Selfbesering onder jongmense, ‘n dikwels verborge stryd
Lig word in hierdie artikel gewerp op die dikwels-verborge stryd van selfbesering onder jongmense

Tot een uit elke 10 tieners mag hulself beseer, dikwels in die geheim, waar hulle die letsels of bewyse van hul beserings wegsteek.
Met Tienerselfdood-voorkomingsweek wat nader kom, vestig Netcare Akeso die aandag op die dikwels-verborge stryd van selfbesering onder jongmense.
“Selfbesering is enige nie-selfmoord gedrag, waar iemand doelbewus en opsetlik skade of besering aan hul liggaam toedien, dikwels as ‘n manier om emosionele nood en pyn te hanteer sonder die bewuste voorneme van selfmoord,” sê Netcare Akeso se krisislyn-bestuurder, Megan Gonsalves.
Selfbesering kan vele vorms aanneem, insluitend sny, krap, krap aan rowe sodat dit nie genees nie, opsetlike kneusing veroorsaak, jouself met sigarette, vuurhoutjies, kerse of aanstekers brand, voorwerpe deur die liggaam steek, self-medikasie, die gebruik van gif of skadelike chemikalieë en die uittrek van hare.
“As dit nie aangespreek word nie, kan selfbesering die risiko van selfmoordgedagtes en -gedrag verhoog, dus moet ouers en versorgers bewus wees van die subtiele tekens wat op selfbesering kan dui, veral onder tieners wat in hierdie hoë-risiko ouderdomsgroep val,” sê sy.
Dit kan moeilik wees om te identifiseer of jou kind hulself beseer omdat die gedrag dikwels versteek word, alhoewel daar waarskuwingstekens kan wees.
Doen jou tiener die volgende:
- Vermy aktiwiteite waar hul bene, arms of bolyf gesien kan word?
- Dra klere wat hul bene en arms bedek, selfs in warm weer?
- Wys tekens van pyn of trek weg wanneer hul arms, bene of bolyf aangeraak word?
- Steek voorwerpe soos skeerlemmetjies of aanstekers weg?
- Kan nie behoorlik verduidelik waar snye, brandwonde of beserings vandaan kom nie?
“Ander tekens van geestesgesondheidsprobleme wat ook kommerwekkend behoort te wees, sluit in veranderinge in die jongmens se eet- of slaappatrone, verlies aan belangstelling in dinge wat voorheen genotvol was, verhoogde risiko, riskante gedrag, dwelm- of alkoholgebruik, isolasie, aggressiewe gedrag, gemoedsveranderinge en gevoelens van skuld of waardeloosheid,” sê Gonsalves.
Dit kan moeilik wees om te verstaan hoekom ‘n jongmens hulself opsetlik sal beseer.
Selfbesering dien verskeie funksies vir die mense wat voel hulle moet hierdie gedrag beoefen, en die redes vir selfbesering verskil.
“Selfbesering kan dien as ‘n poging om moeilike emosies te reguleer, veral wanneer ‘n persoon nie voel hulle kan dit verbaal uitdruk nie, of om situasies buite hul beheer te hanteer en trauma, mishandeling of herinneringe aan trauma te verwerk.
“Vir sommige kan dit ‘n uitlaatklep vir stres en spanning wees, ‘n gevoel van veiligheid en beskerming bied, of selfs dien as ‘n vorm van selfstraf,” sê Gonsalves.
“Sny en ander vorms van opsetlike selfbesering kan ‘n afleiding van emosionele pyn deur fisiese pyn bied.
“Wat ook al die onderliggende oorsaak van die nood is, om nie daaroor te praat nie verhoog die druk totdat dit ondraaglik word vir die jongmens.
“Wanneer oorweldig deur emosies, mag ‘n jongmens hierdie gevoelens na binne rig, en hul eie liggaam gebruik om uit te druk wat hulle nie in woorde kan stel nie.
“In oomblikke van paniek mag hierdie daad voorkom as die enigste opsie, wat ‘n vlietende gevoel van verligting bied.
“Solank as wat die onderliggende redes vir die nood bly voortbestaan, saam met die las van hul selfbeserings-geheim wat dikwels lei tot gevoelens van skuld of skaamte, vererger dit emosionele lyding, wat lei tot verdere selfbesering.
“En dit is hoe die siklus voortgaan, wat uiteindelik ‘n gewoontelike uitlaatklep word wanneer die persoon oorweldig voel.”
Gonsalves sê studies dui daarop dat ongeveer 50% van tieners wat hulself beseer dit herhaaldelik doen, wat hul risiko vir groter fisiese skade met verloop van tyd verhoog.
“Gewoonlik is selfbeserings-wonde aanvanklik nie ernstig genoeg om steke of mediese aandag te vereis nie. Daarom gaan die impuls ongemerk en onbeheerd voort.
“Selfbeserings-gedrag kan vererger, met wonde wat uiteindelik kliniese ingryping vereis — dikwels is dit wat ander vir die eerste keer daarvan bewus maak.”
Om oor selfbesering te praat is een van die sekerste metodes van voorkoming, en die aanleer van gesonde hanteringsvaardighede vir die bestuur van moeilike emosies kan ‘n lang pad gaan om jou kind te beskerm.
“As jou kind hulself beseer, kan professionele geestesgesondheidsondersteuning help om die onderliggende kwessies wat tot die gedrag bydra, aan te spreek.”
“Tydens adolessensie is die brein steeds besig om te ontwikkel, en die rasionele deel — die prefrontale korteks — is nie ten volle ontwikkel tot ongeveer die ouderdom van 25 nie.
“Dit beteken tieners verwerk nie situasies soos volwassenes nie en reageer dikwels op grond van gevoelens eerder as deurdagte denke, ervaar emosies meer intens en maak soms impulsiewe keuses.
“Om dit te verstaan kan ouers help om gesprekke met meer geduld en empatie te benader, wat beter kommunikasie bevorder tydens hierdie kritieke ontwikkelingsjare.
“Deur ‘n ondersteunende omgewing te skep, oop gesprekke aan te moedig en gesonde besluitneming te modelleer, kan ouers hul tieners help om die vaardighede te ontwikkel wat nodig is om die volle spektrum van emosies te hanteer in hul oorgang na volwassenheid.”
As jy of iemand vir wie jy omgee met selfbesering of enige ander geestesgesondheidskwessie worstel, is Netcare Akeso gereed om jou te ondersteun.
Kontak die 24-uur krisislyn by 0861-435-787 vir vertroulike berading en advies oor beskikbare hulpopsies.
MNA namens Netcare Akeso