Skip to main content

Oos-Kaapse Rampfonds: Bydraes gevra om brandslagoffers by te staan

Die NG Kerk in Oos-Kaapland gee gemeentes, lidmate en belangstellendes geleentheid om deel te neem aan die verligting van die nood van brandslagoffers na die verwoestende brande die afgelope tyd in die omgewing van Nelson Mandelabaai, Humansdorp, verskeie gemeenskappe in die Langkloof en tot sover as die omgewing van Port Alfred.

Hierdie Oos-Kaapse gebiede is vandeesweek tot rampgebied verklaar.

Fondse wat ingesamel word, word via landbouverenigings betroubare nie-regeringsorganisasies en ander instansies met ‘n bewese rekord van dienslewering versprei. Dit geskied ook in vennootskap met die plaaslike gemeentes.

In hierdie video lig ds Joe Janse van Rensburg van die Oos-Kaaplandse Rampnetwerk die brandskade en gelowiges se belewenis van verliese toe. Hy motiveer ook waarom gemeentes, gelowiges en die publike genooi word om by te dra tot die Oos-Kaaplandse Rampfonds.

Die brande vererger die bestaande nood rondom die ontluikende droogte en die impak van veesiektes soos bek-en klouseer. In die Langkloof, wat maande laas reën gehad het, moes kosbare en skaars waterbronne gebruik word om die vuur te bestry. Boorde in die omgewing van Misgund kan reeds vir maande nie besproei word nie, met die waarskynlikheid van ‘n baie swak oes nou ‘n werklikheid. 

Danksy die vuur het infrastruktuur soos woonhuise, buitegeboue, grensdrade en watertenks het in die slag gebly. Weiding het in die slag gebly en voer moet teen hoë koste van elders aangekoop en hierheen vervoer word. Weiding is vernietig en voer moet teen hoë koste van elders aangekoop en hierheen vervoer word.

Die skerwe moet nou opgetel word en die heropbou begin.

Bankbesonderhede van die Rampfonds

ABSA Lopende rekening
Rekeningnaam: NG Kerk Oos-Kaapland
Rekeningnommer: 290 581 192
Takkode: 632 005
Verwysing: “Rampfonds” 

Nota: Dit is baie belangrik dat die woord “Rampfonds” in die verwysingsveld op die inbetaling verskyn. Dit is hoe ons sisteem die inbetaling as ‘n donasie vir die rampfonds toewys.

96ste Wêreldbiddag vir Vroue

“Rus vir die Vermoeide” is die tema van die kunswerk vir 2026 se Wêreldbiddag vir Vroue

Die Wêreldbiddag vir Vroue word vanjaar op 6 Maart 2026 gehou. 2026 se tema is ‘Kom, Ek sal jou rus gee’. Die program is saamgestel deur vroue van Nigerië.

Die Wêreldbiddag vir Vroue is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging van Christenvroue, -mans en -kinders van verskillende lande wat elke jaar op die eerste Vrydag in Maart vergader om ‘n besondere dag van gebed te vier. Tydens die Wêreldbiddag vergader gelowiges van verskillende rasse, kulture en kerke, om saam te bid, ons voor God te verootmoedig en vir mekaar in te tree. Internasionaal word die Wêreldbiddag reeds vanaf 1887 gevier. Die dag word tans in meer as 170 lande op al 7 kontinente gehou. In Suid-Afrika is dit die 96ste jaar wat ons deel is hiervan. Die program word in nege van die amptelike tale vertaal.

Dit bly ’n besondere voorreg om te weet dat vroue regoor die wêreld, in verskillende lande op hierdie dag in gebed rondom ’n gemeenskaplike tema verenig word. Vanjaar se tema bring troos in ‘n tyd waarin mense wêreldwyd onder swaar laste gebuk gaan.

Klik hier vir meer inligting en riglyne vir gemeentes en gebedsgroepe.

Meer besonderhede oor die land wat die inhoud opgestel het (Nigerië) is op die Wêreldbiddag vir Vroue-webblad beskikbaar.

#Imagine Jeugfees: Inskrywings open vir 28-30 Maart 2026

Die Oos-Kaap se #IMAGINE fees (experience) vind in 2026 weer in Jeffreysbaai plaas:
28 -30 Maart 2026

Ons visie is om jong SA met hoop te inspireer – ons glo in môre, omdat Jesus leef!

#IMAGINE 2026 BESONDERHEDE

Wat en wie?

  • Gemeentes dwarsoor die Oos Kaap bring groepe tieners met hulle leiers.
  • Tieners van diverse agtergronde, tale en denominasies word almal verwelkom.
  • Almal kamp in tente – seuns en meisies in aparte areas, maar saam met hulle gemeenteleiers.
  • Etes word voorsien.

Wanneer?

  • Saterdag, 28 Maart – Maandag, 30 Maart 2026
  • LW dat die program eers Saterdag begin nie soos gewoonlik die Vrydag.
  • Sommige volwassenes sal dus Maandag verlof moet neem.

Tye?

  • Registrasie open 8:00 op 28 Maart. Kamp word heel oggend opgeslaan. Middagete op eie koste by stalletjies.
  • Leierstoerusting om Saterdag om 13:00 & 14:00
  • Die program begin Saterdag 16:00
  • Die program eindig Maandag 11:00 (vertrektyd 12:00)

Waar?

  • Jeffreysbaai

Hoe?

  • ‘n Naweek van groei en viering wat tieners se geloof in Jesus, asook hulle roeping om ‘n verskil te maak, wil versterk.
  • Sessies met lof en aanbidding, sprekers, gebedstasies en groeptyd asook werkswinkels en hope pret!

Koste?

  • R700-00 per kaartjie (tiener, leier of vrywilliger)
  • Gesels met ons as finansies ‘n uitdaging is.

Registrasie?

  • Gemeentes word aangemoedig om in dorpsverband met ander gemeentes en skole saam te werk.
  • Gemeentes identifiseer en registreer geskikte leiers (1 leier per groep van 10 of minder seuns of dogters)
  • Gemeentes adverteer en gee inskrywingsvorms uit
  • Tieners skryf by hierdie gemeentes in m.b.v. die inskrywingsvorm
  • Gemeentes is self verantwoordelik vir vervoer (hulle reël dit en kan ‘n ekstra fooi vir tieners hiervoor vra indien nodig).

Navrae:

  • info@imaginemovement.co.za of east@imaginemovement.co.za

Webskakel vir bemarking materiaal en inskryfvorms:

Gemeentes / individue kan ook aandui (deur Whatsapp boodskap te stuur na Ds. Barbara-Mari 0849006816)  as hulle wil help met:

  • 1.      gebedstasies oprig en beman (encounter stations)
  • 2.      werkswinkels aanbied
  • 3.      vrywilligers vir die versorgingspan (gebed/beradingspan)
  • 4.      vrywilligers vir agter die skerms werk
  • 5.      donasies vir borge aan minderbevoorregte jeug
  • 6.      busvervoer kontakte
  • 7.      t-hemde of pette of ander items wil borg (met of sonder branding van ‘n maatskappy)
  • 8.      stalletjies (kos of ander produkte)

Ons sien uit om die #imagine familie weer saam te verwelkom en ‘n nuwe generasie #imagine jongmense se hande te neem!

Proses van Sosiale Innovasie in gemeentes en gemeenskappe

Tydens Sinode 2025 het dr Frederick Marais ‘n waardevolle proses rondom sosiale innovasie met afgevaardigdes in kleingroepe hanteer. Dit het afgevaardigdes met energie gevul. Baie goeie terugvoer oor die proses is ontvang, tesame met versoeke om die proses te dokumenteer en beskikbaar te stel.

Frederick het sedertdien ‘n handleiding opgestel vir gebruik in gemeentes. Klik hieronder om die handleiding in een of albei formate af te laai:
– As Powerpoint-aanbieding
– As teksdokument wat maklik vir deelnemers gedupliseer kan word.

Kerkgroep in die hof oor nuwe reguleringsplan

Die SA Church Defenders neem regsaksie teen die Cultural, Religious and Linguistic Rights Commission

’n Groeiende groep geloofsgemeenskappe, onder leiding van die South African Church Defenders (SACD), ‘n nuut-saamgestelde groep aktiviste teen regeringsbeheer van godsdiens, gaan hof toe om te keer dat die Cultural, Religious and Linguistic Rights Commission (CRL-kommissie) ’n nuwe komitee saamstel om kerke in Suid-Afrika strenger te reguleer. Die SACD, wat godsdienstige én grondwetlike vryhede beskerm, waarsku dat die voorgestelde stelsel die vryheid van godsdiens ernstig kan ondermyn.

Die besware kom veral sterk uit die charismatiese kerke. Volgens die SACD is hierdie kerke ’n spesifieke teiken, selfs nadat ’n parlementêre portefeuljekomitee die CRL-kommissie se vroeëre reguleringsvoorstelle as ongrondwetlik verwerp het. Charismatiese leiers is ook ontsteld dat die regering se jongste Nasionale Sekuriteitsanalise hul bedieninge as ’n potensiële risiko uitlig—iets wat volgens hulle ’n beeld van vooroordeel skep.

Grafika: dailymaverick.co.za

Die SACD voer aan dat die CRL-kommissie se planne behels dat die staat kan inmeng in kerkpraktyke, kerkleiers se kwalifikasies, leerstellings en interne geskille—wat hulle as ongrondwetlike oorskreiding van magte beskryf. Hulle sê bestaande straf- en siviele wetgewing dek reeds misbruik en uitbuiting, en dat die kommissie eerder moet help om dit beter toe te pas.

Die SACD versoek die hof om die besluit om hierdie komitee aan te stel tersyde te stel op verskeie gronde—onder meer dat die CRL-regtekommissie nie gemagtig is om met hierdie werk voort te gaan nie, omdat sy voorstelle reeds deur ’n parlementêre portefeuljekomitee as ongrondwetlik bevind is.

Die SACD sê verder dat die kommissie duidelike vooroordeel teen charismatiese kerke toon, dat sy poging om kerke te reguleer neerkom op magsvergryp, en dat die fokus uitsluitlik op Christelike kerke val.

Honderde kerke het reeds aangedui dat hulle enige regeringsbeheer oor hul bedrywighede sal teenstaan. Hofstukke bevraagteken ook of die kommissievoorsitter, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, ’n geskikte en bevoegde persoon is om die liggaam te lei. Daar is ook bewerings van ’n belangebotsing omdat sy dien as ondervoorsitter van die Cheryl Zondi-stigting, wat gestig is om mense te help wat seksueel misbruik is in kerke en ander godsdienstige ruimtes.

Verskeie kerke, sowel as ander geloofstradisies, voel uitgesluit uit die proses en waarsku teen staatsbeheer oor godsdiens. Die hofsaak, wat moontlik verreikende gevolge kan hê vir kerk-staat-verhoudinge, wag nog op ’n datum.

Estelle Ellis, senior verslaggewer van Daily Maverick in Nelson Mandelabaai, berig op 1 Desember 2025 oor die SACD se aksie en die agtergrond daarvan – klik hier om dit te lees.

Probleme met godsdiensbeoefening in Suid-Afrika

Reeds in 2018 wys die CRL-kommissie op ’n aantal ernstige probleme in Suid-Afrika se godsdienstige sektor. Daar is geen sentrale databasis van kerkleiers of aanbiddingsplekke nie, en ’n groot aantal geloofsgroepe funksioneer heeltemal ongeregistreerd. Die kommissie merk ook ’n skerp toename in plaaslike én buitelandse geestelike leiers op—sommige sonder behoorlike dokumentasie.

Verskeie kwessies raak direk aan die veiligheid en welstand van gelowiges: mense sterf wanneer hulle geloofsprodukte gebruik en ophou om hul chroniese medikasie te neem; daar is finansiële misbruik, swak finansiële bestuur en algemene wanadministrasie in sommige bedieninge.

Bestuurs- en goeie governance-praktyke ontbreek dikwels, en vroue neem in baie geloofsgemeenskappe nog steeds nie volwaardig deel nie. Die kommissie waarsku verder teen kultagtige groepe, onkonvensionele prediking en ’n gebrek aan opleiding, ondersteuning en kennis van wetgewing.

Daar is ook geen behoorlike monitering of portuurbeoordeling soos in ander sektore nie. Die ernstigste bevindinge sluit in growwe geestelike misbruik, geslagsgebaseerde geweld, groomingspraktyke, menshandel en seksuele misdrywe—alles dikwels gekoppel aan magsmisbruik deur geestelike leiers.

Verslag aan die SA Raad van Kerke

Nuwe pogings van die CRL-kommissie om godsdiens deur die aanstelling van ‘n Seksie 22-komitee te reguleer, het die SA Raad van Kerke (SARK) in 2025 genoop om ‘n komitee aan te stel om die CRL-inisiatiewe te moniteer en te verseker dat kerke gepas daarop reageer. Die komitee het sy eerste verslag op 7 November 2025 aan die SARK voorgelê.

Die verslag skets die wetgewende raamwerk waarbinne die CRL-kommissie funksioneer en lig aksies uit wat met die Seksie 22-komitee beplan word. SARK het ook verteenwoordiging op die nuwe komitee, maar het ernstige voorbehoude:

  • Die SARK word aangeraai om sy betrokkenheid by die CRL-kommissie se Seksie 22-komitee strategies, verkennend en baie versigtig te hanteer. Selfregulering wat op teologie en etiek gegrond is, moet altyd voorrang geniet bo enige vorm van staatsbeheer oor kerke.
  • Verder moet die SARK se openbare kommunikasie oor hierdie sensitiewe kwessie baie noukeurig gekoördineer word, omdat onversigtigheid maklik verdeeldheid binne die kerklike familie kan saai.
  • Daar word duidelik gestel dat, indien die Seksie 22-komitee nie die SARK se bekommernisse teen 30 Junie 2026 bevredigend aanspreek nie, die SARK sy verteenwoordigers sal moet onttrek en ’n openbare verklaring uitreik om sy standpunt uiteen te sit.
  • Laastens herinner die aanbevelings die SARK aan sy belangrike rol as eenheidsbouer en bewaker van sosiale samehorigheid tussen kerke. Dit is ’n gesamentlike verantwoordelikheid om interne verdeeldheid te voorkom en die geloofsgemeenskap se eenheid te beskerm.

Klik hier om die verslag van 7 November 2025 aan SARK te lees.

Die eerste 1 000 dae – waar die lewe begin vorm kry

Daar is min dinge in die lewe wat soveel blywende invloed het as ’n kind se eerste 1,000 dae – van bevrugting tot die tweede verjaarsdag. Hierdie tydperk lê die fondament vir alles wat volg: gesondheid, breinontwikkeling, emosionele welstand, leervermoë en selfs sukses in die werklewe. Die handleiding van die NG Kerk, Die eerste 1 000 dae van lewe en die belangrikheid van speel, wys op ’n eenvoudige, maar diep waarheid: wat in hierdie drie jaar gebeur, het lewenslange gevolge.

Navorsing wys dat ’n kind se brein teen sy tweede verjaardag reeds sowat 80% van sy volwasse gewig bereik het. Dit beteken dat elke aanraking, elke glimlag, elke gesprek en elke maaltyd bydra tot die bou van verbindings in die brein wat later leer, denke en emosionele stabiliteit moontlik maak. Wanneer ’n kind gekoester, gevoed en veilig is, groei hy of sy nie net fisies nie, maar ontwikkel ook selfvertroue en ’n gesonde selfbeeld.

Armoede, spanning en gebrekkige voeding kan egter hierdie groei ernstig benadeel. Dis juis daarom dat vroeë intervensie en ondersteuning – veral vir ouers en versorgers – só noodsaaklik is. Die handleiding beklemtoon die rol van gemeentes, maatskaplike dienste en die breër gemeenskap om hierdie kritieke tydperk te beskerm en te versterk.

Spiritualiteit vorm ook van die begin af deel van ’n kind se ontwikkeling. Die kerk het ’n unieke geleentheid om kinders en gesinne te dra in gebed, geloof en liefde – en om ruimtes te skep waar jong kinders God se teenwoordigheid as deel van hulle wêreld ervaar.

Die handleiding bied praktiese idees, insig uit navorsing, en wenke oor hoe gemeentes en individue betrokke kan raak by vroeëkinderontwikkeling. Dis ’n uitnodiging om saam te help bou aan ’n gesonde, hoopvolle toekoms – een kind op ’n slag.

Verborge gevare van Vaping – ‘n stille epidemie

Foto: https://www.dw.com

Prof Wentzel Coetzer, pastorale terapeut verbonde aan die Noordwes Universiteit, beklemtoon die negatiewe impak van vaping op die gesondheid van jongmense en gevolglik hul lewensgeluk en ‘n gesonde verhoudingslewe:

Wat eers as ‘n “veiliger” alternatief vir gewone sigarette bemark is, het vandag gegroei tot een van die mees kommerwekkende gesondheidsrisiko’s vir ons jongmense. E-sigarette of vaping is nie die onskuldige alternatief vir rook wat baie mense dink dit is nie – inteendeel, dit hou ernstige gevare in wat ons nie kan ignoreer nie.

Die Mikroskopiese Bedreiging

Die gevaar van vaping lê grootliks in iets wat ons nie kan sien nie: ultra-fyn toksiese molekules. Wanneer iemand vape, word ‘n magdom van hierdie klein deeltjies ingeasem wat maklik die longe en selfs die brein kan binnedring. Soos navorsers dit stel: “Hoe kleiner die deeltjie wat jy inasem, hoe groter is sy vermoë om inflammatoriese reaksies te veroorsaak en jou brein te beskadig.”

Hierdie klein molekules het ‘n veel groter vermoë tot inflammasie en skade aan die brein as wat die meeste mense besef. Dit is nie net ‘n longtoestand nie – dit raak jou hele liggaam, veral jou brein.

Die Verslawingsvlak: Vinniger as Jy Dink

Een van die mees skokkende aspekte van vaping is hoe vinnig dit verslawend raak. Die nikotien in e-sigarette word baie vinnig deur die bloedvate in die longe geabsorbeer. Binne ongeveer 10 sekondes nadat iemand ‘n trek geneem het, bereik die nikotien die brein – dit is vinniger as wat dit neem om hierdie sin te lees.

Sodra dit die brein bereik, kaap nikotien letterlik die brein se beloningstelsel. Dit koppel aan spesifieke reseptore wat lei tot die afskeiding van hoë dosisse van dopamien – die “goed-voel” senu-oordraer wat ons liggaam natuurlik produseer wanneer ons iets genietlik ervaar.

Die Dopamien-Val

Hier word dit werklik problematies. Hierdie kunsmatige dopamien-afskeiding kan 2 tot 10 keer hoër wees as wat die brein normaalweg afskei as ‘n natuurlike beloning, soos om jou gunsteling liedjie te hoor. Dit klink dalk aanvanklik wonderlik, maar die gevolge is rampspoedig.

Met verloop van tyd lei hierdie onnatuurlik hoë afskeidings tot ‘n afplatting van dopamien se effektiwiteit. Dit beteken dat die persoon ‘n al groter behoefte ontwikkel om meer en meer te gebruik ten einde dieselfde effek te ervaar – dit is wat ons die toleransiefaktor noem. Die brein raak basies gewoond aan hierdie hoë vlakke en verlang steeds meer.

Geestesgesondheidsprobleme: Meer as Net Verslawing

Die gevolge van vaping strek veel verder as net nikotienverslawing. Volgens navorsing hou e-sigarette ook ‘n groot risiko in betreffende geestesgesondheidsprobleme. ‘n Belangrike studie uit 2019 het bevind dat universiteitstudente wat e-sigarette gebruik het ‘n beduidend groter waarskynlikheid het om geestesgesondheidsprobleme te ontwikkel.

Hierdie probleme sluit in:

  • ADD/ADHD
  • Angsversteurings
  • PTSD
  • Probleme met dobbel
  • Dwelmmisbruik

Dit wys dat vaping nie net ‘n “onskuldige gewoonte” is nie, maar ‘n poort kan wees na ernstiger probleme.

‘n Epidemie Onder Ons Jongmense

Die situasie in Amerika is besonder kommerwekkend en dien as ‘n waarskuwing vir ons. Die probleem met e-sigarette onder jongmense word tans as ‘n epidemie beskryf – en die syfers is skokkend.

In een verslag het 20% van hoërskoolkinders aangedui dat hulle die afgelope maand van ‘n e-sigaret gebruik gemaak het. Hierdie syfer was 50% hoër as in 2017, wat wys hoe vinnig hierdie probleem groei. Nog meer kommerwekkend is dat die ouderdom van kinders wat betrokke raak, al hoe jonger word.

Die Pad Vorentoe: Onderrig en Toerusting

Hierdie realiteit konfronteer ons met ‘n dringende behoefte. Rondom hierdie probleem sal daar besonder gefokus moet word op die onderrig en toerusting van jongmense met die nodige kennis en feite.

Ons kan nie langer aanvaar dat vaping ‘n “veiliger” alternatief is nie. Die wetenskaplike bewyse wys duidelik dat dit ‘n ernstige gesondheidsrisiko inhou wat ons jongmense se toekoms bedreig.

Die tyd het gekom om hierdie stille epidemie met die erns te hanteer wat dit verdien – deur eerlike gesprekke, deeglike onderrig en die nodige ondersteuning aan diegene wat reeds vasgevang is in hierdie gevaarsiklus. Slegs deur kennis en begrip kan ons ons jongmense help om ingeligte besluite te neem oor hulle gesondheid en toekoms.

FixLocal: Hoe jy kan help om jou buurt beter te maak?

FixLocal is ’n webblad en WhatsApp-diens wat jou help om probleme in jou buurt aan te meld – dinge soos slaggate, stukkende straatligte, riool wat lek of vullis wat nie verwyder word nie. Dit wys jou ook hoe om jou plaaslike regering (munisipaliteit) verantwoordbaar te hou as hulle nie hulle werk doen nie.

Hoe werk FixLocal?

  1. Sien iets? Meld dit aan.
    FixLocal wys jou presies waar en hoe om ’n probleem in jou buurt aan te meld. Jy kry ook hulp om die regte mense in jou munisipaliteit te kontak.
  2. Nog niks gebeur nie? Jy kan dit opvolg.
    As niemand terugkom na jou eerste klag nie, help FixLocal jou om die probleem hoër op te vat – byvoorbeeld na jou wyksraadslid. Jy leer ook hoe om ander mense in jou buurt saam te kry om aksie te vat, sonder om baklei te maak.
  3. Self regmaak – as dit veilig is.
    As niks werk nie, wys FixLocal hoe mense soms self klein probleme kan oplos – wettig en veilig. Jy kry ook idees oor hoe om die media se aandag te kry sodat die owerhede begin luister.

Ware stories van regmaak

  • Melville, Johannesburg: Mense in die buurt het saam met ’n organisasie gewerk en slaggate is binne ’n paar dae reggemaak.
  • Mpophomeni, KwaZulu-Natal: Jong mense het begin help om rioolprobleme op te spoor – dit het gehelp dat meer as 100 lekkasies reggemaak is.
  • Makers Valley, Johannesburg: Die gemeenskap het parke en strate skoongemaak en dit weer ’n lekker plek gemaak vir almal.

Hoe jy FixLocal kan gebruik

  • Webwerf: Gaan na www.fixlocal.org.za
  • WhatsApp: Stuur ’n boodskap na 060 611 1111 – jy kry vinnig hulp.
  • App: ’n FixLocal-app is oppad om dinge nog makliker te maak.

Jy kan ’n verskil maak

FixLocal werk al in 18 dorpe en stede in Suid-Afrika, onder meer Nelson Mandelabaai en Buffalo City. Nog word gereeld bygewerk. Jy hoef nie ’n politikus te wees om iets te verander nie – enige iemand kan begin. Gebruik FixLocal, kry jou vriende en familie betrokke, en help om jou buurt ’n beter plek te maak.