Skip to main content

Die NG Kerk se roeping binne die konteks van korrupsie

Oor die afgelope jaar het die Algemene Sinodale Moderamen teologies besin oor die NG Kerk se openbare getuienis oor korrupsie in Suid-Afrika. In ons tyd waar korrupsie die waardigheid van mense aantas, lewens in gevaar stel, openbare vertroue ondermyn en die toekoms van gemeenskappe en ons land in geheel bedreig, kan die kerk nie afsydig staan nie.


Die kerk se betrokkenheid word nie deur politieke of ideologiese oorwegings bepaal nie, maar deur haar roeping om as teken, voorsmaak en instrument van God se geregtigheid en hoop in die wêreld te leef. Hiervan getuig ook ons Roepingsverklaring.


Korrupsie is nie bloot ‘n administratiewe of politieke probleem nie, maar ‘n diepgaande geestelike en morele krisis wat die waardigheid van mense, die vertroue in openbare instellings en die welstand van gemeenskappe ernstig aantas.

‘n Volledige verslag gee verder rekenskap van die NG Kerk se samewerking met ander kerke in die aanspreek van korrupsie. Dit sluit onder meer die kerk se deelname aan die ekumeniese Anti-Korrupsiekonferensie van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in Julie 2025, die ondersteuning van die Anti-Korrupsieverklaring, medeondertekening daarvan saam met leierskap van  die  VGK  in  Mei  vanjaar,  asook  deelname  aan  gesprekke  met  die  regering  oor  sistemiese korrupsie, openbare aanspreeklikheid en die herstel van vertroue in staatsinstellings in.

Ten slotte gee die verslag praktiese riglyne aan gemeentes, ringe en sinodes om hierdie roeping deur verkondiging,  geloofsvorming,  verantwoordbare  rentmeesterskap,  pastorale  begeleiding, diensbaarheid en voorbidding konkreet uit te leef. Ons  vertrou  dat  hierdie  dokument  sinodes,  ringe  en  gemeentes  sal  ondersteun  in die uitleef van hul roeping.


Die verslag is hier beskikbaar

BEDROGWAARSKUWING: AANBIEDING VAN ’N “GRATIS” KLAVIER

Gemeentes word gewaarsku teen ’n bekende bedrogspul waarin iemand per e-pos aanbied om ’n klavier, dikwels ’n waardevolle vleuelklavier, aan ’n kerk of gemeente te skenk.

Die persoon vertel gewoonlik dat die klavier aan ’n oorlede familielid behoort het of dat dit dringend ’n nuwe tuiste moet kry. Hoewel die klavier gratis aangebied word, word die gemeente gevra om vervoer-, versekering- of ander koste vooruit te betaal. Die sogenaamde skenker verwys die gemeente gewoonlik na ’n “professionele vervoerder” wat reeds die klavier sou hanteer.

Hierdie is ’n bekende vorm van vooruitbetalingsbedrog. Die klavier bestaan waarskynlik nie en die sogenaamde vervoermaatskappy kan deel van die bedrogspul wees.

Gemeentes word versoek om:

• nie op sulke aanbiedinge te reageer of enige geld oor te betaal nie;
• nooit die vervoerder te gebruik wat deur die onbekende skenker voorgestel word nie;
• daarop aan te dring dat die klavier vooraf persoonlik besigtig word;
• die identiteit, adres en kontakbesonderhede van die skenker onafhanklik te verifieer;
• enige verdagte e-pos aan hulle bank, e-posverskaffer en die Suid-Afrikaanse Polisiediens te rapporteer; en
• die waarskuwing met orreliste, musiekonderwysers en ander gemeentes te deel.

Onthou: ’n Egte skenker sal nie beswaar maak teen onafhanklike verifikasie of daarop aandring dat geld dringend aan ’n onbekende vervoerder betaal word nie.

Oos-Kaapse Rampfonds: Bydraes gevra om brandslagoffers by te staan

Die NG Kerk in Oos-Kaapland gee gemeentes, lidmate en belangstellendes geleentheid om deel te neem aan die verligting van die nood van brandslagoffers na die verwoestende brande die afgelope tyd in die omgewing van Nelson Mandelabaai, Humansdorp, verskeie gemeenskappe in die Langkloof en tot sover as die omgewing van Port Alfred.

Hierdie Oos-Kaapse gebiede is vandeesweek tot rampgebied verklaar.

Fondse wat ingesamel word, word via landbouverenigings betroubare nie-regeringsorganisasies en ander instansies met ‘n bewese rekord van dienslewering versprei. Dit geskied ook in vennootskap met die plaaslike gemeentes.

In hierdie video lig ds Joe Janse van Rensburg van die Oos-Kaaplandse Rampnetwerk die brandskade en gelowiges se belewenis van verliese toe. Hy motiveer ook waarom gemeentes, gelowiges en die publike genooi word om by te dra tot die Oos-Kaaplandse Rampfonds.

Die brande vererger die bestaande nood rondom die ontluikende droogte en die impak van veesiektes soos bek-en klouseer. In die Langkloof, wat maande laas reën gehad het, moes kosbare en skaars waterbronne gebruik word om die vuur te bestry. Boorde in die omgewing van Misgund kan reeds vir maande nie besproei word nie, met die waarskynlikheid van ‘n baie swak oes nou ‘n werklikheid. 

Danksy die vuur het infrastruktuur soos woonhuise, buitegeboue, grensdrade en watertenks het in die slag gebly. Weiding het in die slag gebly en voer moet teen hoë koste van elders aangekoop en hierheen vervoer word. Weiding is vernietig en voer moet teen hoë koste van elders aangekoop en hierheen vervoer word.

Die skerwe moet nou opgetel word en die heropbou begin.

Bankbesonderhede van die Rampfonds

ABSA Lopende rekening
Rekeningnaam: NG Kerk Oos-Kaapland
Rekeningnommer: 290 581 192
Takkode: 632 005
Verwysing: “Rampfonds” 

Nota: Dit is baie belangrik dat die woord “Rampfonds” in die verwysingsveld op die inbetaling verskyn. Dit is hoe ons sisteem die inbetaling as ‘n donasie vir die rampfonds toewys.

96ste Wêreldbiddag vir Vroue

“Rus vir die Vermoeide” is die tema van die kunswerk vir 2026 se Wêreldbiddag vir Vroue

Die Wêreldbiddag vir Vroue word vanjaar op 6 Maart 2026 gehou. 2026 se tema is ‘Kom, Ek sal jou rus gee’. Die program is saamgestel deur vroue van Nigerië.

Die Wêreldbiddag vir Vroue is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging van Christenvroue, -mans en -kinders van verskillende lande wat elke jaar op die eerste Vrydag in Maart vergader om ‘n besondere dag van gebed te vier. Tydens die Wêreldbiddag vergader gelowiges van verskillende rasse, kulture en kerke, om saam te bid, ons voor God te verootmoedig en vir mekaar in te tree. Internasionaal word die Wêreldbiddag reeds vanaf 1887 gevier. Die dag word tans in meer as 170 lande op al 7 kontinente gehou. In Suid-Afrika is dit die 96ste jaar wat ons deel is hiervan. Die program word in nege van die amptelike tale vertaal.

Dit bly ’n besondere voorreg om te weet dat vroue regoor die wêreld, in verskillende lande op hierdie dag in gebed rondom ’n gemeenskaplike tema verenig word. Vanjaar se tema bring troos in ‘n tyd waarin mense wêreldwyd onder swaar laste gebuk gaan.

Klik hier vir meer inligting en riglyne vir gemeentes en gebedsgroepe.

Meer besonderhede oor die land wat die inhoud opgestel het (Nigerië) is op die Wêreldbiddag vir Vroue-webblad beskikbaar.

#Imagine Jeugfees: Inskrywings open vir 28-30 Maart 2026

Die Oos-Kaap se #IMAGINE fees (experience) vind in 2026 weer in Jeffreysbaai plaas:
28 -30 Maart 2026

Ons visie is om jong SA met hoop te inspireer – ons glo in môre, omdat Jesus leef!

#IMAGINE 2026 BESONDERHEDE

Wat en wie?

  • Gemeentes dwarsoor die Oos Kaap bring groepe tieners met hulle leiers.
  • Tieners van diverse agtergronde, tale en denominasies word almal verwelkom.
  • Almal kamp in tente – seuns en meisies in aparte areas, maar saam met hulle gemeenteleiers.
  • Etes word voorsien.

Wanneer?

  • Saterdag, 28 Maart – Maandag, 30 Maart 2026
  • LW dat die program eers Saterdag begin nie soos gewoonlik die Vrydag.
  • Sommige volwassenes sal dus Maandag verlof moet neem.

Tye?

  • Registrasie open 8:00 op 28 Maart. Kamp word heel oggend opgeslaan. Middagete op eie koste by stalletjies.
  • Leierstoerusting om Saterdag om 13:00 & 14:00
  • Die program begin Saterdag 16:00
  • Die program eindig Maandag 11:00 (vertrektyd 12:00)

Waar?

  • Jeffreysbaai

Hoe?

  • ‘n Naweek van groei en viering wat tieners se geloof in Jesus, asook hulle roeping om ‘n verskil te maak, wil versterk.
  • Sessies met lof en aanbidding, sprekers, gebedstasies en groeptyd asook werkswinkels en hope pret!

Koste?

  • R700-00 per kaartjie (tiener, leier of vrywilliger)
  • Gesels met ons as finansies ‘n uitdaging is.

Registrasie?

  • Gemeentes word aangemoedig om in dorpsverband met ander gemeentes en skole saam te werk.
  • Gemeentes identifiseer en registreer geskikte leiers (1 leier per groep van 10 of minder seuns of dogters)
  • Gemeentes adverteer en gee inskrywingsvorms uit
  • Tieners skryf by hierdie gemeentes in m.b.v. die inskrywingsvorm
  • Gemeentes is self verantwoordelik vir vervoer (hulle reël dit en kan ‘n ekstra fooi vir tieners hiervoor vra indien nodig).

Navrae:

  • info@imaginemovement.co.za of east@imaginemovement.co.za

Webskakel vir bemarking materiaal en inskryfvorms:

Gemeentes / individue kan ook aandui (deur Whatsapp boodskap te stuur na Ds. Barbara-Mari 0849006816)  as hulle wil help met:

  • 1.      gebedstasies oprig en beman (encounter stations)
  • 2.      werkswinkels aanbied
  • 3.      vrywilligers vir die versorgingspan (gebed/beradingspan)
  • 4.      vrywilligers vir agter die skerms werk
  • 5.      donasies vir borge aan minderbevoorregte jeug
  • 6.      busvervoer kontakte
  • 7.      t-hemde of pette of ander items wil borg (met of sonder branding van ‘n maatskappy)
  • 8.      stalletjies (kos of ander produkte)

Ons sien uit om die #imagine familie weer saam te verwelkom en ‘n nuwe generasie #imagine jongmense se hande te neem!

Proses van Sosiale Innovasie in gemeentes en gemeenskappe

Tydens Sinode 2025 het dr Frederick Marais ‘n waardevolle proses rondom sosiale innovasie met afgevaardigdes in kleingroepe hanteer. Dit het afgevaardigdes met energie gevul. Baie goeie terugvoer oor die proses is ontvang, tesame met versoeke om die proses te dokumenteer en beskikbaar te stel.

Frederick het sedertdien ‘n handleiding opgestel vir gebruik in gemeentes. Klik hieronder om die handleiding in een of albei formate af te laai:
– As Powerpoint-aanbieding
– As teksdokument wat maklik vir deelnemers gedupliseer kan word.

Kerkgroep in die hof oor nuwe reguleringsplan

Die SA Church Defenders neem regsaksie teen die Cultural, Religious and Linguistic Rights Commission

’n Groeiende groep geloofsgemeenskappe, onder leiding van die South African Church Defenders (SACD), ‘n nuut-saamgestelde groep aktiviste teen regeringsbeheer van godsdiens, gaan hof toe om te keer dat die Cultural, Religious and Linguistic Rights Commission (CRL-kommissie) ’n nuwe komitee saamstel om kerke in Suid-Afrika strenger te reguleer. Die SACD, wat godsdienstige én grondwetlike vryhede beskerm, waarsku dat die voorgestelde stelsel die vryheid van godsdiens ernstig kan ondermyn.

Die besware kom veral sterk uit die charismatiese kerke. Volgens die SACD is hierdie kerke ’n spesifieke teiken, selfs nadat ’n parlementêre portefeuljekomitee die CRL-kommissie se vroeëre reguleringsvoorstelle as ongrondwetlik verwerp het. Charismatiese leiers is ook ontsteld dat die regering se jongste Nasionale Sekuriteitsanalise hul bedieninge as ’n potensiële risiko uitlig—iets wat volgens hulle ’n beeld van vooroordeel skep.

Grafika: dailymaverick.co.za

Die SACD voer aan dat die CRL-kommissie se planne behels dat die staat kan inmeng in kerkpraktyke, kerkleiers se kwalifikasies, leerstellings en interne geskille—wat hulle as ongrondwetlike oorskreiding van magte beskryf. Hulle sê bestaande straf- en siviele wetgewing dek reeds misbruik en uitbuiting, en dat die kommissie eerder moet help om dit beter toe te pas.

Die SACD versoek die hof om die besluit om hierdie komitee aan te stel tersyde te stel op verskeie gronde—onder meer dat die CRL-regtekommissie nie gemagtig is om met hierdie werk voort te gaan nie, omdat sy voorstelle reeds deur ’n parlementêre portefeuljekomitee as ongrondwetlik bevind is.

Die SACD sê verder dat die kommissie duidelike vooroordeel teen charismatiese kerke toon, dat sy poging om kerke te reguleer neerkom op magsvergryp, en dat die fokus uitsluitlik op Christelike kerke val.

Honderde kerke het reeds aangedui dat hulle enige regeringsbeheer oor hul bedrywighede sal teenstaan. Hofstukke bevraagteken ook of die kommissievoorsitter, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, ’n geskikte en bevoegde persoon is om die liggaam te lei. Daar is ook bewerings van ’n belangebotsing omdat sy dien as ondervoorsitter van die Cheryl Zondi-stigting, wat gestig is om mense te help wat seksueel misbruik is in kerke en ander godsdienstige ruimtes.

Verskeie kerke, sowel as ander geloofstradisies, voel uitgesluit uit die proses en waarsku teen staatsbeheer oor godsdiens. Die hofsaak, wat moontlik verreikende gevolge kan hê vir kerk-staat-verhoudinge, wag nog op ’n datum.

Estelle Ellis, senior verslaggewer van Daily Maverick in Nelson Mandelabaai, berig op 1 Desember 2025 oor die SACD se aksie en die agtergrond daarvan – klik hier om dit te lees.

Probleme met godsdiensbeoefening in Suid-Afrika

Reeds in 2018 wys die CRL-kommissie op ’n aantal ernstige probleme in Suid-Afrika se godsdienstige sektor. Daar is geen sentrale databasis van kerkleiers of aanbiddingsplekke nie, en ’n groot aantal geloofsgroepe funksioneer heeltemal ongeregistreerd. Die kommissie merk ook ’n skerp toename in plaaslike én buitelandse geestelike leiers op—sommige sonder behoorlike dokumentasie.

Verskeie kwessies raak direk aan die veiligheid en welstand van gelowiges: mense sterf wanneer hulle geloofsprodukte gebruik en ophou om hul chroniese medikasie te neem; daar is finansiële misbruik, swak finansiële bestuur en algemene wanadministrasie in sommige bedieninge.

Bestuurs- en goeie governance-praktyke ontbreek dikwels, en vroue neem in baie geloofsgemeenskappe nog steeds nie volwaardig deel nie. Die kommissie waarsku verder teen kultagtige groepe, onkonvensionele prediking en ’n gebrek aan opleiding, ondersteuning en kennis van wetgewing.

Daar is ook geen behoorlike monitering of portuurbeoordeling soos in ander sektore nie. Die ernstigste bevindinge sluit in growwe geestelike misbruik, geslagsgebaseerde geweld, groomingspraktyke, menshandel en seksuele misdrywe—alles dikwels gekoppel aan magsmisbruik deur geestelike leiers.

Verslag aan die SA Raad van Kerke

Nuwe pogings van die CRL-kommissie om godsdiens deur die aanstelling van ‘n Seksie 22-komitee te reguleer, het die SA Raad van Kerke (SARK) in 2025 genoop om ‘n komitee aan te stel om die CRL-inisiatiewe te moniteer en te verseker dat kerke gepas daarop reageer. Die komitee het sy eerste verslag op 7 November 2025 aan die SARK voorgelê.

Die verslag skets die wetgewende raamwerk waarbinne die CRL-kommissie funksioneer en lig aksies uit wat met die Seksie 22-komitee beplan word. SARK het ook verteenwoordiging op die nuwe komitee, maar het ernstige voorbehoude:

  • Die SARK word aangeraai om sy betrokkenheid by die CRL-kommissie se Seksie 22-komitee strategies, verkennend en baie versigtig te hanteer. Selfregulering wat op teologie en etiek gegrond is, moet altyd voorrang geniet bo enige vorm van staatsbeheer oor kerke.
  • Verder moet die SARK se openbare kommunikasie oor hierdie sensitiewe kwessie baie noukeurig gekoördineer word, omdat onversigtigheid maklik verdeeldheid binne die kerklike familie kan saai.
  • Daar word duidelik gestel dat, indien die Seksie 22-komitee nie die SARK se bekommernisse teen 30 Junie 2026 bevredigend aanspreek nie, die SARK sy verteenwoordigers sal moet onttrek en ’n openbare verklaring uitreik om sy standpunt uiteen te sit.
  • Laastens herinner die aanbevelings die SARK aan sy belangrike rol as eenheidsbouer en bewaker van sosiale samehorigheid tussen kerke. Dit is ’n gesamentlike verantwoordelikheid om interne verdeeldheid te voorkom en die geloofsgemeenskap se eenheid te beskerm.

Klik hier om die verslag van 7 November 2025 aan SARK te lees.

Die eerste 1 000 dae – waar die lewe begin vorm kry

Daar is min dinge in die lewe wat soveel blywende invloed het as ’n kind se eerste 1,000 dae – van bevrugting tot die tweede verjaarsdag. Hierdie tydperk lê die fondament vir alles wat volg: gesondheid, breinontwikkeling, emosionele welstand, leervermoë en selfs sukses in die werklewe. Die handleiding van die NG Kerk, Die eerste 1 000 dae van lewe en die belangrikheid van speel, wys op ’n eenvoudige, maar diep waarheid: wat in hierdie drie jaar gebeur, het lewenslange gevolge.

Navorsing wys dat ’n kind se brein teen sy tweede verjaardag reeds sowat 80% van sy volwasse gewig bereik het. Dit beteken dat elke aanraking, elke glimlag, elke gesprek en elke maaltyd bydra tot die bou van verbindings in die brein wat later leer, denke en emosionele stabiliteit moontlik maak. Wanneer ’n kind gekoester, gevoed en veilig is, groei hy of sy nie net fisies nie, maar ontwikkel ook selfvertroue en ’n gesonde selfbeeld.

Armoede, spanning en gebrekkige voeding kan egter hierdie groei ernstig benadeel. Dis juis daarom dat vroeë intervensie en ondersteuning – veral vir ouers en versorgers – só noodsaaklik is. Die handleiding beklemtoon die rol van gemeentes, maatskaplike dienste en die breër gemeenskap om hierdie kritieke tydperk te beskerm en te versterk.

Spiritualiteit vorm ook van die begin af deel van ’n kind se ontwikkeling. Die kerk het ’n unieke geleentheid om kinders en gesinne te dra in gebed, geloof en liefde – en om ruimtes te skep waar jong kinders God se teenwoordigheid as deel van hulle wêreld ervaar.

Die handleiding bied praktiese idees, insig uit navorsing, en wenke oor hoe gemeentes en individue betrokke kan raak by vroeëkinderontwikkeling. Dis ’n uitnodiging om saam te help bou aan ’n gesonde, hoopvolle toekoms – een kind op ’n slag.