettige intimidasie nie; wanneer politici wegkyk of sulke groepe hoflik ontvang; en wanneer migrasiebeleid en openbare uitsprake mense van ander lande as die probleem voorstel. Só word onwettige optrede stilweg gelegitimeer, en groepe wat mense uitsluit of intimideer, kry politieke mag.

Die gevaar is groter as net vreemdelingehaat. Dit raak die kern van die regstaat. As vigilantegroepe kan besluit wie toegang tot klinieke, woonbuurte of besigheidsgeleenthede het, verloor die staat sy vermoë om regverdig en onpartydig te regeer.

Die oplossing lê nie in simboliese veldtogte of mooi woorde oor sosiale samehorigheid nie. Wat nodig is, is werklike aanspreeklikheid: vervolging van diegene wat geweld aanhits of pleeg; konsekwente toepassing van die wet teen sowel onwettige migrasie as vigilante-optrede; en sterk burgerlike druk op politici wat deur hul woorde of optrede uitsluiting en geweld aanmoedig.

Suid-Afrika kan nie sy grondwetlike demokrasie beskerm deur die reg in private hande oor te gee nie. Die staat moet weer duidelik wys: niemand staan bo die wet nie, en niemand mag deur vrees of geweld uit die samelewing gedruk word nie.

Lees die volledige meningstuk op The Conversation

Gratis aanlyn leergeleentheid met eKerk

Leef om te inspireer, 24 Junie

Gratis digitale Learning Community 24 Junie 2026

Wat beteken dit om só te leef en te lei dat ander mense moed kry, nuwe moontlikhede raaksien en self begin groei? In hierdie Digitale Learning Community dink ons saam oor inspirerende leierskap wat nie net op groot oomblikke staatmaak nie, maar in gewone geloof, integriteit, verbeelding, deelname en menslikheid gestalte kry. Ons gesels oor leierskap wat mense help sien, beweeg en word: mense wat die wêreld rondom hulle anders leer bewoon omdat iemand hulle op ’n dieper manier geïnspireer het.
Ons tema vir die dag is: "Leef om te inspireer".

Registreer by hierdie skakel. : https://www.ekerk.org/learning-community

VBO punte is slegs beskikbaar indien daar regstreeks saam gekyk word, 24 Junie van 10:00 - 12:30.

TedX Summerstrand bied opwindende leergeleenthede

Die bekende TedX-geleenthede vind ook in Nelson Mandelabaai plaas. Daar is verskeie geleenthede wat oop is vir die publiek (kaartjies via die webblad beskikbaar) en mens blootstel aan ideas that matter en konneksie met nuwe geleenthede.

Voorbeelde is 14 Julie se The Power of Becoming: The Art of Innovation & Advancement en 15 Julie se NEXUS: The Convergence Summit. Die beskrywing lees: Explore the future through robotics, artificial intelligence, innovation showcases, STEM activations, industry leaders, interactive technology experiences, planetarium sessions, and networking opportunities.

Klik hier vir die TedX-dagboek en skakels om kaartjies te bespreek - via Computicket. Kaartjies vir NEXUS is gratis.

Aanlyn VBO: Preaching Luke backwards

Prof Eric Barreto, Nuwe Testamentikus, bied op 4 Augustus 'n voordrag oor die prediking van die Lukasevangelie aan. Die aanbieding vind by die NGK Stellastraat in PRetoria plaas, maar kan ook aanlyn gevolg word.

Klik hir vir meer inligting en vir die skakel om in te skryf.

Opleiding vir Brugbediening

Die weggaan van ‘n predikant in ‘n gemeente laat so ’n gemeente in ’n tyd van bepaalde onsekerheid. Die pad vorentoe is onseker totdat ‘n nuwe permanente bediening weer in plek is. Hierdie kursus poog om reeds goed opgeleide predikante verder op te lei vir wat brug of interim bediening genoem word. Dit is doelgerigte en spesialis opleiding om gemeentes tydens hierdie oorgang periode, soms deur korporatiewe trauma heen, tot voordeel van die gemeente se nuwe toekoms te begelei en waar nodig te fasiliteer.
DATUMS : Week 1: 27 – 30 Julie 2026
Week 2: 16 – 19 November 2026
Kursusleier: Prof Malan Nel

Warm Harte Winterkonsert - en 'n kans om 'n goeie daad te doen

Die 'Warm Hearts Concert' is ook n geleentheid om hulp te verleen aan die gemeenskapsprojek van Sidwell, Sydenham, Noordeinde, New Brighton en Algoapark.
1. Bederfbare en nie-bederfbare kos vir kinders se naskool- kombuis.
2. Warm toppies/truitjies en bedsokkies vir kinders.
3. Vir bejaardes is 'fleecy' kombersies, serpe en bedsokkies baie nodig.

Kom ondersteun die konsert en pragtige sang, maar ons vra minstens een van bogenoemde items as n ekstra bydrae om iemand anders warm te maak hierdie winter.

C-Fees op Jeffreysbaai, 20 Junie

Kraggakamma Kermis en Pretdraf, 20 Junie

Aberdeen hou basaar, 4 Julie

Belangrike inligting op ons webblad

Klik hier vir direkte toegang tot belangrike inligting en dokumente op ons webblad (www.ngkok.co.za):

NG Gemeente Uitenhage-Noord: Predikant (onbepaalde termyn)

Die NG Gemeente Uitenhage-Noord, ’n voorstedelike gemeente in Kariega, Nelson Mandelabaai, nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk om aansoek te doen vir ’n voltydse, onbepaalde termynpos. Ons leraar emeriteer in Februarie 2027. Ons vertrou dat die Here iemand sal stuur om voort te bou op ons geestelike reis met die Here.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 31 Julie 2026.
Klik hier vir die posbekendstelling.

Verjaarsdae in Junie

4 Junie – ds Cobus Fourie, NG Gemeente Port Elizabeth-Wes
5 Junie – ds Johann Ekkerd, NG Gemeente Graaff-Reinet
6 Junie – ds Lisa Schmidt (Dordrecht)
11 Junie – ds Nico Lochner, NG Gemeente Uitenhage-Oos
16 Junie – ds Abel Erasmus, NG Gemeente Rietbron
17 Junie – ds Carolien du Pisanie, NG Gemeente Parkheuwel
22 Junie – ds Niel Muller, NG Gemeente Aliwal-Noord
24 Junie – dr Kobus Bohnen, NG Gemeente Humansdorp
24 Junie – ds David Higgs, NG Gemeente Jeffreysbaai
24 Junie – ds Hessie Van Der Watt, NG Gemeente Jeffreysbaai
26 Junie – ds Thea Wait, NG Gemeente Port Elizabeth-De Duin
28 Junie – ds Marius Wolmarans (Welbedacht Rehabilitasie Sentrum, Gqeberha)

Indien ons 'n verjaarsdag miskyk, laat ons asb weet. Ons stel dit graag reg.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Gqeberha (Port Elizabeth)
Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Loots, ds Deon - 084 855 3444, dissipel@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, dr Carel - 082 821 7600, clvdm1@gmail.com
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com
Weyers, prop Chris - 081 270 4240, cjweyers1203@gmail.com

Jeffreysbaai en omgewing
Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853, heinbarnard@lantic.net (ook beskikbaar vir Ring van Albanie en Oos-Londen)
Strydom, Ds Deon - 082 9239 567, deonstr@gmail.com
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com

Aflos (oral) vir korter of langer periodes
Ds Enslin van Velden - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za
Beskikbaar om die Enneagram en retraites aan te bied

Ds Deon Loots maak die Baai nou weer sy tuiste en is beskikbaar om die Enneagram of retraites in gemeentes of ringe aan te bied (084 855 3444, dissipel@gmail.com).

Leraars beweeg

Ds Adele Strauss (beroepbaar) is na die NG Kerk Retief op Despatch beroep.

Ds Marnico Wessels ontvang op 28 Junie 2026 demissie by die NG Kerk Paterson.

Drie Oos-Kaapse predikante is vandeesweek oorlede: ds Giep Louw (8 Junie), ds Gillie Noeth Snr (10 junie) en ds Dawie Coetzer, voorheen van Uitenhage (11 Junie).

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars. Hier is meer inligting hoe amptelike kennisgewings werk wanneer leraars beweeg.
facebook twitter