Die agenda en ‘n addendum tot die agenda vir die vergadering van die Algemene Sinode 2023 is gepubliseer. Die vergadering word van 15-20 Oktober 2023 by die Birchwood Konferensiesentrum gehou.
Die NG Kerk het op 13 Augustus 2023 regdeur Suid-Afrika, Namibië en ook in ander buurlande verootmoedigings – en voorbiddingseredienste gehou. Daar is vir ons lande gebid. Die dagbestuur van die algemene Sinode het ook ‘n verootmoedigingsdiens landswyd op sosiale media gestroom. Kyk hieronder daarna:
Die NG Kerk het oor die laaste paar jaar ‘n wesenlike verbreding vir die opleiding van leiers in gemeentes geskep. Ons het nou predikante (ses jaar opleiding, toegerus vir die volle bediening in die kerk), diensleraars (opgelei vir toegespitste bediening onder leiding van ‘n predikant, bedienaars (kerkraadslede wat deeltyds deur die Hugenote kollege opgelei en deur ringe goedgekeur is om bv eredienste te lei of pastorale ondersteuning te hanteer) en standplaasleraars (opgelei vir spesialisbediening, bv aan dowes of spesifieke groepe).
Hier is meer inligting:
In hierdie video verduidelik dr Frederick Marais en ander dat God vandag steeds mense roep en hoe die verruimde model van teologiese opleiding in die NG Kerk werk.
Besoek www.seminarium.org.za om aansienlik meer inligting oor die verskillende opleidingsbane te bekom.
Tydens die onlangse vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het die advies van die Algemene Taakspan Regte (ATR) oor die Koinonia Sinode van die Kairosbeweging gedien. Dit lui as volg en word aangehaal:
Die ATR adviseer as volg:
Alhoewel die skrywes en/of uitnodigings waarvan die ATR kennis geneem het, deurspek is met bekende kerkregtelike woorde en terme, kan hierdie byeenkoms niks meer wees as ‘n konferensie wat sake hanteer soos geadverteer.
Terwyl terme soos “nasionale sinode”, “stigtingsvergaderings”, “amptelike vergadering” en “geloofsbriewe” onder andere gebruik word, kan daar tydens hierdie byeenkoms geen bindende besluite geneem word wat die NG Kerk raak nie.
Die kerkorde maak voorsiening vir vier amptelike kerkvergaderings te wete kerkraad, ring, sinode en algemene sinode (Artikel 22, Kerkorde 2019). Slegs ‘n ring, ‘n sinode en die algemene sinode konstitueer aan die hand van geloofsbriewe van afgevaardigdes (Artikels 30.4, 33.4 en Reglement 4, Kerkorde 2019)
Die ATR bevestig weereens dat lidmate, ampsdraers en gemeentes wat beswaard voel oor bepaalde besluite van die Algemene Sinode gebruik behoort te maak van die kerklike middele wat die kerkorde bied – kerklike middele soos revisie, hantering van kerklike geskille, prosedurele besware, beskrywingspunte en gravamina.
Die ATR wys verder daarop: 5.1 dat lidmate hulle lidmaatskap van ‘n NG gemeente beëindig deur middel van ‘n bedanking 5.2 dat ‘n gemeente kan uittree uit kerkverband (ring en sinode) met die gevolg dat lidmaatskap van die NG Kerk beëindig word wat ook ‘n invloed het op diesulke predikante se bevoegdheid en die gemeente se voortbestaan. Sulke prosesse word deur die ring en sinode hanteer, in ag genome bv. die “universitas”-beginsel (Nota: die lidmate wat agterbly is die voortsetting van die gemeente) 5.3 Sinodes kan met ‘n konsensusbesluit uit die Algemene Sinode tree aan die hand van Artikel 37.
Die ATR wys weer op die moontlike negatiewe gevolge vir lidmate en gemeentes indien ‘n eie sinode of kerk tot stand sou kom: 6.1 Die voortbestaan van die oorspronklike gemeente (“universitas”-beginsel) 6.2 Verlies van lidmaatskap van die NG Kerk 6.3 Verlies van bevoegdheid en gevolglike beroepbaarheid van predikante 6.4 Die verlies van bates en eiendomme 6.5 Verlies aan die groter kerkverband met historiese verbintenisse.
Hierdie advies het gedien by die ASM-vergadering van 28 Februarie tot 2 Maart 2023.
Die Christelike Lektuurfonds (CLF) het die Pinksterreeks vir 2023 bekendgestel.
Die tema is “Hoop in Handelinge”. Handelinge is een van die mees indrukwekkende boeke in die Bybel – dit vertel die storie van die vroeë kerk. Daar is verhale van wonderdade, geloof wat mense inspireer, buitengewone wysheid, waagmoed en menselewens wat handomkeer verander het. Dít alles te danke aan die kragtige werking van die Heilige Gees – die Gees van die opgestane Christus wat self teenwoordig is en sy kerk op aarde vestig. Die reeks kyk – met “hoop” as lens – na sewe tekste uit Handelinge. Daar gaan gekyk word na elke teks se konteks en hoe dit vir ons vandag hoop gee. Hierdie Pinksterreeks is geskryf deur dr Pieter van Jaarsveld – voormalige moderator van die NG Kerk Vrystaat en emeritus leraar van Bloemfontein.
Ons nooi jou om saam met Christene in meer as 170 lande en streke wêreldwyd, op Vrydag, 3 Maart 2023 by jou plaaslike Gemeente in te skakel vir hierdie wonderlike gebedsgeleentheid.
Die tema van 2023 is: “Ek het van julle geloof gehoor” (Efesiërs 1:15-19). Dit spoor ons aan om ons geloof in Christus te hernu en te verinnig. Ons Hemelse Vader bemoedig en spoor ons aan: “Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie.” (Efesiërs 1:15-16). Kom ons fokus en wy ons toe om God nie teleur te stel nie, maar om ons geloof te voed en mekaar te versterk.
Die program vir die diens is deur Taiwan, onder leiding van die Internasionale Komitee, saamgestel.
Uitbeelding van die Kunswerk
Die vroue sit in stil gebed by ‘n stroompie, terwyl hul opkyk na die donkerte. Ten spyte van die onbekende pad wat voorlê, weet hul dat hul verlossing in Christus lê.
Twee bedreigde spesies word uitgebeeld: die Mikado-fisant en die Swartwang-sysie.
Die groen gras en skoenlaper-orgideë staan uit teen die donker agtergrond. Die groen gras simboliseer die Taiwanese bevolking as eenvoudig, selfversekerd, sterk en onder God se sorg.
Kontakbesonderhede en bestelvorms
Rig e-pos aan die SA-kantoor by wwdpsa@gmail.com, of klik op die webblad op bestelvorms.