96ste Wêreldbiddag vir Vroue

Die Wêreldbiddag vir Vroue word vanjaar op 6 Maart 2026 gehou. 2026 se tema is ‘Kom, Ek sal jou rus gee’. Die program is saamgestel deur vroue van Nigerië.
Die Wêreldbiddag vir Vroue is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging van Christenvroue, -mans en -kinders van verskillende lande wat elke jaar op die eerste Vrydag in Maart vergader om ‘n besondere dag van gebed te vier. Tydens die Wêreldbiddag vergader gelowiges van verskillende rasse, kulture en kerke, om saam te bid, ons voor God te verootmoedig en vir mekaar in te tree. Internasionaal word die Wêreldbiddag reeds vanaf 1887 gevier. Die dag word tans in meer as 170 lande op al 7 kontinente gehou. In Suid-Afrika is dit die 96ste jaar wat ons deel is hiervan. Die program word in nege van die amptelike tale vertaal.
Dit bly ’n besondere voorreg om te weet dat vroue regoor die wêreld, in verskillende lande op hierdie dag in gebed rondom ’n gemeenskaplike tema verenig word. Vanjaar se tema bring troos in ‘n tyd waarin mense wêreldwyd onder swaar laste gebuk gaan.
Klik hier vir meer inligting en riglyne vir gemeentes en gebedsgroepe.
Meer besonderhede oor die land wat die inhoud opgestel het (Nigerië) is op die Wêreldbiddag vir Vroue-webblad beskikbaar.